Zim kry amper miljard van SA

Suid-Afrika gaan nagenoeg R900 miljoen se begrotingshulp aan Zimbabwe leen om ‘n te help in die komende algemene verkiesing.

So het Tendai Biti, Zimbabwe se minister van finansies, gesê.

Volgens Biti het Zimbabwe Suid-Afrika en Angola verlede jaar genader om finansiële steun van R1,3 miljard.

“Na aanleiding van gesprekke sedert September 2012 het die Suid-Afrikaanse kabinet tot ‘n besluit gekom – ‘n positiewe besluit,” het Biti gister op ‘n mediakonferensie gesê.

Hy het ook bevestig dat hy Suid-Afrika nog sowat R400 miljoen gevra het om die algemene verkiesing, wat later vanjaar plaasvind, te finansier.

“Dit is duidelik dat die tesourie die verkiesing nie kan bekostig nie.

“Ons gaan nie weer voor die verkiesing geld leen nie,” het Biti gesê.

‘n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse tesourie het gister gesê die twee regerings “voer gesprekke” oor die lening en die voorwaardes, maar wou niks meer sê nie.

Zimbabwe het ook by die Verenigde Nasies (VN) aangeklop om geldhulp.

Biti het gesê Zimbabwe sukkel steeds finansieel weens die resessie, al het pres. Robert Mugabe en Morgan Tsvangirai, premier, in 2008 besluit om regeringsmag te deel.

Maak 'n opvolg-bydrae