‘n Paartjie is Maandagoggend ernstig beseer toe ‘n olifant hul motor in die Kruger Nasionale Park omgegooi het. Die man is ‘n Pool en sy vriendin Chinees.
Slegs die man het sigbare beserings opgedoen, het William Mabasa, woordvoerder van die park, gesê. ‘n Helikopter, plaaslike dokter en paramedici is na die toneel ontbied.
“Dit is onduidelik hoekom die olifant aggressief geraak het. Ons wil die publiek egter versoek om altyd op die uitkyk te wees vir hierdie groot diere en om te probeer om nie te naby te kom wanneer een op die pad aankom nie,” het Mabasa in ‘n verklaring gesê.
“Ons is in kennis gestel dat die man ‘n paar gebreekte ribbes en interne bloeding het. Toetse op hom is nog nie afgehandel nie. Die vrou kla van rugpyn en ons wag vir haar X-strale.”
Hulle is na die Clinix Phalaborwa-staatshospitaal geneem. Die park se bestuur sal die man se besonderhede bevestig en die ambassade in kennis stel.
