Na ‘n eeu – waar is die volksdigters?

‘n Eeu gelede het ‘n belangrike wet op die wetboek beland wat die status van Afrikaans sou verskans. Artikel 137 van die Zuid-Afrikawet het vir gelyke beregtiging van Engels en Nederlands voorsiening maak.

Hoewel Afrikaans eers, wat die wetboek betref, moes trustaan, was daar reeds in die aanloop van die Uniewording verskeie belangrike gebeure om Afrikaans momentum te gee.

‘n Groot deel hiervan was die rol van ‘n nuwe generasie digters. Jan. F.E. Cilliers, Totius en C. Louis Leipold was van die vernaamste figure wat die Afrikaner se bitter oorlogs- en na-oorlogslyding verwoord het. Hul gedigte was van ‘n veel hoër gehalte as die meestal rympies wat uit die eerste taalbeweging voortgespruit het.

Die nuwe generasie digwerk het egter nie net om die taal as taal gehandel nie, maar dit sterk laat hande vat met die Afrikaner se vryheidsideaal.

In sy werk, By die monument (1908), toon Totius ‘n profetiese geloof in die volk, wat net soos die taai besembos nie sal uitsterf nie: “Ek leef en sal lewe. My doodkry is min!” skryf hy.

In sy volgende bundel, Verse van Potgieters Trek, (1909), is die grondtoon een van ‘n volk met ‘n sterk vryheidsdrang. Hy gebruik die Groot Trek as model. In dieselfde jaar is die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst in die lewe geroep. Afrikaans is ingesluit in die term “Nederlands” waarvoor die lede hulle beywer het.

Het dit ‘n raakvlak met vandag, ‘n eeu later?

In Desember 1938 publiseer Die Huisgenoot ‘n Afrikaanse weergawe van Piet Retief se manifes wat op 2 Februarie 1737 in die Graham’s Town Journal verskyn het.

Lees ‘n mens dit, dan is dit ongelooflik hoe die toestande waarin die grensboere hulle destyds bevind het, met die huidige toestande van die Afrikaner ooreengestem het. (Hieronder weergegee).

Hierdie beginsels het soos ‘n goue draad deur die Voortrekkers, en later Boere se geskiedenis geloop – deur die verkiesingsproses van Retief as Trekkerleier, die inhoud van die Gelofte, die latere aanvaarding van republikeinse grondwette soos dié van die Republiek van die Oranje-Vrystaat wat op die Amerikaanse geskoei was.

Noudat omstandighede heers baie soortgelyk as dit wat Retief in sy manifes beskryf, waar plaasmoorde die omvang aanneem dat dit as volksmoord kwalifiseer, sou ‘n mens verwag dat die volksdigters die hand aan die pen sal slaan, soos Cilliers, Totius, Leipold en ander.

Dink net aan die ruimte wat gebied word aan ‘n jong, opkomende Afrikaanse digter om sy noodsaaklikstes in sy ryding te laai en die land vol te reis en onderhoude te voer met die naasbestaandes van vermoorde slagoffers, of slagoffers wat self aan die dood ontkom is maar dalk erg gemartel is. Hy sal, as hy sy sout werd is, ‘n bundel soos min kan uitbring, mits hy natuurlik ‘n uitgewer sal vind wat bereid is om dit te publiseer.

Die Afrikaanse digter se veld hoef ook nie tot plaasmoorde beperk te wees nie. Hy kan letterlik kies en keur aan temas, soos die impak van regstellende aksie. Die ellende wat dit in huishoudings bring. Of, as hy dan nie swartgallig ingestel wil wees nie, die pen te doop in verhale waar mense die terugslae van regstellende aksie oorkom het en weer op die been gekom het. “Doodkry is min” om Totius se woorde te leen.

Hoekom kry die Afrikaanse digter skynbaar net erkenning as hy ‘n verloopte Afrikaner is?

Breyten Breytenbach het na die val van apartheid dikwels sy mond erg oor die nuwe bedeling uitgespoel. Kom dit by die digkuns, skryf hy egter eerder ‘n lang gedig om sy ashoopstatus (in plaas van erkenning) te bewoord, maar gryp op die oog af nie met soveel ywer na die huidige ongeregtighede nie.

Veral op die internet duik daar wel gedigte op. Die uwe is geen letterkundige om die kwaliteit te beoordeel nie, maar hier en daar is daar pogings wat moeilik is om ‘n ander rede te vermoed as dat uitgewers nie gereed is om die sprong te maak nie.

Hoekom is dit relevant?

Skrywers en digters het gereeld die vaandel van ‘n stryd help dra, en deur dit ook letterkundig te giet word ‘n tipe status, ‘n fatsoenlikheid, daaraan geheg. Dit word dan nie meer net die stryd van die willewragtigs en die kakie-eendsterte nie. Dit kom in aanmerking vir die Hertzogprys, wat juis sy ontstaan het in ‘n geldinsamelingspoging om genl JBM Hertzog in ‘n hofstryd by te staan om te keer dat Engels meer gelyk as Nederlands (Afrikaans) manifesteer.

Juis nou gebeur dieselfde met Afrikaans. In die grondwet het dit gelyke status, maar sodra praktiese en selfs wetlike meganismes ingespan word om dit te bestendig, hang die regering se onderrok erg uit oor hoe dit die toekoms van die taal beskou.

Digters word as die gewete van die volk beskou, met ‘n missie om die saak van die “underdog” te dryf. Indien hy homself hiervan stroop, is hy as digter met ‘n missie nie meer inhoudelik as die rympiesmakers van die eerste taalbeweging nie. Trouens, waarskynlik minder, want daardie “rympiesmakers” het hulle vir ‘n saak beywer. Hulle was die voorlopers van die volksdigters. 

1. PIET RETIEF SE MANIFES
(Die Huisgenoot, Desember 1838)

Grahamstad, 22 Januarie 1837.
AANGESIEN daar talryke rapporte deur die hele Kolonie versprei is, blykbaar met die doel om vooroordeel op te wek in die gedagtes van ons medeburgers teen diegene wat besluit het om vaarwel te sê aan die Kolonie waarin hulle soveel jare ‘n hele reeks ergerlike en ernstige verliese gely het; en aangesien dit ons begeerte is om hoog te bly staan in die agting van ons broeders en ons begerig is dat hulle en die wêreld ons nie in staat moet ag om die heilige band te verbreek wat die Christen aan sy geboorteland verbind sonder daartoe voldoende redes te hê nie, is ons verplig om die volgende kort uiteensetting te boekstaaf van die oorsake wat ons beweeg om so ‘n stap te doen, en van ons voornemens aangaande ons optrede ten aansien van die naturellestamme waarmee ons in aanraking mag kom anderkant die grens:-

1. Ons wanhoop daaraan om die Kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlikie gedrag van vaebonde, wat toegelaat word om die land in alle dele te verontrus; en ons sien geen vooruitsig op vrede en geluk vir ons kinders in ‘n land wat op dié manier gekwel word deur inwendige beroeringe nie.

2. Ons kla oor die ernstige verliese wat ons genoodsaak is om te ly deur die vryverklaring van ons slawe en die ergerlike wette wat daar gemaak is met betrekking tot hulle.

3. Ons kla oor die aanhoudende plundering wat ons hier moet verduur van Kaffers en ander kleurlinge, en veral deur die laaste inval in die Kolonie, wat die grensdistrikte verwoes en die meeste inwoners geruïneer het.

4. Ons kla oor die ongeregverdigde blaam wat daar op ons gelê is deur belanghebbende en oneerlike persone onder die dekmantel van godsdiens, persone wie se getuienis in Engeland geglo is tot uitsluiting van alle bewysmiddele in ons voordeel; en ons uoorsien as gevolg van hierdie vooroordeel niks anders nie as die totale ondergang van die land.

5. Ons is uasbeslote om, waar ons ookal mag gaan, die regverdige beginsels van vryheid hoog te hou; maar terwyl ons sal sorgdra dat niemand in ‘n toestand van slawerny gehou word nie, is ons ook vas beslote om sodanige wette daar te stel wat misdaad sal onderdruk en ‘n behoorlike verhouding tnssen heer en diensbode sal bewaar.

6. Ons verklaar plegtig dat ons hierdie Kolonie verlaat met die begeerte om ‘n rustiger lewe te lei as wat ons tot hiertoe gedoen het. Ons sal geen volk molesteer nie en aan niemand die geringste eiendom ontneem nie; maar as ons aangeval mord, sal ons ons ten uolle geregverdig beskou om ons persoon en eiendom tot die uiterste te verdedig teen enige vyand.

7. Ons maak bekend dat, wanneer ons vir ons toekomstige leiding behoorlike wette neergelê sal hê, afskrifte daarvan na die Kolonie gestuur sal word vir algemene informasie; maar ons neem hierdie geleentheid tewens te baat om te verklaar dat dit ons vaste besluit is om voorsiening te maak vir summiere bestraffing van alle verraaiers wat daar onder ons mag wees.

8. Ons stel ons voor om in die loop van ons trek, en wanneer ons aangekom het in die land waar ons gaan woon, ons bedoelings en ons begeerte bekend te maak aan die inboorlingstamme, asook ons begeerte om in vrede en vriendskap met hulle te leef.

9. Ons verlaat die Kolonie onder die uolledige versekering dat die Engelse Regering niks meer van ons te vorder het nie en ons sonder verdere bemoeiing sal toelaat om ons in die toekoms self te bestuur.

10. Ons vertrek nou uit ons vrugbare geboorteland, waar ons enorme skade gely het en voortdurend blootgestaan het aan ergernis, om ons te gaan vestig in ‘n woeste en gevaarlike gebied; maar ons gaan met ‘n vaste vertroue op ‘n alsiende, regverdige en genadige God, wat ons altoos sal vrees en in alle nederigheid sal probeer gehoorsaam.

P. RETIEF.

video casino slotstopcargo

Oorsake van die Groot Trek

Daar is drie keuses vir die grensboer: “Ons moet óf weghardloop, óf stilsit en ons kele laat afsny, óf ons moet verdedig wat ons het.” Dit was in 1825 die woorde van Andries Stockenstrom in die drosdy van Graaff-Reinet teenoor aan twee sendelinge van die Londense Sendinggenootskap (John Philip en William Wright) en ‘n liberale Britse setlaat Thomas Pringle).

Stockenstrom (1792-1864) was landdros en sou in 1828 in Grahamstad as kommissaris-generaal van die oostelike provinsie word. Hermann Giliomee beskou hom as die grootste Afrikaner van die negentiende eeu. Anders as die ander goed opgevoede amptenare het hy homself “Afrikaner” en “Boer” genoem. Hy was volgens Giliomee in Die Afrikaners ‘n eerlike man met ‘n vurige, onafhanklike gees en kon geen skynheiligheid verdra nie.

Vir hom was weghardloop onaanvaarbaar, en hy het tien jaar later die Groot Trek veroordeel. Hy het egter die opvatting verwerp dat die burgers nie die reg het om hulleself te verdedig nie. Vir hom was daar twee kernwaardes, naamlik waarheid en strenge en gelyke geregtigheid.

Sy gespreksgenote het Stockenstrom probeer stilmaak deir te sê dat die koloniste geen reg het om in die grensgebied te wees nie. Stockenstrom het geantwoord dat die Britte hierdie beginsel meer as elke ander nasie verontagsaam het.

Tog was die Groot Trek nie ‘n geval van weghardloop nie, sê Giliomee.Dit was ‘n goed beplande massa-opstand teen ‘n ondraaglike gebrek aan sekuriteit. Die trek het verskeie oorsake gehad, maar hulle kan opgesom word as ‘n gebrek aan grond, arbeid en veiligheid.

Die grensboere het al hoe minder geweet hoe om op te tree teen rondlopers en veediewe. Baie het swaar verliese weens veediefstal gely en het toenemend vir hul lewens gevrees. In sekere dele was daar feitlik geen regeringsgesag nie. Die sesde grensoorlog (1834-1835) was vir die burgers ‘n geweldige skok. Hulle kon nie glo dat ‘n Xhosa-inval op so ‘n groot skaal moontlik was nie. Die hele grensgebied was in ‘n toestand van onrus.

Die dryfveer vir die trek word opgesom in ‘n opskrif van A.J. Böeseken en D.W. Krüger in Drie eeue: “Daar was geen geloof in ‘n beter toekoms in die Kolonie nie.” Die skrywer F.A. Venter laat in sy roman Geknelde land (1960) sy hoofkarakter, Rudolf Dreyer wat eers kwaai teen die trek was, sê: “Hier sal ons altyd slawe bly. Hier sal ons altyd vir die swarte werk. Ons sal ons lewens hier nooit seker wees nie.” (Hy gebruik ‘n ander woord vir swarte.)

Grensboere het kommissies aangestel wat die moontlikhede vir ‘n rustiger lewe elders moes ondersoek. ‘n Verkenningstrek onder Hendrik Scholtz het die Soutpansbergstreek verken, ‘n tweede onder Jan Andries Pretorius het ongunstig gerapporteer oor Damaraland, en die derde onder Pieter Lafras Uys het einde 1834 teruggekom met ‘n besonder gunstige verslag uit Natal.

Binne twee jaar daarna het die uittog van die Voortrekkers begin. Destyds is hulle Emigrante-Boere genoem. Die naam Voortrekkers is van later en is in 1840 die eerste keer gebruik. Die naam Afrikaner was darem ingeburger; Louis Tregardt skryf in sy dagboek Africaander en Affrikaanders. Andries Pretorius noem ds. G.W.A. van der Lingen van die Paarl in 1838 in ‘n brief een waare Afrikaan, terwyl ‘n leidende Afrikaner, C.J. Brand, aan Pretorius skryf dat hy Afrikaander is.

недорогие люстры потолочныеДанильченео

Taaltoestand aan die Oosgrens voor die trek

Was die regering se taalmaatreëls ‘n oorweging vir die trek? Blykbaar nie. C.F.J.Muller beskryf in Die oorsprong van die Groot Trek die taaltoestand in die grensdistrikte en -dorpe vóór die trek. Op die platteland het al hoe meer Setlaars Afrikaans begin leer (behalwe in die Setlaarsdistrik Albanie) en is in die Afrikaanse gemeenskap opgeneem.

By gebrek aan ander kerkgeriewe het hulle noodgedwonge lid geword van die NG Kerk, waar die Skotse predikante hulle gou laat tuis voel het. In Port Elizabeth en Grahamstad is Afrikaners, soos in die Kaapse Skiereiland, in die Engelse gemeenskappe opgeneem. Kinders van Afrikaners is daar meer dikwels na Engelse skole gestuur, waar hulle vlotter en beter Engels leer praat het, en waardeur dit vir hulle makliker geword het om met Engelse te trou.

Op die grensdorpe het Afrikaners en Engelse mekaar ontmoet en beter leer ken. Hulle het mekaar se taal aangeleer en gemeenskaplike probleme bespreek. Afrikaans was die algemene omgangstaal en Nederlands die skryftaal, hoewel Engels in die staatskantore veld gewen het. Briewe van hoër beamptes van Grahamstad en Kaapstad was in Engels; amptelike kennisgewings was in Nederlands en Engels.

Die korrespondensie uit die platteland was in ‘n taalvorm tussen Afrikaans en Nederlands. Die briewe en rapporte kon moeilik vertaal word en het soms die amptenare grys hare gegee. Partykeer moes ‘n oorwerkte amptenaar uit sy karige salaris ‘n vertaler huur. Behalwe in Kaapstad, Grahamstad en Albanie was Hollands vóór die Trek toonaangewend ondanks Somerset se proklamasie. Sonder Hollands kon die owerheid nie die dorpe en distrikte administreer nie. Die veldkommandante en veldkornette se Hollandstaligheid moes noodgedwonge aanvaar word, skryf Muller, “want anders sou die ganse raamwerk van die plaaslike bestuur in duie stort”.

Selfs ou dorpsbewoners soos Piet Retief en Gerrit Maritz het Engels blykbaar nooit heeltemal bemeester nie. Engels kon hulle verstaan en lees, en waarskynlik kon hulle dit redelik skryf, maar om ‘n ietwat ingewikkelde betoog daarin af te steek sou nie maklik gaan nie.

Dieselfde geld vir Piet Uys, hoewel hy as renperdeienaar en burgeroffisier die vriend van baie Britse offisiere was. Op die meeste Oosgrensdorpe, selfs die kleinstes in die Karoo, het Engelstaliges gewoon. Baie beroepslui was Engels, maar kon Afrikaans met kliënte praat.

Die Anglisasiebeleid was nog geen grief nie, en Voortrekkers het dit byna nooit genoem nie. Hulle was ontevrede omdat skole net Engels was, maar die meeste het hul kinders nie lank laat skoolgaan nie, of private onderwysers gebruik. In die kerk het so min lidmate Engels geken dat die Skotse predikante nie gehoor gegee het aan regeringsinstruksies om hulle Engels te help leer nie.

Maar voor die Trek was daar tekens dat Engels begin veld wen het ten koste van Afrikaans en Nederlands, veral in die staatskantore, ekonomiese en beroepslewe. Nadat duisende Afrikaners na die noorde getrek het, het Engels in die Oos-Kaap gevorder. Afrikaanse bruin mense het hul taal behou; daar was min sosiale omgang met Engelse blankes.

online freeлобановский александр дочь

Afrikaanse oeps! van Die Burger

Die korrekte Afrikaans het hierdie onderskrifskrywer van Die Burger ontglip – Stadium in plaas van stadion, en Slovakië in plaas van Slowakye. “Tweede rondte wedstryd” behoort insgelyks een woord te wees.

Leuk:   Sokker-geesdriftiges in oranje uniforms wag vir die WB 2010 tweede rondte wedstryd tussen Nederland en Slovakië by Moses Mabhida stadium in Durban. REUTERS/Michael Kooren

 

сканер автоФильчаков Александр Васильевич

Die emansipasie van die bruin mense

Meesters en slaweJohn Philip, superintendent van die Londense Sendinggenootskap (LSG), het in 1819 aan die Kaap gekom. Die LSG het in 1818 ‘n doktorstitel vir hom van ‘n Amerikaanse universiteit gekoop; die gedagte was dat dié graad die Afrikaners sou imponeer. Hy is die skrywer van Researches in South Africa (1828), ‘n boek vol weersprekings, valse verklarings oor die Boere en aanhalings uit ander werke wat deur weglatings ‘n ander betekenis gekry het. Hy was ‘n yweraar vir die regte van bruin en swart mense.

In die emansipasieproses van dié mense was 17 Julie 1828 ‘n belangrike dag. Op dié dag is Ordonnansie 50 uitgevaardig. Dit het alle beperkings op die persoonlike vryheid van die Koikoi opgehef. Hulle kon ook vaste eiendom besit. Die wit en bruin mense is vir die eerste keer wetlik op gelyke voet geplaas.

Teen die maatreël as sodanig kan daar geen beswaar bestaan nie, maar dit het ‘n gevolg gehad wat die wit Afrikaans- en Engelssprekendes baie ontevrede gemaak het. Koikoi sonder vaste verblyfplek of werkkring het hulle oor die hele Kolonie as “rondlopers” las gegee.

Die posisie van bruin mense is veral verbeter deur die vrystelling van die slawe. Dit is heel gepas dat Engeland, die land wat soveel baat by slawerny gevind het, in die negentiende eeu aan die voorpunt was om slawerny af te skaf.

In die lig van die strewe na die vrystelling van die slawe is dit ironies dat daar tydens die eerste Britse besetting van die Kaap meer slawe in dié gebied ingevoer as in enige ander tydperk van dieselfde duur. In die Bataafse tyd het Janssens en De Mist gesorg dat daar so min slawe as moontlik kom. In 1821 was daar byna 20 000 slawe in Kaapstad en Stellenbosch, tussen 2000 en 3000 in Graaff-Reinet en Swellendam en 1135 in Uitenhage en Albanie.

Op 1 Desember 1834 is slawerny in alle Britse gebiede, dus ook die Kaap, afgeskaf. Oor die afskaffing as sodanig was daar geen ontevredenheid nie, en in byna alle kerke is die klokke gelui en dankdienste gehou.

Maar daar was ‘n ongelukkige nadraai. Die Britse regering het ‘n veel kleiner vergoeding betaal as wat aanvanklik verklaar is en die geld sou net in Londen betaal word in Britse staatspapiere.

Die historikus G.M. Theal skryf dat die konfiskering van vermoëns van £2 miljoen in ‘n arm en klein gemeenskap algemene ellende sou meebring. Baie eienaars het minder as ‘n vyfde van die waarde van hul slawe teruggekry. Vermoënde families is verarm en party het ‘n knak gekry wat hulle nie weer te bowe kon kom nie. Een boer het bereken dat hy vir ‘n slaaf wat £600 werd was, net £69 kon eis — ‘n bedrag wat, nadat die koste afgetrek was, tot £48 sou krimp. Wat miskien die meeste bitterheid verwek het, was die hovaardige, onsimpatieke toon van die filantrope.

Nie baie van die mense in die oosgrensgebied het slawe besit nie, en hulle is nie so swaar as die slawe-eienaars van die westelike deel van die Kolonie getref nie. Vir die grensboere was hul onveiligheid ‘n bron van ontevredenheid. Maar ook hulle het gevoel dat die regering hulle opnuut veronreg het. Dit het hulle laat hunker na ‘n eie land met ‘n eie regering. Die uittog uit die Kolonie, wat later as die Groot Trek bekend sou staan, het omstreeks dié tyd begin, en elke nuwe grief het mense aangespoor om bande met die ou land te verbreek.

насосное оборудование поставщикиОлександр Васильович Фільчаков

Politiek van die blikbord

Deur die half toegewasemde kombuisvenster sien ek hulle aankom. Netjies agtermekaar karring hul beentjies agter hul “rygoed” aan en trap slordige spore deur die dik, spierwit ryp.

Jonas, die voorste, se “ryding” bestaan uit ‘n bandlose fietswiel wat hy vernuftig met ‘n stok aanjaag. Salmon, die tweede, “ry” met ‘n draadkar wat mens sommer oor die verte kan sien, oor verbluffend baie detail beskik. Die kleinste, skaars twee bakstene hoog, Johannes, sleep sy “ryding” aan ‘n draad agter hom aan. Dit lyk na ‘n langwerpige visblik. Sy boot, het ek later verneem.

Hulle trek langs mekaar voor die agterdeur in.

Oupa Anneries roep huis in na die bulletjies: “Jonas-hulle is hier!”

Die bulletjies was besig om iewers in die opstal ‘n stamoorlog te voer. Dis nog ‘n klomp onopgeloste kwessies van die vorige dag se ver ry plaas toe wat uitgepluis moet word. Maar oupa se nuus laat die bakleilus op slag verdamp.

Met gilletjies van vreugde troep die spannetjie by die huis uit. “Jonas!” “Salmon!”

Johannes was met die vorige jaar se kuierslag op die plaas nog te klein, en dié is nog half vreemd aan die stadsbulletjies.

Die spelery is eers vlak by die agterdeur. Ek kry bitter koud vir hul onthalwe, waar ek hier langs oom Anneries voor die Aga sit.

Vir die kleingoed is oom Anneries “oupa” al is hy ouma Marié se tweede man. Oupa Japie self is ‘n paar jaar tevore oorlede.

Nie lank nie, toe neem Sanna vir Jonas-hulle hul koffie en brood. “Fire buckets” het ons met diensplig daai groot blikbekers genoem. Die snye brood is so dik soos twee duime, en die stoom trek uit hulle uit.

Met die blikbekers en blikborde leeg by die agterdeur gelos, verkas die spelery eers na die stoor toe, waar dit warmer is. Later die dag sal die omgewing aan die beurt kom, en wanneer dit warm genoeg is, sal die spannetjie agterop die bakkie saamry.

By oupa Anneries op die plaas is daar verskriklik baie te doen. Danksy ‘n syferfontein selfs kleilatgooi in die winter. Botterboom-ry nou nie, maar ou sinke waarvan die een punt effe opgebuig word, deug net so lekker om teen die buitekant van ‘n gronddam se wal af te ry.

‘n Paar fietse van bedenklike herkoms wat oom Anneries by ‘n vendusie aangeskaf het, dien as rygoed as die spannetjie haastig is. Die binnebande is lankal met plastiekpyp vervang, en as die fietse ooit remme gehad het, was dit nie onlangs nie.

Is daar bietjie meer tyd, is daar genoeg rygoed om opgesaal te word.

Maar dié vakansie sou anders wees, kom ons oor middagete agter.

“Pa, Jonas wil weet hoekom hulle hul koffie in blikbekers kry?” Oudste Bulletjie roer die saak aan.

“En blikborde,” sit Tweede Bulletjie vers twee in. Jongste Bulletjie se verstaan van politiek lê nog ver in die verskiet, en hy knaag nog te lekker aan ‘n stuk droëwors om hom met kwessies van die lewe te bemoei.

Maar tussen die twee versies het ek al oom Anneries sy asem skerp hoor intrek.

My kop woer-woer nog, toe sê Ouma Marié: “Hoe lank dink julle gaan erdebreekgoed hou terwyl julle so woes speel?”

Verlig sien ek die vrae is behoorlik, deeglik, en duidelik opgeklaar. Wat die Bulletjies betref, in elk geval.

Toe die Bulletjies weer na buite stroom, bly die grootmense agter. Ouma Marié pak die saak sommer dadelik aan: “Voor ‘n mens nou die dam onder die eend se jis uitruk…dit laat my dink aan die ma wat so geskrik het toe haar spruit by die huis kom en vra waar hy vandaan kom. Die ma het gehoop daai vraag sou eers heelwat later kom. Om vir tyd te speel terwyl sy vervaard dink, vra sy hoekom hy wil weet.

“Verduidelik die mannetjie: ‘Toe ons so speel sê Pietie hulle kom eers van Johannesburg af, en Kosie sê hulle kom van Durban af. Nou waar kom ons vandaan?’“

Vroulief giggel verbouereerd. Ek en oom Anneries sit met diep kepe tussen die oë. Iets fluister vir ons dis nie die einde van die storie nie.

En dit was nie.

Aandete: “Jonas sê hulle het nie eens spoellewwies nie.”

“En Jonas sê hulle kan elke dag net ‘n rukkie TV kyk.”

Nou is daar geen keer aan oom Anneries nie. “As daai bl*&sem van St*ntsake weer sy pote op die plaas sit…!”

Ouma Marié druk haar man ferm op die skouer: “Die kinders, my man.”

“Gaan pak jul legkaart by die verwarmer in jul kamer, kinders,” gelas Vroulief.

Die kinders laat hulle nie twee maal nooi “om van tafel verskoon te word nie”. By ouma Marié is aansit by die eettafel ononderhandelbaar. En dit bly nie by net eet aan tafel nie, die kuier moet ook daar voortgesit word. Die kiertsregop eetkamerstoele, glo ouma Marié is goed vir haar rug en dus almal anders se rûe. My rug is na ‘n halfuur morsaf, en ek verlang na die sagte sitgoed in die sitkamer.

Eendag, toe ouma Marié nie by was nie, brom oom Anneries hy kan dit nie verstaan nie. Soos klokslag is die kos nog nie klaar terwyl die tante Sewende Laan kyk nie, maar net soos die TV-nuus moet begin wat hy weer graag wil kyk, word hy tafel toe geroep. Dan is die TV buite sig- en hoorafstand.

“Toe koop ek ‘n klein TV vir die eetkamer, toe wil die tante my skei.”

Ek self was nog nooit in ouma Marié se goeie boekies nie, dus as daar klaar geëet is, sê ek dankie vir die kos, maar nou is my rug af, en ek gaan sitkamer toe. In die proses is ek dieper in die “dog box” maar daarmee het ek vrede gemaak.

Nie lank nie, sal oom Anneries by my kom inval. Dan kyk ons die nuus wat opgeneem is. Dit het ons al geleer om in stilte te doen.

Vroeër het ek en oom Anneries ‘n slag gebrom oor dinge soos die Esybiesie se bevooroordeeldheid, toe kry ons ‘n skrobbering oor ons ongeselligheid om by die gesels aan tafel weg te loop om hier voor die verderflike TV (wat ook Sewende Laan uitsaai) te kom sit en kyk.

Maar vanaand is daar ernstiger sake op die hart. Die weerwanvoorstelling is skaars klaar, of oom Anneries spreek sy woord.

“Daai *&^ vent van Str*ntsake maak net moeilikheid. Van hy tydig en ontydig hier op die plaas aangesit gekom het, is alles te kort of te lank…

“En om te dink, ek was seker die eerste boer wat water en krag na die strooise aangelê het. Ek betaal meer as die minimumloon…

“Nou die ou van Grondsake – kom hy nie die protokol vir plaastoegang na nie?”

Oom Anneries sug.

“Hy sê hy weet nie van die protokol nie, maar al is daar so ‘n protokol, geld dit hom nie want hy is van Lênt Effêrs. Dan bel ek die polisie om hom vir betreding te laat gryp, dan sê hulle hulle weet ook nie van so ‘n protokol nie, en dan bel ek die landbou-unie en na ek met so die derde een gepraat het dan weet hulle daarvan en dan sal hulle die mense weer inlig oor die protokol.

“Maar ‘n dag of twee later dan is die opstoker weer hier en sê hy weet nog steeds niks van die protokol nie. Het al gedink om per ongeluk ‘n skoot tussen sy pote af te vuur, maar ek is nie lus om soos Skip Wandrag die naweek in die selle te sit nie.”

“Maar hy het mos ‘n skadevergoedingseis teen die polisie gewen.”

“Ja, maar hy was nog steeds die naweek in die selle.”

Ons sit ‘n oomblik.

“Jy sal met jou seuns moet praat,” vervat oom Anneries. “Ek kan met Jonas-hulle praat. Maar dan is die ou van Str*ntsake oormôre weer hier en dan het ek weer allerlei moeilikheid. Jy kan nie glo wat ek alles na die tyd moet opvreet nie.”

“Oom Anneries, ek sal met die Bulletjies praat. Maar die winde van verandering het my bietjie onverhoeds gevang…”

“Winde van verandering…” brom oom Anneries. As dit by winde van verandering kom, dan sou hy ‘n orkaan ook terugverander het.

“Dink oom nie dis dalk ‘n grondeis wat broei nie?”

“Nie restitusie nie,” sê oom Anneries. “Met die sluiting was daar beslis geen eis teen die plaas geregistreer nie. Maar grondhervorming, sal ek nie stry nie. Omtrent almal wat nie seuns het nie, begin op hul oudag geteister te raak om die grond via Str*ntsake aan die plaaswerkers te verkoop. Maar dis ‘n erfplaas dié en my dogter kry dit eendag.”

Met dogter bedoel hy vroulief, sy stiefdogter. Sy eerste huwelik was kinderloos.

“Straks kry een van die Bulletjies lus vir boer eendag…”

Dis natuurlik nie iets wat nou vir hulle gevra moet word nie. Die plaas assosieer hulle met vakansie en speel, en op daardie ouderdom klink dit soos die hemel moet wees.

Ek praat met die bulletjies, omsigtig, minder omsigtig ook. Ook hard en duidelik.

Maar die winde van verandering het nie sommer ophou waai nie.

Die volgende dag:

“Oupa, Jonas sê sy naam is eintlik Si..Si..”

“Simon!” val Klein Bulletjie hom in die rede.

“Nee man, nie Simon nie,” sê Groot Bulletjie. Hy kyk hoopvol, amper pleitend na sy ouma.

“Sipho,” help ouma hom uit sy woordstrikke.

“Ja, Sipho,” vervat Groot Bulletjie bly.

“Die ander sê hulle name is eintlik ook verkeerd, maar ek kan nie onthou wat hulle regte name eintlik is nie,” sê Tweede Bulletjie.

Weer is ouma ter hand met ontlontende woorde: “Maar in die stad het julle ook mos ander name. Kobus, François en Stephan. Hier het julle plaasname.”

Die lig gaan vir die Bulletjies op, maar ek begin wonder of hul ouma nie nou net besig is om die oomblik van waarheid uit te stel nie.

Die aand praat ek weer met die Bulletjies. ‘n Bietjie van politiek.

Maar hoe vertel ‘n mens nou vir die knape dat iets wat voor hul geboorte gebeur het, op hul brood gesmeer word en nog baie gesmeer gaan word?

Soos dit is, word die kinders groot met ‘n persepsie dat die juffroue by die skool lieg soos ek en vroulief hulle met huiswerk reghelp, veral as geskiedenis aan die beurt kom.

Hulle glo vas die Esybiesie lieg soos hulle my gereeld hoor raas oor iets wat verdraaid aangebied is…

Om nou te hoor hul vakansiespeelmaats lieg …

Ek gaan slaap met ‘n klip op die bors, daai aand.

Sommer vroeg die volgende oggend breek die slag van Bloedrivier buite uit. Die grootmense los die stomende bekers koffie en storm uit, maar toe is die slag klaar gelewer. Jonas, of te wel Sipho, huil-skree soos ‘n maer vark, en hou sy oor vas.

“Groot Bulletjie, hy Dzônas gemo*r,” doen Salmon verslag. “Dzônas hy gasê oubaas Anneries hy ês die varrik, toe Groot Bulletjie hom hêtte gedônner.”

Jonas het intussen soos ‘n loeiende sirene afgesit na sy stroois toe. Op die “slagveld” lyk dit of Groot Bulletjie ‘n heldedaad verrig het – wit en swart.”

“Daai Dzônas, sy kop hy raas,” verklaar William, die trekkerdrywer wat toevallig op die werf was om te kom roomkanne aflewer. “Es goet die Groot Bulletjie hom hette gemo*r.”

Nie lank nie kom Willemien, Jonas se ronde ma, met ‘n steeds skreeuende Jonas agterna, die voetpaadjie opstal toe aangestoom. Sy is wild boos, kan ‘n mens van ver af sien. Maar Willemien is nog sommer ‘n hele ent van die werf af, toe skree Sanna vir Willemien in Suid-Sotho wat gebeur het. Hier, so diep in die Oos-Vrystaat in, is daar al baie Zoeloes, soos ook Sipho se ouers, maar almal verstaan Sotho goed.

Willemien kom tot stilstand, en Sipho besluit dis nou ‘n gawe tyd om op te hou tender vir ‘n Oscar. Hy besluit ook dis nou ‘n gawe tyd om flink te makeer, maar te laat. Willemien gryp hom aan die arm, en die volgende oomblik val die houe. Die sirene word op slag weer aangeskakel.

Na ‘n ruk kry Sipho homself losgewikkel, en lê die rieme neer.

En net daar het die winde van verandering ook ophou waai. Vroegoggend val Salmon met sy draadkar, en Johannes met sy “boot” voor die agterdeur in. Eers na hulle hul koffie uit die “fire buckets” gedrink en hulle aan die heerlike dik, warm snye brood versadig het, word die spelery na die res van die werf en verder uitgebrei.

Van Jonas is geen teken nie.

So twee dae later is die drie Bulletjies saam met Salmon en Johannes agter op die bakkie. Op pad lande toe. Oupa ry egter ‘n ompad, en hou by Sipho-hulle se stroois stil. Willemien loer uit, en oom Anneries praat met haar Zoeloe. Willemien knik, en is terug die stroois in. Toe gaan daar weer ‘n sirene aan, en kort daarna kom sy met ‘n skreeuende Jonas aan die arm by die stroois uit, en pluk hom onsagkens by die ander agter op die bakkie. Hier sit hy dikbek.

Op die lande wink oom Anneries vir Jonas nader, en Jonas volg hom skoorvoetend ‘n ent weg. Daar sien ek, so op ‘n afstand, praat oom Anneries met hom, praat ernstig.

Jonas skud sy kop op en af. Hy verstaan. Oupa gee vir hom iets wat ek op hierdie afstand vermoed ‘n stuk biltong of droëwors moet wees. Toe kom hulle terug, beide ‘n breë glimlag op die bakkies.

Die spelery vervat asof daar nooit ‘n onmin was nie.

‘n Dag of twee later doen Groot Bulletjie verslag: “Oupa, Jonas sê oupa is Y–wan. Wat is Y-wan, oupa? Ons speel nou so lekker ek wil hom nie onnodig klap nie.”

Ek verduidelik.

So ‘n week na die vakansie is dit oom Anneries wat van die plaas af lui. Dis nog die koffiemeule-model, en om stad toe te lui is ‘n hele storie. Maar oom Anneries moet darem dié nuus rapporteer.

“Die ou van Str*ntsake was weer hier maar iemand het hom met ‘n klip platgegooi. Die spul sweer hoog en laag dit was Sipho…vir ingeval het ek hom ‘n sakkie biltong gegee.”

Ja-nee, nou is daar weer vooruitgang met oom Anneries se boerdery. Hy is mos Y-wan, en niemand stry meer nie. Behalwe miskien die ou van Str*ntsake.

купить кольцеброс детскийДанильченко Юрий Брониславович

‘n Boerbok neem kerk op horings

“Die twee hanskallers het geleer om die hek oop te maak, en ek het hulle uit die tuin probeer jaag, maar sal maar môre as dit lig is verder probeer.”

Oudste is die vakansie op ‘n wildsplaas, en moet nou die fort hou terwyl die bestuurder en sy gesin ‘n rukkie by die Groot Dam gaan uitspan het.

Wil nog vra van wanneer af hanskallers nou so ‘n handvol is dat ‘n mens nie sommer gou-gou by ‘n hek uitgejaag kry nie.

Maar ..dis g’n gewone kallers nie. Dis buffelkallers, en die hans goed is boonop oorlams ook.

Hans diere kan geniepsig wees.

Eendag vertel ‘n oom wat ‘n stalletjie oorkant my by die boeremark gehad het ‘n staaltjie van sy geboorteplek, Brandvlei.

Nou vir diegene wat so oningelig is om nie te weet waar Brandvlei is nie, dis naby Verneukpan. As dit nog nie ‘n stofduiwel laat dwarrel nie, dis aan die Sakrivier. Eintlik is “Sakrivier” vreeslik misleidend, daai rivier sak niks. Omdat hy so min loop, het die loop opdraande begin loop toe die aardkors gelig het. As die rivier die slag wél opkom (hy kan immers nie afkom nie), dan is die hele wêreld onder water.

Op ‘n dag skenk ‘n lidmaat ‘n bokram en twee ooie aan die kerk op Brandvlei. Die kerkraad is half opgeskep met dié skenking, en besluit naderhand die kerkerf is groot genoeg. Die bokke is hans grootgemaak en die skenkers sal erg eksepsie neem as die oorlamse goed op die kole beland. Hulle moet maar daar loop. Dan is onkruid en ander goed wat bokke vreet darem nie ‘n probleem nie.

Nou moet ‘n mens darem bysê, die koster het tydens die dienste by ‘n oop deur gesit, sodat hy presies om half tien die trappe kon uit om die klok te loop lui. Daar waar hy sit, is hy in sig van ‘n groot deel van die gemeente, en so was die gemeente bewus van die koster se gewoonte om te dut en in die proses lekker vis te vang.

Die een dag, vertel die oom, sien hy weer hoe die koster se kop knik-knik, maar hy sien verder, verby die koster tot by die oop deur. Die oorlamse bokram het in die deur kom staan, en daar sien hy hoe die koster kop knik. Knik die koster, knik die bok.

So gaan dit aan. Die oom sê hy ken ‘n bok, en hy het geweet hier kom ‘n ding.

Die koster knik nog ‘n slag, en die bok knik en storm.

Stamp die koster skoon poer van sy stoel af.

Dominees wat ook die ding sien kon het, had moeite om sy lag in te hou so met die bok en die koster se kop-kopspelery. Hy het gewoon nie kans gesien om die sports vooraf nek om te draai nie, en heimlik was hy dalk bly dat die bok die koster se visvangery so onder die preek genees het.

ігри для дєвачєклобановский харьков класс