‘Mense voel baie veiliger nou as onder apartheid’

Bewerings deur emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu dat Suid-Afrika een van die gewelddadigste samelewings is, is Saterdag deur Phumla Williams, waarnemende woordvoerder vir die kabinet, verwerp.

“Navorsing het bevestig dat die mense van Suid-Afrika nou veiliger voel as gedurende die apartheidsdae,” het Williams in ‘n verklaring gesê.

“Dit is ‘n direkte gevolg van die implementering van die beleid en strategieë van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Dit sluit hoë polisiesigbaarheid en vinnige reaksie op kriminele aktiwiteite in.”

Tutu het Donderdag gesê Suid-Afrika het sy sin van selfwaarde verloor.

“Ons is daarvan bewus dat ons, baie eenvoudig, een van die mees gewelddadige samelewings geword het. Dis nie wat ons was nie, selfs nie onder apartheid nie,” het hy Donderdag by ‘n seremonie gesê.

Williams het gesê polisiestatistieke dui daarop dat vlakke van geweldsmisdaad in die land aansienlik gedaal het.

“Aartsbiskop Tutu behoort die vooruitgang te erken wat die regering gemaak het sedert die begin van demokrasie, en godsdienstige leiers en ander belanghebbendes aan te moedig om met die regering saam te werk om misdaad te beveg,” het sy gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae