Prof. Pieter Kapp
Praag voer ‘n eksklusiewe onderhoud met prof. Pieter Kapp, president van die US se Konvokasie oor Stellenbosch se taalbeleid.
1. Toe Chris Brink rektor was, het dit gelyk asof hy Afrikaans nie baie goedgesind was nie en eerder die universiteit as deel van ‘n globale Engelstalige wêreld gesien het. Dink u die verandering van rektor waar Russel Botman tans aan die hoof van die U.S. staan, was positief of negatief vir Afrikaans?
Chris Brink se probleem was dat hy geen verstaan van die dinamiek van taalverplasing gehad het nie. Hy het naïef geglo in die goedgunstigheid van nie-Afrikaanssprekendes en het min begrip getoon vir die geskiedenis en tradisies van US en Afrikaans en van die opkoms van Afrikaans en sy strategieë en metodes om hom teen die oorweldigende oormag van Engels te verskans. Chris Brink is ‘n sterk ondersteuner van internasionalisering en sy uitgangspunt was dat die US ‘n tweetalige universiteit is wat Afrikaans bevorder, ons standpunt is dat die US ‘n Afrikaanstalige universiteit is wat meertaligheid bevorder. As Brink die dinge beter begryp het, sou hy sake seker anders hanteer het. Prof Botman toon veel meer begrip vir hierdie situasie.
2. Prof. Botman het nogal rare opmerkings oor Stellenbosch gemaak in die sin dat hy verwys het na "die mite van Afrikaans-eentaligheid". Hiermee lyk dis of hy wou sê dat Stellenbosch nog altyd ‘n tweetalige universiteit was waar Engels soos nou in ‘n hoë mate gebruik is. Wat was die situasie voorheen? Was Stellenbosch byvoorbeeld vyftien jaar gelede ‘n Afrikaanse universiteit of ‘n tweetalige universiteit?
Die verhouding tussen Stellenbosch en Afrikaans is ‘n besondere een. Die beweging om ‘n universiteit te stig waar Hollands tot sy reg sou kom, het in 1904 begin en dit het 12 jaar geneem voordat die beweging tot so ‘n mate sukses behaal het dat die Wet op die Universiteit van Stellenbosch van 1916 ruimte geskep het om Hollands naas Engels as akademiese taal te ontwikkel. Dit is begryplik dat dit op hierdie wyse sou geskied want daar was ‘n groot getal Hollands/Afrikaanse mense in leiersposisies wat nie geglo het dat Hollands en nog minder Afrikaans werklik tot akademiese en wetenskapstaal van wêreldgehalte sou ontwikkel het nie. Daarby het Stellenbosch talle Skotse dosente gehad wat nie een afgedank is nie. Hulle is geleidelik vervang. Elke keer as een afgetree het, is hy deur ‘n Afrikaanskundige vervang. Die laaste dissipline waarmee dit gebeur het, was, soos dit destyds bekend was Bookkeeping. Dit is eers in 1947 verafrikaans. Die proses het dus op Stellenbosch met gelykmatigheid verloop en is verstandig bestuur sodat dit geen persoonlike gevoelens en kwetsings geskep het nie. In daardie opsig het die proses op Stellenbosch anders verloop as aan ander universiteite. Dit is hierdie evolusieproses wat sommiges laat glo dat US inderdaad ‘n tweetalige universiteit was. Dit is ook die verkeerde interpretasie van hierdie geskiedenis wat gelei het tot die beskouing dat US onder Brink wil terugkeer na Jannie Marais se testamentêre bepaling van dat Hollands aan die nuwe universiteit “no lesser language’ moes wees nie. As Jannie Marais sou aangedring het dat die nuwe Stellenbosch Universiteit Hollands/Afrikaans moes wees, soos hy graag sou wou doen, sou die Unie-parlement nooit ingestem het dat Stellenbosch ‘n selfstandige universiteit naas Kaapstad word nie. Stellenbosch was deur al die jare uiters akkommoderend nie net teenoor Engels nie, maar ook teenoor anderstaliges. Kyk maar na die groot aantal Nederlanders, Duitsers, Iere, Skotte en Engelse wat almal help bou het aan die US sonder om sy reg tot Afrikaanse onderrig ooit te bevraagteken. Engelse studente het altyd met die grootste lof gepraat van die goeie en tegemoetkomende behandeling wat hulle van die US ontvang het. Lees maar wat die latere legendariese US dosent in Engels, dr Pat McMagh, in 1946 oor Stellenbosch geskryf het toe sy as rou Engelssprekendes almal verbaas het deur haar 0nderwysstudies aan die US voort te sit na haar eerste graad aan Rhodes. Prof Botman beklemtoon dat die US nie ‘n eksklusief Afrikaanstalige universiteit is nier, maar ‘n inklusiewe Afrikaanstalige universiteit.
3. As mens die taalkaart van Suid-Afrika bestudeer, is die Kaapprovinsie waarskynlik die mees Afrikaanse provinsie in die land, met die huidige Weskaap wat oor ‘n meerderheid Afrikaanssprekendes (55%) beskik. ‘n Briefskrywer in Die Burger het nou die dag gekla dat daar reeds twee Engelstalige universiteite in die Weskaap is en dat hy daarom nie kon verstaan waarom Stellenbosch ook meer en meer Engels moet gebruik nie. Waarom is dit so moeilik om Stellenbosch Afrikaans te hou, gegewe die skynbaar positiewe demografie vir Afrikaans in die provinsie?
Die Kaapse tradisie was en is nog altyd om groot waarde aan tweetaligheid te heg. Vir Afrikaanssprekendes is dit geen probleem nie – hulle word groot met Engels. Van Engelse kant was daar dikwels verset teen die gedagte dat hulle naas Engels nog ‘n taal moes aanleer. Vandaar die lang stryd om Afrikaanse skole in die Kaapkolonie en die Kaapprovinsie en die wyse waarop sommige bekende skole inderdaad as tweetalige skole ontwikkel het. Daar was nooit en is tans ook geen sprake van enige anti-Engelse gevoelens op Stellenbosch of in die Wes-Kaap nie. Afrikaanssprekendes is dalk net veel beter gebalanseerd in hulle benadering as ander. Leef en laat leef was nog altyd die taalmotto op Stellenbosch. Wat die laaste tyd gebeur het, is dat die laat leef gedeelte vir Afrikaans toenemend verskraal en verswak is en dit is waarteen ons in verset gekom het.
4. Dit wil voorkom asof daar ‘n klein groepie Engelssprekende dosente aan Stellenbosch is wat sterk voel dat die universiteit ‘n multikulturele Engelse universiteit moet word. ‘n Mens dink hier byvoorbeeld aan opmerkings deur dosente van die Engelse departement wat op 24 Oktober in die Argus gepubliseer is. ‘n Professor in die departement het byvoorbeeld gesê dat sy "ontsteld" is dat die huidige taalbeleidkonsepdokument eerste in Afrikaans vrygestel is. Me. Lucy Graham van die Engelse departement het in dieselfde berig beswaar daarteen gemaak dat "Afrikaans bo ander tale aan Stellenbosch bevorder gaan word". Die vraag is nou: watter rol speel hierdie Engelssprekende dosente om Stellenbosch in die rigting van Engels te druk?
Daar is drie wanstaltige argumente oor die taalgesprek op Stellenbosch wat reggestel moet word. Die eerste is dat die strewe om Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal te bevorder niks met rassisme of Afrikanernasionalisme of -identiteit te doen het nie. Dit is ook nie anti-enigiets nie. Dit wil bloot ‘n basiese mensereg wat in die grondwet erken word bevestig en bestendig. Afrikaanssprekendes van alle soorte het ‘n belangrike rol om in die land te speel en daarvoor moet en mag hulle in hulle eie taal toegerus word. Die tweede stuk foutiewe logika is dat jy Afrikaans kan bevorder deur hom af te skaal en dat Engels die uitsluitlike roete na uitnemendheid is. Dit is die basiese denkfout in die US se taalbeleid onder prof Brink begaan het. Die groot debat gaan oor die siening van invloedryke mense, Afrikaans en Engels, dat jy nie in en deur Afrikaans inklusief, divers en uitnemend kan wees nie. Daar is mense op Stellenbosch wat opereer onder die dekmantel dat hulle net die te Afrikaansheid van Stellenbosch ter wille van akademiese internasionalisme ‘n bietjie wil tem deur dit af te skaal en aan studente meer blootstelling aan Engels te gee, en dat hulle nie die posisie van Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal wil aantas nie In dié proses plaas hulle Afrikaans op ‘n onbeheerbare glybaan na verengelsing. Hierdie glybaan is geen goedkoop argument van die taalbesorgdes nie. Dit is ‘n werklikheid wat reeds treffend aan die ou UPE, die voormalige RAU, aan UNISA en in groter wordende mate aan UP gedemonstreer word. Stellenbosch se afgestudeerdes het oor negentig jaar bewys dat die feit dat hulle in Afrikaans opgelei is, hulle in geen opsig verhinder om internasionaal te beweeg en mee te ding nie. Engelssprekendes wat gretig aan die US in Afrikaans kom studeer het, is die beste getuigskrif vir hoe inklusief en akkommoderend US op taalgebied kan wees sonder om sy eerste verantwoordelikheid teenoor die Afrikaanse taalgemeenskap te verwater. In werklikheid ontken die afskalers die vermoë van Afrikaans om alles te wees wat die vyf visiepunte van die US vereis.
5. Dikwels word daar gesê dat Stellenbosch behoort te "transformeer" deur meer bruin Afrikaanssprekendes te lok. Maar Chris Brink het reeds in sy boek oor die taaldebat aan Stellenbosch laat blyk dat dié beleid nie slaag nie omdat so min bruines hul tot tersiêre onderrig wend. Brink se oplossing was daarom meer Engels sodat swart studente na Stellenbosch gelok kan word. Dink u Stellenbosch behoort te "transformeer" in dié sin?
Stellenbosch het ‘n plig en verantwoordelikheid teenoor alle Afrikaanssprekendes, eerste tweede of derde taal sprekers, wat graag in en deur Afrikaans wil studeer, om hulle die geleentheid daartoe te bied. Die meerderheid Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika is nie wit nie maar bruin. Hierdie gemeenskap is ook die een van die laagste deelnamekoers aan tersiêre onderwys van alle Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe. Stellenbosch het dus ‘n verantwoordelikheid om by te dra tot die opheffing van mense uit armoede sodat hulle deur opleiding nuwe lewensgeleenthede kan skep. Afrikaans is ‘n middel om mense van enige groep te bemagtig. Daar is oorgenoeg praktiese voorstelle op die tafel van hoe die US hierdie mense kan help. Dit is net die wil om dit te doen wat kortkom. Politieke korrektheid en ideologieë moet net op die agtergrond bly sodat die praktiese programme vryelik kan funksioneer.
6. Wat is u kommentaar oor die A- en T-opsies en veral die insluiting van die T-opsie in die nuwe konseptaalbeleid wat in Oktober vrygestel is?
Die konseptaalbeleid is van die tafel en in die nuwe benadering wat die Raad op 16 November 2007 aanvaar het, word teruggekeer na die oorspronklike beleid van 2002 wat bepaalde belangrike versekeringe oor Afrikaans bevat. As die oorspronklike beleid van 2002 korrek toegepas was (en lukrake afwykings nie links en regs toegelaat is nie) sou ons nie in die huidige dilemma verkeer het nie. Net die tyd sal leer in hoe ‘n mate daar eenstemmigheid oor die interpretasie van wat dit in die praktyk beteken bestaan en of die afwykings van die afgelope vyf jaar hersien sal word. Vir ons beteken dit dat die A-opsie van voorgraadse onderrig opnuut verskans word.
7. Dit wil voorkom asof die raad van Stellenbosch meer ten gunste van Engels is en die konvokasie sterker oor Afrikaans voel? Is dit ‘n juiste opsomming?
Die Konvokasie wil vir Afrikaans ‘n vaste plek op Stellenbosch verseker. Dit kan net gedoen word as daar ‘n duidelike beleid en ‘n goed omskrewe plan is om dit te bereik wat sal verseker dat Afrikaans nie aan die willekeur van dosente of departemente of fakulteite of individue uitgelewer word nie. Dit is waaroor die debat gaan. Die feit dat die US so ‘n openbare debat toegelaat en hanteer het, is nie ‘n bewys dat die US aan die agteruitgaan is nie. Inteendeel, dit is net ‘n volwasse en sterk universiteit wat oor die intellektuele en geestesvermoëns beskik wat so ‘n diepgaande debat soos dié van die afgelope vyf jaar met waardigheid kan hanteer. Let daarop daar is geen betogings, geen optogte, geen plakkaatoorloë, geen toi-toi aktiwiteite gevoer nie; vensters is nooit stukkend gegooi nie, lesings is nie ontwrig nie, kantore is nie beset nie, buitebande is nie verbrand nie. Die universiteit het te midde van die debat op voortreflike wyse met sy normale werk voortgegaan. In hierdie opsig is die US alle ander universiteite voor. Die US raad is besig om te verander en die moontlikheid is nie uitgesluit dat die Raad na die verkiesing van 5 nuwe lede in Februarie 2008 daar anders sal uitsien nie.
8. Blykbaar geskied die oorgrootte meerderheid van nagraadse kursusse reeds in Engels. Die vraag is nou: kan Afrikaans nog gered word as Engels reeds so ‘n sterk nagraadse posisie verwerf het?
Dit is ‘n saak wat in die nabye toekoms meer aandag sal geniet namate dosente weer oortuig raak dat Afrikaans geen struikelblok vir uitnemendheid, diversiteit of internasionalisering is nie.
9. Watter persentasie van dosente aan die US publiseer steeds in Afrikaans? Dit wil voorkom asof die meeste van hulle reeds Engels as verkose taalmedium aangeneem het, ten minste wat akademiese publikasie betref.
Die US se studentegetal is steeds meer as 60% Afrikaans en sy personeel is steeds oorwegend Afrikaans. Op voorgraadse vlak vir kontakonderrig het die Afrikaanssprekendes vir die afgelope vyf jaar redelik konstant op 70% gebly. Twee teenstrydighede wat aandag verdien is dat transformasie van wit na nie-wit en uitnemendheid meermale in botsing met mekaar is. Die US kon nog altyd internasionale navorsers akkommodeer sonder om Afrikaans prys te gee. Daar is metodes waarop die sake hanteer kan word en dit behoort in die plan vir die ontwikkeling van Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal wat nou uiteindelik ‘n top prioriteit word, aandag te kry.
10. Indien dit sou blyk dat Stellenbosch verengels gaan word, wat sou ‘n gepaste reaksie of strategie wees?
Die optrede van sy Afrikaansgesinde personeel, oudstudente, en tans ook sy huidige studente, is duidelike bewys dat hulle nie sal toelaat dat die US verengels nie. Die saak van Afrikaans berus op hoë eties-morele beginsels, het ‘n inspirerende geskiedenis van lojaliteit en toewyding agter hom en vereis net dat die verswakkende geloof en wil van Afrikaanse mense in besluitnemende posisies weer herstel moet word.
Stellenbosch
21.11.2007
купить пневматический инструментОлександр Васильович Фільчаков