Bomontploffing in Ansbach, Duitsland: 12 beseer

Met mevrou Angela Merkel wat Duitsland se grense vir Moslemimmigrante uit die Midde-Ooste oopgegooi het, is terreur besig om in die land handuit te ruk. Die jongste voorval is ‘n man “van Siriese afkoms” wat by Ansbach, naby Nürnberg, ‘n bom aan sy lyf laat ontplof het en 12 mense beseer het, waarvan drie in ‘n ernstige toestand verkeer.

Die 27-jarige man is blykbaar toegang tot die Ansbach Ope-musiekfees geweier, volgens die Duitse minister van binnelandse sake, Joachim Herrmann. Die verdagte was bekend aan die polisie, het Hermann gesê, en woon reeds twee jaar in die land, maar is ‘n jaar gelede asiel geweier.

Die minister meen ook dit is “onduidelik” of die man ander wou doodmaak of bloot homself en dat hy reeds twee keer “selfmoord wou pleeg” en voorheen vir psigiatriese behandeling na die distrikshospitaal in Ansbach verwys is.

Foto’s is gepubliseer van gewapende polisie wat ‘n perseel in Ansbach deursoek, wat volgens die plaaslike media die woning van die selfmoordbommer is.

Dié voorval geskied kort op die hakke van ‘n ander voorval waarin ‘n swanger vrou op straat in Reutlingen deur ‘n Siriese asielsoeker met ‘n vleisbyl vermoor is.

Die Duitse owerheid sê die 18-jarige aanvaller wat Vrydag nege mense doodgeskiet en nog 27 in Munchen gewond het, het die aanval ‘n jaar lank beplan.

Die kantoor van staatsmisdaad sê David Sonboly het die onwettige pistool wat in die aanval gebruik is, aanlyn gekoop op die internet waar dié produkte slegs met die hulp van spesiale sagteware toeganklik is.

Volgens die Britse Uitsaaikorporasie was die slagoffers nie sy klasmaats nie en is hulle nie spesifiek geteiken nie.

Sonboly het vroeër die toneel van ‘n skoolskietery in die dorp Winnenden besoek en foto’s geneem.

Daar is ook bevestiging dat hy psigiatriese behandeling ontvang het.

Dit is die vyfde terreuraanslag in Europa binne ongeveer 10 dae, terwyl owerhede probeer voorgee dat dit “enkelgevalle” is wat “versteurd” is.

Irannese skieter in München dood 9 en homself

‘n Agtienjarige Moslemman het selfmoord gepleeg nadat hy 9 ander mense om die lewe gebring het in ‘n moordtog in München, die hoofstad van die Duitse deelstaat Beiere. Die Duitse minister van binnelandse sake, Thomas de Maizière sal om 11-uur vanoggend met die veiligheidsdienste in Berlyn vergader.

Die amptelike dodetal staan tans op 10, waarby die Moslemmoordenaar ingesluit is. Sestien mense is beseer, waarvan drie in ‘n ernstige toestand verkeer. Die polisie het bevestig dat verskeie kinders onder die oorledenes getel kan word.

Die hele München was gister in ‘n toestand van paniek toe die man van Irannese afkoms wat volgens verskeie berigte “Alluha akbar” (Allah is groot) geskree het, op onskuldige mense by ‘n McDonalds naby die Olympia-winkelsentrum begin vuur het. Daarna het hy na die winkelsentrum self beweeg waar nog mense gedood en beseer is.

Blykbaar het die moordenaar kinders na die McDonalds gelok deur te adverteer dat daar gratis kos beskikbaar gaan wees.

‘n “Akute terroristesituasie” is deur die provinsiale hoofstad afgekondig en alle openbare vervoer is etlike ure lank opgeskort. Reisigers wat nie huis toe kon gaan nie is deur inwoners van die stad onderdak gebied met ‘n “oopdeur”-veldtog wat op Twitter onder die hutsteken #OffeneTür georganiseer is.

Die polisie het die anti-terrorisme-eenheid GSG 9, asook die federale en spesiale magte van verskeie ander deelstate ingeroep.

Volgens die Münchense polisiehoof Hubertus Andrae, was die tienderjarige massamoordenaar “nie voorheen aan die polisie bekend nie”.

'n Volkswagen Passat-stasiewa uit 2006 waarop die polisie beslag gelê het, en wat vermoedelik deur die skieter gebruik is.
‘n Volkswagen Passat-stasiewa uit 2006 waarop die polisie beslag gelê het, en wat vermoedelik deur die skieter gebruik is.

Swaar gewapende beamptes het ‘n klopjag in die buurt van Maxvorstadt waar die woonstel van die moordenaar geleë is, uitgevoer. Die polise het ook op ‘n 2006 Volkswagen Passat-stasiewa beslag gelê (sien foto hiernaas), wat in die omgewing van die Olympia-winkelsentrum gevind is.

Tydens die klopjag gisteraand het die polisie van nagsigbrille en honde gebruik gemaak. Die hele straat is afgekordon, met noodvoertuie wat gereed gestaan het.

Duitse polisie naby die Olympia-winkelsentrum
Duitse polisie naby die Olympia-winkelsentrum

Volgens die Duitse media is ‘n robot ook deur plofstofdeskundiges aangewend om die skieter se liggaam te deursoek, aangesien daar gevrees is dat hy ook ‘n bom in ‘n rooi rugsak gedra het. Geen inligting is intussen bekendgemaak oor die inhoud van die rugsak nie.

Die Duitse owerheid was tot dusver versigtig om enige gevolgtrekkings oor die motief van die aanval te maak of selfs om dit ‘n “terreuraanval” te noem.

Die kanselaryminister Peter Altmaier het egter aan ARD gesê dat “‘n terreurdaad nie uitgesluit kan word nie”.

‘n Verder “verdagte geval” is by Münchenlughawe aangemeld, maar die polisie wag nog vir besonderhede.

 

Ted Cruz maak ‘n gek van homself by Trump se benoeming

‘n Voormalige aanspraakmaker op die Repu­blikeinse Party in Amerika se nominasie as presidentskandidaat, Ted Cruz, het hom Woensdag die argwaan van afgevaardigdes na die nasionale konvensie op die hals gehaal, toe hy verseg het om Donald Trump te ondersteun.

Die afloop van die gejou was egter ‘n hoogtepunt van die aand nadat die visepresidentskandidaat, Mike Pence, daarna as ‘n versoenende faktor in die kollig getree het.

Cruz het midde ’n staande applous op die verhoog in Cleveland opgestap en die gehoor verveel met gemeenplase totdat hy afgevaardigdes aangeraai het om “met hul gewete” te stem sonder om Trump se naam te noem.

“Stem vir kandidate op die stembrief wat jy vertrou om ons vryheid te verdedig en wat getrou aan die grondwet sal wees,” het hy gesê.

boecruz

Die gehoor het hierop begin om hom luidkeels uit te jou en gedreunsing “Endorse Trump!” Cruz het daarmee finaal sy politieke loopbaan beëindig en hy en sy vrou, Heidi, ‘n werknemer van Goldman Sachs, moes haastig die saal verlaat.

Goewerneur Chris Christie het by die Konvensie gesê Cruz het vroeër in sy teenwoordigheid plegtig belowe om Trump te steun deur ‘n onderneming te teken.

Christie sê hy is geskok dat iemand hul woord so maklik kan breek en dat sulke optrede politici ‘n slegte naam gee.

Trump het Cruz tydens veldtogvoering “Lyin’ Ted” genoem.

Kort daarna het Pence die gehoor onder luide toejuiging verenig. “Wat ons verenig, is baie meer as enige iets wat ons skei,” het hy gesê.

Melania Trump se toespraak Maandag, waarin dele uit Michelle Obama se toespraak agt jaar gelede aangehaal is, was weer in die kalklig.

‘n Toespraakskrywer het om verskoning gevra en aangebied om te bedank, maar Trump wou haar bedanking nie aanvaar nie.

Trump het die benoeming van die Republikeinse party tydens die party se nasionale konvensie in Cleveland Ohio Donderdagaand aanvaar.

Trump is nou amptelik die party se kandidaat vir die presidentsverkiesing op 8 November.

In sy aanvaardingstoespraak het Trump homself verklaar as ‘n vriend van die werkersklas.

Hy het sy Demokratiese teenstaander, Hillary Clinton daarvan beskuldig dat sy ‘n spoor van dood, vernietiging en terreur agtergelaat het toe sy minister van buitelandse sake was.

Trump se toespraak het die vierdaagse konvensie afgesluit. Hy het uit die vuis gepraat en herhaal dat hy die muur gaan bou om Meksikaanse dwelmbendes en ongewensde immigrante uit die VSA te hou.

Hy het die gehoor aan sy voete gehad.

Russiese atlete uit Rio

Rusland se baan- en veldatlete sal nie aan die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro kan deelneem nie.

Die paalspringwêreldkampioen, Jelena Isinbajewa (foto hierbo), het die besluit ‘n “begrafnis vir atletiek” genoem en gesê die besluit is ‘n politieke een.

Die atlete het hul appèlsaak deur die Hof vir Arbitrasie in Sport in Switserland verloor nadat die hof die aansoek van die hand gewys het.

Die appèlsaak is gebring deur 68 Russiese atlete wat deur die internasionale atletiekfederasie, die IAAF verbied is om aan die Olimpiese Spele deel te neem.

Die Russiese atletiekfederasie is deur die IAAF geskors nadat ‘n onafhanklike verslag bewyse van die wydverspreide gebruik van verbode middels gevind het.

Russiese amptenare is daarvan beskuldig dat hulle betrokke is by pogings om die gebruik van verbode middels te verbloem.

Die Russe het reeds die gedagte verwerp om ‘n oproep aan ander lande te doen om die Olimpiese Spele in Rio te boikot uit solidariteit met hulle penarie.

Vreemd genoeg weet die Russe egter nog steeds nie wat hulle sal moet doen om hertoelating tot die Olimpiese Spele te verkry nie.

Dit wil voorkom asof die verbod eenvoudig op ‘n oop en algemene, langdurige uitsluiting van Rusland neerkom, ongeag van hul optrede nou of in die toekoms.

Na verwagting sal die verbod binnekort op die hele Russiese Olimpiese span van toepassing wees.

Daar is intussen ook ‘n veldtog van stapel gestuur om Rusland uit die sokkerliggaam FIFA te probeer boender.

Rusland het voorheen sy eie alternatief vir die Olimpiese Spele in die vorm van die Spartakiad gehou, want tot en met die Helsinki Spele in 1952, het die Russe in elk geval nie deelgeneem aan die Olimpiese Spele nie.

Dit het hulle nie verhoed om te presteer en miljoene te lok na die Spartakiad nie.

Moslemsokkerspan rand drie jong meisies in Swede aan

Een van die sokkerspanne in die Gothiajeugbeker in Swede, onder leiding van sy 35-jarige afrigter, het Sweedse tienermeisies seksueel aangerand.

Die ma van een van die drie weerlose meisies het aan die media vertel dat haar dogter en haar twee metgeselle tydens die toernooi se openingseremonie omring deur ‘n groep van 30 tot 40 Moslemtieners en ‘n volwassene man buite die Ullevi-stadion.

Die groep het nader beweeg en die meisies begin betas. Hulle het probeer om hul hande onder die dogters klere te kry. Hulle het ook die jong tieners vasgegryp en gesoen.

Haar jong dogter vertel dat die volwasse man se tong in haar mond was, sê die moeder.

Die volwasse man, wat 35 jaar oud is en, volgens die aanklaer, die leier van die bende is wat die meisies aangerand het, is in hegtenis geneem vir seksuele aanranding.

Fria Tider het beide die polisiewoordvoerder en die hoofaanklaer gevra waar die man vandaan kom – maar sonder resultate.

‘n Polisieman, Peter “Peppe” Larsson, sê dit was ‘n span uit Noord-Afrika.

“Sien geen rede waarom die waarheid vir ernstige misbruik verduister moet word nie,” skryf Larsson op Twitter.

Dit is nog nie duidelik of die span van Marokko en die betrokke afrigter steeds sal deelneem aan die jeugtoernooi nie.

Turkse staat verswak na spioene die trekpas kry

Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan het ‘n noodtoestand van drie maande afgekondig na verlede week se mislukte militêre staatsgreep, maar kritici waarsku dat sulke maatreëls Turkye duur te staan kan kom.

Erdogan sê die maatreëls sal owerhede toelaat om vinnig en doeltreffend op te tree teen diegene wat vir die opstand verantwoordelik was, maar dit lyk al hoe meer na ‘n suiweringsveldtog teen sy opposisie.

Die noodtoestand beteken dat die president nie die toestemming van die parlement nodig het om nuwe wetgewing goed te keur nie.

Turke se regte en vryhede kan nou na willekeur ingeperk of opskort word indien die regering dit nodig ag.

Die ministerie van onderwys het 15.200 onderwysers en werkers in die onderwys geskors.

Die lisensies van 21.000 onderwyser by private skole is ook herroep.

Die Hoër Onderwys Kommissie het 1577 Universiteitsdekane gevra om te bedank.

Die Direktoraat van godsdienstige sake het 492 personeellede afgedank, insluitende imams en moeftis en die Turkse premier het 257 van sy personeellede afgedank.

Die Turkse geheime diens M.I.T het sowat 130 van sy spioene die trekpas gegee.

Meer as 600 skole is gesluit.

Dit beteken dat Erdogan reeds van sowat 60.000 soldate, polisiebeamptes, regters, onderwysers en staatsdienswerkers ontslae geraak het, geskors of afgedank het en die res word tans ondersoek.

Die meeste van hierdie mense het niks te doen gehad met die mislukte staatsgreep teen die regering nie.

Die verlies van kennis en ervaring sal die funksionering van die Turkse staat en sy veiligheidsdienste ernstig knou sê ontleders.

Erdogan gebruik sy huidige gewildheid om Turkye na sy beeld te verander, maar beskuldig steeds ‘n uitgeweke moslemleier, Fethullah Gülen daarvan dat hy die staatsgreep beplan het.

Gulen ontken dat hy betrokke was.

Anti-Russiese joernalis sterf in motorbomontploffing

‘n Bekende Joodse, anti-Russiese joernalis is Woensdag in Kiëf, die hoofstad van die Oekraïne, in ’n motorbomontploffing dood.

Dit het skokgolwe deur die Oekraïne se NeoCon-gesinde joernalistieke gemeenskap gestuur.

Sedert die begin van 2014 is ten minste 15 pro-Russiese joernaliste vermoor, maar sonder veel ophef.

Die moorde op ondermeer Oles Buzina, Sergei Sukhobok, Andrei Stenin, Igor Korneljoek en Anton Volosjin is vermoedelik gepleeg om nuus oor die burgeroorlog in die Oekraïene te verhoed.

Hierdie pro-Russiese joernaliste het die slagting van burgerlikes deur die regime in Kiëf ontbloot.

Die land se regime-nuuswebtuiste, Ukrainska Pravda, sê sy joernalis Pavel Sheremet is in die ontploffing dood toe hy in die motor ingeklim het om na ’n radiostasie te ry waar hy die aanbieder van ’n geselsprogram was.

Die motor het aan die hoofredakteur, Olena Prytula, behoort.

Zorjan Shkirjak, ’n raadgewer vir die ministerie van binnelandse sake, het op Facebook gesê ’n geïmproviseerde ploftoestel is onder die motor aangebring.

Volgens nog ‘n amptenaar is die toestel dmv ‘n frekwensie-induksieskakelaar of ‘n tydtoestel laat ontbrand. Die insittende is op slag dood.

Die Oekraïense “stelsel” het ‘n “massagraf” vir joernaliste geword, het die Russiese ministerie van buitelandse sake se woordvoerder Maria Zakharova Woensdag gesê.

“Oekraïne – nie as ‘n land, maar as ‘n stelsel – is besig om ‘n gesamentlike graf vir joernaliste en joernalistiek te word,” het Zakharova gesê.

Russiese wetstoepassers het ‘n kriminele ondersoek van stapel gestuur in Mei vandeesjaar na die uitsprake van ‘n Oekraïense politieke wetenskaplike wat na bewering ‘n beroep op die regime gedoen het om Russiese joernaliste “deeglik uit te wis”.

Die verdagte, Juri Romanenko, het in April op ‘n openbare konferensie aan die Harvard Universiteit in die VSA dié uitspraak gemaak.

Later, het Romanenko die teks van sy verklaring op sy Facebook-blad gepos en dit is herhaaldelik aangehaal deur die hoofstroommedia.

In sy eie woorde, wou die direkteur van die Stratagema politieke analisesentrum en besturende redakteur van die Khvilja-webwerf “die probleem van massamedia tot ‘n nuwe vlak bring”.

“Die militêre magte van die Oekraïne moet selektief en deeglik Russiese joernaliste wat die situasie in Donbass dek, uitwis. Hulle moet ‘n bevel aan weermagskerpskutters gee dat mense met ‘Media’ geskryf op hul valhelms, prioriteitteikens is om uit te haal,” het hy gesê.

Trump triomfeer as presidentskandidaat

Donald Trump is amptelik die presidentskandidaat vir die Republikeinse Party.

Die miljardêr is Dinsdagnag in Cleveland in die Amerikaanse deelstaat Ohio amptelik as dié party se kandidaat aangewys.

Hy het 16 teenstanders uitgestof en moes byna ‘n jaar lank ‘n uiters giftige mediaveldtog, selfs uit Republikeinse geledere, trotseer.

Hoofstroomontleders het ook week na week plegtig verklaar dat Trump nie ‘n kans staan om ooit benoem te word nie.

Kort voor die aankondiging het Rupert Murdoch, eienaar van die gewilde Fox News nog van sy stigter Roger Ailes probeer ontslae raak, om die Trump-golf te keer.

Ailes, wat te “regs” is na Murdoch se smaak, is ‘n Trump-ondersteuner en was voorheen die raadgewer van president Richard Nixon. Hy het Fox van niks af uitgebou tot ‘n magtige en uiters winsgewende media-organsisasie.

Donald Trump jr., Trump se oudste seun, het by die party se nasionale konvensie die deelstaat New York se steun aan die kandidaat toegesê wat aan hom 1 237 afgevaardigdes besorg het.

Die byeenkoms is die eerste dag ontwrig deur ‘n groep wat gedink het hulle kan die benoeming ontspoor, maar die teenstanders is gou uitgeboender en hul pogings het klaaglik misluk.

Die Amerikaanse presidentsverkiesing vind op 8 November plaas.

Mike Pence, goewerneur van Indiana, is reeds voor die benoeming as die Republikeinse Party se visepresidentskandidaat aangewys, in ‘n poging om die onderlinge geskille binne die party by te lê.

Afgevaardigdes het senator Ted Cruz uitgejou nadat hy nie in ‘n toespraak sy amptelike steun aan Trump as die party se presidentskandidaat toegesê het nie.

Cruz het vroeër teen Trump meegeding vir die party se benoeming, en het in die tweede plek geëindig. Hy het Trump gelukgewens, maar die swak verloorder het bygevoeg dat Amerikaners volgens hulle “gewetes” moet stem.

Trump-ondersteuners het ook striemende aanvalle teen Hillary Clinton geloods gedurende die Republikeinse Party se konvensie.

Sy het privaat e-posbedieners gebruik in haar ampstermyn as minister van buitelandse sake, vermoedelik om betalings te ontvang vir gunste, ook van buitelanders. Dit kom basies neer op hoogverraad.

Die federale speurdiens (FBI) het ná ‘n ondersoek bevind dat Clinton gelieg het oor haar hantering van geklassifiseerde inligting. Sy gaan egter nie strafregtelik daaroor vervolg word nie.

Clinton het haar fondsinsameling ongeërg voorgesit ná Trump se benoeming en getwiet: “Donald Trump is pas aangewys as die Republikeine se kandidaat. Begin nou geld bydra sodat hy nooit sy voet in die Ovaalkantoor sit nie.”

Vloede tref Beijing

Vloede wat veroorsaak is deur onafgebroke swaar reën het wydverspreide ontwrigting in die Chinese hoofstad, Beijing, veroorsaak.

Dit het tot gevol gehad dat honderde vlugte gekanselleer is en sommige moltreinstasies gesluit moes word.

Beijing se humiede somermaande word dikwels deur swaar reënstorms gekenmerk en in 2012 is 37 mense in die storms dood.

Die Beijing se stadsowerhede het ‘n oranje waarskuwing uitgereik, die tweede hoogste in China se viervlak-waarskuwingstelsel en het inwoners gemaan dat dit oornag kon voortduur met neerslae wat plek-plek tot 100 mm kan val.

Meer as 200 vlugte van Beijing se hooflughawe af is gekanselleer.

Groot dele van Sentraal- en Oos-China is vanjaar deur swaar reën getref met meer as 200 mense wat reeds gesterf het.

Sedert Maandag is 13 mense dood en word 62 vermis vanweë die reën in die noordelike en noordwestelike dele van die land, berig die nuusagentskap Xinhua.

Hillary Clinton se nalatenskap: ISIS

Rook borrel uit geboue nadat die Libiese lugmag, lojaal aan die eenheidsregering, vuurpyle op stellings van die ­Islamitiese Staat (ISIS) in Sirte, Libië, afgevuur het.

In ’n grootskaalse operasie om die jihadiste se kusvesting in te neem, moes ‘n hernude aanslag teen die terreurgroep geloods word. ­

ISIS is tans diep ingegrawe in Libië nadat president Obama met die hulp van Hillary Clinton gesorg het dat die Moeammar Ghadaffi vermoor word en die eers welvarende land in chaos verval sodat jihadiste kan oorneem.

Haar besluit was tot dusver Amerika se grootste buitelandse beleidsflater sedert Irak.

Vier hooggeplaasde Amerikaanse amptenare is deur die jihadiste in Libië vermoor, klaarblyklik omdat Clinton bang was dat ‘n wapenoordrag aan jihadiste op die lappe sal kom en sy dus niks gedoen het om die moorde te keer nie.

ISIS onderneem vanuit Libië ook die aanslag op Sirië wat Obama- en Clinton-simpatiseerders as ‘n “burgeroorlog” probeer voorhou, maar wat in werklikheid ‘n inval deur internasionale terroriste is.

Daar is reeds 400 000 mense dood in die Siriese konflik wat nou ontaard het in ‘n vlugteling-dilemma vir die EU.

Volgens ’n vertroulike verslag van die Verenigde Nasies is tussen 2 000 en 5 000 ISIS-terroriste van Libië, Tunisië, ­Algerië, Egipte, Mali, Marokko en Mauritanië in Sirte, Tripoli en Derna ontplooi.

Die goewerneur van New Jersey, Chris Christie, het Hillary Clinton Dinsdag by die Republikeinse Konvensie geroskam omdat sy toegelaat het dat ISIS ‘n vastrapplek in Libië verkry.

Christie het gesê dat Clinton ook hard baklei het om die radikale Islamitiese groep Boko Haram van die State Departement se terreurlys af te hou voordat sy die regering verlaat het in 2012.

In 2014 het die groep honderde jong vroue en meisies ontvoer. Christie se mees plofbare bewering is dat Clinton niks anders is as ‘n “apologeet vir ‘n Al-Qaeda-affiliaat in Nigerië nie”.

Nog een van die sprekers by gisteraand se Republikeinse geleentheid was Pat Smith, die moeder van ‘n konsultant wat in die Libiese aanval gesterf het in Benghazi.

Die moeder het Hillary Clinton beskuldig van leuens oor haar seun se dood.

Clinton verdedig steeds die ramp in Libië as “slim mag”, selfs al het Noord-Afrika se chaos ‘n vesting vir ISIS geskep.

ISIS het onlangs verantwoordelikheid aanvaar vir die al die dodelike aanvalle Parys, Nice en Wuerzburg.