Bomontploffings by Boston-marathon eis 2

Minstens twee mense is dood en tot soveel as 100 ander beseer toe twee bomme Maandag naby die wenstreep van die Boston-marathon ontplof het, het die polisie gesê.

Bronne het aan die media gesê dat ‘n derde bom naby die John F. Kennedy Presidensiële Biblioteek ontplof het, maar die polisie het later gesê dié voorval het met ‘n brand verband gehou, en was nie ‘n aanval nie.

Paramedici het kort na die ontploffings op die toneel aangekom.

“Daar was twee bomme wat ontplof het naby die wenstreep in vandag se Boston-marathon,” het die wedloop se organiseerders kort na die aanvalle op Facebook gesê.

“Ons werk saam met wetstoepassers om uit te vind wat presies gebeur het,” het die organisasie gesê.

NBC News het later berig dat die polisie “verskeie ploftoestelle” in Boston gevind het.

“Ons het iemand gesien wie se bene afgeruk is,” het Mark Hagopian, eienaar van die Charlesmark-hotel, aan die nuusagentskap AFP gesê. Hy het in ‘n restaurant skuiling gevind.

“Iemand langs my se bene was afgeruk by die knieë – hy het steeds gelewe.”

“Dit was erg, dit was vinnig” het hy gesê. “Daar was ‘n groot ontploffing… ons het ‘n windvlaag in ons gesigte gevoel… Die polisie het gesê: ‘Kom uit, kom uit, loop, kom weg, daar kan meer bomme wees.'”

Zara Bielkus, ‘n 30-jarige toeskouer van Boston, het gesê sy het twee bomme enkele sekondes uitmekaar gehoor.

“Toe ons dit hoor, het almal na mekaar gekyk en alles het baie stil geword, en die polisie was binne ‘n minuut daar,” het sy gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae