‘Rambo’ van Duitse Ansbach-aanval lyk soos tipiese infiltreerder

‘n Siriër, bekend as “Rambo” het Sondag in Ansbach, Duitsland, sy bomgordel buite ‘n musiekfees laat ontplof. Twaalf ander mense is in die voorval beseer, waarvan drie ernstig.

Die Siriër het twee jaar gelede in Duitsland aangekom en het na bewering “twee keer vantevore selfmoord probeer pleeg”.

Die man was glo bang dat hy teruggestuur word na Bulgarye nadat hy ‘n jaar gelede asiel in Duitsland geweier is, volgens mediaberigte, maar sy mede-inwoners by die asielhotel in Ansbach vertel ‘n ander storie.

Hy was glo besonder gespierd en doelgerig, stil en versigtig om mense nie te na te kom nie, sê mede-asielsoekers. Die Duitse dorpinwoners het hom ook as “vriendelik” ervaar.

Dit skets ‘n prentjie van ‘n infiltreerder eerder as ‘n vlugteling, iets waarteen kritici van Duitsland se oopdeur-beleid herhaaldelik gewaarsku het.

Ansbach, ‘n klein dorpie, is suidwes van ­Neurenberg geleë, waar ‘n Amerikaanse weermagbasis is.

Joachim Herrmann, Beiere se minister van binnelandse sake, het aan verslaggewers gesê dit is “onduidelik” of die man beplan het om sy eie lewe te neem en of hy “ander saam met hom wou doodmaak”.

Die aanvaller het Sondag ‘n rugsak gedra waarin plofstof en metaalstukke was, wat aandui dat hy waarskynlik meer ongevalle voorsien het.

Dit toon ook hoe onopreg Herrmann se “twyfel” oor die aanvaller se motief is.

Die polisie het intussen op die aanvaller se skootrekenaar foto’s ontdek wat geweld verheerlik.

‘n Skakel na die “Islamitiese staat” (ISIS) se terroriste militia is opgespoor. Die skakel is nog duideliker op sy selfoon, wat ‘n videodreigement oor ‘n aanval bevat het.

ISIS het intussen verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.

‘n Mede-inwoner by die vlugtelingskuiling, 28-jarige Mubariz van Pakistan het die man meermale in die gemeenskaplike kombuis teëgekom.

Hy het bygevoeg dat hy nooit die man se regte naam gehoor het nie, aangesien die meeste van die Hotel Christi se vlugtelinge hom op sy bynaam “Rambo” geken het as gevolg van sy lang hare en gespierde bolyf.

In wat kennelik die vierde Islamities-­geïnspireerde aanval was, moes meer as 2 000 mense ná die aanslag van die musiekfees na veiligheid gebring word.

Dit was die vierde geweld­dadige aanval in Duitsland die afgelope week, waarin die owerhede naarstiglik die kollig van Islam probeer afhaal en daders se geestesongesteldheid voorhou.

Angela Merkel, Bondskanselier, se posisie is in gedrang omdat kiesers haar verantwoordelik hou vir die reeks aanvalle.

Nege mense is Vrydag in München deur Ali Sonboly doodgeskiet. Die ­aanvaller is in Duitsland gebore, maar sy ouers is streng Moslems. Die skieter het homself later om die lewe gebring.

Dit is onthul dat Sonboly hulp van ‘n man uit Afghanistan ontvang het vir die aanval.

In Reutlingen, in die suidweste van die land, het nog ‘n Moslemvlugteling Sondag swanger vrou met ‘n kapmes doodgekap en twee ander mense beseer voordat hy deur wetstoepassers onder bedwang gebring is.

‘n Pakistanse vlugteling het ‘n week gelede in Würzburg vyf mense in ‘n byl­aanval beseer in die naam van Allah voor hy deur die polisie doodgeskiet is.

Bomontploffing in Ansbach, Duitsland: 12 beseer

Met mevrou Angela Merkel wat Duitsland se grense vir Moslemimmigrante uit die Midde-Ooste oopgegooi het, is terreur besig om in die land handuit te ruk. Die jongste voorval is ‘n man “van Siriese afkoms” wat by Ansbach, naby Nürnberg, ‘n bom aan sy lyf laat ontplof het en 12 mense beseer het, waarvan drie in ‘n ernstige toestand verkeer.

Die 27-jarige man is blykbaar toegang tot die Ansbach Ope-musiekfees geweier, volgens die Duitse minister van binnelandse sake, Joachim Herrmann. Die verdagte was bekend aan die polisie, het Hermann gesê, en woon reeds twee jaar in die land, maar is ‘n jaar gelede asiel geweier.

Die minister meen ook dit is “onduidelik” of die man ander wou doodmaak of bloot homself en dat hy reeds twee keer “selfmoord wou pleeg” en voorheen vir psigiatriese behandeling na die distrikshospitaal in Ansbach verwys is.

Foto’s is gepubliseer van gewapende polisie wat ‘n perseel in Ansbach deursoek, wat volgens die plaaslike media die woning van die selfmoordbommer is.

Dié voorval geskied kort op die hakke van ‘n ander voorval waarin ‘n swanger vrou op straat in Reutlingen deur ‘n Siriese asielsoeker met ‘n vleisbyl vermoor is.

Die Duitse owerheid sê die 18-jarige aanvaller wat Vrydag nege mense doodgeskiet en nog 27 in Munchen gewond het, het die aanval ‘n jaar lank beplan.

Die kantoor van staatsmisdaad sê David Sonboly het die onwettige pistool wat in die aanval gebruik is, aanlyn gekoop op die internet waar dié produkte slegs met die hulp van spesiale sagteware toeganklik is.

Volgens die Britse Uitsaaikorporasie was die slagoffers nie sy klasmaats nie en is hulle nie spesifiek geteiken nie.

Sonboly het vroeër die toneel van ‘n skoolskietery in die dorp Winnenden besoek en foto’s geneem.

Daar is ook bevestiging dat hy psigiatriese behandeling ontvang het.

Dit is die vyfde terreuraanslag in Europa binne ongeveer 10 dae, terwyl owerhede probeer voorgee dat dit “enkelgevalle” is wat “versteurd” is.