Zim kry amper miljard van SA

Suid-Afrika gaan nagenoeg R900 miljoen se begrotingshulp aan Zimbabwe leen om ‘n te help in die komende algemene verkiesing.

So het Tendai Biti, Zimbabwe se minister van finansies, gesê.

Volgens Biti het Zimbabwe Suid-Afrika en Angola verlede jaar genader om finansiële steun van R1,3 miljard.

“Na aanleiding van gesprekke sedert September 2012 het die Suid-Afrikaanse kabinet tot ‘n besluit gekom – ‘n positiewe besluit,” het Biti gister op ‘n mediakonferensie gesê.

Hy het ook bevestig dat hy Suid-Afrika nog sowat R400 miljoen gevra het om die algemene verkiesing, wat later vanjaar plaasvind, te finansier.

“Dit is duidelik dat die tesourie die verkiesing nie kan bekostig nie.

“Ons gaan nie weer voor die verkiesing geld leen nie,” het Biti gesê.

‘n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse tesourie het gister gesê die twee regerings “voer gesprekke” oor die lening en die voorwaardes, maar wou niks meer sê nie.

Zimbabwe het ook by die Verenigde Nasies (VN) aangeklop om geldhulp.

Biti het gesê Zimbabwe sukkel steeds finansieel weens die resessie, al het pres. Robert Mugabe en Morgan Tsvangirai, premier, in 2008 besluit om regeringsmag te deel.

‘Skiet die boer’ het terreur aangemoedig

Die aanhoudende gesing van die liedjie “Skiet die Boer” deur die geskorste leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema, het die optrede van ‘n veroordeelde terroris beïnvloed, het die rondgaande hof op Phalaborwa Maandag gehoor.

Die kliniese sielkundige Franco Visser het volgens die SABC in die vonnisverrigtinge van Georgios Kiratzidis, Martinus Vorster en Ruan Louw getuig.

Visser het gesê die herhaling van dié liedjie deur Malema, sowel as die moord op die AWB-leier Eugene Terre’Blanche, het Kiratzidis se emosionele toestand geweldig beïnvloed.

Dié drie het beplan om die huise van ANC-leiers, sowel as busse en townships, met bomme te teiken. Hulle is skuldig bevind op aanklagte van onder meer sameswering om terroriste-aanvalle uit te voer, die onwettige vervaardiging en besit van plofstof, en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Olifant keer toeriste se kar om

‘n Paartjie is Maandagoggend ernstig beseer toe ‘n olifant hul motor in die Kruger Nasionale Park omgegooi het. Die man is ‘n Pool en sy vriendin Chinees.

Slegs die man het sigbare beserings opgedoen, het William Mabasa, woordvoerder van die park, gesê. ‘n Helikopter, plaaslike dokter en paramedici is na die toneel ontbied.

“Dit is onduidelik hoekom die olifant aggressief geraak het. Ons wil die publiek egter versoek om altyd op die uitkyk te wees vir hierdie groot diere en om te probeer om nie te naby te kom wanneer een op die pad aankom nie,” het Mabasa in ‘n verklaring gesê.

“Ons is in kennis gestel dat die man ‘n paar gebreekte ribbes en interne bloeding het. Toetse op hom is nog nie afgehandel nie. Die vrou kla van rugpyn en ons wag vir haar X-strale.”

Hulle is na die Clinix Phalaborwa-staatshospitaal geneem. Die park se bestuur sal die man se besonderhede bevestig en die ambassade in kennis stel.

Kanadese student (22) in Vereeniging verkrag

‘n Kanadese student (22) wat as deel van haar kursus maatskaplike werk in Suid-Afrika doen, is oor die naweek naby Vereeniging verkrag. Die voorval word beskryf as ‘n “huisroof wat skeefgeloop het”.

Die student en haar huismaats, wat almal uit Westerse lande afkomstig is en welsynswerk in Suid-Afrika doen, is Saterdagnag deur rowers oorval. Die presiese rede waarom sy die enigste is wat verkrag is, is nie duidelik nie.

Om die identiteit van die meisie te beskerm, word die presiese ligging van die voorval tans vertroulik gehou. ‘n Woordvoerder het egter gesê: “Dit is sleg, baie sleg, ook vir ons land. Al hierdie meisies kom na Suid-Afrika om welsynswerk te doen, in kinderhuise en arm gebiede. Almal is baie geskok. Die nuus versprei reeds dat jong vroue wat Suid-Afrikaners kom help, goedsmoeds verkrag word.”

Blykbaar het die meisie die nodige behandeling by die trouma-eenheid van die plaaslike polisiestasie ontvang. Die polisiestasie, wat onder die bevel van ‘n Afrikanervrouekolonel staan, is goed toegerus om verkragtingslagoffers te hanteer.

Suid-Afrika is by verre die wêreld se swaargewigkampioen as dit by verkragting kom. Volgens statistieke van die polisie en ondersoeke deur die Mediese Navorsingsraad, word tot 1,3 miljoen vroue jaarliks in die land verkrag. Dit is meer as in die oorloggeteisterde Demokratiese Republiek van die Kongo wat deur die Verenigde Nasies as ‘n “menseregteramp” verklaar is. Volgens VN-syfers word ongeveer ‘n miljoen vroue per jaar in die DRK verkrag.

Tot 75% van Suid-Afrikaanse vroue sal ten minste een keer in hul lewens verkrag word. ‘n Vrou se kanse om verkrag te word, is groter as om matriek deur te kom.

Woolworths en ander supermarkte verkoop vleis met verkeerde etikette

Gewilde supermarkte soos Pick n Pay, Shoprite, Fruit and Veg City, Woolworths en Spar tel onder die winkelgroepe wat vleisprodukte verkoop waar die vleis nie met etikette ooreenstem nie, het City Press Sondag berig.

Dié winkelgroepe het volgens die koerant egter gesê die probleem word geskep deur vleisborde, sae, hande en toerusting wat gebruik word om een vleissoort te hanteer, wat dan in kontak kom met ander vleis.

Whitey Basson, uitvoerende hoof van Shoprite, het aan die koerant gesê daar is “geen opsetlike vermenging om klante te mislei nie”.

‘n Studie deur die Universiteit Stellenbosch (US) het getoon dat bykans 60% van 139 produkte wat getoets is, bestanddele bevat het wat nie op die etikette aangedui is nie, insluitend donkie en waterbuffel, sowel as bok- en varkvleis.

Altesaam 20 van die 32 Shoprite-produkte wat getoets is, se etikette was nie akkuraat nie.

Basson het ook gesê party van die bevindings maak nie sin nie.

“Geen slagter wat by sy volle verstand is, sal opsetlik ‘n klein persentasie lamsvleis, wat meer per kilogram kos, by wors van bees, wat goedkoper is, voeg nie.”

Peter Arnold, direkteur van voedselprodukte vir Pick n Pay, het op sy beurt gesê die hoeveelheid onverklaarde produkte wat in die studie deur US gevind is, is “baie klein”.

Louw Hoffman, die wetenskaplike agter die studie, het gesê verkeerde etikette is “algemeen” in Suid-Afrika.

‘Mense voel baie veiliger nou as onder apartheid’

Bewerings deur emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu dat Suid-Afrika een van die gewelddadigste samelewings is, is Saterdag deur Phumla Williams, waarnemende woordvoerder vir die kabinet, verwerp.

“Navorsing het bevestig dat die mense van Suid-Afrika nou veiliger voel as gedurende die apartheidsdae,” het Williams in ‘n verklaring gesê.

“Dit is ‘n direkte gevolg van die implementering van die beleid en strategieë van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Dit sluit hoë polisiesigbaarheid en vinnige reaksie op kriminele aktiwiteite in.”

Tutu het Donderdag gesê Suid-Afrika het sy sin van selfwaarde verloor.

“Ons is daarvan bewus dat ons, baie eenvoudig, een van die mees gewelddadige samelewings geword het. Dis nie wat ons was nie, selfs nie onder apartheid nie,” het hy Donderdag by ‘n seremonie gesê.

Williams het gesê polisiestatistieke dui daarop dat vlakke van geweldsmisdaad in die land aansienlik gedaal het.

“Aartsbiskop Tutu behoort die vooruitgang te erken wat die regering gemaak het sedert die begin van demokrasie, en godsdienstige leiers en ander belanghebbendes aan te moedig om met die regering saam te werk om misdaad te beveg,” het sy gesê.

VSA dryf homoseksuele agenda, sê aartsbiskop

Die Katolieke Aartsbiskop van Durban, Wilfred Napier, het dié week Amerikaanse voorwaardes vir hulp aan ontwikkelende lande, insluitend die verspreiding van kondome en die bevordering van die regte van homoseksuele mense, veroordeel.

Napier was vroeër in die spervuur, nadat hy pedofiele as siek mense beskryf het en nie misdadigers nie.

Hy het Amerikaanse inmenging as ‘n nuwe vorm van slawerny bestempel.

Hy het ook ontken dat hy homofobies is, deur te sê dit is onmoontlik aangesien hy geen homoseksuele mense ken nie.

Gerugte wil dit hê dat ‘n nuwe Pous gekies is omdat die vorige Katolieke kerkleier nie kans gesien het vir die groeiende skandaal oor kindermolestering in sy gemeentes wêreldwyd nie.

Napier was een van die 115 kardinale wat Pous Franciscus in Maart as die nuwe hoof van die Katolieke kerk verkies het.

Hy sê Suid-Afrika is besig om Amerika se agenda uit te voer met betrekking tot huwelike tussen mense van dieselfde geslag.

Sy opmerkings het woede uitgelok, slegs weke nadat hy moes verskoning vra omdat hy gesê het pedofilie is ‘n siekte en nie ‘n misdaad nie.

Vermeende kinderwelsyndief kry bevordering

‘n Vrou wat na bewering R3,8 miljoen van Kinderwelsyn SA gesteel het, sal Vrydag in die Kimberley-landdroshof verskyn.

Die 57-jarige vrou het na bewering tussen 2009 en 2011 altesaam R3,8 miljoen van dié organisasie in Kimberley gesteel.

Sy het volgens die Valke maatskaplike toelaes na haar persoonlike rekening oorbetaal.

Die verdagte is in Februarie in hegtenis geneem en sal teregstaan op 158 aanklagte van bedrog en korrupsie.

Sy is onlangs as ‘n senior bestuurder in die provinsie se onderwysdepartement aangestel.

Dubbele standaarde vir Derby-Lewis, Walus en APLA-terroriste, Shaik

“Twintig jaar het verstryk sedert Chris Hani deur Janus Walus doodgeskiet is en Walus, asook Clive Derby-Lewis, lewenslange gevangenisstraf weens die moord opgelê is.

Geheues het vervaag en ANC-propaganda oordonder feite en die harde werklikhede. In belang van reg en geregtigheid is dit noodsaaklik dat die werklike feite blootgele en die saak in perspektief gestel word.”

Só sê die Stigting vir gelykheid voor die reg waarvan die voorsitter, mnr. Johan Botha ‘n verklaring uitgereik het. Hier is die res van die verklaring:

Al die politieke partye by die onderhandelinge vir die huidige Grondwet het ooreengekom dat die grondslag vir die Grondwet onder meer sal berus op die volgende bepalings, soos dit in die slotgedeelte van die Tussentydse Grondwet uiteengesit is:

Die aanvaarding van hierdie Grondwet le die vaste fondament vir die mense van Suid-Afrika om die verdelings en tweespalt van die verlede, wat gelei het tot growwe skendings van menseregte, die verbreking van menslikheidsbeginsels in gewelddadige konflik en ‘n nalatenskap van haat, vrees, skuld en wraak, te oorbrug.

Die geleentheid is daar om dit nou reg te stel op die grondslag dat daar ‘n behoefte bestaan aan begrip en nie wraaksug nie, ‘n behoefte aan herstel en nie vergelding nie, ‘n behoefte aan medemenslikheid en nie viktimisering nie.

Ten einde die versoening en herstrukturering te bevorder, moet amnestic verleen word met betrekking tot dade, versuime en misdrywe wat met politieke oogmerke in verband staan en wat in die loop van die konflik van die verlede begaan is….

Hierdie beginsels is deur die huidige Grondwet bekragtig. Al die politieke leiers by die onderhandelinge, met uitsondering van die ANC, sal ook bevestig dat die bedoeling van hierdie bepalings was dat “politieke oogmerke” die gewone betekenis sou he, soos dit deur die gewone redelike mens verstaan word.

Die Wet op die Bevordering van Nasionale Eenheid en versoening wat aan hierdie bepalings moes uitdrukking gee, het egter die gees en die wese van hierdie bepalings verontagsaam, en is so saamgestel dat dit tot onder meer die volgende absurde gevolge gelei het:

Op 25 Julie 1993 het lede van Apia, die militere vleuel van die PAC, die St. James-Kerk in Kenilworth, Kaapstad, binnegestorm en weerlose kerkgangers, onder wie vroue en kinders, met AK-47-gewere en handgranate aangeval. Elf kerkgangers is gedood en 58 ernstig gewond. Al die lede van APIA het amnestie gekry. Die leier van die PAC, mnr. Letlapa Mphaphlela, wat die bevel vir die aanval gegee het, het in die openbaar verklaar dat hy weier om amnestie daarvoor te vra.

Hy is aanvanklik weens moord verhoor, maar die saak is van tyd tot tyd uitgestel en het uiteindelik van die rol verdwyn. Hy is tans ‘n lid van die parlement.

Janus Walus het Chris Hani op 10 April 1993 doodgeskiet. Hani was ‘n lid van Umkhonto weSizwe, ‘n geharde kommunis, wat terreuraanvalle en halssnoermoorde op onder ander weerlose vroue en kinders goedgekeur het. Walus en dive Derby-Lewis is weens die moord tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Albei is amnestie geweier.

Na aanleiding van Clive Derby-Lewis se aansoek om parool het mnr. Ngconde Balfour, destydse Minister van Korrektiewe Dienste, hom soos volg uitgelaat:

“I will tell you [you] will not go out [of prison] Clive Derby-Lewis … you can go to hell”.

Clive Derby-Lewis, 77 jaar, het reeds bykans 20 jaar van sy gevangenisstraf uitgedien en het kanker in ‘n gevorderde stadium. Hy het reeds twee keer aansoek gedoen om mediese parool, wat geweier is. Schabir Shaik wat weens bedrog tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis is, is nadat hy 2 jaar en 4 maande van sy straf uitgedien het, op mediese parool vrygelaat. Die vrylating is allerwee veroordeel, maar die betrokke minister het hom hoegenaamd nie daaraan gesteur nie. Shaik is nog steeds op vrye voet.

Dat die weiering van mediese parool aan Clive Derby-Lewis uit blote wraaksug en vergelding geskied, sal geen redelike mens kan betwis nie.

Gautengers gaan vir e-tol moet opdok

Die ongewilde e-tolstelsel sal binne die volgende twee maande op Gautengse paaie in werking gestel word, het Sanral Donderdag gesê.

“Ons wag nou dat die parlementêre proses voltooi word, met die helfte reeds afgehandel,” het Vusi Mona, woordvoerder vir Sanral, in ‘n verklaring gesê.

Wetgewing moet afgehandel word, waarna die minister van vervoer, Ben Martins, die finale tariewe bekend sal maak.

“Daardie hele proses sal sowat twee maande neem om te voltooi. Daarna sal die e-tolstelsel begin,” het Mona gesê.

“Ons het ‘n verantwoordelikheid om saam hierdie land te bou en ons is dankbaar dat daar individue en groepe is wat die waarde van hierdie projek sien en wat bereid is om hulle rol in daardie opsig te speel.”

Die DA-parlementslid Jack Bloom het in reaksie gesê die regering moet selfs in hierdie laat stadium sy besluit heroorweeg want toenemende openbare teenstand kan die projek ontspoor.

“Dis die regering teen die mense van Gauteng noudat Sanral aangekondig het… dat die e-tolstelsel… oor twee maande gaan begin,” het hy in ‘n verklaring gesê.

“Die DA ondersteun Gautengse motoriste wat hulle vrye wil uitoefen deur nie ‘n e-skyfie te koop nie.”

Sowat 600 000 mense het al e-skyfies gekoop.