Regs is nie ‘n vloekwoord nie

In Suid-Afrika word die begrip van linkse of regse politiek in die laaste tyd anders gedefinieer as voorheen. Politiek word baie meer ekonomies bedryf. Vandag word na die linkses verwys as die sosialiste en die regses as die kapitaliste. Daar is afwagting in die land, nie om te sien of Suid-Afrika se politiek links gaan draai nie, maar om te sien hoe ver links die skuif gaan wees. Mnr Pravin Gordhan, minister van finansies, kondig vandag sy mediumtermyn bestedingsraamwerk aan. Alles dui daarop dat daar ‘n groot skuif na links gaan plaasvind.

Dit is absoluut die teenoorgestelde van wat tans in Europa aan die gang is in die politiek. Hier word links en regs nie meer volgens ekonomiese maatstawwe gedefinieer nie, maar tree etnisiteit en nasionalisme weer op die voorgrond. In Brittanje is die verregses besig om skielik baie veld te wen. Een van die grootste vyande van die Afrikaner sedert koningin Victoria, Kitchener en Rhodes, is Peter Hain.

Nie eers hy kon slaag in sy pogings om die Britse Nasionale Party, die verregse party van Brittanje, van die BBC se programme af te hou nie. Die Britse Nasionale Party se leier, Nick Griffin, het in ‘n onderhoud met die BBC erken dat hy al ‘n verhoog met die Ku Klux Klan gedeel het. Hy het ook al voorheen verkondig dat die Joodse slagting van die Tweede Wêreldoorlog heeltemal oordryf word. Peter Hain het dalk rede tot kommer, want met ‘n onlangse peiling het 22% van alle Britte aangedui dat hulle dit oorweeg om vir die Britse Nasionale Party te stem.

Elders op die Europese vasteland is die tendens dieselfde. Die politieke golf word deur ekstremistiese regse partye gery. Sou daar nou ‘n verkiesing in Nederland plaasvind, kan die openlik nasionalistiese party, Partij voor de Vrijheid, ‘n meerderheid behaal. In Vlaandere is die regse Vlaams Belang, een van die sterkste partye. In die Skandinawiese lande, Denemarke, Noorweë en Swede, was daar die afgelope tyd ‘n kwaai ruk na regs. Al hierdie lande se regerende partye is slegs aan bewind omdat hulle in koalisie met regse en verregse partye is. Aanduidings is dat regse partye soos die konserwatiewe Hoeyre van Swede, met die volgende verkiesings die bewind sal oorneem.

In Italië, Spanje, Portugal, Oostenryk, Switserland, Hongarye, Tsjeggië en Pole kom min of meer soortgelyke situasies voor. Oral is regse koalisies en bondgenootskappe aan bewind. Nasionaliste, Konserwatiewes en selfs Fasciste.

Die redes vir hierdie regse swaai kan eerstens toegeskryf word aan die bedreiging wat die toestroming van Moslems uit Noord-Afrika en Turkye vir die etniese en godsdienstige identiteit van Europeërs inhou. Tweedens is daar ook die grys identiteit wat aan volke gegee word deur toenemende integrasie op alle vlakke van die samelewing, wat deur die Europese Unie teweeg gebring word. Etniese- en volksidentiteit is dus besig om in Europa sterk op die voorgrond te tree.

Om as konserwatief, regs of verregs beskou te word, is dus allermins ‘n skande. Dit wys eerder dat jy jou reg uitoefen, soos die mense in Europa, om ‘n volkstrots te mag hê en jou polities te skaar, by die groep wat na jou en mense soos jy, se belange omsien.

 

насосной станцииЛобановский Харьков

Die nuwe rektor versaak akademie

Professor Jonathan Jansen, nuut aangestelde rektor van die Universiteit van die Vrystaat, het ʼn stang in die bek gekry. Dit was net ʼn kwessie van tyd voordat Jansen se versoenende houding jeens blankes, deur Cosatu en die Ministerie van Hoër Onderwys ondersoek, gekritiseer en verdoem sou word.

Sy terugtrek van die aanklagte teen die sogenaamde “Reitz-vier” se onskuldige video-opname, oor ʼn dekades-lange tradisie van inlywing in ʼn universiteitskoshuis, staan die politici nie aan nie. Daar sal tot op die laaste sent terugbetaal word vir die skynbare verdrukking en onmenslikhede van die verlede, hede en toekoms.

Dit is juis hier, met Jansen se intrapslag as opperhoof van ʼn akademiese instelling, waar hy sy grootste fout gemaak het. As akademikus moes hy hom eerstens toegespits het op die akademiese probleme van die Universiteit van die Vrystaat. Maar helaas het hy, soos in die geval van die baie aanstellings in hoë poste, waar ervaring nie noodwendig as kriterium gebruik word nie, in die versoeningslaggat getrap.

Die Universiteit van die Vrystaat, of Kovsies, soos dit algemeen bekend staan, het een van die beste mediese fakulteite in die land gehad. Nie net wat die opleiding van dokters en spesialiste betref nie, maar ook waar dit gekom het by mediese navorsing. Hierdie fakulteit is tans gedegenereer tot die swakste in Suid-Afrika.

Die toekoms van die Universiteit van die Vrystaat se skool vir geneeskunde is in die gedrang weens onder meer ’n gebrek aan geldelike steun en belangstelling. Die kans is groot dat hierdie fakulteit dus gaan sluit. En dit, waar ons met die situasie in Suid-Afrika sit, waar slegs 0,58% dokters per 1000 mense opgelei word. In derdewêreldse lande soos Mexiko en Brasilië word tans twee dokters per 1000 mense opgelei.

Volgens professor Andries Stulting, waarnemende hoof van die UV se skool vir geneeskunde, is daar is ’n algehele ineenstorting van mediese- en hospitaalstelsels in die Vrystaat. Daar kan nie eens meer minder belangrike operasies gedoen word nie.

Pasiënte met breuke en katarakte word nie meer geopereer nie. Mense word blind en kan dan nie hul werk doen nie. Stulting het gesê hulle het nie eens die mees basiese benodigdhede nie en tot agt pasiënte word noodwendig in vierbed-sale geprop.

Elders in die land gaan dit beslis nie beter nie. By die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad moet ongevalle pasiënte tot drie dae wag voordat daar ʼn bed beskikbaar is. Intussen moet hulle op stoele rondsit of op hospitaaltrollies op stoepe of in die gange lê.

Daar word dus ʼn swart prentjie geskep vir die toekoms van hospitale en mediese sorg in Suid-Afrika.

Maar gesonde babas wat sterf en mense wat totaal blind word omdat ʼn eenvoudige katarak-operasie nie kan uitgevoer word nie, blyk nie vir mense soos Blade Nzimande en al die groot monde by Cosatu ʼn prioriteit te wees nie. Hulle versprei eerder propaganda oor die onmenslike witman en verwoes die toekoms van vier blanke seuns wat seer sekerlik, ná hulle studies, positief tot die land se toekoms sou kon bydra.

 

demo games casinoлобановский александр

Blink motors, vrot paaie

Dit sal baie interessant wees om uit te vind waarom die meeste ANC ministers díé spesifieke motorfabrikate verkies, wat hulle só ruimskoots met belasting geld aankoop. Dit is gewoonlik swart en baie luuks met laeprofiel bande. Met ander woorde, die motor se bakwerk is baie naby aan die padoppervlak. Mnr. Trevor Manuel, minister van “wie weet wat ookal”, het baie onlangs ook vir hom so ‘n enetjie aangeskaf. Die motor het in die omgewing van ‘n miljoen rand gekos. En dit nadat hy deur baie beskou is as iemand wat weet hoe om verantwoordelik met die belastingbetaler se geld om te gaan.

Dit is duidelik dat hierdie ministers, met hierdie motors, slegs op die land se tolpaaie bestuur, want op enige ander pad kan daar deesdae net met ‘n vierwiel-aangedrewe voertuig veilig by jou bestemming uitgekom word. Dit is dalk die rede waarom regeringsamptenare nie weet in watter haglike toestand die land se paaie is nie, want hulle motors kan nie daar ry nie.

Dit het verlede week in ‘n parlementêre debat geblyk dat Suid-Afrika ‘n padonderhoud-agterstand van R38,3 miljard rand in die gesig staar. Die minister van vervoer, mnr. Sbu Ndebele, het erken dat die land ’n agterstand van R18,4 miljard het, wat betref die onderhoud van die kern-netwerk van nasionale paaie. In die provinsies is daar ’n verdere agterstand van R19,9 miljard. Verder kan hy egter nie sê of die agterstand ingehaal kan word nie, maar kan hy net bevestig dat dit wel die benarde situasie is. Of die pad-probleme opgelos kan word, hang daarvan af of die nasionale tesourie genoeg geld beskikbaar kan stel.

Dit is ‘n feit dat 32%, dit is 4 142 km, van die nie-tolpaaie wat nog bestaan, ’n oorblywende strukturele lewensverwagting van minder as vyf jaar het. Om dit in die volgende vyf jaar te herstel, sal R35,2 miljard kos. Tans is die begroting hiervoor, in terme van die mediumtermyn-begrotingsraamwerk, slegs R16,8 miljard. Dit beteken net 1 980 km se paaie sal versterk kan word.

Oplossings is die volgende: Die belastingbetaler moet verder besteel word met die uitbreiding van tolpaaie, of geld moet iewers geleen word om die paaie te herstel. Die tweede opsie sal natuurlik die koste van herstel amper verdubbel. As die paaie egter nie onderhou word nie, sal hulle tot niet gaan, met ernstige gevolge vir die land se ekonomie.

Net soos met die land se infrastruktuur vir elektrisiteit, water en spoorvervoer, is die situasie met paaie die gevolg van jare se verwaarlosing, swak beplanning en die tekort van goed geskoolde ingenieurs en padbouers.

Hierdie blink-motor-ministers word uitgedaag om ‘n slag bietjie tussen Middelburg en Wonderfontein te gaan ry. Gaan doen ‘n paar besoeke in die omgewing van Standerton. Gaan kyk hoe lyk die pad tussen Jozini en Mkuze. Gaan ry ‘n slag saam met ‘n boer mielies in silo’s toe, in die Carolina omgewing. Van hierdie paaie is onherstelbaar; dit sal heeltemal oorgebou moet word.

Die genoemde bedrag van R35,2 miljard skiet dus reeds ver te kort.

 

to playлобановский класс харьков

Aanslag op eiendom duur voort

Soos verwag is, is daar aanduidings vanuit die ANC-regeringskringe, dat daar weer ‘n nuwe onteieningswetsontwerp op pad is na die parlement.

‘n Vorige poging is vir eers afgeweer nadat landbou- en ander organisasies ‘n ad hoc-komitee gevorm het om die diaboliese wet te bespreek. Daar is aangevoer dat die konsep-wet wat toe ter tafel gelê is, elemente van ongrondwetlikheid bevat, met die gevolg dat dit teruggetrek is. Die ANC-bewind het dit egter duidelik gestel dat hulle weer ‘n voorstel vir ‘n Onteieningswet gaan indien. Hierdie keer kan verwag word dat dié wet wel die toets van grondwetlikheid sal kan deurstaan. Nie dat dit baie moeilik is nie. Die Grondwet begin immers om die beweerde ongelykhede van die verlede te besing, en te verklaar dat enigiets gedoen mag word om daardie ongelykhede sogenaamd reg te stel.

Een van die gewaande ongelykhede, is die oneweredige verdeling van grond. Volgens die ANC se Freedom Charter, moet die grond deur al die mense van die land besit word. Lees hier: grond moet deur die swartes besit word. En dit was nog die hele kwessie sedert die ANC aan bewind gekom het. Die eerste stap wat ingestel is, was die sogenaamde restitusie-proses, waar mense wat beweer dat hulle hul grond verloor het, daardie grond kon terugeis. Gelyklopend kon sogenaamde huurarbeiders, dan ook eis dat hulle ‘n reg op grond het. Hierdie eise moes al einde 1998 ingedien gewees het, maar so onlangs soos verlede maand het grondeienaars van Cullinan, Rayton en Bronkhorstspruit, wat Kleinfontein insluit, tot hulle skok in die Staatskoerant gesien dat daar huurarbeiderseise op hulle grond is.

En nou weer die onteieningswet wat op pad is. Dit is dalk moeilik om nou al kommentaar te lewer op dié wetsontwerp. Maar, gesien ook in die lig van die probleem waarmee die grondeienaars van Cullinan, Rayton en Bronkhorstspruit sit, is dit duidelik dat die aanslag op ons eiendom nog nie verby is nie. Nog lank nie. In dié proses word rede en redelikheid geïgnoreer. Alle bewyse dat grondhervorming, waar grond aan onbekwame swartes gegee is, nie werk nie en dat dit voedselsekerheid bedreig, sal geen indruk maak nie.

Ook die feit dat daar al van die begin af reeds wetgewing bestaan wat onteiening magtig. Die verskil is net dat die bestaande onteieningswet op ekonomiese beginsels staan, en daarop gemik is om die land te ontwikkel. Dié wet maak vir onteiening voorsiening vir die bou van paaie, spoorlyne of ander ekonomiese en infrastruktuur ontwikkelingsprojekte. Hoe die nuwe onteieningswet daar ook al uit gaan sien, sal hy nie op ekonomiese beginsels nie, maar op polities-ideologiese beginsels staan. Die doel is om politieke grondherverdeling te laat plaasvind, ongeag die ekonomiese gevolge.

En waarskynlik sal dié wet ook die gewillige verkoper, gewillige koper-beginsel, ignoreer, omdat Jacob Zuma dit onlangs as “onwerkbaar” beskryf het. En heel waarskynlik sal boere tevrede moet wees met die aalmoes wat die staat bereid sal wees om te betaal vir die grond, sonder dat die waarde in ‘n hof betwis kan word.

Die adjunk-minister van landelike ontwikkeling het juis verlede week die beskuldiging gemaak dat boere, waardeerders en eiendomsagente saamspan om grondpryse hoog te hou. Hierdie opmerkings word nie om dowe neute gemaak nie, en ons kan verwag dat dit neerslag sal vind in die nuwe wet wat eersdaags ter tafel gelê gaan word.

Die aanslag op ons eiendom is nog lank nie verby nie. Dit sal nou net meer afgerond gevoer word, wat beteken dat ons nog groter gesamentlike weerstand sal moet mobiliseer as wat selfs die vorige keer gebied is.

casino demo playдепутат лобановский

Maagpolitiek van ons opperpandoer

Enigeen wat gedink het dat die ANC anders as ander Afrikapolitici gaan optree as dit by die vermorsing van staatsgeld op persoonlike uitgawes kom, moet weer dink. Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, wat weens Suid-Afrika se hemelhoë misdaadsyfer een van die belangrikste portefeuljes beklee, bestee wild geld in luuksehotelle asof die staatskas aan hom behoort.

By al die ellendes wat daar op die Afrikakontinent heers, waaronder vigs, korrupsie, armoede, burgeroorloë en gebrek aan eie voedselproduksie, moet die korrupsie en verbruiksorgies van die leiers as een van die grootste rampe gesien word. Vandaar die term “maagpolitiek” wat deur sommige akademiese waarnemers bedink is om dié verskynsel van swart hoofmanne en leiers se enorme aptyt vir staatsfondse te beskryf.

Hoe groter sy aptyt en sy “maag”, hoe meer respek dwing ‘n belangrike man in Afrika af. Mthethwa het met sy verblyf in vyfsterhotelle waar ons opperpandoer waarskynlik heerlik fuif terwyl misdadigers van die land besit neem, gedemonstreer dat hy maagpolitiek verstaan en as ‘n vername leier gesien moet word.

Terwyl sulke insidente via die media in die openbare oog beland, bestaan daar natuurlik nog ander figure na aan die ANC wat die semistaatsinstellings en openbare ondernemings bedryf en waarvan die besteding op ‘n keiserlike lewenstyl minder bekend is. Die feit dat sulke instellings tans R200 miljard van die staatskas benodig om hul bedrywighede te kan voortsit, is een aanduiding dat maagpolitiek ook daar ‘n groot rol moet speel.

Dat Suid-Afrika nie reeds, soos menige Afrikaland, op sy knieë gebring is deur ‘n bende sogenaamde “leiers” wat die staat en openbare bates na hartelus plunder nie, is waarskynlik slegs te wyte aan die middelklasbelastingbetaler en groot maatskappye wat steeds getrou belasting betaal en sodoende die gefuif van Nthethwa en sy trawante aan die gang hou.

Die Afrikaner moet besef dat die huidige stelsel in Suid-Afrika so grondig korrup en immoreel is dat dit hoegenaamd nie gered kan word nie. Terwyl die Nthethwas en ander begunstigdes van die roofstaat Suid-Afrika hul makabere partytjie voortsit, kan slegs ‘n nuwe begin in ‘n eie volkstaat vir ons volk enige hoop inhou.

купить оборудование для автомойкиФильчаков Харьков

Rooi Oktober

Onder kommuniste, wêreldwyd, is Oktobermaand van groot belang en waarde. Dit is gedurende Oktober dat die Bolsjevistiese rewolusie, wat reeds in Februarie 1917 begin is, ‘n hoogtepunt bereik het met die finale omverwerping van die Russiese regering in Petrograd, ook genoem St. Petersburg.

Die Februarie rewolusie het sy ontstaan gehad teen die agtergrond van ‘n verhongerde Russiese gepeupel. Daar was erge brandstoftekorte en die Russiese weermag is beskuldig van vrotsigheid en onbekwaamheid. Rusland was teen 1917 deel van die geallieerde magte, wat in die eerste wêreldoorlog saamgesnoer was teen Duitsland.

Die Romanofs, met tsaar Nicholas die tweede as patriarg, word onttroon en uitgemoor. ‘n Voorlopige regering word saamgestel onder prins Georgi Lwof. Hy word egter vinnig opgevolg deur Alexander Kerensky. Hierdie regering het baie min ondersteuning gehad omdat baie troepe, kommunikasiekanale en Rusland se vervoerstelsel, steeds in die hande was van ‘n klein groepie werkers en gepeupel in Petrograd. Hierdie groepie het bekend gestaan as die Petrograd Sowjet, of dan die St. Petersburg Raad. Hulle het ontstaan na die mislukte rewolusie van 1905. Hulle leier was Wladimir Lenin, met sy regterhand-man Leon Trotski.

Geheime vergaderings is amper elke nag van Oktobermaand deur die Bolsjewiste gehou. Vermommings soos pruike en vals baarde word deur al die leiers op hierdie vergaderings gedra. Die tussentydse regering vermoed niks nie. Op die nag van 25 en 26 Oktober word die parlementêre geboue en die Winterpaleis deur die Bolsjewistiese werkers oorgeneem. Slegs sowat 25 skote word geskiet waarvan net 2 die paleis tref. Die oorlogskip, die Aurora, wat in die Nevarivier op anker lê, skiet ‘n paar skote met loskruitpatrone.

Al die ministers van die tussentydse regering word gedweë gearresteer. Die volgende dag neem werkers beheer van alle fabrieke in alle groot stede. Banke word onmiddellik genasionaliseer en die Bolsjewiste met Lenin as leier verklaar hulself die regeerders van die nuwe Unie van Sosialistiese Sowjet Republieke. En die res is geskiedenis.

Ons weet teen die tyd dat kommunisme nie geslaagd was nie.

Die wêreld deur het ons gesien dat die stelsel nie werklik oor die welsyn van die mense gaan nie, maar wel oor die mag en selfverryking van die staat en sy leiers. Kapitalisme en die Vryemark het ook hul probleme, maar is baie meer deursigte stelsels, waarin die hardwerkende en skeppende landsburger wel ‘n sê het in sy eie welstand en welvaart. Selfs Rooi-Sjina het al so verander dat die land deur sommiges nie meer beskou word as waarlik kommunisties nie.

Oral verander dit, behalwe in Suid-Afrika. Dit het sluimerende kommunisme in Rusland slegs 12 jaar, vanaf 1905 tot 1917, geneem, om die bewind oor te neem en alles te nasionaliseer. Die uitgebreide Rooi Oktober-vierings wat deur die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party gereël word, maak dit duidelik dat kommunisme as ideaal beslis nie dood is nie. Is die ANC nie dalk maar ook net ‘n tussentydse regering waarbinne die kommunis veilig lê en skuil voordat hy, sonder dat daar enige skote klap, die land probeer oorneem nie?

 

best online casino no deposit bonus codesлобановский александр

President Paul Kruger

Op 9 Oktober 1899 het die getergde leiers van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek wat toe al vir vier-vyf jaar lank deur Engeland onder druk geplaas is, geëis dat alle geskille tussen Engeland en die Republiek deur arbitrasie besleg moes word, dat alle Engelse troepe op die grense van die Republiek teruggetrek moes word en dat alle troepebewegings na Suid-Afrika gestaak moes word. Op 11 Oktober 1899 om vyfuur die middag het die ultimatum verstryk en was dit oorlog.

Dit was ‘n oorlog wat deur Engeland op die republiek afgedwing is want Engeland wou die goud van die Witwatersrand hê. En om dit te kry, het Engeland ‘n totale oorlog teen die ZAR en sy bondgenoot die Oranje Vrystaat gevoer. Nie alleen is die land in sy geheel in puin gelê nie, maar meer as 27 000 Boerevroue en kinders is in die Engelse konsentrasiekampe dood terwyl meer as 6 000 burgers in die oorlog gesneuwel het of dood is.

Die Engelse het toe die land verower, en hulle het die goudmyne van die Witwatersrand gevat, en die Afrikanervolk in armoede gedompel vir byna 50 jaar, maar die gees van die volk, sy moed en weerstand kon nie gebreek word nie. Hoewel dit Lord Alfred Milner se grootste ideaal was “to wipe out all traces of Afrikanerism”, was die volk ‘n stil getuie toe die magtige Engelse Empire, waaroor die son nooit ondergegaan het nie, na 1945 tot niet gegaan het.

Dit was die groot en sterk gees van Kruger, die laaste president van die ou ZAR, wat die Boerevolk begeester het. Dit was Kruger se Christelike-nasionale leer en lewensopvatting wat die Afrikaners sterk gemaak het sodat hulle gelouter, deur die beproewings van 1899 tot die 1940’s gekom het.

En tog was Kruger maar ‘n gewone volkspionier, ‘n landskoonmaker en ‘n leier wat in geloof en met gebed sy volk op die pad van nasionale selfrespek en eerbaarheid vanaf 1877 gelei het.

Dit was Kruger wat in die kort, skerp oorlog van 1880 – 1881 die leier van die volk was wat die vryheid herwin het. Dit was Kruger wat daarna, as president, die ZAR tot ‘n moderne staat opgebou het. Dit was Kruger wat sy volk gelei het om in geloof in God en trou aan die verlede op die wortel van die volksgeskiedenis te groei en sterk te word.

Geen wonder dat Kruger in sy tyd nie net die lewende simbool van volksnasionalisme was nie, maar ook die groot voorman van die volk wat op die pad na die toekoms vreesloos voorgeloop het. Aan die einde van sy lewe, in sy Laaste Boodskap, sê hy: “… veel van wat opgebou was, is nou vernietig, verniel en het geval. Maar met eenheid van sin en kragte kan weer opgerig word wat nou daar plat lê…” Dit was tipies van Kruger wat steeds vanuit die hede, doelgerig koers gehou het na die toekoms met die diep-seker wete dat hy en sy volk nie alleen is nie.

Laat ons dan môre op 10 Oktober, Kruger se verjaarsdag, ‘n oomblik stilstaan, onsself meet aan die hoë eise wat hy gestel het en hóm gedenk wat deur GA Watermeyer so beskryf is:

“Groot bittereinder van ons bloed

Het hy die vryheid weer laat gloed,

Weer drif, weer vlam in ons laat word

ons moeë lendene omgord

Met moed om teen die morekim

méér as Majuba uit te klim.”

 

casino free playЛобановский

Waardetoevoeging tot Landbou

Daar word al meer gewys op die gevare van ‘n naderende hongersnood as voortgegaan word met politieke prosesse van sogenaamde grondhervorming, en waarna dit blyk dat grond nie meer produktief benut word nie, en gevolglik nie meer sy opbrengs lewer nie.

Tog is onproduktiewe grond nie werklik iets nuuts nie. Veral rondom die stede sien ons al van oudsher dat mense wegvlug van die rumoer en geraas van die stad, om die rustigheid van die platteland op ‘n kleinhoewe te geniet. En in baie gevalle, dalk selfs die meeste gevalle, is kleinhoewe bewoners juis dit: bewoners, maar geen boere nie. Grond van tussen een en vyf en twintig hektaar lê braak sonder enige aktiwiteite daarop.

In Europa is plase van dié grootte vol produksie-eenhede. Inderdaad is ons klimaat en omstandighede anders, maar met die koms van presisieboerdery, droogtebestande kultivars, waterbesparende maatreëls, minimum-bewerkingsmetodes en organiese boerdery-metodes, is die bepaling van ekonomiese eenhede dalk al verouderd en uit pas. Dit beteken dat mense wat tot dusver gedink het dat hulle op ‘n onekonomiese kleinhoewe bly, dalk tog verbaas kan wees.

Maar met die styging in bevolkingsgetalle, die vermindering in optimaal benutte landbougrond, gevolglike skaarser kos en daarmee saam hoër pryse, word dit al hoe meer noodsaaklik dat elke moontlike stukkie grond gebruik word vir voedselverbouing, op die kleinhoewe, maar selfs ook deur die groentetuin in die agtertuin van die dorps- en stadseiendom.

Dit is die een kant van die munt. Die ander kant is die verdere verwerking van geproduseerde produkte. Boere worstel al jare met die probleem dat hulle byvoorbeeld mielies of koring verbou, daarvoor ‘n minimale prys kry in terme van wat die produksieproses hulle gekos het, dan gaan dit in die verdere voedselverwerkingsketting, beginnende by meulenaars, en uiteindelik kom die produk weer op die boer se eie tafel, vier, sewe of twintig keer duurder as wat hy daarvoor gekry het. Sou die vermoë daar kon wees om baie van hierdie tussenprosesse self in hande te hou, kon daardie toegevoegde waarde in die boer se sak gewees het, in plaas van dikwels multi-nasionale en volksvreemde hande.

Dieselfde beginsel geld dalk juis vir die kleinboer, wat op sy hoewe boer, of dié wat die agtertuin in die stad gebruik. Dit word egter al hoe duideliker dat kennis nodig is vir dit alles. ‘n Kleinhoeweboer wat nie weet wat sy skaap makeer as hy gaan lê nie, kan groot skade ly. Iewers moet hy daardie kennis kry. Ja, daar is boeke voor, maar ‘n boek antwoord nie as jy hom van ‘n spesifieke probleem vra nie. Daarvoor is interaksie tussen die onkundige met kundiges nodig.

Sodanige interaksies vind juis plaas op boeredae, soos die Landboukorrels Boeredag, wat Radio Pretoria saam met TLU SA môre en Saterdag by Cullinan aanbied. Dit bied die ideale geleentheid aan die volkseie kleinboer en tuinboer om daardie kundigheid te bekom, en om ook te leer van waardetoevoegingsmetodes, wat nie net geld kan spaar nie, maar wat ook die geleentheid skep om ‘n ondernemer te word en ‘n geldjie te verdien. Moet dus nie dié geleentheid misloop om daardie noodsaaklike kundigheid op te doen nie, en lewer sodoende ‘n sinvolle bydrae tot voedselsekerheid.

 

тамбов подъемникиДанильченко Юрий Харьков

As dit nie stukkend is nie, breek dit

Die voormalige Amerikaanse president, John F Kennedy, het jare gelede die volgende idioom bekend gemaak, ook in die Afrikaanse volksmond. “If it ain’t broken, dont fix it.” As iets reg werk, moenie daaraan torring nie. Dit is beslis nie wat sedert die De Klerk oorgawe van 1994 in Suid-Afrika gebeur het nie.

Dit begin egter nou voorkom dat sekeres in die regering party sake van die ou Suid-Afrika, wat in 15 jaar van ANC-bewind afgebreek en stuk-stuk weggedra is, weer wil probeer opbou. Die polisiediens word nou weer ‘n mag. Daar is in die openbaar erken dat uitkomsgerigte onderwys ‘n fout is en dat die stelsel hersien moet word. Kinders moet weer leer skryf, lees en reken. Nou moet die woord ‘leerders’ tog net weer terug verander word na leerlinge. Daar word reeds voorspel dat die ou onderwyskolleges ook weer teruggebring gaan word om gehalte onderwysers op te lei.

Op die arbeidsterrein klink daar stemme op wat vra vir die terugkeer van die stelsel van statutêr geregistreerde vakmanne. Almal weet dat daar te min bekwame vakmanne en tegnici in die land is. Die “seta-stelsel”, wat in die naam van transformasie ingevoer is, werk nie.

Ander eens voortreflike instellings, wat gewerk het, en deur die ANC gebreek is, is egter nie so maklik om weer reg te maak nie. Die Landbank is rot en kaal gesteel en dit gaan jare en baie belastinggeld neem om weer te herstel. Die SABC het die trots en integriteit van die ou SAUK verloor. Dit is moeilik om te glo dat hierdie organisasie ooit weer sal herstel. Onder die ANC is die Suid-Afrikaanse weermag gereduseer tot ‘n flenter van wat dit eens was; kwalik in staat om ‘n landjie soos Lesotho te kan verower.

Eerstewêreldse gesondheidsdienste met hospitale, klinieke en opleidingsgeriewe bestaan nie meer nie. In Oos-Transvaal dreig ‘n staking van gesondheidspersoneel weer, omdat daar nie eers Aspiriene in meeste van die groot hospitale beskikbaar is nie. Die plaaslike regering betaal nie hulle mediese verskaffers nie.

Van plaaslike regering gepraat; dit gaan jare en miljarde rande neem om munisipaliteite weer selfversorgend te kry, rioolaanlegte weer in werkende toestand te kry, korrupsie onder amptenare hok te slaan en basiese dienslewering weer op ‘n aanvaarbare vlak te kry.

Eskom is in sy peetjie in. Waar en wanneer tariefverhogings gaan eindig, weet nugter alleen.

Dit wil voorkom asof die oer-oue Afrika tendens, die van, “as iemand anders iets beter as jyself bereik het, breek dit af, daardeur steek jy jou eie tekortkominge en verleentheid weg”, nou in die gesigte van die land se sogenaamde demokraties verkose leiers begin ontplof.

As hierdie leiers wil terugval na stelsels wat voorheen gewerk het, is dit goed so. Gee dan net ook ons volk se plek- en straatname, geskiedenis en kultuur, taal, skole en grondgebied terug. En stel ons bekwame werkerskorps weer aan sodat hierdie stelsels weer behoorlik bedryf kan word.

 

набор для детского творчествалобановский политик

Almal hardloop saam, wie wen?

Die stof rondom die Caster Semenya debakel wil maar net nie gaan lê nie. Dit is nou nie meer net ‘n intrige nie, maar is besig om in ‘n volskaalse narrespel te ontaard. Dit kom voor asof die land se leierskap en atletiekbase nie wil bes gee dat enigiemand iets verkeerd gedoen het nie. Nie Semenya en ook beslis nie Atletiek Suid-Afrika, met sy president Leonard Chuene nie. En talle ander begin nou ook op die wa spring.

Eers het Atletiek Suid-Afrika se borge begin dreig dat hulle hul geld sal onttrek as die saak nie opgelos word nie. Borge soos Nedbank spandeer jaarliks miljoene rande aan atletiek in Suid-Afrika. Hiervan het egter tot op hede dadels van gekom. Nedbank besef sekerlik maar te goed aan watter kant hulle brood gebotter is.

Intussen het ‘n nuwe ‘swaargewig’ tot die debakel toegetree. Ene mnr Julius Malema, die ANC se jeugleier. Malema steun Atletiek SA en Leonard Chuene ten volle. Hy meen dat die pogings om Chuene te laat skors opportunistiese rassisme is en dat hierdie pogings verwerp moet word. Verder meen hy ook dat borge soos Nedbank maar hulle geld kan hou. Die atlete het dit nie nodig nie. Die borge ondersteun in elk geval nie hierdie kinders van Afrika nie, omdat geen borg met ‘n borgskap vir enige van die medaljewenners vorendag gekom het na afloop van die onlangse Wêreld Atletiekkampioenskap nie.

Ander atlete het nou ook hulle stemme begin dik maak. Die land se voorste oud-atlete vergader môre oor die saak. Geen ASA-beamptes sal by die vergadering toegelaat word nie. Die Johannesburgse atletiekklub stel ‘n mosie van wantroue teen Atletiek Suid-Afrika in. Geraldine Pillay, ’n voormalige Olimpiese en Statebondspele-atleet, is ’n organiseerder van die atlete-vergadering. Atlete en oud-atlete voel dat almal nou al iets te sê gehad het oor die saak, behalwe die atlete self. Die enigste mense wat op die onlangse ASA-vergadering bereid was om teen Chuene op te staan, was die voormalige Olimpiese atleet, Arnaud Malherbe, en adv James Evans, atletiekbaas van die Westelike Provinsie. Geen bespreking oor die Semenya-sage is op hierdie vergadering toegelaat nie. Chuene was natuurlik self die voorsitter.

Kan dit daadwerklik nog vir enige persoon of instansie waarde inhou om by hierdie siek spul van bedrog en leuens betrokke te raak?

Die skade is reeds gedoen en soos ondervinding ons al geleer het sal die manne in die ANC wat die toutjies trek nie bes gee in sake soos hierdie nie. Sou die borge onttrek, sal daar maar net weer ‘n ander borg wees wat voordeel sal probeer trek uit ‘n verhouding met die ANC en sy trawante.

Sake soos hierdie moet ons egter nie pessimisties maak nie. Dit moet ons aanspoor om harder te werk om eerder volkseie sport op te bou en te ondersteun. Die grondslag is reeds gelê deur verskeie organisasies. Wat eens ‘n droom was is stadig maar seker besig om werklikheid te word. Dit gaan nie lank wees voor, kom ons noem dit maar ‘n Boerespan, sonder gekonkelry, leuens, rassekwotas en regeringsinmenging onder eie vaandel op die velde en bane van die wêreld sal meeding nie.

 

комбинезоны осень для малышаФільчаков Олександр Васильович

Die diens word ‘n mag

Die ANC-president, mnr Jacob Zuma maak die afgelope tyd kwaai blafgeluide oor die misdaadsituasie in die land. Misdaad het totaal handuit geruk. Die misdaadsyfers wat onlangs bekend gemaak is, hoe betwyfelbaar dit ook al mag wees, bewys dat daar daadwerklik indringend na oplossings vir hierdie onaanvaarbare hoë syfers gesoek moet word.

Op ’n mediakonferensie wat by die Voortrekkermonument gehou is, nadat hyself en die minister van polisie, mnr Nathi Mthethwa, ‘n hoëvlak vergadering met stasiebevelvoerders, ministers, premiers en LUR’e gehou het, is geluide gemaak dat groot veranderings in die polisiediens verwag kan word.

Dit blyk dat “polisiediens” dalk na “polisiemag” verander kan word. Daar is na “kommissarisse” as “bevelvoerders” verwys, en dit is onomwonde gestel dat die rangstruktuur in die polisie hersien gaan word. Daar sal teruggeval word op meer militêre strukture, soos wat dit voorheen was. Hierdie verandering moet ’n duidelike boodskap aan misdadigers uitstuur dat daar oorlog teen hulle verklaar word.

Hoewel geluide soos hierdie verwelkom word, is dit te betwyfel of dit werklik enige wesenlike verandering aan Suid – Afrika se misdaad situasie sal doen. Soos in die gevalle van armoede, maatskaplike verval, ekonomiese agteruitgang, agteruitgang in die onderwys, swak munisipale bestuur,….noem maar op, die lys is lank, moet die verslegtende misdaadsituasie aangespreek word by grond-oorsake. Meer respek vir ‘n konstabel in uniform met nuwe blink rangkentekens gaan nie die situasie oplos nie.

Een van die grootste oorsake van misdaad in die land is die feit dat wette wat voorheen daargestel is om, onder andere, te help met misdaadvoorkoming en bekamping, deur die ANC regime afgeskaf is, of geminag word.

Dit is wette rakende grensbeheer. Nigeriërs, Mosambiekers en Zimbabwiërs het ‘n vrypas om die land binne te kom, dwelms te smous, te steel, verkrag en moor.

Dit is wette wat verstedeliking en groepsgebiede beheer het. Plakkerkampe en blikkiesdorpe spring daagliks soos paddastoele op. Geen plakkerkamp is polisieërbaar nie. Dit bied die volmaakte wegkruipplek vir plunderbendes en motorkapers. Etniese moorde vind ook daagliks in hierdie informele nedersetting plaas. Minstens twee mense is verlede naweek in Durban dood en tientalle beseer nadat Zoeloes en Pondo’s in een van die stad se talle plakkerkampe aan mekaar gespring het.

Dan is daar wette wat wetsgehoorsame burgers probeer ontwapen. Wette wat huis en haard beskerming, soos die kommandostelsel, afgeskaf het. Misdadigers het breed geglimlag die oomblik toe daar nie meer georganiseerde strukture, op veral die platteland, bestaan het om die polisie te help in hulle taak nie.

Dit is wette wat etniese en kultuurverskille minag, minimum lone vir ongeskoolde plaasarbeiders en huiswerkers vasstel, en daardeur hoër werkloosheid veroorsaak en dan voorheen voorbeeldige landsburgers dwing tot misdadigheid, net om te oorleef.

Dit is dalk goed dat die “diens” weer ‘n “mag” gaan word, maar dit sal nog beter wees as ek myself en my eie mense kan beskerm, die keuse het om my belastinggeld aan te wend om te sorg dat my kinders nie langs geharde misdadigers op ‘n skoolbank hoef te sit nie en die sekerheid kan hê ek nie as die misdadiger beskou word as ek teen misdaad optree nie.

 

купить детские пинеткилобановский александр игоревич

Die melk in jou koffie

Nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die buiteland is daar wyd protes aangeteken, toe dit aan die lig gekom het, dat Nestlé melk aankoop by mev Grace Mugabe, vrou van die Zimbabwiese diktator, Robert Mugabe.

Nestlé is een van die grootste en bekendste suiwelverwerkings-maatskappye ter wêreld. Hulle hoofkantoor is gesetel in Switserland. Dit is dan ook die rede waarom Nestlé nie gehoor gee aan die Europese Unie se boikot teen Zimbabwe nie, want Switserland is nie deel van die Europese Unie nie. Nestlé vervaardig wêreldwyd produkte wat strek vanaf babakos, ingedampte en poeiermelk tot koffie.

Die Mugabe-melkery is geleë op een van ses plase wat reeds in 2002 deur Grace Mugabe, by blanke Zimbabwiese boere gesteel is. Die plaas, wat die grootste melkverskaffer aan die Zimbabwe Dairy Board was, het aan die Foyle familie behoort. Mnr Foyle en sy gesin het intussen na Australië verhuis, omdat hulle vrees vir hulle lewe.

Die Zimbabwe Dairy Board kon ook nie meer kop bo water hou nie. Aan die begin van die jaar was daar nog sestien groot melkverskaffers in Zimbabwe. Nou is daar slegs agt oor, onder wie dan Grace Mugabe tel. Tien jaar gelede het Zimbabwe tweehonderd en veertig miljoen liter melk per jaar geproduseer. Tans is dit minder as dertig miljoen liter.

Sowat een miljoen liter melk per jaar word deur Nestlé van hierdie melkplaas gekoop. Dit verteenwoordig sowat tien tot twaalf persent van die totale melkaankope van Nestlé in Zimbabwe.

Volgens ’n woordvoerder van Nestlé Suid-Afrika, sal die hele suiwelbedryf in Zimbabwe in duie stort as hierdie Mugabe-melk nie aangekoop word nie. Dit sal die lewe van talle suiwelboere, hul werknemers, die verbruikers en talle ander in die waardeketting, beïnvloed.

Is dit nie juis die doel wat die wêreld het, as sanksies teen ’n land ingestel word nie? Die gevolge van sanksies, hoe nadelig ook vir alle partye, is tog om regerings en kiesers tot ander insigte te dwing, nie waar nie? Dit is wat in die negentien sewentigs en veral die negentien tagtigs gegeld het toe almal op die sanksie-trein gespring het om die sogenaamde boosheid van apartheid ‘n nekslag toe te dien.

Die blanke Suid-Afrikaanse verbruiker besef nog nie watter groot rol sy koopkrag kan speel om verskaffers en instellings, voordelig vir die blanke verbruiker te beïnvloed nie. Geld praat hard, en dit het tyd geword dat blanke verbruikers in solidariteit moet begin optree.

Van wie se bankdienste maak u gebruik? By wie belê u, u nes-eier? Watter selfoonmaatskappy gebruik u? Watter kettingwinkelgroep ondersteun u? Wie gebruik u om u motor te laat hersien? Watter handelsmerk sjokolade koop u? Watter koerant lees u?

Ondersteun u Boer-vriendelike en volkseie organisasies en besighede, of word u deur aantreklike reklamefoefies mislei om besigheid te doen, sonder dat u weet waarvoor u swaarverdiende rande aangewend word? U geld het meer mag as wat u besef!

Wie se melk het u vanoggend in u koffie gegooi?

 

crown graphic vs speed graphicлобановский александр фото

Kinderagtige geskel oor ras

Die klag van rassisme teen die Franse minister van binnelandse sake, Brice Hortefeux, het ‘n lang aanloop en is maar die puntjie van die politieke intrige-ysberg waarmee Frankryk gereeld te kampe het.

Kennelik is die nuwe smeerveldtogtaktiek om enige mededinger met die rassismekwas by te kom. Voorheen was hoë amptenare se privaatheid heilig en enige joernalis wat dit gewaag het om dit te skend, het sosiale verwerping, en selfs die dood, in die gesig gestaar.

Francois Mitterand het nooit in die Elyséespaleis gewoon nie, maar saam met sy skelmpie in ‘n huis wat geheim gehou is. Die eerste joernalis wat gewaag het om iets daaroor te laat val, is aangerand en vir dood gelaat deur die eertydse president se sterk manne.

Toe Sarkozy se tweede vrou, Cécelia, probeer het om ‘n klag by die polisie te lê nadat hy haar geslaan het, het die polisie eenvoudig geweier en niks het ooit daarvan gekom nie.

Jacques Chirac het ‘n lang lys korrupsieklagtes wat blykbaar een of ander tyd te berde gebring gaan word en ‘n eertydse minister in sy kabinet gaan eersdaags deur Sarkozy vervolg word nadat hy glo korrupsiebewyse teen Sarkozy vervals het.

Sarkozy het intussen sy naam gevoeg by die ondersteuners van die filmregisseur, Roman Polanski, wat in Switserland aangehou word omdat hy in die VSA van kinderverkragting aangekla is.

Wat Hortefeux betref, was hy nie lank gelede nie die aanklaer en nie die aangeklaagde nie.

Hy het naamlik vir Paul Girot de Langlade, prefek en die koördineerder van ‘n politieke vredesproses op die eiland Reunion, vroeër hierdie jaar geskors nadat hy glo ‘n rassitiese aanmerking teenoor personeel by die Orly-lughawe gemaak het.

Girot de Langlade het tydens die gebeure aan ‘n Franse dagblad gesê hy is “die slagoffer van ‘n politieke spel”. Volgens Girot de Langlade is die “ondersoek na ‘n kleinigheid georkestreer deur Brice Hortefeux, wat sy anti-rassistiese beeld wil poets”.

Girot de Langlade sê die gedrag en optrede wat aan hom toegedig word, het niks met hom te make nie.

‘n Klag van “openbare beledigings van ‘n rassistiese soort” is in die Paryse voorstad Creteil aanhangig gemaak teen die prefek. Volgens ‘n regsamptenaar gemoeid met die saak, is Girot de Langlade deur veiligheidspersoneel by die lughawe gestop en gevra om sy sakke leeg te maak toe ‘n metaalverklikker afgegaan het by Orly-lughawe, buite Parys op 31 Julie.

“Jy sal dink ons is in Afrika. In elk geval, daar is net swartes hier,” het Girot de Langlade glo na bewering gesê.

Hy self sê hy het sy humeur verloor. “Selfs die lugwaardin van Air France was geskok deur die optrede van die veiligheidsagent en het in die naam van haar maatskappy verskoning aangeteken,” het hy bygevoeg.

Girot de Langlade sê hy het die veiligheidsagente gevra om gou te maak en dit is al.

Reunion was sedert die begin van hierdie jaar een van die drie Franse oorsese gebiede waar rassespanning heers. Onrus en stakings teister die eiland.

Of die kinderagtige geskel in Parys die donkerder Franse elders in die wêreld wat kla dat hulle ekonomies uitgesluit word, gaan tevrede stel, is te betwyfel.

 

casino gamesФильчаков прокуратура харьков

Rooi is die kleur van die toekoms

Nuus wat so stuk-stuk na vore kom vanuit die vakverbond, Cosatu, se kongres dui onteenseglik daarop dat die spanning in Alliansiegeledere nie met die regeringsverandering verdwyn het nie. Die arbeidsbeen van die regering het sy gunstelinge in die ANC en nog ‘n hele paar swartskape wat nie saam met Thabo Mbeki verdwyn het nie.

Die grootste sondebok vanuit Cosatu se perspektief is klaarblyklik Trevor Manuel. Dit was nie goed genoeg dat mnr Manuel as minister van Finansies uitgeskuif is nie, hy moet uit!

Daar is ernstig vrae gevra oor die rol van die Nasionale Beplanningskommissie teenoor die minister van ekonomiese ontwikkeling, Ebrahim Patel, wat duidelik deur Cosatu verkies word. Die resolusie wat uiteindelik aanvaar is, nadat een van die klousules wat mnr Manuel direk aanval, geskrap is, bevestig wat Radio Pretoria vroeër die week in Nuuskommentaar gesê het, naamlik dat rooi steeds die kleur van die toekoms in Suid-Afrika is.

Die resolusie lui dat: “Die tesourie se jarelange blinde geloof in markkragte en die minimalistiese rol van die staat in die ekonomie het die regering van ‘n geleentheid beroof om ordentlike beplanningsvermoë op te bou.” In die resolusie word dan gevra dat mnr Patel bemagtig moet word om mikro- en makro-ekonomiese beplanning te doen.

Markkragte is in die eerste plek nie iets waarin ‘n mens hoef te glo nie. Dit is ‘n ekonomiese bewysbare konsep. Dit gaan oor aanbod, aanvraag en prys en vorm die grondslag van enige groeiende ekonomie. Om verder te beweer dat die beperking van die staat se vermoë om in die ekonomie in te meng, tot nadeel van die land was, grens aan die belaglike.

Enige een hoef maar net om hom rond te kyk om te sien dat waar die staat meer betrokke is en meer inmeng, daar ook meer chaos is. Waarom is daar deesdae op bykans elke dorp ‘n belastingbetalersvereniging wat na sekere dienste omsien, waarom is daar soveel privaatskole,

Waarom is daar meer sekuriteitsbeamptes as polisiemanne en waarom koop mense gebottelde water?

Die geopolitieke ontleder, dr Jan du Plessis, het onlangs in ‘n toespraak op TLU SA se jaarkongres verduidelik hoe die staat besig is om te verval. Ons sit reeds met ‘n regering sonder inhoud, maar as dit van Cosatu afhang sal die besluitnemingsrol van die regering al groter word op elke terrein van die lewe.

Hierdie groter mate van beïnvloeding moet ook saamgelees word met sekere Cosatu-leiers se aandrang dat Cosatu op sy eie ook kandidate vir ‘n volgende verkiesing moet stel. Dié resolusie is vir eers van die baan, maar dit sal beslis weer opduik.

Ondertussen is dit ‘n duidelike rigtingwyser, selfs ‘n dreigement, aan die ANC-president Jacob Zuma dat hy nie te ver van sy magsbasis af mag beweeg nie. In Afrika praat getalle.

 

casino sign up bonusАлександр Фильчаков Васильевич