Die aanhoudende gesing van die liedjie “Skiet die Boer” deur die geskorste leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema, het die optrede van ‘n veroordeelde terroris beïnvloed, het die rondgaande hof op Phalaborwa Maandag gehoor.
Die kliniese sielkundige Franco Visser het volgens die SABC in die vonnisverrigtinge van Georgios Kiratzidis, Martinus Vorster en Ruan Louw getuig.
Visser het gesê die herhaling van dié liedjie deur Malema, sowel as die moord op die AWB-leier Eugene Terre’Blanche, het Kiratzidis se emosionele toestand geweldig beïnvloed.
Dié drie het beplan om die huise van ANC-leiers, sowel as busse en townships, met bomme te teiken. Hulle is skuldig bevind op aanklagte van onder meer sameswering om terroriste-aanvalle uit te voer, die onwettige vervaardiging en besit van plofstof, en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
