Anti-misdaadvergadering in Pretoria

’n Dertigtal mense het gisteraand ’n vergadering van Inwonersteenmisdaad (ITM) in Menlopark bygewoon. Agtien buurte van Pretoria was hier verteenwoordig. Die belangrikste besprekingspunt op die agenda was die onlangse hofoorwinning van die inwoners in Lynnwood Manor, en die implikasies daarvan vir ander woonbuurte in Pretoria wat ook hulle gebiede wil afsper ten einde misdaad te bekamp.

Nico Hager het die konteks van die Lynnwood Manor-saak verduidelik. Aan die einde van 2005 het die stadsraad die buurt se aansoek om hulle gebied af te sper, afgekeur. Op dieselfde dag is twaalf ander Pretoria-woonbuurte se aansoeke ook afgekeur. Hulle appèl teen die besluit is geïgnoreer en tot vandag toe is geen verdere aandag aan die saak verleen nie. Dit is die rede waarom Lynnwood Manor nie hulle woonbuurt kon afsper nie. Die area was onlangs in die nuus weens ’n vlaag gewelddadige aanvalle en die verkragting en moord op ’n vrou.

 
Die hof het egter ten gunste van die inwoners se onlangse dringende hofaansoek beslis en die buurt word tans afgesluit. Daar is nog geen sekerheid oor wanneer die inwoners se hoofaansoek in hierdie verband egter aangehoor gaan word nie.

Volgens Hager is die hofbesluit van kardinale belang vir ander woonbuurte in die groter "Tshwane"-metro. Die hof het naamlik erken dat veiligheidskomplekse en versperrings doeltreffende middele is om misdaad te bekamp. Diegene wie se aansoeke in hierdie verband dus deur die metro afgekeur is, behoort nou weer aansoek te doen.  ITM sal spesifiek die twaalf buurte, wie se aansoeke in 2005 verwerp is, in hierdie verband bystaan.

Barry Puttergill, wat een van die leidende figure is in Lynnwood Manor se aansoek, het verduidelik dat Lynnwood Manor Estate al in 2001 met pogings begin het om hulle woonbuurt te laat afsper. Hy het verduidelik hoe die agt komiteelede van die buurt nou onlangs net ná die wreedaardige moord op mev Kathy Odendaal van Farhamstraat byeengekom het. Elkeen het dadelik R20 000 op die tafel geplaas. Sodoende kon hulle die dringende hofaansoek finansier. Tot dusver is sowat R400 000 van die 110 huishoudings in die area al ingesamel.

Jan Malan het die kompleksiteit van woonbuurtafsperrings verduidelik. Hy het ’n lys met riglyne in hierdie verband aan die aanwesiges voorgehou. Dit is ’n lang, duur proses. Verder moet bewyse gelewer kan word dat ten minste 67% van inwoners in ’n spesifieke buurt ten gunste van die afsluiting is. Indien die aansoek goedgekeur word, is dit bloot vir twee jaar geldig, waarna die inwoners weer ’n aansoek moet indien.

 
Daar is tans 43 areas in Pretoria wat afgesper is en 67 aansoeke moet nog aangehoor word. Malan het verder voorgestel dat ’n nasionale fonds gestig moet word waartoe mense kan bydra indien hulle buurtafsperring in Pretoria ’n hupstoot wil gee. Hy meen ook dat dit nodig is dat navorsing gedoen moet word oor die voordele van afsluitings, sodat die empiriese resultate aan die stadsraad voorgelê kan word. Daarom is dit van kardinale belang dat misdaadstatistiek vir elke woonbuurt noukeurig bygehou moet word, voor en ná afsperring.

Kallie Kriel van Afriforum het ’n beroep op die wyksverteenwoordigers gedoen om elk R10 000 te skenk vir ’n fonds in hierdie verband. Hy het onderneem dat Afriforum self R10 000 sal bydra. Sy organisasie het die Instituut vir Veiligheidstudies vroeër vanjaar getaak om ’n studie te onderneem oor die diskrepansies tussen regeringsbeleid en die uitvoering daarvan. Die studie behoort teen die einde van die jaar afgehandel te wees. Afriforum se regspan sal dan ’n hofsaak teen die regering aanhangig gemaak, gebaseer op hierdie “gapings” in beleidstoepassing.

Vir meer inligting kan belangstellendes na die volgende webwerwe gaan kyk:

http://www.streetsafe.co.za
http://www.inwonersteenmisdaad.co.za

сауны вданильченко юрій броніславович компромат