Daar word al meer gewys op die gevare van ‘n naderende hongersnood as voortgegaan word met politieke prosesse van sogenaamde grondhervorming, en waarna dit blyk dat grond nie meer produktief benut word nie, en gevolglik nie meer sy opbrengs lewer nie.
Tog is onproduktiewe grond nie werklik iets nuuts nie. Veral rondom die stede sien ons al van oudsher dat mense wegvlug van die rumoer en geraas van die stad, om die rustigheid van die platteland op ‘n kleinhoewe te geniet. En in baie gevalle, dalk selfs die meeste gevalle, is kleinhoewe bewoners juis dit: bewoners, maar geen boere nie. Grond van tussen een en vyf en twintig hektaar lê braak sonder enige aktiwiteite daarop.
In Europa is plase van dié grootte vol produksie-eenhede. Inderdaad is ons klimaat en omstandighede anders, maar met die koms van presisieboerdery, droogtebestande kultivars, waterbesparende maatreëls, minimum-bewerkingsmetodes en organiese boerdery-metodes, is die bepaling van ekonomiese eenhede dalk al verouderd en uit pas. Dit beteken dat mense wat tot dusver gedink het dat hulle op ‘n onekonomiese kleinhoewe bly, dalk tog verbaas kan wees.
Maar met die styging in bevolkingsgetalle, die vermindering in optimaal benutte landbougrond, gevolglike skaarser kos en daarmee saam hoër pryse, word dit al hoe meer noodsaaklik dat elke moontlike stukkie grond gebruik word vir voedselverbouing, op die kleinhoewe, maar selfs ook deur die groentetuin in die agtertuin van die dorps- en stadseiendom.
Dit is die een kant van die munt. Die ander kant is die verdere verwerking van geproduseerde produkte. Boere worstel al jare met die probleem dat hulle byvoorbeeld mielies of koring verbou, daarvoor ‘n minimale prys kry in terme van wat die produksieproses hulle gekos het, dan gaan dit in die verdere voedselverwerkingsketting, beginnende by meulenaars, en uiteindelik kom die produk weer op die boer se eie tafel, vier, sewe of twintig keer duurder as wat hy daarvoor gekry het. Sou die vermoë daar kon wees om baie van hierdie tussenprosesse self in hande te hou, kon daardie toegevoegde waarde in die boer se sak gewees het, in plaas van dikwels multi-nasionale en volksvreemde hande.
Dieselfde beginsel geld dalk juis vir die kleinboer, wat op sy hoewe boer, of dié wat die agtertuin in die stad gebruik. Dit word egter al hoe duideliker dat kennis nodig is vir dit alles. ‘n Kleinhoeweboer wat nie weet wat sy skaap makeer as hy gaan lê nie, kan groot skade ly. Iewers moet hy daardie kennis kry. Ja, daar is boeke voor, maar ‘n boek antwoord nie as jy hom van ‘n spesifieke probleem vra nie. Daarvoor is interaksie tussen die onkundige met kundiges nodig.
Sodanige interaksies vind juis plaas op boeredae, soos die Landboukorrels Boeredag, wat Radio Pretoria saam met TLU SA môre en Saterdag by Cullinan aanbied. Dit bied die ideale geleentheid aan die volkseie kleinboer en tuinboer om daardie kundigheid te bekom, en om ook te leer van waardetoevoegingsmetodes, wat nie net geld kan spaar nie, maar wat ook die geleentheid skep om ‘n ondernemer te word en ‘n geldjie te verdien. Moet dus nie dié geleentheid misloop om daardie noodsaaklike kundigheid op te doen nie, en lewer sodoende ‘n sinvolle bydrae tot voedselsekerheid.
