Die veroordeelde dwelmhandelaar Glenn Agliotti het in trane uitgebars in die hof en sê hy wou nooit teen sy destydse vriend en die voormalige polisiehoof Jackie Selebi, getuig nie.
“Edelagbare, dit is nie maklik om hier te wees nie…”
“Ek wou nie hier wees om teen my destydse vriend en die beskuldigde getuig nie,” het Agliotti gesê toe hy sy getuienis in Selebi se korrupsieverhoor lewer.
Regter Meyer Joffe het hom toe gevra of hy ‘n oomblik nodig het om homself te kalmeer waarna die hof verdaag is.
Die staatsaanklaer, Gerrie Nel, het na Agliotti, wat sy bril afgehaal en die trane afgevee het, gestap.
Selebi het uit die hof gestap en gesê: “Hy het ‘n boks snesies nodig vir môre.”
Selebi staan tereg op twee aanklagte van korrupsie en dwarsboming van die gereg wat verband hou met betalings van sowat R1,2 miljoen wat hy van Agliotti, die ontslape mynmagnaat Brett Kebble en die voormalige Hyundai-baas en sakeman Billy Rautenbach, ontvang het.
Die verhoor duur voort.
