Woolworths en ander supermarkte verkoop vleis met verkeerde etikette

Gewilde supermarkte soos Pick n Pay, Shoprite, Fruit and Veg City, Woolworths en Spar tel onder die winkelgroepe wat vleisprodukte verkoop waar die vleis nie met etikette ooreenstem nie, het City Press Sondag berig.

Dié winkelgroepe het volgens die koerant egter gesê die probleem word geskep deur vleisborde, sae, hande en toerusting wat gebruik word om een vleissoort te hanteer, wat dan in kontak kom met ander vleis.

Whitey Basson, uitvoerende hoof van Shoprite, het aan die koerant gesê daar is “geen opsetlike vermenging om klante te mislei nie”.

‘n Studie deur die Universiteit Stellenbosch (US) het getoon dat bykans 60% van 139 produkte wat getoets is, bestanddele bevat het wat nie op die etikette aangedui is nie, insluitend donkie en waterbuffel, sowel as bok- en varkvleis.

Altesaam 20 van die 32 Shoprite-produkte wat getoets is, se etikette was nie akkuraat nie.

Basson het ook gesê party van die bevindings maak nie sin nie.

“Geen slagter wat by sy volle verstand is, sal opsetlik ‘n klein persentasie lamsvleis, wat meer per kilogram kos, by wors van bees, wat goedkoper is, voeg nie.”

Peter Arnold, direkteur van voedselprodukte vir Pick n Pay, het op sy beurt gesê die hoeveelheid onverklaarde produkte wat in die studie deur US gevind is, is “baie klein”.

Louw Hoffman, die wetenskaplike agter die studie, het gesê verkeerde etikette is “algemeen” in Suid-Afrika.

Maak 'n opvolg-bydrae