Die voormalige Amerikaanse president, John F Kennedy, het jare gelede die volgende idioom bekend gemaak, ook in die Afrikaanse volksmond. “If it ain’t broken, dont fix it.” As iets reg werk, moenie daaraan torring nie. Dit is beslis nie wat sedert die De Klerk oorgawe van 1994 in Suid-Afrika gebeur het nie.
Dit begin egter nou voorkom dat sekeres in die regering party sake van die ou Suid-Afrika, wat in 15 jaar van ANC-bewind afgebreek en stuk-stuk weggedra is, weer wil probeer opbou. Die polisiediens word nou weer ‘n mag. Daar is in die openbaar erken dat uitkomsgerigte onderwys ‘n fout is en dat die stelsel hersien moet word. Kinders moet weer leer skryf, lees en reken. Nou moet die woord ‘leerders’ tog net weer terug verander word na leerlinge. Daar word reeds voorspel dat die ou onderwyskolleges ook weer teruggebring gaan word om gehalte onderwysers op te lei.
Op die arbeidsterrein klink daar stemme op wat vra vir die terugkeer van die stelsel van statutêr geregistreerde vakmanne. Almal weet dat daar te min bekwame vakmanne en tegnici in die land is. Die “seta-stelsel”, wat in die naam van transformasie ingevoer is, werk nie.
Ander eens voortreflike instellings, wat gewerk het, en deur die ANC gebreek is, is egter nie so maklik om weer reg te maak nie. Die Landbank is rot en kaal gesteel en dit gaan jare en baie belastinggeld neem om weer te herstel. Die SABC het die trots en integriteit van die ou SAUK verloor. Dit is moeilik om te glo dat hierdie organisasie ooit weer sal herstel. Onder die ANC is die Suid-Afrikaanse weermag gereduseer tot ‘n flenter van wat dit eens was; kwalik in staat om ‘n landjie soos Lesotho te kan verower.
Eerstewêreldse gesondheidsdienste met hospitale, klinieke en opleidingsgeriewe bestaan nie meer nie. In Oos-Transvaal dreig ‘n staking van gesondheidspersoneel weer, omdat daar nie eers Aspiriene in meeste van die groot hospitale beskikbaar is nie. Die plaaslike regering betaal nie hulle mediese verskaffers nie.
Van plaaslike regering gepraat; dit gaan jare en miljarde rande neem om munisipaliteite weer selfversorgend te kry, rioolaanlegte weer in werkende toestand te kry, korrupsie onder amptenare hok te slaan en basiese dienslewering weer op ‘n aanvaarbare vlak te kry.
Eskom is in sy peetjie in. Waar en wanneer tariefverhogings gaan eindig, weet nugter alleen.
Dit wil voorkom asof die oer-oue Afrika tendens, die van, “as iemand anders iets beter as jyself bereik het, breek dit af, daardeur steek jy jou eie tekortkominge en verleentheid weg”, nou in die gesigte van die land se sogenaamde demokraties verkose leiers begin ontplof.
As hierdie leiers wil terugval na stelsels wat voorheen gewerk het, is dit goed so. Gee dan net ook ons volk se plek- en straatname, geskiedenis en kultuur, taal, skole en grondgebied terug. En stel ons bekwame werkerskorps weer aan sodat hierdie stelsels weer behoorlik bedryf kan word.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.