WikiLeaks se mees onlangse vrystelling, wat geen wette in die VSA oortree nie, sluit ook diplomatieke kabelgramme oor Suid-Afrika in. Dit werp lig op verskeie onderwerpe wat tans onder bespreking is, soos die verhouding tussen Chris Hani, Thabo Mbeki en die DA.
In 1991 was die spanning tussen Mbeki en Hani glo tasbaar. “As Mbeki en Hani (48) nog steeds ‘n hegte vriendskap het, sal ons verbaas wees,” sê een kabelgram. “Hani se hantering van die gewapende aksie-werkgroep, waarin hy was, het veel te wense oorgelaat – al het hy – toegegee – ‘n baie moeilike taak. Hani daag nie op vir gesamentlike werkgroepvergaderings nie, selfs nadat sy omstrede vrywaringstatus opgelos is. Sy ANC-kollegas kan nie sy afwesigheid aan ons verduidelik nie.”
Die kabel gaan voort om die twee mans se politieke style te kontrasteer: “Mbeki het ‘n onbewoë, beredeneerde benadering tot kwessies … Hani is meer ‘n man van die mense.” Die gewildheid van die laasgenoemde kan lei tot ‘n magstryd, waarsku die skrywer : “Baie waarnemers glo dat Hani Mbeki sal kan klop indien daar ‘n populêre stem onder ANC-ondersteuners gehou word.”
Tydens ‘n vergadering met die Amerikaanse ambassadeur in April 1993, enkele dae ná die sluipmoord op Hani, spreek Mbeki sy kommer uit “oor oordrewe mediafokus op die “woede” van die ANC ná Hani se moord. “Oliver Tambo en hy het na Hani se huis gegaan, na die moord en het nie mense kwaad gesien nie, net woedend en ontsteld,” lui die kabelgram.
In Mei 1995 word die State Department ingelig dat die man wat president sal word, se styl van leierskap kommer wek. “Mbeki kom nie afsprake na nie, en dokumente lê in sy in-mandjie vir weke,” lui dit. “Hy kan nie besluitneming delegeer nie, en put homself uit deur oormatig betrokke te raak in die fynste besonderhede oor ‘n verskeidenheid sake.” Die kabelgram neem ook kennis van meer persoonlike aspekte van Mbeki se karakter: “‘n Gerespekteerde vroulike joernalis en jarelange ambassadekontak het vertroulik vir ons gesê dat sy een-tot-een-sessies met Mbeki vermy, want hy soek seksuele toenadering.”
Die kabelgram gaan verder waar die opsteller sy verligting uitspreek dat niemand weet hiervan nie. “Maar sulke stories is relatief skaars [in die media], en Mbeki het die reputasie van ‘n ‘rokjagter’ nog vrygespring.”
Die opposisie in Suid-Afrika kom ook onder die loep. Bio-notas oor DA-leier, Helen Zille, wat in Oktober 2007 geskryf is, verwys na Zille se hoof van personeel Paul Boughey wat Zille beskryf as ‘n “impulsiewe besluitmaker, wat dit moeilik maak om haar te bestuur”. Ander bronne, sê die kabelgram, gebruik woorde soos “obsessief en kompulsief”.
Die opsteller in ‘n ander kabelgram dink duidelik niks van die Afrikanersteun wat Tony Leon vir die DA kon monster met sy ‘Fight Back’-veldtog nie. Die opsteller meen dat Zille aan die party ‘n “skoon lei” kan bied want na die leierskap van Leon het Suid-Afrikaners ‘n beeld van Leon in hul kop van iemand “kinders in ‘n dorp uit ‘n helikopter skiet, selfs al het dit nooit gebeur nie”. Die negatiewe konnotasie met Afrikaners is duidelik uit die kabelgram.
Julius Malema se naam verskyn gereeld in die kabelgramme van 2005 af. Sy opgang as katalisator word in Desember 2008 beskryf as “Die Einde van die ANC Intellektuele?”.
Die skrywer is bekommerd oor “die toekoms van die regerende party as ‘n plek van idees”. Die kabel kla dat die dae van Angelsaksiese invloed oor Sisulu, Tambo, Mandela, Mbeki, Slovo en Hani verby is. “Die ANC is steeds die standaard-draer van intellektuele denke vir bevrydingsbewegings, maar die party het gesukkel om in die afgelope jaar baie van sy tradisies in stand te hou.”
Onder Zuma, spreek die skrywer sy vrees uit oor hierdie afname van invloed. “Sonder ‘n sterk intellektuele sentrum, sal die party waarskynlik sukkel en kwesbaar word vir die verskynsel van persoonlikheidskultus en toegang tot staatsbegunstiging,” kom die skrywer tot die gevolgtrekking. Kennelik nie ‘n toestand wat die VSA graag wil sien gebeur nie, aangesien dit hulle invloed verder sal verminder.
