Hoe lyk ons toekoms onder Jacob Zuma en behoort Afrikaners regeringsverandering na te streef? Dié vraag het Donderdag ná ‘n lang vergadering hier in Johannesburg skielik opgeduik en indringende debat ontketen.
Die geleentheid was een van die gereelde byeenkomste van die Afrikaner- Strategiese Komitee, kortweg SK. Die komitee is in September 2011 gestig en het aanvanklik uit slegs 5 mense bestaan, maar is sedertdien na die huidige 20 lede uitgebrei. Saam verteenwoordig ons 69 Afrikanerorganisasies en ‘n mens kan dit as ‘n soort Afrikanerraad- of -kabinet-in-wording beskou. Met die ineenstorting van Afrikanerstrukture sedert 1994 is daar sedertdien geen oorkoepelende liggaam wat met die Afrikaner se probleme en toekoms in Suid-Afrika gemoeid is nie.
Uiteraard doen elke Afrikaanse organisasie wat hy kan om die verval en agteruitgang van ons volk te stuit, maar dis dringend noodsaaklik dat al ons pogings gekoördineer word en dat daar gereelde kommunikasie en gesprek tussen Afrikanerleiers plaasvind. Vandaar dus die bestaan van die SK wat oor alle politieke en gosdienstige verdelings uit die verlede onder Afrikaners tot stand gekom het. Toenemend heers daar konsensus onder ons mense oor vele kwessies en ‘n breë strategie is oor die afgelope twee jaar uitgehamer. Ek hoop dat ons binnekort ook beleidstukke kan opstel wat ons met alle Afrikaners, asook die buiteland, ambassades en die ANC-bewind self, kan deel.
Hoe verder ons van 1994 af staan, hoe duideliker raak dit dat mnr. F.W. de Klerk heeltemal ‘n mislukking van die onderhandelings gemaak het. Ná Vrydag se persverklaring deur die F.W.-de-Klerk-stigting, het ek gister die volgende vrae aan mnr. De Klerk gestuur en hoop dat hy hulle vir ons sal beantwoord:
- Van die lesers reageer op u jongste verklaring deur te sê dat die 1992-referendumvraag “dubbelsinnig” was en dat hulle daarom om die bos gelei is oor die plan om uiteindelik alle politieke en militêre mag aan die ANC binne ‘n eenheidstaat oor te dra. Volgens u, was die referendumvraag dubbelsinnig?
- Het u voorsien dat die ANC met sy oorname van die weermag ook die kommando’s sou afskaf en daarmee die plattelandse gebiede en boere weerloos teen misdadigers sou laat?
- In amptelike korrespondensie tussen mev. Thatcher en mnr. P.W. Botha wat onlangs deur die Britse argiewe vrygestel is, blyk dit dat Brittanje destyds die oorname van mnr. Mugabe in Zimbabwe as negatief ervaar het. Moes die oorname van radikale regerings in sowel Zimbabwe as die twee Portugese kolonies u nie tot versigtigheid gemaan het dat Suid-Afrika dieselfde pad kon loop nie?
- U is reeds deur die Britse media aangeval toe u tydens u onderhoud met Christiane Amanpour verklaar het dat die begrip van selfbeskikking as sodanig soos dit deur die NP-regering voorgestaan is, nie “moreel aanstootlik was” nie. Onlangs het die Londense Guardian ook geskryf dat baie min swartmense ooit voor 1994 universiteitsopleiding ontvang het. Hoe voel u oor wanvoorstellings van Afrikaners en die SA verlede in die Britse media?
- Is daar steeds ‘n 1994-skikking of was die grondwet maar ‘n “sonsondergangklousule” soos mnr. Joe Slovo dit genoem het en kan die ANC tans min of meer die land na goeddunke inrig, selfs radikale sosialisme as dit moet?
- ‘n Meerderheid gewone Afrikaners beskuldig u vandag daarvan dat u destyds dislojaal teenoor u eie mense en u eie kiesers opgetree het. Hoe voel u oor sulke beskuldigings?
- Wat staan Afrikaners tans te doen? Moet hulle vir lief neem met etniese oorheersing, daarteen protesteer of op ‘n volkstaat begin aandring? Of dalk emigreer na ander Statebondslande?
- Is daar enige selfkritiek wat u kan uitspreek? Het u tydens die onderhandelinge van destyds foute begaan, te maklik op sekere punte toegegee of is u steeds baie tevrede met die uitkoms?
- Stem Suid-Afrika vandag ooreen met hoe die NP die toekoms onder ‘n swart meerderheidsregering voorgestel het of meer met die sombere voorspellings van die NP-kritici van destyds?
Blykbaar is mnr. De Klerk tans in die buiteland en tot dusver het ons slegs ‘n ontvangserkenning ontvang.
Terwyl F.W. de Klerk kennelik “te min, te laat” probeer doen om die ANC-stoomroller te stuit, ervaar die meeste gewone Afrikaners sy huidige rol glad nie as positief nie. Trouens, op sosiale media het daar gister en eergister woede losgebars en die meerderheid van ons mense vaar teen mnr. De Klerk uit omdat hy die land “op ‘n silwer skinkbord weggegee het”.
Soos Donderdag se debat oor ons toekoms by die SK, is dit die punt waarby ons moet begin: Die land is weggegee en ons is van alle mag en die meeste van ons instellings gestroop. Terloops, een van my voorstelle is dat ons dringend die verdere aftakeling en verengelsing van Afrikaanse staatskole moet stuit en tot my groot vreugde het die SK dit ‘n prioriteit gemaak. As alle Afrikaanse organisasies net kan saamwerk om ons skole te red, sal ons vir die eerste keer sedert 1994 ‘n klein oorwinninkie behaal. Of selfs: ‘n groot oorwinning. Want die probleem is dat ons ons oor die afgelope twintig jaar op feitlik geen gebied kon laat geld nie.
Dit bring my egter by die eintlike punt wat ek hier wil stel: Vanweë die skerp kritiek wat daar tans teen mnr. Jacob Zuma in die Engelse pers (waarby ek Fleet Street of die pers in die Moederland insluit) uitgespreek word, is daar ‘n algemene stemming téén Zuma onder Afrikaners aan’t oplaai. Omdat die Nasperskoerante soos Beeld en Rapport gewoonlik die Britse pers volg, is dieselfde soort veldtog teen Zuma in die hoofstroom- Afrikaanse media aan die gang.
Aanvanklik by Donderdag se SK-vergadering was daar ook ‘n reaksie van: Afrikaners moet deel wees van die anti-Zuma-front wat tans besig is om te ontstaan, waaronder die DA, die Engelse pers, selfs die groot maatskappye. Binne die groter geostrategiese prentjie, is Brittanje en Amerika waarskynlik ook anti-Zuma, in reaksie op ons land se insluiting in die BRICS-groepering.
Van al die nie-Afrikaners wat Suid-Afrika nog ooit geregeer het, is Jacob Zuma ons seker die beste gesind. Hy het al in verskeie openbare verklarings ons status as inheemse blanke volk bevestig. Daar was die braaivleis met Afrikaners in Houghton, die ete by Libertas, die konferensie in die Sandtonse Hilton, ens. My persoonlike mening is dat, indien dit net van Zuma afgehang het, sou hy lankal ‘n rits toegewings aan Afrikaners gemaak het. Hy is egter ook die gevangene van sy eie party, wat sukkel met ‘n oorgeërfde linkse tradisie wat deur Engelse, Jode, Russe, Kubane, Swede en wie nog gevorm is. Daar is egter allerlei woelinge in die ANC aan die gang en ons kan maar net hoop dat die radikale elemente nie die oorhand kry nie.
By Donderdag se vergadering het ek my aanvanklik, soos die pas oorlede mev. Thatcher sou gesê het, “in ‘n minderheid van een” oor Zuma bevind. Namate die gesprek gevorder het, het die hele vergadering egter erken dat geen regeringsverandering in Suid-Afrika binne die volgende ses of sewe jaar moontlik is nie. Dis nou ongeag wat die Engelse pers kwytraak. Soos altyd, is hulle besig met propaganda, nie met ontleding nie. Hul voorspelling dat die ANC onder die woorde-aanslag in duie gaan stort soos die NP van destyds, is wensdenkery. Selfs al gebeur ‘n wonderwerk en ontvang ‘n alliansie van die DA, Mamphela Ramphele se Agang en COPE saam net-net ‘n meerderheid by die stembus in 2014, is die kanse maar skraal dat die ANC die Uniegebou sal ontruim.
As ons eerlik is, sal ons erken dat die huidige Suid-Afrika kwalik ‘n Westerse demokrasie is en dat verkiesings soos elders op die vasteland deels vir vertoon gehou word. Die ware magspel word elders beslis, in die onderhandelings tussen etniese groepe of selfs met brute mag soos ons nou in die Sentraal-Afrikaanse Republiek gesien het. Zimbabwe is ook ‘n leersame voorbeeld. In weerwil van ‘n histeriese Engelse pers, sowel hier as in Brittanje, het Robert Mugabe nog nie ‘n sentimeter beweeg nie.
Dus moet ons verstaan dat mnr. Jacob Zuma nog tot in 2019 gaan regeer. Meer nog, hy kan selfs as éminence grise, soortgelyk aan Mandela, vir ‘n tyd lank ná 2019 nog politieke invloed uitoefen. Lees gerus ook my brief wat Donderdag in Beeld verskyn het en elders op dié webwerf beskikbaar is.
Anders as mev. Zille en haar Kaapse Engelse wat hulle verbeel dat die son nog op die Britse Ryk skyn as hulle op die seiljagte van die Royal Yacht Club in Tafelbaai uitkyk, het ons Afrikaners geen illusies meer oor nie. Daarvoor het ons seker te veel Franse bloed en Franse vanne. Trouens, dis vir my verblydend om te sien dat die soort kinderkransdiskoers onder Afrikaners oor politiek besig is om te wyk voor die bytende, sarkastiese kommentaar wat ons die afgelope twee dae oor F.W. de Klerk gesien het. Ons volk begin nou dink en dis nooit ‘n maklike proses nie. Eers gryp ‘n mens na strooihalms en dan raak jy realisties.
Goddank die DA voer sy politiek in Engels, al stem Afrikaners in groot getalle vir die party. Daarom word die party nie as ‘n Afrikanerparty gesien nie en bederf dit nie ons verhouding met mnr. Zuma nie.
Ek hou nog altyd vol dat die Afrikaner se stryd nie teen die ANC is nie, maar in eie geledere. Daar is Afrikaners wat reeds só Engels geword het dat hulle geen sin meer sien in ons voortgesette bestaan as ‘n afsonderlike groep in die land nie. Hulle is “Suid-Afrikaners” soos al die ander en Afrikaans ‘n blote toevalligheid of oorblyfsel wat ons met die bruines deel. Dan kry mens die “soewereine individue” wat sy en sy gesin se heil bo alles stel en ewe maklik Australië toe sal emigreer indien dinge hier moeilik raak. Vir die Afrikanernasie voel die soewereine individu net mooi niks; dit kan hom ook nie skeel of sy kind uiteindelik Die Stem of die Australiese volkslied sing nie.
Die oomblik wat Afrikaners hul identiteitskrisis en lamheid oorkom het, sal ‘n see van moontlikhede voor ons uitgestrek lê. Dan sal ons georganiseerd onder behoorlike leierskap staan wat namens ons met mnr. Jacob Zuma kan gaan onderhandel. Lank voor daardie tyd sal ons reeds ‘n ekonomiese en politieke invloed in die land begin uitoefen wat ons mense weer sal ophef en welvarend sal maak. Afrikaans sal op skool en akademies weer sterk staan, want ons gaan die onderduimse Engelse en Indiërs wat in die skadu van ANC-mag ons instellings verengels, lóóp!
Die middele om Zuma teen te gaan, bestaan egter nie. In ‘n klein gedeelte van Natal bly daar meer stemgeregtigde Zoeloes as al die Afrikaners in die land saam. Testosteroondrome van gewapende opstand sal telkens op een of ander vernederende hofsaak en tronkstraf stuit.
Die ANC is hiperbewus van die media se vyandigheid jeens hom. Volgens ‘n rubriekskrywer van die Daily Maverick het die regering reeds planne om die media in die bek te ruk. Dan verval Helen Zille en die DA se magtigste wapen. In elk geval lees Zuma se ondersteuners nie koerante of webwerwe nie, dus beïnvloed die media slegs die elite wat in elk geval DA stem.
Zille belowe ons ‘n Bloedrivier in 2014 by die stembus. Dit mag egter ‘n tweede Slag van Insandlwana raak, wat finaal die Quijotiese magsvertoon van Suid-Afrikaanse Engelse aan die kaak mag stel.
Ons moet ons situasie in die oë kyk en met ons magteloosheid vir lief neem.
Maar soos die Palestynse ambassadeur op ‘n slag aan ‘n groepie Afrikaners in Pretoria-Oos op sy gebroke Engels gesê het: “You have no power. But you have your beautiful minds!”
Onder “beautiful minds” het hy ons graad van opleiding en insig verstaan. Met die nodige insig in die ingewikkelde Suid-Afrikaanse politieke situasie, kan ons weer ons eie heil en toekoms bepaal.
Al is ons tans net ‘n pion op die skaakbord, lewe ons nog steeds. En pionne het ook al ‘n skaakspel gewen, dít weet ons almal. Eers moet ons dóér aan die ander kant van die bord kom.
Hoewel die ANC vir ons te sterk is, kan ons intussen in die skadu van die magtige Zuma teen ‘n paar van ons tradisionele vyande boks, soos die liberale Engelse en Verraaierkaners. En dit moenie skaduboks wees nie.
