Israel wil Christene, Arabiere van hul regte stroop

Die Israelse regering het ‘n uiters omstrede voorstel goedgekeur om Christene en Arabiere van hul regte te stroop.

Dié groepe, wat 20% van die bevolking uitmaak, sal dalk binnekort met ‘n mindere status tevrede moet wees.

Dié besluit beteken dat Israel se status as ‘n nasionale tuisland vir die Joodse volk in wetgewing vervat mag word.

Die wetsontwerp, wat die Knesset se goedkeuring vereis, kom te midde van spanning tussen die Israeli’s en Palestyne wat skerp toegeneem het.

Kritici waarsku dat dié besluit veral diskriminasie teen die 1,7 miljoen Arabiese burgers sal wettig, wat spanning verder sal verhoog.

Teenstanders, insluitend ‘n paar ministers, het gesê die nuwe wetgewing definieer “nasionale regte” vir die Jode en nie vir sy minderhede nie.

Hulle het dit veroordeel as rassisties.

Die premier, Benjamin Netanyahu het ook ‘n afsonderlike inisiatief aangekondig om Arabiese inwoners van hul verblyf- en welsynsregte te stroop indien hulle aan betogings deelneem.

Die kabinet het ná ‘n moeilike vergadering die voorstel met 14 stemme teenoor 6 aanvaar.

Onder diegene wat hul teenkanting uitgespreek het, was die minister van finansies, Yair Lapid, wat gesê het hy dink aan die familie van ‘n Christen-polisieman wat verlede week vermoor is in dodelike aanval op ‘n Jerusalem-sinagoge.

“Wat sal ons sy familie vertel? Dat hy ‘n tweede-klas burger in die staat van Israel is?”

Netanyahu het aangevoer dat die wet nodig is, want die gedagte van Israel as ‘n Joodse tuisland word tans uitgedaag.

“Ek verstaan ook nie diegene wat ‘n beroep doen vir twee state nie. Hulle is bly om ‘n Palestynse nasionale staat te erken, maar sterk gekant teen ‘n Joodse nasionale staat,” het hy gesê.

Volgens berigte in die Hebreeuse media, het die Prokureur-generaal, Yehuda Weinstein, ook sy kommer uitgespreek, gedeel deur sommige godsdiensleiers, dat die nuwe wet effektief groter klem op Israel se Joodse karakter plaas ten koste van sy demokratiese aard.

Die nuwe wet sal die Joodse karakter van die staat verskans.

SABC se tegniese hoof waai oor kritiese verslag

Berigte dat Sipho Masinga, die openbare uitsaaier se groepshoof van tegnologie, geskors is, is glo waar. Die SABC wou egter nie uitbrei oor die redes vir sy skorsing nie.

“Die media gaan nie gebruik word as ‘n manier om ‘n dissiplinêre proses te hanteer nie,” het Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SABC, aan Sapa gesê. Volgens Kganyago is Masinga meer as ‘n maand gelede al die deur gewys.

City Press het Sondag berig dat Masinga geskors is omdat hy onderbrekings in die diens op verouderde en gebrekkige infrastruktuur blameer het in ‘n verslag.

Radiostasies en TV-kanale was verlede maand glo weens tegniese probleme van die lug af. Kganyago het gesê die verslag is ‘n “interne dokument” wat nie in die openbaar bespreek behoort te word nie.

Volgens die City Press se berig het Masinga in sy verslag gesê dat talle van die probleme met die infrastruktuur “erger gemaak word deur die aanstelling van onbevoegde mense wat moratoriums plaas op instandhouding en belegging in nuwe tegnologie.”

Poskantoor dreig om stakers af te dank na ooreenkoms

Die Poskantoor het gedreig om werkers af te dank as hulle nie Maandag vir werk opdaag nie.

‘n Span is deur die minister van Pos- en Telekommunikasie, Siyabonga Cwele en die minister van Finansies, Nhlanhla Nene aangestel om die Poskantoorstaking by te lê.

Die hoof van die ingrypingspan, Simo Lushaba is deur die twee ministers aangewys om stakende werkers te oorreed om terug te keer werk toe.

Lushaba het die naweek gesê dat die diens reeds van sy werksaamhede hervat het.

Die Poskantoor het Vrydag ‘n salarisooreenkoms met twee vakbonde bereik nadat hulle tot ‘n verhoging van 6,5 persent ingestem het.

Die vakbond, CWU, wat 39 persent van die posdiens se werkers verteenwoordig, het die aanbod egter verwerp.

CWU eis ‘n verhoging van 7,5 persent.

Geen geregtigheid vir slagoffer sê Burry Stander se ma

Die saak oor die dood van die Olimpiese fietsryer Burry Stander is in die Port Shepstone landdroshof tot Maandag verdaag.

Die aangeklaagde het uitstel gevra sodat hy befondsing vir sy regsverteenwoordiger kan bekom, het RSG berig.

Die taxibestuurder Njabulo Nyawose se prokureur het versoek dat die verhoor vir twee maande uitgestel word sodat Nyawose finansiering kan bekom.

Stander se ma, Mandy het in trane uitgebars toe sy hoor die verdediging wil uitstel hê.

Sy sê dit voel asof die familie, as slagoffers, geen regte het nie.

Plaasmoordenaar kry 30 jaar

‘n Swart plaasmoordenaar is Donderdag in die rondgaande hof in Nelspruit, Mpumalanga tot 30 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy ʼn bejaarde boer met ʼn hamer doodgeslaan het.

Welcome Zenzele Bulunga het skuldig gepleit op aanklag van moord, roof en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Hy is skuldig bevind aan die moord op Gerhardus Petrus de Beer (82) en die aanranding van sy blinde vrou, Nicolina Albertina Jacoba de Beer (81), op hul plaas Spioenkop naby Witrivier op 10 Oktober 2013.

Die hof het gehoor dat Bulunga die egpaar van ondermeer selfone en vuurwapens beroof het. Volgens Bulunga se pleitverklaring, wat deur sy regsverteenwoordiger Percy Tshabalala aan die hof voorgelees is, het hy die dag van moord na weiding gesoek vir vee.

“Ek het verby ‘n plaashuis geloop en ‘n grassnyer op die grasperk gesien. Ek het oor die heining gespring en terwyl ek die grassnyer na die heining gestoot het, het ek gesien een van die geboue se vensters is gebreek. Ek het by die venster ingeloer en gesien dit is ‘n werkswinkel vol gereedskap. Ek het ‘n bejaarde man sien nader kom en ‘n hamer uit die werkswinkel gegryp, oor twee heinings gespring en hom aangerand,” het Bulunga gesê.

Volgens Bulunga het hy hierna die plaashuis se deur oopgestoot en ʼn bejaarde vrou in ʼn stoel sien sit. Hy het haar met die hamer aangerand en op kontant aangedring. Bulunga het die twee vuurwapens en ander items gevat. “Terwyl ek uit die huis gestap het, het ek die bejaarde man sien nader kom. Ek het die televisie neergesit en hom weer met die hamer aangerand.”

Bulunga het die twee selfone die volgende dag aan Siphiwe Nkosi en Nonhlanhla Mashaba vir onderskeidelik R100 en R70 verkoop. Hy het die vuurwapens na sy suster se huis gevat en in ʼn ou Isuzu-bakkie weggesteek. “Ek gee hierdie verklaring met opregte berou en vra om vergifnis van die De Beer-familie,” het Bulunga gesê.

Regter Peter Mabuse het tydens vonnisoplegging gesê: “Jy het ʼn weerlose egpaar met geen krag om hulself te beskerm in die veiligheid van hul eie huis aangeval.”

Mabuse het daarop gewys dat Bulunga nooit die motief vir die aanval aangedui het nie.

Plaasaanvallers op ‘wenk’ van Valke vasgetrek

Agt swart mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op Willie Janse van Rensburg (72) van Odendaalsrus in die Vrystaat.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, het gesê vier verdagtes is Dinsdag in hegtenis geneem en die ander vier is Woensdag vasgetrek.

Die arrestasies volg glo nadat die Valke ‘n “wenk” ontvang het. Die verdagtes, tussen 21 en 35 jaar oud, sal Vrydag in die Odendaalsrus-landdroshof verskyn.

Janse van Rensburg, sy skoondogter, vyf kleinkinders, en ‘n huurder is op 30 Oktober deur swart plaasaanvallers op sy plaas Nuwejaarsbosch oorval.

Alhoewel hy gewapen was, het die swart aanvallers daarin geslaag om sy vuurwapen by hom af te neem en hy is drie keer geskiet. Hy is by sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Janse van Rensburg se skoondogter en een van die kleinkinders is ook ernstig aangerand.

Die plaasaanvallers het selfone, vuurwapens en kontant gebuit en toe met Janse van Rensburg se bakkie van die toneel gevlug. Die bakkie is later verlate opgespoor.

 

Twee joernaliste by gevangenis gevang

Twee Indiër-joernaliste is oor die naweek by die Westville-gevangenis in Durban in hegtenis geneem nadat hulle hulself glo voorgedoen het as familielede.

Taschica Ramlackan en Suthentira Kaissri wou onder dié voorwendsel met een van die gevangenes ‘n onderhoud voer.

“Die joernaliste se name en publikasie vir wie hulle werk gaan nie in die stadium bekend gemaak word nie,” het die departement van korrektiewe dienste Donderdag in ʼn verklaring gesê. “Die twee het hulself as familielede van die gevangene voorgedoen en is betrap toe hulle besig was om ʼn onderhoud met die oortreder te voer.”

Hulle het na bewering Afdeling 122 van die Wet op Korrektiewe Dienste 111 van 1998 oortree.

Die wet verbied ondermeer ongemagtigde publikasie, valse voorstellings asook winsbejag uit die publikasie van misdade waarvoor oortreders vonnisse uitdien.

Hulle is aan die polisie oorgegee en het Maandag in die Pinetownse landdroshof verskyn waar hulle op R500 borg elk vrygelaat is.

Skikking vir orde in parlement verder onderhandel

Die verslag van die Parlement se Komitee oor Bevoegdhede en Voorregte wat strafmaatreëls teen 20 Parlementslede van die EFF aanbeveel, is amptelik deur die Nasionale Vergadering opgeskort.

Dit volg na bykans sewe uur se onderhandelinge tussen die opposisiepartye en die ANC.

Die ANC het vroeër weer die kwessie op die ordelys geplaas.

Die ANC het dié stap geneem nadat adjunkpresident Cyril Ramaphosa Dinsdag se ooreenkoms met die opposisie ná ‘n DA-mosie teen die President gekanselleer het.

Ramaphosa het die opposisie dié week verkwalik dat hulle ‘n skikking tussen verskillende partye verbreek het.

 

Een van die kwessies waaroor ooreengekom is, was om die verslag van die komitee op te skort totdat verdere gesprekke daaroor plaasgevind het.

Die ANC se hoofsweep, Stone Sizani, het die raad na die hervatting van sy werksaamhede intussen ingelig dat die verslag opgeskort sal word en dat die ooreenkoms met Ramaphosa en die opposisiepartye aanstaande week voortgesit sal word.

Zimbabwiërs moet teen jaareinde nuwe permitte vir SA hê

Volgens die minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba is byna tweederdes van Zimbabwiërs se nuwe werkspermitte toegestaan.

Hy sê byna ‘n kwartmiljoen Zimbabwiërs moet teen die einde van die jaar aansoek doen vir dié permit.

Van die burgers van die buurland wat in Suid-Afrika werk en wat permitte as deel van ‘n vorige buitengewone bedeling toegestaan is, het reeds 64% aansoek gedoen om nuwe permitte.

Gigaba het ‘n sentrum in Kaapstad van sy departement besoek wat dié permitte uitreik.

Zimbabwiërs wat onwettig in die land woon het in 2009 die geleentheid gekry om wettig aan te bly deur deur die vorige permitaansoek.

Die nuwe permitte sal hulle toelaat om tot 2017 in die land te bly.

Die aansoeke word elektronies ingedien, en word by ‘n sentrum verwerk terwyl die aansoeker teenwoordig is. Net meer as 20 persent van aansoeke is tot dusver verwerk.

Gigaba sê hy is vol vertroue dat al die Zimbabwiërs hul aansoeke betyds sal indien.

Opod se administrasie knars tot stilstand onder McBride

Sedert Opod se uitvoerende direkteur, Robert McBride, se aanstelling, het die direktoraat se administrasie blykbaar tot stiltand gekom.

Die direktoraat ondersoek klagtes van wangedrag van die polisie en gee aanbevelings waaraan die SAPD moet voldoen binne 30 dae.

Wetgewing vereis dat die SAPD die minister die polisie in kennis moet stel en ‘n bewys moet indien dat die dissiplinêre kwessie afgehandel is.

Maar in minder as 5% van die gevalle waar aanbevelings verlede jaar gemaak is, is sulke bewyse ingedien. Dit beteken die indiening het met 10% vanaf 2012 verder afgeneem.

Die polisie se jaarverslag meld dat hulle 764 dissiplinêre aanbevelings van die direktoraat ontvang het , waarvan 645 binne 30 dae in werking gestel is. Volgens Opod het hulle 884 aanbevelings gedoen.

Maar die direktoraat se waarnemende hoofdirekteur vir ondersoeke, Matthews Sesoko, het gesê dokumentêre bewys van aanbevelings wat geïmplementeer is, bestaan feitlik nie. Hy het gesê Opod het slegs 38 volledige verslae van die polisie vir sy 2013/14 aanbevelings ontvang.

Die Adjunk-nasionale kommissaris vir Korporatiewe Dienste by die SAPD, luitenant-generaal Nobubele Mbekela, het gesê “dokumentêre bewyse was nog nooit ‘n vereiste nie”.

McBride se afwesigheid, blykbaar om ‘n strategiese beplanningsessie by te woon, het sy “minagting vir die proses” uitgelig, het opposisielede gesê.

Die aanstelling van McBride as hoof van die Onafhanklike Polisie-ondersoek Direktoraat (Opod), is voorheen met onthutsing begroet.

Opposisiepartye het gesê McBride is nie geskik vir die pos nie as gevolg van sy persoonlike regsprobleme in die verlede.

Maar, die minister van polisie, Nathi Mthethwa het lede vermaan en gesê dat McBride vrygespreek is van dronkbestuur aanklagte tydens sy termyn as Ekurhuleni Metro-polisiehoof.