Op 9 Oktober 1899 het die getergde leiers van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek wat toe al vir vier-vyf jaar lank deur Engeland onder druk geplaas is, geëis dat alle geskille tussen Engeland en die Republiek deur arbitrasie besleg moes word, dat alle Engelse troepe op die grense van die Republiek teruggetrek moes word en dat alle troepebewegings na Suid-Afrika gestaak moes word. Op 11 Oktober 1899 om vyfuur die middag het die ultimatum verstryk en was dit oorlog.
Dit was ‘n oorlog wat deur Engeland op die republiek afgedwing is want Engeland wou die goud van die Witwatersrand hê. En om dit te kry, het Engeland ‘n totale oorlog teen die ZAR en sy bondgenoot die Oranje Vrystaat gevoer. Nie alleen is die land in sy geheel in puin gelê nie, maar meer as 27 000 Boerevroue en kinders is in die Engelse konsentrasiekampe dood terwyl meer as 6 000 burgers in die oorlog gesneuwel het of dood is.
Die Engelse het toe die land verower, en hulle het die goudmyne van die Witwatersrand gevat, en die Afrikanervolk in armoede gedompel vir byna 50 jaar, maar die gees van die volk, sy moed en weerstand kon nie gebreek word nie. Hoewel dit Lord Alfred Milner se grootste ideaal was “to wipe out all traces of Afrikanerism”, was die volk ‘n stil getuie toe die magtige Engelse Empire, waaroor die son nooit ondergegaan het nie, na 1945 tot niet gegaan het.
Dit was die groot en sterk gees van Kruger, die laaste president van die ou ZAR, wat die Boerevolk begeester het. Dit was Kruger se Christelike-nasionale leer en lewensopvatting wat die Afrikaners sterk gemaak het sodat hulle gelouter, deur die beproewings van 1899 tot die 1940’s gekom het.
En tog was Kruger maar ‘n gewone volkspionier, ‘n landskoonmaker en ‘n leier wat in geloof en met gebed sy volk op die pad van nasionale selfrespek en eerbaarheid vanaf 1877 gelei het.
Dit was Kruger wat in die kort, skerp oorlog van 1880 – 1881 die leier van die volk was wat die vryheid herwin het. Dit was Kruger wat daarna, as president, die ZAR tot ‘n moderne staat opgebou het. Dit was Kruger wat sy volk gelei het om in geloof in God en trou aan die verlede op die wortel van die volksgeskiedenis te groei en sterk te word.
Geen wonder dat Kruger in sy tyd nie net die lewende simbool van volksnasionalisme was nie, maar ook die groot voorman van die volk wat op die pad na die toekoms vreesloos voorgeloop het. Aan die einde van sy lewe, in sy Laaste Boodskap, sê hy: “… veel van wat opgebou was, is nou vernietig, verniel en het geval. Maar met eenheid van sin en kragte kan weer opgerig word wat nou daar plat lê…” Dit was tipies van Kruger wat steeds vanuit die hede, doelgerig koers gehou het na die toekoms met die diep-seker wete dat hy en sy volk nie alleen is nie.
Laat ons dan môre op 10 Oktober, Kruger se verjaarsdag, ‘n oomblik stilstaan, onsself meet aan die hoë eise wat hy gestel het en hóm gedenk wat deur GA Watermeyer so beskryf is:
“Groot bittereinder van ons bloed
Het hy die vryheid weer laat gloed,
Weer drif, weer vlam in ons laat word
ons moeë lendene omgord
Met moed om teen die morekim
méér as Majuba uit te klim.”
