‘n Gesamentlike aanslag van die Somaliese weermag en magte van die Afrika-Unie is op die Al-Sjabaab-vesting, Kismayo, toegespits.
Die terreurgroep verdien glo aansienlike bedrae uit heffings en belastings omdat hulle die hawe van Kismayo beheer.
Regeringsamptenare het die week gesê die gesamentlike magte is besig om verdere druk op die Al-Sjabaab- vesting toe te pas.
Duisende burgerlikes het gevlug voor die verwagte aanslag. Keniaanse troepe, wat deel uitmaak van die 17 000 vegters van Afrika-Uniemag, veg sy aan sy met Somaliese milisiegroepe, wat teen Al-Sjabaab met sy noue bande met Al-Kaïda gekant is.
Die groep is nou ongeveer 40 kilometer van die suidelike Somaliese hawestad.
Beheer van Somalië, gebuk gegaan het onder meer as twee dekades van burgeroorlog, is van kardinale belang om sekere buitelandse beleggers tevrede te stel en die ekonomie ‘n hupstoot te gee.
Olie- en gasontginning kan teen 2020 afskop nadat Shell, Exxon en BP aangedui het dat hul eksplorasiewerk suksesvol afgehandel is, volgens President Hassan Sheikh Mohamed.
Die konflik het reeds troepe vanuit lande soos Ethiopië, Kenia, Uganda, en Burundi ingetrek.
Al-Sjabaab word vermoedelik deur Eritrië befonds wat Ethiopië se magsposisie in die streek wil inperk.
Gewapende lede van Al Sjabaab het Dinsdag in die vroeë oggendure 14 mense, meestal gruisgroefwerkers, vermoor.
Die meeste mense is in hul slaap vermoor, het Kenia se Rooikruis gesê. Die aanval op die dorp, Mandera is soortgelyk aan ’n aanval in Desember toe 36 gruisgroefwerkers dood is, het AP berig.
Somalië se al Sjabaab Islamitiese groep het gesê die groep is verantwoordelik vir die aanval in die noordoostelike Keniaanse dorp, Mandera en dat dit deel van sy veldtog teen Kenia is.
“Ons is verantwoordelik vir die Mandera-aanval. Ons het meer as tien Keniaanse Christene doodgemaak,” het Sheikh Abdiasis Abu Musab, die groep se militêre operasionele woordvoerder aan Reuters gesê.
“Dit is deel van ons voortgesette operasies teen Kenia.” Op die foto word ‘n lyk van ‘n slagoffer van die aanval deur polisiemanne weggedra.
Die huidige politieke krisis in Burundi sal na verwagting die samesprekings van die Pan-Afrika Parlement oorheers wat vandag in Midrand in Gauteng begin.
Die PAP is die wetgewende gesag van die Afrika-Unie wat eers in Addis Abeba gesetel was.
Verteenwoordigers bespreek kwessies van Afrikalande wat die vasteland raak.
Die president van Kenia, Uhuru Kenyatta, sal na verwagting die openingsrede lewer.
Burundi het die afgelope ruk onder gewelddadige onluste deurgeloop omdat daar nie duidelikheid is oor die termyne van president Pierre Nkurunziza nie. Die Weste beskuldig hom daarvan dat hy vir ‘n derde termyn wil regeer, maar die president hou vol dat hy nie vir ‘n eerste termyn verkies is nie en dus nie in stryd met die grondwet optree nie.
Die president van die PAP, Bethel Amadi, sê die boodskap wat hulle aan staatshoofde en regerings wil oordra, is dat beperkings op ‘n ampstermyn gerespekteer moet word.
Die Al Sjabaab-groep het intussen ‘n aantyging deur president Pierre Nkurunziza van Burundi verwerp dat die Somaliese militante ‘n bedreiging vir sy land inhou.
Die President het in sy eerste openbare verskyning sedert verlede week se mislukte staatsgreep gepraat oor ‘n beweerde militante bedreiging.
Talle ontleder sê dat dit bloot ‘n rookskerm is vir die veiligheidsdienste om streng te kan optree teen onluste wat vir Maandag beplan word.
Owerhede verwag opnuut protes teen Nkurunziza se planne om vir ‘n derde termyn te staan. Burundi is nog nie voorheen deur Al Sjabaab geteiken nie.
Minstens tien personeellede van die Verenigde Nasies is in ‘n ontploffing in Garowe in die Puntland-provinsie van Somalië dood.
Die ontploffing het ‘n bus geteiken wat VN-personeel werk toe vervoer.
Volgens berigte het die aanval by die kantore van die VN-voedselagentskap plaasgevind. Die ploftoestel was aan die wit Toyotabussie geheg wat naby die hoofkantoor afgegaan het.
Die slagoffers sluit vyf internasionale asook plaaslike personeellede in. MogadishuNews het bevestig dat daar buitelanders in die groep was.
Al Sjabaab het aanspreeklikheid vir die ontploffing in dié semi-outonome provinsie aanvaar wat tot dusver Islamitiese geweld vrygespring het.
‘n Duitse toeris is aan die Keniaanse kus in Mombasa op ‘n kort afstand doodgeskiet, het RSG berig.
Sy is die tweede toeris wat vandeesmaand in die stad dood is. Vroeër is ‘n Russiese toeris ook geskiet.
Niemand het tot dusver aanspreeklikheid vir die aanvalle aanvaar nie.
Die Somaliese rebellegroep, al Sjabaab het verlede maand toeriste gewaarsku om van Kenia af weg te bly. Die skietvoorvalle sal na verwagting die land se toerisme tot groot nadeel strek.
Verskeie Westerse lande het in Mei waarskuwings gerig dat hulle burgers slegs om noodsaaklike redes na Mombasa moet reis.
Al Sjabaab eis dat Keniaanse troepe uit Somalië onttrek, en die groep het Kenia tot ‘n oorlogsone verklaar.
Die wit Britse vrou wat op ‘n vervalste Suid-Afrikaanse paspoort gereis het, Samantha Lewthwaite, en verbind word met die dodelike bomaanval op ‘n Nairobi winkelsentrum namens Al Sjabaab, is steeds soek.
Interpol het ‘n internasionale kennisgewing vir Lewthwaite in September verlede jaar in 190 lidlande uitgereik om haar op sig te arresteer.
Die aanval op die Westgate-winkelsentrum in Nairobi het tot die dood meer as 65 mense gelei.
‘n Wit Britse man wat “vlot Britse Engels” praat lei die al-Sjabaab kommando’s wat dorpe in die noorde van Kenia aanval.
Sowat 60 mense is dood in die aanvalle wat deur die wit Brit gelei word, het getuies gesê.
Verskeie mense in Mpeketoni het gesê die bende se leier was ‘n blanke en praat Engels en Arabies. Een van die ooggetuies is ‘n laerskoolonderwyseres wat goed Engels praat.
Die aanvalle word deur ‘n goed opgeleide span van al-Sjabaabterroriste uitgevoer wat onder die koördinering van ‘n ervare buitelandse jihadi-span werk om Somaliese Islamiete te versterk.
Die grootste van die twee mees onlangse aanvalle was toe sowat 40 gewapende mans die beheer van Mpeketoni oorgeneem het deur te vra of mense Moslems is. Hulle het diegene wat nie was nie, summier doodgeskiet. Sestig mense het gesterf.
Daar was verdere terreuraanvalle Maandagnag, toe soveel as 15 mense gedood is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Keniaanse president Uhuru Kenyatta beweer dat die aanvalle die werk van plaaslike politici is wat probeer om etniese haat teen sy Kikuyu-stam aan te wakker.
Dit is ten spyte van die feit dat al-Kaida reeds verantwoordelikheid aanvaar het vir die sterftes.
Die Volksblad berig dat Al-Sjabaab-selle, afkomstig van Somalië, vir Suid-Afrika ‘n bedreiging inhou. Die groep is deur Osama bin Laden in die lewe geroep.
Kenia het sedert verlede jaar alle Somaliërs gebrandmerk ná ’n aanval op ‘n winkelsentrum in Nairobi.
Samantha Lewthwaite, ’n Britse vrou, was glo die baasbrein agter die bomaanval op die winkelsentrum in Nairobi.
Sy is ook bekend as die Wit Weduwee en het in Suid-Afrika gewoon en gewerk voor die aanval op die winkelsentrum in Nairobi.
Tydens die aanval op Westgate-winkelsentrum, het 67 mense hul lewens verloor.
Die Mombasa-gebied is volgens prof. Hussein Solomon, ‘n ontleder, die skuilplek vir ekstremiste soos die Wit Weduwee. Volgens kenners praat ‘n hele aantal rebelleleiers Engels met ‘n swaar Britse aksent.
Sy is met die Somaliese Al-Sjabaab-krygsheer Hassan Maalim Ibrahim getroud. Sy word reeds in 200 lande gesoek vir haar aandeel in tientalle terreuraanvalle.
Al-Sjabaab beteken “Die Jeug” in Arabies.
Die heersende xenofobie teen Somaliërs kan lei glo tot terreur ter plaatse, volgens Solomon, ‘n leraar in die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat.
Die Amerikaanse ontplooiing in Afrika, bekend as AFRICOM, se aanvalle op burgerlikes deur onbemande tuie is glo deels die rede vir die toenemende geweld in Kenia.
Prof. Hussein Solomon
Dié terreurgroep is ook een van talle wat Suid-Afrika glo as ’n basis gebruik om ’n inkomste te genereer om operasies soos dié in die res van Afrika te finansier, sê Solomon.
Solomon sê Suid-Afrika se powere intelligensiedienste weet nie veel van die terreurgroepe binne ons landsgrense nie.
“Ongelukkig is dié dienste deurspek van politieke aanstellings in senior poste. Nie een van hulle weet hoe om ’n situasie te ontleed en daaruit voorspellings te waag nie,” het hy gesê.
Minstens 48 mense is Sondag in Mpeketoni, aan die Keniaanse kus, in ’n aanval gedood.
Die rebelle het twee losieshuise en ’n polisiekantoor aangeval terwyl die inwoners saam na die Wêreldbeker-sokkertoernooi op televisie gekyk het.
Die rebelle gebruik “wit goud”, of ivoorsluikhandel uit die Afrika-bos na Asiatiese stede om hul opstand te finansier.
Andrea Crosta, uitvoerende direkteur van die Elephant Acion League (EAL), wat die afgelope paar jaar ondersoek na al-Sjabaab ingestel het, sê dié handel verloop seepglad.
Hy beweer dat tot drie ton ivoor elke maand verkoop word deur middel van ‘n gekoördineerde ketting.
Aktiviste en natuurbewaarders sê al-Sjabaab ontvang ‘n beduidende gedeelte van sy befondsing van ivoorsluikhandel.
Inligting oor presies hoe dit bereik word is reeds saamgeflans deur wildbewaarders en sekuriteitsdeskundiges.
Volgens ‘n VN-verslag is 22.000 olifante in 2012 deur stropers afgemaai.
Noorweë se intelligensie-agentskap, PST, het ‘n ondersoek begin om vas te stel of een van dié land se burgerlikes betrokke was in die bloedbad in die Westgate-winkelsentrum in Nairobi, Kenia, in September.
Al Sjabaab, wat bande met Al-Kaïda het, het verantwoordelikheid aanvaar vir verlede maand se aanval, waarin minstens 67 mense gesterf het.
“Gegrond op die inligting dat ‘n Noorweër dalk betrokke was in die aanval op ‘n winkelsentrum in Kenia drie weke gelede, het PST besluit om ‘n ondersoek te begin,” lui ‘n verklaring van die agentskap. – Sapa/AFP