Die ANC-president, mnr Jacob Zuma maak die afgelope tyd kwaai blafgeluide oor die misdaadsituasie in die land. Misdaad het totaal handuit geruk. Die misdaadsyfers wat onlangs bekend gemaak is, hoe betwyfelbaar dit ook al mag wees, bewys dat daar daadwerklik indringend na oplossings vir hierdie onaanvaarbare hoë syfers gesoek moet word.
Op ’n mediakonferensie wat by die Voortrekkermonument gehou is, nadat hyself en die minister van polisie, mnr Nathi Mthethwa, ‘n hoëvlak vergadering met stasiebevelvoerders, ministers, premiers en LUR’e gehou het, is geluide gemaak dat groot veranderings in die polisiediens verwag kan word.
Dit blyk dat “polisiediens” dalk na “polisiemag” verander kan word. Daar is na “kommissarisse” as “bevelvoerders” verwys, en dit is onomwonde gestel dat die rangstruktuur in die polisie hersien gaan word. Daar sal teruggeval word op meer militêre strukture, soos wat dit voorheen was. Hierdie verandering moet ’n duidelike boodskap aan misdadigers uitstuur dat daar oorlog teen hulle verklaar word.
Hoewel geluide soos hierdie verwelkom word, is dit te betwyfel of dit werklik enige wesenlike verandering aan Suid – Afrika se misdaad situasie sal doen. Soos in die gevalle van armoede, maatskaplike verval, ekonomiese agteruitgang, agteruitgang in die onderwys, swak munisipale bestuur,….noem maar op, die lys is lank, moet die verslegtende misdaadsituasie aangespreek word by grond-oorsake. Meer respek vir ‘n konstabel in uniform met nuwe blink rangkentekens gaan nie die situasie oplos nie.
Een van die grootste oorsake van misdaad in die land is die feit dat wette wat voorheen daargestel is om, onder andere, te help met misdaadvoorkoming en bekamping, deur die ANC regime afgeskaf is, of geminag word.
Dit is wette rakende grensbeheer. Nigeriërs, Mosambiekers en Zimbabwiërs het ‘n vrypas om die land binne te kom, dwelms te smous, te steel, verkrag en moor.
Dit is wette wat verstedeliking en groepsgebiede beheer het. Plakkerkampe en blikkiesdorpe spring daagliks soos paddastoele op. Geen plakkerkamp is polisieërbaar nie. Dit bied die volmaakte wegkruipplek vir plunderbendes en motorkapers. Etniese moorde vind ook daagliks in hierdie informele nedersetting plaas. Minstens twee mense is verlede naweek in Durban dood en tientalle beseer nadat Zoeloes en Pondo’s in een van die stad se talle plakkerkampe aan mekaar gespring het.
Dan is daar wette wat wetsgehoorsame burgers probeer ontwapen. Wette wat huis en haard beskerming, soos die kommandostelsel, afgeskaf het. Misdadigers het breed geglimlag die oomblik toe daar nie meer georganiseerde strukture, op veral die platteland, bestaan het om die polisie te help in hulle taak nie.
Dit is wette wat etniese en kultuurverskille minag, minimum lone vir ongeskoolde plaasarbeiders en huiswerkers vasstel, en daardeur hoër werkloosheid veroorsaak en dan voorheen voorbeeldige landsburgers dwing tot misdadigheid, net om te oorleef.
Dit is dalk goed dat die “diens” weer ‘n “mag” gaan word, maar dit sal nog beter wees as ek myself en my eie mense kan beskerm, die keuse het om my belastinggeld aan te wend om te sorg dat my kinders nie langs geharde misdadigers op ‘n skoolbank hoef te sit nie en die sekerheid kan hê ek nie as die misdadiger beskou word as ek teen misdaad optree nie.
