SABC trap gedrukte media se tjank af

Die SABC het ‘n verbod geplaas op die lees van koerantopskrifte asook die bespreking van koerantvoorblaaie op die lug.

In ‘n duidelike gebaar van wantroue teenoor die dooieboommedia se agenda, het die Suid-Afrikaanse openbare uitsaaier die besluit geregverdig en gesê hulle staak alle gratis publisiteit aan gedrukte nuus.

Die SAUK sê daar is “niks sinisters” in die besluit nie. Die SABC sal voortgaan om in te teken en koerante te koop, maar sal net nie nuus en stories van enige gedrukte media oor die lug bespreek nie.

Die stap kom na die hoogs omstrede besluit van die SABC om ‘n onmiddellike sensuurkombers oor beeldmateriaal van openbare protes te trek.

Die redakteursprogram op SAfm die afgelope Sondag is ná twee dekades sonder enige vooraf kennisgewing ook gestaak.

Die program het koerantredakteurs weekliks genooi om oor koerantstories te gesels en politieke gebeure krities te ontleed.

Verlede maand het die SABC aangekondig dat hulle onmiddellik werksgeleenthede en tenders sal ophou adverteer in dioe gedrukte media.

Sulke advertensies sal deur SABC-kanale alleen versprei word en volgems die uitsaaier sien hulle “nie meer ‘n behoefte om die gedrukte media te gebruik nie”.

Die SABC-woordvoerder, Kaizer Kganyago het aan News24 gesê hulle beskou dit as onredelik om gratis “bemarking” vir koerante te doen.

SABC se tegniese hoof waai oor kritiese verslag

Berigte dat Sipho Masinga, die openbare uitsaaier se groepshoof van tegnologie, geskors is, is glo waar. Die SABC wou egter nie uitbrei oor die redes vir sy skorsing nie.

“Die media gaan nie gebruik word as ‘n manier om ‘n dissiplinêre proses te hanteer nie,” het Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SABC, aan Sapa gesê. Volgens Kganyago is Masinga meer as ‘n maand gelede al die deur gewys.

City Press het Sondag berig dat Masinga geskors is omdat hy onderbrekings in die diens op verouderde en gebrekkige infrastruktuur blameer het in ‘n verslag.

Radiostasies en TV-kanale was verlede maand glo weens tegniese probleme van die lug af. Kganyago het gesê die verslag is ‘n “interne dokument” wat nie in die openbaar bespreek behoort te word nie.

Volgens die City Press se berig het Masinga in sy verslag gesê dat talle van die probleme met die infrastruktuur “erger gemaak word deur die aanstelling van onbevoegde mense wat moratoriums plaas op instandhouding en belegging in nuwe tegnologie.”