Kadhafi-sirkus tref Parys

Image

Die leier en sy ‘amasones’

Die Libiese leier, kolonel Kadafhi, is tans op ʼn staatsbesoek aan Frankryk, kompleet met sy Bidoeïenetent en ʼn span vroulike lyfwagte in kamoefleerdrag. Die Franse media hanteer dit as ʼn groot publisiteitsfoefie en die kameras volg hom oral waar hy onderhoude voer, mense toespreek of besiens- waardighede in Parys aandoen.

Teenoor die Elysée-paleis waar die Franse staatshoof woon, wapper ʼn groot groen Libiese vlag in die koue waar Kadhafi in ʼn amptelike Franse woning, die hôtel de Marigny, tuisgaan. Hieroor het vele Franse protes aangeteken.

Maar blykbaar het die Franse regering besluit om die Libiese leier, wat tot onlangs as ʼn internasionale terrorismestoker beskou is, met die volle eer vir ʼn besoekene staatshoof te ontvang. Die rooi tapyt is vir hom uitgerol en die Franse Republikeinse wag het hom voor die parlementsgebou, die Assemblée Nationale, gesalueer. Persoonlik beskou Kadhafi verkiesings as ʼn “klug” en steur hy hom nie aan kritiek dat daar nooit in Libië verkiesings gehou word nie.

Ook tydens sy ontvangs by die Elysée-paleis is hy met dieselfde oordadige eerbetoon ontvang, nadat hy in in ʼn lang, slap, wit kar opgedaag het. Moontlik het Kadhafi teruggedink aan die vorige keer toe hy so in Frankryk ontvang is, deur president Georges Pompidou in 1973. Die jong revolusionêr was toe net 31 jaar oud en het nie eens moeite gedoen om vir die geleentheid aan te trek nie, met net ʼn eenvoudige rooi polotrui, iets wat destyds ʼn sensasie ontketen het.

Vyf-en-dertig jaar later is sy silhoeët geyk, sy gebare stadiger, sy gesig uitdrukkingloos. Die ritueel van die vuis in die lug om die aanwesiges te groet is steeds daar maar het ietwat meganies geraak.

Tussen twee amptelike afsprake, tref mens Moeammar Kadhafi in ʼn okerkleurige “abaja” (toga) met ʼn “kebboes” (fes) op sy kop aan, of in sobere pak klere aan in sy tent wat in die tuin van die hôtel Marigny opgeslaan is. Hier in die tent en nie in die gebou agter hom nie, word sy besoekers ontvang.

“Hy slaap nie daar nie, maar kuier daar saam met sy gaste as ʼn teken van erkentlikheid aan sy Bidoeiëneoorsprong,” verduidelik ʼn lid van sy afvaardiging. Kadhafi besit verskeie sulke tente wat elkeen omtrent 200 m2 groot is en met Libiese motiewe en tapyte versier is. Op elkeen van sy reise of staatsbesoeke neem hy een van hulle saam.

Bidoeïenedanseresse het Maandag ʼn vertoning in die tent gelewer. Kadhafi is ʼn groot voorstander van sy land se kunsvorme en skryf self kortverhale en gedigte oor die liefde of met ʼn nasionalistiese inslag.

Gerugte wil hê dat hy ʼn karige dieet volg, bestaande uit kameelmelk en dadels. Tydens die staatsbanket Maandagaand in die Elysée, is koeskoes en groente, sy gunstelingdis, tesame met lamsvleis en sjokeladekoek, bedien.

Parys het so te sê tot stilstand gekom met skerpskutters op die dakke, alles deel van die buitengewone veiligheidsmaatreëls wat getref is om sy indrukwekkende stoet van honderd voertuie te ontvang.

Kadhafi vertrou net sy persoonlike lyfwagte en sy handvol “amasones” om hom te beskerm. Die “amasones”, vroulike lyfwagte in kamoefleerdrag, bestaan uit studente of vroueoffisiere van die militêre akademie in Tripoli en volg hom oral waar hy gaan.

Vier van hulle het hom Dinsdag vergesel toe hy die ontvangslokale van die Ritz binnegekom het, ʼn duur Paryse hotel waar hy openbare persoonlikhede sou ontvang.

Oral tref mens verwysings na Afrika aan. Kadhafi dra ʼn soort borsspeld wat uit ʼn kaart van die kontinent bestaan, presies op harthoogte. Die afvaardiging het aangekom aan boord van drie vliegtuie van die Ifrikija-redery (“Ifrikija” beteken Afrika) met ʼn ebleem wat uit drie syfers bestaan 9 9 99, die datum waarop die Afrika-unie gestig is.

Tydens ʼn byeenkoms het Kadhafi teen sy gashere uitgevaar omdat hulle nie dieselfde regte aan immigrante uit Afrika toestaan as aan Europeërs nie. Die gehoor, waaronder ʼn groot klomp swartes uit Wes-Afrika, het hom staande toegejuig.

Kadhafi geniet al die aandag en hou daarvan om die media te verras. Oënskynlik weens sy obsessie oor sy persoonlike veiligheid, is sy hele program in geheimsinnigheid gehul. Gaan hy die chateau van Versailles besoek? Sal hy aan ʼn jagtog in die Franse woude deelneem en, indien wel, wanneer?

Daar heers ook ʼn gerug dat Kadhafi besoek wil bring aan die gedenkteken van Colombey-les-deux-Eglises in die ooste van Frankryk om hulde te bring aan die Fransman wat hy die meeste bewonder, niemand minder as die konserwatiewe generaal De Gaulle nie.

free signФильчаков прокуратура харьков

British Council nekomgedraai

Die Russe het die British Council versoek om al hul streekskantore in Rusland te sluit. Die Russiese ministerie van buitelandse sake het in ‘n verklaring gesê dat dié instelling onwettig in Rusland werk en Russiese belasting- en ander wette en die Weense Konvensie van 1963 oortree. Die ministerie het die kantore in Ekaterinburg en St. Petersburg gesluit verklaar vanaf 1 Januarie 2008.

Die Britte het met uiterste verontwaardiging gereageer op die aankondiging en gesê die sluiting is verregaande. ‘n Segspersoon vir die Britse ambassade in Moskou het verklaar dat "die Council ‘n nie-politieke kultuurorganisasie is" wat "mense help" om Engels te leer. Hy het ook gewaarsku dat Rusland se optrede "in stryd is met internasionale reg". James Kennedy, direkteur van die British Council in Rusland, het beaam dat die besluit nie geregverdig kan word nie en dat die Council sedert 1994 in Rusland is danksy ‘n bilaterale kultuurooreenkoms tussen die twee lande.

Rusland volg die voorbeeld van Belarus wat in 2000 die laaste British Council kantoor in dié land gesluit het. Gemaskerde belastingpolisie, geklee in swart, het reeds drie jaar gelede op die Council se hoofkantoor in Moskou toegesak en betogings is verlede week voor die Britse ambassade gehou, terwyl die Britse ambassadeur, Tony Brenton, gereeld lastig geval word.

In Augustus verlede jaar het die Kremlin besluit om die BBC se FM-uitsaaifrekwensie op te skort vanweë anti-Russiese propaganda wat die diens klaarblyklik aanhoudend uitgesaai het. In die lig van die besluit om die British Council se aktiwiteite ook in te perk, is dit duidelik dat die aanstaande president, Dmitri Medvedev, nie beplan om gou ‘n einde te maak aan die gespanne verhoudinge wat tussen Rusland en Brittanje heers nie.

‘n Russiese woordvoerder van buitelandse sake het gesê dat die Council se werkswyse "abnormaal" is omdat dit vanuit Britse konsulate in Rusland bedryf word. Hy het bygevoeg dat dit in stryd is met die Weense Konvensie wat konsulêre bedrywighede reël. Denis MacShane, eertydse Britse minister vir Europa, het gesê dat die British Council nog lank ná die huidige Russiese politieke leiers se vertrek sal bly bestaan. Of dit só sal wees, sal net die toekoms leer aangesien al 15 streekskantore gesluit gaan word en selfs die Russiese personeel die trekpas gaan kry.

детская железная дорога киевДанильченко Юрий Брониславович

Zimbabwe noem Merkel ‘n ?Nazi?

Image

Merkel – ‘n ‘Nazi-oorblyfsel’

Die Zimbabwiese regeringskoerant, die Herald, het na die Duitse kanselier, Angela Merkel, as ‘n “Nazi-oorblyfsel” verwys. Die Duitse regering het daarop gereageer en dit as “onaanvaarbaar” beskryf.

Dieselfde koerant het die inligtingsminister van Zimbabwe, Sikhanyiso Ndlovu, aangehaal waar hy vir Merkel van “rassisme van die eerste orde” beskuldig het. Dit alles was in reaksie op Merkel se kritiek jeens Zimbabwe tydens die EU-Afrikaspitsberaad toe sy gemeen het “Zimbabwe berokken die beeld van die nuwe Afrika skade”.

Volgens Ndlovu demonstreer Merkel se aanmerkings haar “fascistiese en rassistiese neigings”.

Hy het voortgegaan deur te sê:  “Sy behoort haar mond te hou oor Zimbabwe of haarself te verskoon. President Mugabe is sonder twyfel ʼn onteensegbare ikoon van Afrika-nasionalisme, ʼn Pan-Afrikaan, ʼn revolusionêr en bevryder van Zimbabwe, tesame met wyle dr. Joshua Nkomo."

“Hy het die spitsberaad in eie reg as ʼn staatsman van hoogstaande reputasie bygewoon. By die spitsberaad het hy die kalklig gesteel deur sommige Europese staatshoofde en sy kritici, Angela Merkel, inkluis, soos dwerge te laat lyk.”

Volgens hom praat Duitsland uit sy beurt as hy Zimbabwe bespreek en behoort hom by die ooreengekome beginsel van die spitsberaad te beperk het.

“Zimbabwe is nie ʼn kolonie van Duitsland nie. Dit is rassisme van die eerste orde deur die Duitse staatshoof,” het Ndlovu voortgegaan.

Gister het die Duitse minister van buitelandse sake, Frank-Walter Steinmeier, die Zimbabwiese chargé d’affaires na die buitelandse ministerie in Berlyn ontbied. “Dit is baie duidelik aan hom gestel dat aanmerkings soos dié oor die kanselier op geen manier verdra kan word nie,” het ‘n regeringswoordvoerder gesê.

Mugabe het by sy terugkeer in Harare egter ongestoor voortgegaan met sy tirade teen Westerse lande, onder andere Brittanje. “Ons het Brittanje ʼn neerlaag toegedien, ons was die oorwinnaars oor die Britte. Wat is Brittanje na alles? Hulle dink die Britse Ryk is nog aan die gang,” het hy aan die Herald gesê.

раскрутка сайтаФильчаков Александр Васильевич

Transformasie veroorsaak inflasie – instituut

Die vaardigheidstekort wat deur transformasie en SEB veroorsaak word, is besig om inflasie te verhoog, volgens ʼn verklaring wat einde verlede week deur die Instituut vir Rasseaangeleenthede uitgereik is. Nie net verdryf transformasie opgeleide blankes uit die land nie, maar die hoë salarisse wat aan die swart élite betaal word, het inflasie tot gevolg.

Veral in Johannesburg is dit algemeen om lede van die swart nomenklatura in duur motors soos Porsches, Jaguars en S-klas-Mercedesse te sien rondry. Die meeste van hulle verdien miljoene rande per jaar wat deur ondernemings weens politieke druk betaal word.

Volgens die IRR gaan 6% ekonomiese groei moeilik haalbaar wees tensy die ANC-bewind afsien van sy rassebeleid en die kernkwessies aanspreek. Daar heers ʼn wêreldwye tekort aan vaardighede en SA behoort mededingend te bly om sulke opgeleide mense te behou of na die land aan te lok.

Verder behoort die land sy buitelandse beeld te verbeter deur die hoë misdaadsyfer aan te pak, vooruitgang met die “Zimbabwe-kwessie” te maak en gesien word dat hy korrupsie en finansiële wanbestuur aanspreek, het die instituut gesê.

Dié kommentaar volg na die bekendmaking verlede week van die ANC-regering se jongste misdaadsyfers. Huisaanvalle het met 7% gestyg, rooftogte by sakepersele met 29,3% en vragmotorkapings het in die ses maande vanaf April tot September met 53,3% gestyg.

Volgens ʼn navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies, Johan Burger, is die geweldsgraad van SA misdaad die grootste probleem. “Geweld is die een element by ons misdaad wat die meeste vrees veroorsaak,” het hy gesê.

Geweldsmisdaad verdryf opgeleide mense en maak dit moeiliker om sulke mense van oorsee te werf. Volgens Burger bestaan daar “negatiewe persepsies van Suid-Afrika oorsee”.

free onlineДанильченко Юрий отзывы

Mugabe stuur Merkel in haar peetjie

ImageLissabon – ʼn Uitdagende Robert Mugabe het die Europese leiers Sondag vertel dat hy geen lesse wil ontvang oor hoe om Zimbabwe te regeer nie, in antwoord op die Duitse kanselier, Angela Merkel, en ander EU-leiers se beskuldigings dat hy menseregte in sy land vertrap.

Mugabe het oudergewoonte sy vuis uitdagend in die lug gesteek en breed geglimlag toe hy gevra is watter boodskap hy vir Europa het op die tweede en laaste dag van die EU-Afrika-spitsberaad.

“Wat menseregte en goeie regering betref, bepaal Afrika sy eie beleid, uit eie vrye wil,” het Zimbabwe se omstrede president gesê, soos hy aangehaal is deur twee EU-diplomate wat na sy toespraak geluister het tydens die eerste Euro-Afrika-spitsberaad in sewe jaar.

Die Weste en menseregtegroepe het Mugabe beskuldig van wydverspreide menseregteskendings en dat hy sy land se ekonomie geruïneer het, maar hy word deur baie in Afrika as ʼn held beskou.

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het gepoog om tussen die Zimbabwiese se regering en die opposisie te bemiddel.

Die eerste minister van Brittanje, Gordon Brown, het die vergadering uit protes teen Mugabe se deelname geboikot en die Duitse kanselier Angela Merkel het die spitsberaad Saterdag uitgedaag om die menseregtevergrype in Zimbabwe aan te spreek toe sy gesê het: “Die situasie in Zimbabwe rig skade aan die beeld van die nuwe Afrika aan.”

Maar Mugabe is soos volg deur EU-diplomate aangehaal: “Dink die Duitse kanselier en die ander pro-Gordon Brown-mense werklik hulle weet beter as SAOG en die Afrika-unie, ons moet hierdie vermetelheid beveg.”

Vorige pogings om ʼn spitsberaad tussen die wêreld se grootste handelsblok en sy armste kontinent te hou, het misluk omdat Brittanje en sekere EU-state geweier het om dit te by te woon indien Mugabe uitgenooi sou word, terwyl Afrikaleiers gesê het hulle sal nie kom as Mugabe weggewys word nie.

Volgens Mugabe is die EU se “arrogansie”, en nie Zimbabwe nie, te blameer vir die oponthoud in die reël van die spitsberaad.

“Diegene wat van gelykheid praat, het gepoog om hul eie wil op Afrika af te dwing en het saamgeflanste klagtes teen Zimbabwe gelê,” het Mugabe gesê.

“Ons ken ons verantwoordelikhede; ons hoef nie lesse oor vrede en veiligheid te ontvang nie,” het hy bygevoeg.

Die EU se hoof van buitelandse beleid, Javier Solana, het weereens nadat Mugabe gepraat het sy kommer oor dié kwessies uitgespreek. “Die EU is bekommerd oor die verslegting van die ekonomiese, humanitêre en politieke situasie in Zimbabwe,” het Solana aan die Europese en Afrikaleiers gesê. “Na ons mening, is die verslegting die gevolg van ʼn krisis wat goeie regering betref,” het hy gesê.

Die president van die Europese Kommissie, Jose Manuel Barroso, het aan ʼn nuuskonferensie aan die einde van die spitsberaad, verwysende na Mugabe, gesê dat hy nie kan verstaan waarom diegene wat vir die vryheid van hul land geveg het wel vryheid aan hul eie mense weier nie.

Mugabe het alle plase wat aan blankes behoort gekonfiskeer tydens sy “grondhervorming” en volgens die opposisieparty, die Beweging vir Demokratiese Verandering, verkiesingsbedrog in die vorige verkiesing gepleeg. Aanstaande jaar word daar weereens in Zimbabwe verkiesing gehou en Mugabe is reeds besig om die opposisiegroepe te onderdruk, luidens die BDV.

турецкая баня ценаtopcargo развод

EU wil Afrika as ‘gelyke’ behandel

Image

Amado, gelas met buitelandse sake

Sewe jaar ná die eerste ontmoeting in Kaïro het Europeërs en Afrikane weer in Lissabon byeengekom vir die jongste EU-Afrikaspitsberaad om te probeer om verslegtende betrekkinge te heel en ‘n nuwe strategiese bondgenootskap te sluit. Alhoewel die EU steeds Afrika se grootste handelsvenoot is, het ‘n minder kieskeurige China, met aansienlike investering, na die derde plek opgeskuif.

Regerings in lande soos Angola, die DRK en Algerië baat reeds by Chinese geld. Sanusha Naidu en Martyn Davies het verlede jaar in die South African Journal of International Affairs laat blyk dat China in 2002 met Sinopec ‘n kontrak van $525m gesluit het om die Zarzaitine-olieveld in Algerië te ontwikkel. In Januarie 2005 het China se Eximbank ‘n lening van $1bn aan Angola verleng en later verdubbel.

Meer as 70 staatshoofde sal by die grootste diplomatieke samekoms ooit in Portugal teenwoordig wees. Brittanje sal nie deur Gordon Brown verteenwoordig word nie, maar het wel ‘n afvaardiging gestuur. Brown weier om aan dieselfde tafel as Mugabe te sit ten spyte daarvan dat Brittanje Mugabe oorspronklik aan bewind geplaas het.

Die reisverbod teen Zimbabwe se hoë amptenare wat die afgelope vyf jaar geld, is tydelik opgehef vir die beraad, maar die sanksies wat die EU ingestel het as straf teen Mugabe se regime se menseregteskendings, bly onveranderd. Mugabe het reeds Donderdagaand in Portugal aangekom, maar hy is deur ‘n sydeur weggelei om die talle joernaliste wat op sy aankoms gewag het, te vermy.

José Socrates, Portugal se premier, wil graag die post-koloniale verhouding agterlaat en ‘n werklik gelyke bongenootskap tussen Europa en Afrika tot stand sien kom. Hy get gesê dit sal nie "’n strategie vir Afrika wees nie, maar met Afrika." Talle betogings teen Mugabe se teenwoordigheid word beplan en nie net Zimbabwe nie maar die toestand in Darfoer wat nie op die agenda sal wees nie, is een van die strydpunte.

Minister Cravinho, belas met samewerking in Portugal, het egter benadruk dat die beraad nie oor eng kwessies gaan nie, maar dat die groter geheel belangrik is. Vrede en sekuriteit, demokrasie en menseregte, handel en nywerheid, klimaatsbestuur en energie, asook migrasie en arbeid, sal die vyf hooftemas wees wat bespreek sal word. ‘n Gemeenskaplike strategie sal Sondag aangekondig word tesame met ‘n plan van aksie wat oor die volgende drie jaar sal strek, tot en met die volgende beraad wat vir 2010 in Afrika beplan word.

Ongelukkigheid heers in sekere Afrikalande oor die wyse waarop die EU voorkeurhandelsbetrekkinge tydens voorbereidende ontmoetings probeer afdwing. Suid-Afrika en Namibië het onttrek aan samesprekinge en die hoof van Oxfam se EU-kantoor, Luis Morago, sê Afrikalande "verkeer onder geweldige druk om [ooreenkomste] te onderteken" wat nie in hulle guns sal wees nie. Die AU-voorsitter, Alpha Oumar Konare, het vroeër in Midrand te kenne gegee dat Afrika nie met voorskrifte tevrede sal wees nie.

Libië se leier het reeds Donderdagoggend (letterlik) sy tent opgeslaan in Lissabon om gaste daar te ontvang. Hy was die eerste gas om op te daag by die EU-Afrikaspitsberaad. Indien die EU nie ‘n beter alternatief as China vir Afrika bied nie, is Moeammar Khadaffi darem gereed vir enige gebeurlikheid.

компьютерная диагностика автомобиляФильчаков прокурор харьков

Landbankkorrupsie vir eers toegesmeer

ImageKabinetsministers het van plan verander en die forensiese verslag oor die Landbank nie na die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verwys nie. Dit volg op teëstribbeling deur direksielede en senior amptenare van die bank wat sekere van die bevindings in die verslag bevraagteken. “Die kabinet het ooreengekom dat hierdie besluit (om die verslag na die polisie te verwys) gekanselleer sal word en dat daar ’n verdere interne ondersoek deur die Departement van Landbou en Grondsake sal plaasvind,” aldus Themba Maseko, woordvoerder van die kabinet.

Maseko het verduidelik dat volgens die verslag sekere besluite oor leningsaansoeke deur bankamptenare geneem is, sonder dat die direksie geraadpleeg is. Die direksie en amptenare beweer egter nou dat hierdie aansoeke wel voor die direksie gedien het. “Al hierdie kwessies sal opgevolg word en so doeltreffend moontlik afgehandel word,” het Maseko gister gesê. “Indien daar steeds bevind word dat bedrog plaasgevind het, sal die saak aan die polisie oorhandig word.” Hy wou egter nie sê wie die direksielede en amptenare is wat nou met nuwe inligting vorendag gekom het nie.

Die forensiese verslag, wat deur Deloitte opgestel is, beweer dat Landbank-amptenare meer as R2 miljard wat vir boere bestem was, gebruik het om vriende se ondernemings mee te finansier. Die geld is onder andere aangewend vir luukse gholflandgoedere, die bou van ’n suikermeule en die ontwikkeling van wooneenhede. Die verslag is in November deur Lulu Xingwana, minister van landbou en grondsake, aan die kabinet oorhandig.

Die kabinet het aanvanklik daarop aangedring dat die Landbank-direksie afgedank moet word en dat kriminele klagtes teen die topbestuur aanhangig gemaak word. Dié besluit is egter nou herroep.

Die Landbank was vroeër jare ’n winsgewende instelling, maar die afgelope drie jaar reeds kry die bank slae van die ouditeure. In Maart vanjaar het die kabinet R700 miljoen beskikbaar gestel om die bank weer op die been te kry. Die bank se reserwekapitaalfondse was op daardie stadium maar 5%, in vergelyking met die 15%-21% wat as die norm beskou word. Sonder die staatsinspuiting sou die bank waarskynlik ondergegaan het. Vele van die bank se ervare amptenare het hulle intussen by die land se groot handelsbanke aangesluit, wat die Landbank se kanse op sukses ’n verdere knou toegedien het.

гидроаккумулятор купить в украинеФильчаков прокурор

Politieke partye het volkstaatidee gekelder


Imageʼn Onderhoud deur Buks van Rensburg met dr. Johann Wingard, die voormalige voorsitter van die Volkstaatraad.

BvR: Dr. Wingard, as voorsitter van die Volkstaatraad was u betrokke by ʼn interessante en miskien ietwat ongelukkige periode vir Afrikaners. Ek wil graag ʼn paar vrae oor die Volkstaatraad vra. Wat is die oorsprong van die Raad?

JW: Miskien is die vier jaar voor die stigting van die VSR eintlik die mees ongelukkige tydperk in die geskiedenis van die moderne Afrikaner. Die NP het daarin geslaag om behoudende Afrikaners te demoniseer en te isoleer. Die grondslag is toe gelê vir die huidige anti-volksentiment wat Afrikaners hul selfidentiteit ontneem het en wat van baie Afrikaners materiële kosmopolitaanse zombies gemaak het. Dit was binne hierdie inploffende sosiale omgewing waarin die VSR sy taak moes verrig. Die Raad moes ondersoek instel na en aanbevelings maak oor die wenslikheid van ʼn Afrikanervolkstaat en moes aanbevelings doen vir die toepassing daarvan binne die begrensing van die tussentydse grondwet.

Image

Johann Wingard

Op 23 Desember 1993 het ʼn afvaardiging bestaande uit Genl Constand Viljoen, bygestaan deur enkele vooraanstaande “regse” politici, ʼn akkoord met die ANC gesluit. Die akkoord het ten doel gehad om aan etniese Afrikaners, wat geweier het om hul soewereiniteit as volk prys te gee, die gaping te bied om deur middel van ʼn konstitusionele weg ʼn manier te vind om hul selfseggenskap te behou, hetsy deur middel van territoriale of korporatiewe strukture.

In ruil vir hierdie toegewing aan die kant van die ANC, sou etniese Afrikaners die magsoorgawe aanvaar en aan die komende verkiesing deelneem. Almal is daarmee bekend dat die Volksfront toe geskeur het en die Vryheidsfront en die KP as aparte entiteite ontstaan het. Die VF het aan die verkiesing deelgeneem en die KP het dit geboikot. Terloops, die onderhandelaars aan ANC-kant was die einste Thabo Mbeki en Jacob Zuma wat die media tans oorheers.

Die Volkstaatraad was ʼn sogenaamde grondwetlike instrument waartoe die twee partye ooreengekom het. Die Raad sou uit twintig benoemde lede bestaan en moes ʼn wye spektrum van kundigheid dek. Die raad was nie ʼn gesagsliggaam nie en het oor geen gedelegeerde magte beskik nie. Dit was dus slegs ʼn forum wat wetenskaplike navorsingsverslae en aanbevelings aan die staat asook die Vryheidsfront moes maak. Die Vryheidsfront sou die politieke dryfveer wees om die raad se aanbevelings geïmplementeer te kry en die voorwaardes van die 1993-akkoord af te dwing. Oningeligte Afrikanerskeptici het die naïewe mening gehuldig dat die Raad ʼn Volkstaat tot stand moes bring en klaaglik in hul missie gefaal het…

In werklikheid moes die VSR alle gebiede ondersoek waar Afrikaners hul selfbeskikking kon uitoefen, gesien binne die demografiese werklikheid van die nuwe Suid-Afrika met sy liberaal-demokratiese grondwet van een mens, een stem en reg op vrye beweging. Die VSR het hierdie taak besonder deeglik en professioneel gedoen en het ʼn groot aantal verslae en aanbevelings gedoen. Maar die aanbevelings het nie noodwendig gestrook met die sienings van sy politieke enjin nie en weens onderlinge verdeeldheid op politieke terrein kon dinge nie van die grond kom nie.

BvR: Het die raad wye steun onder Afrikaners gehad?

JW: Nee. Eers nadat ek by die VSR weg is, het ek besef waarom nie. Op voetsoolvlak was daar totale onkunde oor die taak en roeping van die VSR en was min Afrikaners ingelig, ten spyte van verskeie TV-debatte. KP- en HNP-ondersteuners het VSR-lede as verraaiers vir die volksaak beskou en graag na Piet Retief as voorbeeld verwys van iemand wat bereid was om met swartes ʼn ooreenkoms aan te gaan.

NP-ondersteuners wat toe nog in die die euforie van hul suksesvolle magsoorgawe gegloei het, het die Raad as ʼn jammerlike fenomeen beskou en ʼn lastige uitvloeisel van die onderhandelingspolitiek. Slegs ʼn handjievol Afrikaners – ek skat daar was minder as tweehonderduisend van hulle – kon as ondersteuners van die VSR-gedagte beskou word. Daarteenoor was daar maklik tien keer soveel teenstaanders vanuit beide die NP-kant, asook aan die KP-kant.

Ondersteuners van die VSR was weer onderling verdeeld oor die ligging van ʼn volkstaat. Elkeen wou ʼn volkstaat in sy agterplaas gehad het. Sommige ondersteuners wou weer niks met territoriale selfbeskikking te make hê nie en wou ʼn statutêre Afrikanerraad met gedelegeerde magte en eie begroting hê. Die onderlinge verdeeldheid het deurgespoel na die Vryheidsfront en was duidelik waarneembaar met sy swak vertoning by die stembus tydens die 1998-verkiesing toe die party byna sewentig persent van sy steun verloor het. 

BvR: Wat was die voorstelle wat die Raad na die regering geneem het?

JW: Daar was verskeie. In breë trekke kom dit daarop neer dat die Raad aanbeveel het dat ʼn tiende provinsie verklaar word. Dit sou bestaan uit ʼn gebied aan die Ooste en Suide van Pretoria, wat aansluit met Oosrandse en Wesrandse dorpe, en waar volgens rekenaarontledings van die 1996-sensus, meer as twee derdes van die inwoners Afrikaners was.

Verder het die Raad aanbeveel dat ʼn gebied rondom Orania as bestemde gebied deur Afrikaners ontwikkel moes word vir die uiteindelike totstandkoming van ʼn volkstaat.

Laastens het die Raad die totstandkoming van ʼn verkose Afrikanerraad aanbeveel wat na die Afrikaners wat buite hierdie gebiede woon, se belange asook hul kulturele ontwikkeling, sou omsien. Konsepwetgewing daarvoor is deur ons voorberei, maar geen party het daarin belang gestel om dit aan die Parlement voor te lê nie.

BvR: Hoe het die ANC-regering gereageer op u voorstelle?

JW: Soos dikwels in die verlede was regsgesinde Afrikaners se voorspellings weer in die kol.

Lank na die uitfasering van die VSR bring ek eendag ʼn besoek aan adj.-pres. Jacob Zuma toe hy nog in Overvaal in Pretoria gewoon het. Daar was toe sprake van ʼn korrupsieklag teen Shabir Shaik in die lug. Hy het my gul ontvang en ons het op die stoep gesit en gesels. Op ʼn ander geleentheid kan ons weer oor my besoeke aan hom praat. Ek herhaal my vraag aan Zuma binne die verband van jou vraag hierbo:

“As you know, there is still some unfinished business between Afrikaners and the ANC.”

Hy het met sy kop geknik en ernstig geantwoord: “I know that. Many in the ANC considered the Volkstaatraad as a political tactic to have a successful election. But I am still personally bound by the terms of the accord. When I become President, we should look at the unfinished business again.”

Laat ons maar eerlik wees. Hoewel ek tydens my drie jaar by die VSR geweldig baie geleer het oor die minderheidspolitiek regdeur die wêreld, was dit vir my ʼn vrugtelose politieke oefening.

Die ANC was hoegenaamd nie geïnteresseerd in die VSR se verslae nie. Alle onderhandelings daaromheen is gewoonlik met blanke liberalistiese tussengangers gevoer, veral met die Oostenrykse makelaar Jűrgen Kögel en genl. Viljoen se tweelingbroer, emiritusprof. Braam Viljoen.

Die ANC is ook onder die indruk gebring (waarskynlik deur die tussengangers) dat die VF die VSR se denke en doen en late bestuur het, wat nie die geval was nie.

Enkele kere kon ons direk met die ANC-mense praat soos byvoorbeeld tydens ʼn groot sessie in die Kaap toe ons aanbevelings van ʼn tiende provinsie gemaak het. Essop Pahad, wat die ANC se afvaardiging gelei het, het met groot fanfare uit die saal gestap en die VF toegesnou dat hulle in kwade trou onderhandel. Aangesien ons toe nog nie die VF se voorkeuropsie van die Noordkaap as langtermynplan voorgestel het nie, kon ons ook geen ondersteuning van hulle verwag nie. Sonder oorspronklike magte, of politieke ondersteuning, was die VSR tot niks verder in staat nie.

Genl. Viljoen en ek was saam tydens die oorhandiging van ons tussentydse verslag aan Mandela in Tuynhuis. Ek wou oor die verslag se inhoud gesels, maar Mandela wou oor ʼn boereprojek in Mosambiek gesels. Ons kon nie ʼn enkele woord oor die verslag gepraat kry nie. Die mediabeampte roep ons toe om met die televisiemense te gesels, en was ons gesprek afgehandel. Ons gaan staan buite op Tuynhuis se trappe met Genl. Viljoen en ek weerskante van Mandela. Hy is ʼn ongelooflike charismatiese mens en verklaar met groot oortuiging aan die wêreldmedia dat die ANC die verslag baie goed sal bestudeer en dat Afrikaners na alles nie sulke slegte ouens is nie. Ek vermoed daardie verslag is steeds onoopgemaak in Tuynhuis se biblioteek. Die VSR het ander verslae uitgebring nadat ek daar weg is en ek het niks gehoor wat my anders laat dink dat die ANC geen ag geslaan het op die VSR se verslae nie.

BvR: Het u steun uit ander oorde gekry, of was die Raad en sy lede geïsoleerd? Het u enigsens ondersteuning uit die Vryheidsfront gekry, en was die destydse Nuwe Nasionale Party en Demokratiese Alliansie toegeneë, ongeïnteresseerd, of afwysend?

JW: Soos ek hierbo genoem het, het die Vryheidsfront ʼn beleidsvakuum ondervind. Baie van sy invloedryke lede was nie volkstaters nie en wou die volkstaatgedagte nie te hard stoot nie, uit vrees dat dit sy kiesers sou vervreem. Hulle wou liewer belangepolitiek bedryf.

ʼn Klein groepie entoesiastiese volkstaters was besield met die gedagte om ʼn nuwe gebied te ontwikkel en het hand aan die ploeg geslaan om hul ideaal te verwesenlik. Hulle het derhalwe beheer van die VF se beleid oorgeneem op ʼn kritieke punt in die ontwikkeling van die party. In die 1994-verkiesing het die VF ongeveer 460,000 ondersteuners by die stembus getrek, maar na die debakel oor volkstaatbeleid het sy steun na ongeveer 120,000 gedaal. Die VF was dus geen faktor om die VSR te ondersteun nie.

Die Nasionale Party (die NNP het toe nog nie bestaan nie) was snaaks genoeg nie afwysend nie en het moontlik gevoel dat ons met ʼn vreedsame en konstruktiewe proses besig was. Een belangrike lid van die NP het my versoek om die kwessie van ʼn statutêre raad (hul sogenaamde korporatiewe selfbeskikkingsmodel) ernstig te ondersoek. Maar hierdie was nie die NP se geveg nie – dit was tussen Viljoen se mense en die ANC.

Tony Leon se party was ideologies afwysend teenoor die volkstaatgedagte, maar het hulle ook gedistansieer van die Afrikanervolksentiment en alles daaromheen.

Die Raad was dus geïsoleer en slegs op sy eie beperkte begrotinkie en wetlike status aangewese.

BvR: Glo u steeds dat daar ʼn moontlikheid is dat die Raad se voorstelle in een of ander vorm gebruik kan word om Afrikanerselfbeskikking te verkry? Of dink u dat die idee van territoriale selfbeskikking vir Afrikaners dood is?

JW: Die een voorstel van die Raad wat binne ons bereik is, is die stigting van ʼn statutêre Afrikanerraad. Daarvoor het ons geen ondersteuning van die ANC nodig nie, slegs die instemming van leidende Afrikanerorganisasies.

Ek het nog altyd geglo dat ʼn eie geloofwaardige struktuur wat internasionale legitimiteit geniet, die logiese instrument sal wees om die Afrikaners weer na selfregering te lei, hetsy op territoriale basis of deur beheer oor ʼn deel van die nasionale fiskus te verkry om eie skole en universiteite mee te finansier.

Ongelukkig voel sekere instansies dat die behoefte aan so ʼn statutêre liggaam reeds deur ʼn organisasie soos Afriforum/Solidariteit gevul word. Laasgenoemde organisasie tree meer soos ʼn privaatsektoraktiviste-organisasie op en kan hoegenaamd nie die statutêre rol van ʼn Afrikanerraad speel om deel van die staatsbegroting te beheer nie, om staatshefbome amptelik te gebruik sodat hy sy gedelegeerde magte kan uitoefen, of om nuwe landswette te debatteer en wysigings voor te stel voordat dit deur die president gesertifiseer word, of om sy eie wetgewing voor te berei nie. Die eerste stap is om die Raad gestig te kry, waarna die drukproses vir wyer magte sal toeneem.

Ek dink dat die gedagte van territoriale selfbeskikking tans nie werkbaar is nie, maar dinge kan dalk vorentoe verander.

BvR: Daar is vandag onder baie Afrikaners ʼn ervaring van persoonlike onveiligheid en onsekerheid. Is daar rede vir die onsekerheid, en sal Afrikaners ooit weer veilig in Suid Afrika kan leef?

JW: Die land se liberaal-demokratiese grondwet het misdaad as onvermydelike gevolg omdat misdadigers wat deur hul vergrype uit die grondwet kontrakteer nog deur dieselfde grondwet beskerm word. Ek glo dat iemand wat buite die grondwet optree, outomaties afstand doen van enige grondwetlike beskerming.

Afrikaners het dus rede vir hul gevoel van persoonlike onveiligheid.

Totdat die grondwet hersien word, sal daardie gevoel by hulle bly. Dalk kan ons ʼn verandering verwag met Zuma as President. Natuurlik dra Mugabe se uitgewekenes ook by tot die misdaadprobleem. Dus, met Mugabe uit die kussings en met die nodige grondwetlike wysigings kan die land weer veilig gemaak word. Daarsonder, bly ons maar in ʼn onveilige plek.

BvR: Sal Afrikaanse instellings oor die langtermyn oorleef? Na u mening, wat is die langtermyntoekoms van Afrikaners in Suid Afrika? 

JW: As jy verwys na kultuurverenigings, vakunies, kerke of geslote verenigings, dan sien ek geen rede waarom hulle nie sal oorleef of selfs kan groei nie.

Instellings soos skole en universiteite word stelselmatig van hul Afrikaansheid ontneem en ek kan nie sien hoe hulle oor die lang termyn hul etniese karakter in die afwesigheid van ʼn statutêre Afrikanerraad sal kan behou nie.

Oor die lang termyn sien ek ʼn goeie toekoms vir Afrikaners. Die persoon wat die grootste skade aan ons beeld as gelyke volksgenote aangerig het, is natuurlik Thabo Mbeki wat ʼn psigose by swartmense laat posvat het dat ons settlers is en nie hier hoort nie. Daardie beeld kan weer verander word as Zuma sy doktrine uitleef dat die land nie sonder Afrikaners kan voortbestaan nie.

Verder het duisende Afrikaners reeds na ander Afrikalande geëmigreer en waar honderde klein maar georganiseerde gemeenskappe besig is om te ontstaan.

BvR: Dink u dat daar steeds ʼn latente steun vir territoriale selfbeskikking onder Afrikaners is, of is die idee heeltemal gediskrediteer in die moderne politieke klimaat?

JW: Benewens die drang na selfseggenskap oor eie sake was daar nooit werklik ʼn algemene latente steun vir territoriale selfbeskikking onder moderne Afrikaners nie.

Klein groepies entoesiaste sal daar altyd wees. Afrikaners verpes egter die gedagte dat hulle geen seggenskap het oor selfs hul eie dorpsake nie. Dit is ʼn sweer wat vroeër of later tot uitbarsting sal kom. Of dit as steun vir territoriale selfbeskikking vertolk kan word, is egter ʼn ander saak.

BvR: Baie dankie vir u bydraes tot die Praagwebwerf, ons waardeer dit.

пескоструй на керхерданильченко юрий брониславович прокурор

SA hou EU aan ‘n lyntjie

Suid-Afrika het gister bekend gemaak dat die land nie ’n nuwe handelsooreenkoms met die Europese Unie (EU) sal onderteken voor die Suid-Afrikaanse regering nie oortuig is dat so ’n nuwe verdrag geen “nadelige gevolge” vir Afrika sal hê nie. “Suid-Afrika is sterk gekant teen die insluiting van sekere klousules oor handel en die dienssektor soos deur die EU in die nuwe ooreenkoms bepaal,” het Gert Grobler gister gesê. Grobler is ’n adjunk-direkteur binne die Departement van Buitelandse Sake. “Ons het daarteen beswaar aangeteken omdat ons gemeen het die impak op Afrika nadelig sou wees.”

Die Europese Kommissie sukkel tans om nuwe handelsooreenkomste te finaliseer met die 78 lande van die sogenaamde ACP-groep (lande van Afrika, die Karibbiese streek en die Stille Oseaan). Huidige handelsbepalings verstryk aan die einde van hierdie maand. Ingevolge die bepalings van die nuwe ooreenkomste sal ACP-lande hulle markte geleidelik moet oopstel vir Europese goedere in ruil vir vrye toegang tot Europese markte. Rys en suiker is egter uitgesluit van hierdie ooreenkomste. Die huidige verdrae gee voorkeur marktoegang aan die EU se voormalige kolonies. Dit moet egter aan die einde van 2007 verander word, aangesien die Wêreldhandelsorganisasie dit as ’n onwettige praktyk uitgewys het. “Die EU verwag te veel van Afrika-lande en ons voel dit gaan ’n vernietigende effek op Afrika hê,” meen Grobler. Hy verwag dat die kwessie by volgende naweek se EU-Afrikaberaad in Lissabon ter sprake gaan kom. “Die EU het met ’n aantal streeksorganisasies, soos die Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), onderhandel om ’n ooreenkoms te bereik,” het Grobler vervolg. ’n Tydelike ooreenkoms is laat in November deur slegs vier van die SAOG-lede onderteken, naamlik Botswana, Lesotho, Swaziland en Mosambiek.

“Suid-Afrika het nie geteken nie. Die onderhandelingsproses gaan voort. Oplossings sal gevind moet word oor hoe ons die proses kan laat vorder. Dit is ’n gekompliseerde en komplekse saak,” het Grobler gesê. Indien nuwe handelsooreenkomste nie teen Januarie aanstaande jaar in plek is nie, sal ryker Afrika-lande soos Kenia, Suid-Afrika en Nigerië outomaties onderwerp word aan ’n spesiale stel handelstariewe soos deur die Wêreldhandelsorganisasie bepaal.

кардиган для девочки 8 леталександр лобановский класс

Johan Botha, ‘n triomf in Wene

Image

Johan Botha

Die Weense Staatsopera het pas begin met ’n grootse poging om Richard Wagner se Der Ring des Nibelungen oor ’n periode van twee jaar op te voer. Die première van Die Walküre het die afgelope naweek plaasgevind.  Nog selde was daar soveel spanning en afwagting voor die première van ’n opera opvoering. Franz Welser-Möst was die dirigent en Sven-Eric Bechtolf verantwoordelik vir die regie. Johan Botha, wat die hoofrol van Siegfried gesing het, is Saterdagaand staande toegejuig.

Kanselier Gusenbauer en die Weense elite het almal Saterdag se opvoering bygewoon. Der Ring des Nibelungen is een van die grootste uitdagings wat ’n operahuis kan onderneem. Nina Stemme (Sieglinde), Eva Johansson (Brünnhilde) en Juha Uusitalo (Wotan) het saam met Botha gesing.

Saterdag se première het wonderlik begin. Johan Botha en Nina Stemme het hulleself in die eerste bedryf oortref en is albei tydens die eerste pouse minute lank staande toegejuig.

Daar was egter ook onverwagte drama toe Juha Uusitalo, wat die rol van Wotan gesing het, se stem in die tweede bedryf begin verdwyn het. Hy het al sagter gesing en die gehoor het hom begin uitjou. Voor die begin van die derde bedryf het Holender, direkteur van die Staatsoperahuis, en dirigent Welser-Möst op die verhoog verskyn en om verskoning gevra. Uusitalo se stemprobleme is aan ’n slegte verkoue toegeskryf. “Sangers, dokters – en ook operadirekteure – is maar net mense,” het Holender verskonend afgesluit.

Die opera het voortgegaan. Intussen is die Duitse sanger, Oskar Hillebrandt, wat besig was om ’n pizza elders in Wene te eet, inderhaas op sy selfoon gekontak en gevra om vir die stomme Uusitalo in te staan. Uusitalo was steeds op die toneel en het gemaak of hy sing, maar in die orkesruimte het Hillebrandt in sy aandpak die res van die aand al die sangwerk gedoen.

Volgens regisseur Bechtolff is die konflikte wat in Der Ring uitgebeeld word argetipiese menslike konflikte en dus nie ver verwyderd van ons kontemporêre wêreld nie. “Dit is die verhaal van die mensdom: wie is ons, hoe moet ons lewe en waarheen is ons op pad?”

Dit is die sesde keer dat die Weense Staatsoperahuis Wagner se hele Ring opvoer. Die Walküre is vir die eerste maal in 1877 daar opgevoer. In 1879 het hulle die siklus afgesluit met die Götterdämmerung.

Johan Botha, wat in 1965 in Rustenburg gebore is, het al op die ouderdom van 13 begin sing. Hy het in 1990 vir die eerste keer in die buiteland opgetree en het in Februarie 1996 sy debuut in die Weense Staatsoperahuis gemaak. In Junie 2003 het hy die jongste Kammersänger ooit geword. Hy tree oral in Europa en die VSA op. Hy beskik oor ’n geweldige repertoire en het al saam met die beroemdste dirigente in die wêreld opgetree.

смесиФильчаков прокуратура харьков

Sarkozy wens Poetin geluk

Image

Knapgedaan!

Nicolas Sarkozy het dit pas byna onmoontlik gemaak vir die oorblywende 27 lidlande van die EU om verder druk op Poetin te plaas om sogenaamde verkiesingsbedrog te ondersoek ná die Russiese president se wegholoorwinning. Duitsland en die VSA was besonder krities oor die wyse waarop die verkiesing gevoer is en volgens wat berig word was George Bush nie baie vriendelik met sy Russiese ampsgenoot toe hy hom telefonies gelukgewens het nie. Die Franse president het Poetin egter hartlik geprys vir die tweederdemeerderheid wat hy behaal het.

 
Sarkozy se vriendelike ondersteuning van Wladimir Poetin sal ‘n gemeenskaplike posisie deur die EU bemoeilik omdat dit in skrille kontras met die Duitse houding teenoor Poetin staan. Portugal, wat tans die roterende presidentskap van die EU hou, het in ‘n versigtig bewoorde verklaring gesê dat alles nie volgens internasionale norme feil was nie, maar Rusland het vrywillig erken dat daar enkele probleme kon gewees het.
Voorts het die Portugese verklaar dat die media, opposisiepartye en nie-regeringsorganisasies in sekere gevalle "ingebind" was voor die verkiesing. "Gemeet aan ons maatstawwe en standaarde was dit geen vrye, geen gelyke en geen demokratiese verkiesing gewees nie," het Thomas Steg, Duitse regeringswoordvoerder volgehou. Rusland is wat hom betref nie ‘n demokrasie nie. Dat talle Afrikalande soos die DRK en Namibië ook geen demokrasieë is nie, maar volle Duitse ondersteuning geniet, is nie oorweeg nie.
 
Bush het sy besorgdheid teenoor Poetin laat blyk tydens hul gesprek. Dit is ook bekend gemaak tydens die perskonferensie wat in Washington gehou is waarin die VSA besonder krities was oor die verloop van die Russiese stemming.

русские банилобановский александр харьков

Energiekrisis of slegs ‘n oliekrisis?


Imageʼn Onderhoud deur Buks van Rensburg met dr. Johann Wingard, skrywer van die blitsverkoper: Towards a Synfuels Economy

BvR: Dr. Wingard, baie dankie dat u ingestem het om ʼn onderhoud met my te voer. U is ʼn wêreldwyd erkende spesialis in die vervaardiging van sintetiese olie en brandstof, en die skrywer van Towards a Synfuels Economy, waarin u die moontlikheid en wenslikheid van ʼn ekonomie gebaseer op sintetiese brandstof ondersoek. Wat is u huidige posisie?

Image

Johann Wingard

JW: Dankie vir die mooi woorde. Ek sal myself nie ʼn spesialis noem nie, maar liewer ʼn tegnologieontleder. Gedurende die afgelope vier jaar werk ek onverpoosd aan ʼn nuwe kompakte gasturbine met ʼn buitengewoon hoë nuttigheidsgraad vir gedesentraliseerde kragopwekking. Saam met Amerikaanse vennote het ons ʼn maatskappy gestig om die toestel internasionaal te bou en te bemark, hoofsaaklik deur lisensies vir vervaardiging en verspreiding daarvan aan internasionale maatskappye te verkoop. Tans is ek vise-president, produkontwikkeling van die maatskappy. Ons hoop om in Mei aanstaande jaar die eerste eenhede bekend te stel – ook hier in Suid-Afrika.

BvR: Daar is toenemende onsekerhede in die oliemark in Westerse lande. In Energy    Bulletin van 29 November 2007, skryf John Michael Greer dat

"Debates about whether world petroleum production will peak before 2030 or not miss a point obvious to anybody who’s looked at the figures: world petroleum production peaked in November 2005 at some 86 million barrels of oil a day, and has been declining slowly ever since. So far the gap has been filled with tar sands, natural gas liquids, and other unconventional liquids, all of which cost more than ordinary petroleum in terms of money and energy input alike, and none of which can be produced at anything like the rate needed to supply the world’s rising energy demand. As depletion of existing oil fields accelerates, the struggle to prop up the current production plateau promises to become a losing battle against geological reality."

Dié siening word ook deur The Oil Drum en deur ander oliemarkontleders gedeel. ʼn Amerikaanse bankier, Matthew Simmons, het ʼn paar jaar gelede gewaarsku dat ʼn oliekrisis onvermydelik is, en dat dit Westerse ekonomieë erg gaan ontwrig.

Wat is u mening oor die voorsiening van ru-olie aan die Westerse wêreld? Is daar ʼn komende krisis, en hoe erg kan dit word?

JW: Daar bestaan min twyfel oor die realiteit van die komende oliekrisis. Of dit in ʼn energiekrisis gaan ontaard, is egter ʼn ander vraag. Ekonomiese kragte is altyd aan die werk om ontwrigtende situasies op makro-ekonomiese vlak te stabiliseer.

Toe ons byvoorbeeld die eerste gangbaarheidstudie vir die Mossgasprojek in 1985 gedoen het, het ons bevind dat die projek ʼn positiewe kontantvloei sou hê teen ʼn olieprys van $23 per vat. Destyds was die olieprys ongeveer $17. Teenstanders van die projek, soos SASOL se tegnokrate, het destyds voorspel dat ons eerder ʼn prys van $13 as $23 moes verwag. Binne twee jaar na sy inwerkingstelling was die projek reeds kontantvloeipositief. Oor die afgelope dekade het die projek ʼn opbrengs van miljarde rande aan sy aandeelhouers gelewer en vir die land miljarde dollars in valuta bespaar.

Sedertdien het SASOL die Mossgastegnologie opgegradeer vir die Katarse gasvelde met sy Oryxprojek. Verskeie dergelike internasionale projekte is nou in die pyplyn. Of dit uiteindelik al die wêreld se diesel sal kan vervang en vir hoe lank, is vrae wat vir eers onbeantwoord moet bly. Feit is dat dit aanvullende, tegnologiegedrewe sintetiese oliebronne is en bewyse van hoe die energiekomponent van die wêreldekonomie deur tegnologiese ontwikkeling bestuur word. Plotselinge grootskaalse sosio-ekonomiese ontwrigting word dus deur die toepassing van tegnologie verhoed.

Ek glo dus nie aan ʼn dreigende energiekrisis nie, maar ondersteun die begrip van kwynende olie en gasreserwes wat ʼn energieomwenteling oor ʼn tydperk van vyf tot agt dekades sal veroorsaak.

Weens omgewingsredes is daar ook ʼn dreigende elektrisiteitskrisis regdeur die wêreld wat inderwaarheid ʼn groter energievraagstuk gaan veroorsaak as die oliekrisis. Kragstasies en verspreidingsnetwerke nader die einde van hul ekonomiese leeftyd en moet vervang word. Waarmee? Weereens sal die tegnologie tot die redding van die mensdom moet kom met gedesentraliseerde kragopwekking wat velerlei tegnologieë sal inspan soos wind, son, brandstofselle, mikroturbines, ens.

BvR: Hoedanig is Suid Afrika geposisioneer ten opsigte van ru-olievoorsiening in ʼn wêreld waar die aanvraag na ru-olie waarskynlik sy produksie in die nabye toekoms ver gaan oortref?

JW: Vir sover dit die verskaffing van ru-olie aanbetref, is Suid Afrika steeds op ingevoerde ru-olie aangewese. Sedert die ontstaan van SASOL het die land stelselmatig sy ru-olie met sinteties vervaardigde koolwaterstowwe begin vervang. Indien die politieke magsoorgawe van 1994 vir tien jaar uitgestel sou gewees het, sou ons reeds die brandstof vanuit die Torbaniet- en die Weskemprojekte kon benut. Weskem sou die unieke vervloeiïngseienskappe van ecca 5 van die Grootegeluksteenkoolmyn by Ellisras aanwend om vloeibare brandstof asook BTX-produkte (bensien, toluïen en xylien), die boustene van die plastiekbedryf, te vervaardig. Onthou, die tekort aan olie bring ook ʼn tekort aan hierdie produkte mee, wat dalk ʼn veel groter ontwrigting as ʼn energiekrisis kon wees.

BvR: In u boek skryf u dat “A recent Worldwatch report, sponsored by the German Federal Ministry of Food, Agriculture and Consumer Protection (BMELV), estimates that it takes 100 times more man hours to produce one unit volume of biofuels than what it would take for the same quantity of fossil fuel.” As sintetiese brandstof uit biologiese voedingstowwe soveel duurder is as brandstof uit ru-olie, kan u kommentaar lewer oor die relatiewe prys van petrol en diesel uit die olie-uit-steenkoolproses by Sasol?  

JW: Ek sal nie ʼn antwoord waag oor SASOL se kostestruktuur nie. Wat ons wel weet, is dat dit lonend is om brandstof uit steenkool teen die huidige oliepryse te vervaardig. Volgens SASOL se finansiële resultate is die produksie van brandstof uit steenkool die gans wat vir sy aandeelhouers die goue eiers lê.

 

My eie navorsing toon aan dat die produksie van biobrandstowwe soos biodiesel en etanol in nuwe aanlegte en met die nuutste tegnologie goed vergelyk met brandstof uit steenkool, ook in nuwe aanlegte, afhangende van die produksiekoste en logistieke koste van die vesel of steenkoolrumateriaal. Teen die huidige olieprys is produksie van biobrandstof lonend sonder direkte subsidies, maar dit benodig ekonomiese aansporingsmaatreëls en wetgewing wat die afset daarvan sal waarborg. Dit hoef nie die land se ekonomie te verwring nie. Ek sal later graag weer na steenkool as voedingsbron vir energie wil verwys.

Die feit dat biobrandstowwe ʼn honderd maal meer man-ure gebruik as fossielbrandstof, beteken nie noodwendig dat dit duurder hoef te wees nie. In ontwikkelende wêrelddele wat die beste geleë is vir die produksie van biobrandstowwe, is plaaslike arbeid relatief goedkoop vergeleke met dollar-gedrewe fossielbrandstofbronne waarvan die insette hoofsaaklik geoutomatiseerd is. Ek glo dus dat daar wel ʼn ekonomiese nis vir biobrandstowwe bestaan en dat sekere lande hul ekonomieë wesenlik daarmee sou kon stimuleer, mits dit nie sou uitloop op mededinging tussen voedselproduksie en energieproduksie nie. Hierdie is ʼn hoogs verpolitiseerde kwessie.

In my nuwe boek gebruik ek Zambië as voorbeeld van hoe daar tydens die reënseisoen voedsel en tydens die droë seisoen sojabone vir dieselproduksie op dieselfde lande geproduseer kan word – in die droë seisoen onder besproeiïng, natuurlik. Die oorblywende misstowwe na sojaboonproduksie en natuurlik die stikstof wat deur die bone self geproduseer word, voed die grond vir die aanplanting van mielies en kasava tydens die nat seisoen. Voedsel en energieproduksie kan dan in ʼn natuurlike simbiotiese verhouding saambestaan en kan dieselfde insettoerusting en arbeid gebruik word. Dit gee aan arm lande ʼn natuurlike mededingende voordeel terwyl hul ekonomieë gestimuleer word.

BvR: Ten opsigte van biobrandstof: in Westerse state is daar baie politieke ondersteuning vir die vervaardiging van etanol uit landbougewasse om by petrol gevoeg te word. Dit is ook bekend dat Brasilië reeds jare lank gebruik maak van etanol as ʼn brandstof in die vervoerwese. In Noord-Amerika bestaan tot soveel as 15% van petrol uit etanol wat uit landbougewasse vervaardig is. Wat is u siening oor etanol as ʼn brandstof?

JW: Eerstens moet ons verstaan waarom daar soveel politieke ondersteuning vir biobrandstofproduksie in Westerse lande bestaan. Daardie is die lande wat deur verskeie protokols hulself verbind het tot die uitfasering van fossielbrandstof en vermindering van koolstofbesoedeling. Die hoë oliepryse, asook ʼn baie aktiewe landboulobby het die wetgewing van die hernubare brandstofstandaard (RFS-2005) tot gevolg gehad. Die RFS bepaal dat ten minste 28,4 miljard liter biobrandstof teen 2012 vir vervoerbrandstof in die VSA gebruik moet word!! Die prys van mielies het egter die hoogte ingeskiet en ons kan ernstige politieke probleme daarmee verwag. Vroeër is daardie mielies teen gesubsidieerde pryse aan armer lande verskaf, en nou is daardie bron van voedsel op meer winsgewende etanolproduksie gerig.

Ek kan die produksie van etanol uit mielies nie goedpraat nie. Teen ʼn mielieprys van R2000 per ton is dit in elk geval kwalik ekonomies lewensvatbaar. Daar is egter ʼn nuwegeslagtegnologie op die horison wat etanol vervaardig uit die ‘moeilike’ suiker wat teenwoordig is in in die sellulose en hemi-sellulose van vesel. Die stysel kan dus vir voedselproduksie behoue bly.

Brandstofetanol kan ook via die sintetiesegas- oftewel singasroete vervaardig word. Enige brandbare biomassa kan tot singas omgeskakel word wat ryk is aan koolstofmonoksied en waterstof. In die regte verhouding kan dit deur fermentasie indirek tot etanol verwerk word. Die vergassingstegnologieë daarvoor maak reeds hul verskyning op die wêreldmarkte. Vanweë die feit dat bykans enige biomassa vergas kan word, is hierdie benadering deur kenners as die aangewese roete vir brandstofetanol beskou.

Aanvanklik sal die mark vir etanol waarskynlik deur wetgewing gewaarborg word, maar ek voorsien dat etanol uit hernubare nie-voedselbronne mettertyd ʼn wesenlike deel van die brandstofmandjie sal uitmaak. Sellulose oeste soos snel groeiende plantasies gebruik relatief min kunsmis en gebruik minder energie om te oes as wat die geval met jaargewasse is. Lignien is ʼn belangrike neweproduk van hierdie roete en word tans vir brandstof gebruik. Maar dit is ʼn kommoditeit met ʼn potensiële hoë prys as chemiese grondstof. Die feit dat etanol slegs twee derdes van petrol se kalorifiese waarde (energieinhoud) het, beteken net dat mens meer dikwels sal moet volmaak. Produksie van brandstofetanol uit vesel gaan dus ʼn goudmyn word teen die agtergrond van steeds stygende oliepryse.

BvR: Is dit sodanig moontlik dat sintetiese brandstof (uit steenkool en ander bronne) in die hoeveelhede en teen ʼn gepaste tempo vervaardig kan word om ru-olie in Suid Afrika heeltemal te vervang as ʼn bron van brandstof? Kan dit wêreldwyd gedoen word?

JW: Teoreties is enigiets moontlik. Of dit egter wenslik is of ekonomies regverdigbaar is, is ʼn ander saak.

In my nuwe boek bespreek ek een van die mees opwindende ontluikende tegnologieë wat in Engels as UCG bekendstaan. Ondergrondse steenkoolvergassing is die tegniek om diepliggende en swakkwaliteitsteenkool in situ ondergronds te vergas en slegs die gas na die oppervlak te bring waar dit gesuiwer en tot vloeibare brandstowwe of vir kragopwekking in gasturbines aangewend word.

Die oortollige CO2 aan die einde van die proses word in ondergrondse water opgelos. Die as bly ondergronds waar dit oor miljoene jaar ontstaan het en al die besoedelingsprobleme en logistieke kostes verbonde aan steenkoolmyne word uitgeskakel.

Die meeste lande het reusesteenkoolafsette wat onekonomies is om te myn, of waar die gehalte van die steenkool te laag is om produksie te regverdig. Daar is ook reusehoeveelhede steenkool onder die seebodem wat sonder enige vorm van besoedeling ondergronds vergas kan word om die wêreld se energiehonger oor die volgende vyfhonderd jaar te bevredig.

Hoewel koolstof gebaseerd, besit hierdie tegnologie die potensiaal om laekoste-energie in die vorm van waterstof te lewer met min negatiewe uitwerking op die omgewing. Dit is ʼn goeie voorbeeld van hoe die tegnologie ʼn energiekrisis kan afweer. Die koolstof kan deur beproefde metodes na waterstof oorgeskakel word vir die utopiese waterstofekonomie waarna die puriste so smag.

BvR: Die markprys van hoëgraadse ru-olie is deesdae oor die $90 VS per vat, en dit begin lyk asof die era van goedkoop hoëgraadse ru-olie permanent iets van die verlede is. Wat is die gevolge van die feit vir lande in die Derde Wêreld, en spesifiek in Afrika? Is die Suid Afrikaanse ekonomie kwesbaar vir onvoorsiene verhogings in die ru-olieprys oor die volgende vyf jaar?

JW: Afrikalande wat nie olie of gas het nie, is ekonomies en polities kwesbaar, maar hul vermoëns om biobrandstowwe te vervaardig bied aan hulle ʼn politieke en ekonomiese uitkoms. Hiervoor sal Suid-Afrikaanse kommersiële landboukundigheid egter ingespan moet word en ons kan by ʼn ander geleentheid daaroor praat. Sasol beplan reeds verskeie sintetiese brandstofaanlegte om die komende tekorte die hoof te bied.

Die hoë olieprys sal ook navorsing stimuleer. Ek verwag wesenlike deurbrake in die nabye toekoms – nie soseer met die sogenaamde hernubare bronne soos wind, son en seebranderenergie nie, maar met verdieping van koolstof gebaseerde energie waar die CO2 nie in die atmosfeer losgelaat word nie en permanent ondergronds opgelos sal word.

BvR: Dankie vir hierdie onderhoud. U was voorheen ook Voorsitter van die Volkstaatsraad. Kan ons miskien op ʼn ander tydstip ʼn dergelike onderhoud voer oor daardie proses en waarom dit skeefgeloop het?

JW: Natuurlik, maar dit mag dalk vir sommige van u lesers ʼn pynlike proses wees.

.

free money for slotsлобановский александр дети

Rekenmeesters aanvaar rassekwotas

Terwyl Australiese ouditeursfirmas besig is om die room van Suid-Afrikaanse rekenmeesters af te skep, het die rekenmeestersprofessie nou ʼn sogenaamde “SEB-handves” aanvaar. Hierdeur gaan rekenmeestersfirmas gedwing word om swart eienaarskap te aanvaar en ook om swart rekenmeesters op te lei, al stel weinig swartes belang in ʼn beroep wat hoë eise stel en dikwels nie aardig besoldig is nie.

Sedert 1976 het slegs 912 swartes as geoktrooieerde rekenmeesters gekwalifiseer – uit ʼn totaal van 26803. Net meer as 2000 swart matriekleerlinge kom jaarliks hoërgraadwiskunde deur,dieselfde poel waaruit die land se swart dokters, ingenieurs en rekenmeesters opgelei moet word.

Implisiet in die aanvaarding van die “bemagtigingshandves” vir rekenmeesters is ʼn verlaging van standaarde. Daar heers reeds groot druk op die professie om toelatingsvereistes tot die beroep te verslap sover dit swartes betref. Een dosent in rekeningkunde wat sedertdien na Australië uitgewyk het, is deur haar voormalige departementshoof aan die Johannesburgse Universiteit aangesê om vraestelle met swart name opwaarts aan te pas. Toe sy weier, het die departementshoof dit self gedoen.

Agter die skerms is daar dus ʼn hele strategie aan die gang om meer swart rekenmeesters uit die skamele groepie wat jaarliks wiskunde deurkom, te fabriseer en dit gaan interessant wees hoe die Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters sy toelatingseksamen aanpas of manipuleer om meer swartes te laat slaag.

Volgens Trevor Brown, ʼn uitvoerende bestuurder van Deloitte en ʼn lid van die handvesforum, “word vooruitgang gemaak, maar is daar steeds probleme met lekkasies”. Hoewel swart studente daarin slaag om ʼn B.Com-graad te verwerf, beteken dit nie dat hulle noodwendig as geoktrooieerde rekenmeesters gaan kwalifiseer nie. “Baie gaan nie voort om te kwalifiseer nie weens finansiële druk van hul gesinne om uit te gaan en te gaan werk,” meen hy.

Die voorsitter van Grant Thornton, mnr. Leonard Brehm sê dat “een struikelblok die opvoedingstelsel is – daar is steeds nie genoeg matrikulante met hoërgraadwiskunde nie”.

Vanjaar is daar 10 621 B.Com-studente aan die universiteite met toepaslike vakke om as geoktrooieerde rekenmeesters te kwalifiseer. Van daardie getal is 39% swart en net 31% blankes, iets wat Philip Hourquebie van die Instituut oortuig dat “die koers van voornemende swart geoktrooieerde rekenmeesters besig is om sterk te styg”.

Terwyl Suid-Afrika net bereid is om rekenmeesters te aanvaar as hulle swart is, is veral Australië besig om plaaslike blanke rekenmeesters op ʼn groot skaal af te rokkel. KPMG in Australië het blykbaar met een besoek aan Johannesburg 75 rekenmeesters oortuig om te emigreer. In Australië geld geen rassekwotas as dit by rekeningkunde kom nie.

free bet sites no depositФильчаков Александр Васильевич

Sarkozy se eierdans

Image

‘n Delikate verhouding

Die Franse president is tans op ’n amptelike besoek in Algerië. Hy het gister in ’n toespraak voor Franse en Algerynse sakelui die koloniale stelsel van die verlede as “uiters onregverdig” bestempel. Hy het kolonialisme verder beskryf as ’n sisteem wat “in stryd staan” met die Franse beginsels van vryheid, gelykheid en broederskap.

 
Hy het egter beklemtoon dat daar binne hierdie stelsel vele Franse burgers was wat baie geheg was aan Algerië voor hulle die land moes verlaat. Die Algerynse onafhanklikheidsoorlog het “ontelbare slagoffers” aan beide kante meegebring. “En vandag wil ek, wat in 1962 sewe jaar oud was, al hierdie slagoffers gedenk,” het die president gesê.

 
Sarkozy het verder bevestig dat Frankryk vandag kontrakte ter waarde van meer as vyf biljoen Euro met Algerië sal onderteken. Sowat 100 Franse sakemanne vergesel die Franse president tydens hierdie staatsbesoek. Die kontrakte handel hoofsaaklik oor die oprigting van moderne infrastruktuur soos die bou van tremstelsels, werk aan die moltreinstelsel van Algiers, die bou van paaie en spoorweë, asook fabrieke, damme en kragsentrales. Daar sal verder ’n ooreenkoms geteken word ten opsigte van samewerking oor kernkrag.

Die Franse president het Algerië se stryd teen “barbaarse terrorisme” die afgelope paar jaar in hulle eie land geloof en gesê dat “elke vorm van rassisme, Islamhaat en anti-Semitisme" beveg moet word. Vir hom is Islamhaters en anti-Semiete ewe dom en haatdraend. “Die Algerynse regering se oorwinning oor terrorisme is ’n groot sukses vir ons almal, want ’n Taliban-regering in Algiers sou nie net ’n tragedie vir Algerië gewees het nie, maar ook ’n katastrofe vir al die lande rondom die Middellandse see,” het die Franse president vervolg.

Hierdie is Sarkozy se sewende besoek aan Algerië en reeds die tweede amptelike besoek sedert hy vroeër vanjaar president van Frankryk geword het. Verhoudinge tussen die twee lande was nog altyd delikaat, veral sedert onafhanklikheid in 1962. Kort voor Sarkozy se aankoms hierdie week het die Algerynse minister verantwoordelik vir die welsyn van oud-soldate, Mohammed Chérif Abbas, vir verleentheid gesorg toe hy na Sarkozy se Joodse herkoms verwys het.

Volgens hom was dit “die Joodse lobby” aan wie Sarkozy sy verkiesing as president te danke had. Hierdie uitspraak van die Algerynse minister het hewige reaksie in Frankryk uitgelok en organisasies soos die Bond van Menseregte het ’n beroep op Sarkozy gedoen om sy besoek aan Algerië af te stel. President Bouteflika het sy minister egter tereggewys en Sarkozy telefonies verseker dat Abbas se uitspraak “glad nie” die Algerynse standpunt verteenwoordig nie. Die Franse president het gevolglik besluit om met sy besoek voort te gaan.

Sedert oud-president Jacques Chirac in 2005 wetgewing ingevoer het wat “die positiewe rol van kolonialisme” sou uitlig (dit is sedertdien gekanselleer) het ’n groepie Algerynse politici aangehou om “verskonings” van Frankryk te eis.

Sarkozy sal later vandag Algerynse studente toespreek. Hy sal ook die Romeinse ruïnes  van Tipaza besoek, sowat 70 km wes van Algiers. Die Franse skrywer Albert Camus was baie lief vir hierdie dorpie. Daarna sal hy ’n gedenksteen vir Algeryne, wat tydens die onafhanklikheidsoorlog van die vyftigerjare die lewe gelaat het, besoek. Sarkozy keer môre na Frankryk terug.



jackpot 6000Фільчаков прокурор