Volgens Hager is die hofbesluit van kardinale belang vir ander woonbuurte in die groter "Tshwane"-metro. Die hof het naamlik erken dat veiligheidskomplekse en versperrings doeltreffende middele is om misdaad te bekamp. Diegene wie se aansoeke in hierdie verband dus deur die metro afgekeur is, behoort nou weer aansoek te doen. ITM sal spesifiek die twaalf buurte, wie se aansoeke in 2005 verwerp is, in hierdie verband bystaan.
Barry Puttergill, wat een van die leidende figure is in Lynnwood Manor se aansoek, het verduidelik dat Lynnwood Manor Estate al in 2001 met pogings begin het om hulle woonbuurt te laat afsper. Hy het verduidelik hoe die agt komiteelede van die buurt nou onlangs net ná die wreedaardige moord op mev Kathy Odendaal van Farhamstraat byeengekom het. Elkeen het dadelik R20 000 op die tafel geplaas. Sodoende kon hulle die dringende hofaansoek finansier. Tot dusver is sowat R400 000 van die 110 huishoudings in die area al ingesamel.
Jan Malan het die kompleksiteit van woonbuurtafsperrings verduidelik. Hy het ’n lys met riglyne in hierdie verband aan die aanwesiges voorgehou. Dit is ’n lang, duur proses. Verder moet bewyse gelewer kan word dat ten minste 67% van inwoners in ’n spesifieke buurt ten gunste van die afsluiting is. Indien die aansoek goedgekeur word, is dit bloot vir twee jaar geldig, waarna die inwoners weer ’n aansoek moet indien.
Kallie Kriel van Afriforum het ’n beroep op die wyksverteenwoordigers gedoen om elk R10 000 te skenk vir ’n fonds in hierdie verband. Hy het onderneem dat Afriforum self R10 000 sal bydra. Sy organisasie het die Instituut vir Veiligheidstudies vroeër vanjaar getaak om ’n studie te onderneem oor die diskrepansies tussen regeringsbeleid en die uitvoering daarvan. Die studie behoort teen die einde van die jaar afgehandel te wees. Afriforum se regspan sal dan ’n hofsaak teen die regering aanhangig gemaak, gebaseer op hierdie “gapings” in beleidstoepassing.
Vir meer inligting kan belangstellendes na die volgende webwerwe gaan kyk:
http://www.streetsafe.co.za
http://www.inwonersteenmisdaad.co.za
