Kongolees duik op in SA vloot

sanavyDie Nasionale Weermag het bewerings verwerp dat hy doelbewus beplan het om ‘n buitelander te werf.

Die Suid-Afrikaanse Veiligheidsmagte-unie (SASFU) het sy skok uitgespreek dat ‘n Kongolese burger in die geledere van die SANW dien in die elite duikbootvloot van die SA Vloot. Dit is teen die agtergrond van ‘n hoë werkloosheidsyfer onder die jeug en die xenofobiese aanvalle het die unie in ‘n verklaring gesê.

“Die indiensneming van buitelanders in die SANW is ‘n bedreiging vir nasionale veiligheid want dit het ‘n potensiaal dat infiltrasie deur buitelanders bevorder word in die leierskap van die SANW en kan dalk selfs tot ‘n staatsgreep lei teen die demokraties verkose regering van Suid-Afrika.”

Die unie het ‘n beroep op pres. Zuma en die Kabinet gedoen om die Vloot te beskerm, “beide struktureel en filosofies om die identiteit van ‘n soewereine en demokratiese staat te bewaar en Suid-Afrika se vrede met sy bure te waarborg”.

Die buitelander is gekoppel aan magte wat vir en teen die Kabila-regering is, wat uiters problematies is, het die unie gewaarsku.

Die Weermag het ontken dat die Kongolese burger reeds aan boord van ‘n Vlootduikboot diens doen.

Die Weermag het gereageer op opmerkings deur die Suid-Afrikaanse Veiligheidsmagte -Unie, SASFU, wat die werwing van die Kongolees skerp veroordeel het.

Die Weermag sê die Kongolese burger se ouers woon in Suid-Afrika en hulle beskik oor Suid-Afrikaanse ID-dokumente en ‘n verblyfpermit.

Volgens RSG se redaksie het die Weermag gesê die seun was tydens ‘n werwingsproses by ‘n hoërskool in KwaZulu-Natal deel van ‘n groep leerders wat gewerf is.

Die leerder het ook ander toetse geslaag waarna daar vasgestel is dat hy nie ‘n Suid-Afrikaanse burger is nie.

Daar word tans stappe gedoen dat hy hom as kandidaat onttrek.

Bek-en-klouseer breek by Phalaborwa uit

bekenklouDie voorkoms van bek-en-klou-seer is in Makhuva naby Phalaborwa in die noorde van die Kruger Wildtuin aangemeld.

Die departement van landbou sê die siekte is in ‘n gemeenskaplike weiveld opgespoor. Die gebied is binne Suid-Afrika se bek-en-klou-seer beskermingsone geleë.

‘n Veearts, Piet Phakhula sê inentings teen die siekte word toegepas en tot dusver het net twee diere positiewe resultate opgelewer.

Die situasie word daagliks deur amptenare en veeartse gemonitor.

Nuus dat bek- en klouseer in uitgebreek het, laat veeboere erg bekommer, omdat belangrike geleenthede soos wolveilings uitgestel moet word en uitvoere van diere en diereprodukte word onmiddellik opgeskort. Diere met gesplete hoewe word geraak.

Die omvang en belangrikheid van bek- en klouseer moet nooit gering geskat word nie. Die siekte is nie noodwendig dodelik nie en vrektes van 2% by volwasse diere en 20% by jong diere is aangeteken. Die belangrikheid van die siekte is die feit dat dit so hoogs aansteeklik is, (tot 100% diere word aangesteek) en die siekte het enorme ekonomiese implikasies, anders as wat Phakhula beweer.

Veeartse het reeds aan Praag te kenne gegee dat hulle vrees vir sulke uitbrake weens swak staatsoorsig en bestuur.

Hond vreet kleuter

swazihut‘n Twee-jaar-oue Swazi-kind is verskeur en opgevreet deur drie honde wat deel van die huishouding was in sy arm landelike gemeenskap.

Die seuntjie en die honde was na bewering honger.

Mndeni Dlamini het aan die slaap geraak in ‘n hut. Hy is deur sy 14-jarige versorger, wat uitgegaan het om te bedel vir kos vir die seun, alleen gelaat.

Die meisie was bekommerd oor die kleuter se verswakte toestand weens ‘n gebrek aan voedsel.

Die seun se ma het hom in die sorg van sy pa gelaat toe sy werk soek het in Piet Retief, in die naburige Suid-Afrika.

Die seun se pa het op sy beurt die seun aan sy ouma oorhandig, wat in Suid-Afrika was om ‘n familie-saak wat voorgeval het op te los, ten tye van die voorval.

Die seun het glo wakker word, na buite gegaan, en is deur die honde aangeval en lewendig opgevreet.

Die ouma het gesê spore van haar kleinseun se klere en hare is gevind in een van die hond se ingewande nadat die dier dood is. – Independent News Service

Britse troon sorg vir narrespektakel

britishbabyclownDie hoof van nie minder nie as 16 lande en die Supreme Governer of the Church of England is ‘n paar uur oud, maar Suid-Afrika se monopolistiese mediagroep het seker gemaak dat hulle laag buig voor hul nuwe opperhoof saam met ‘n menigte Britse onderdane wat al die afgelope week ‘n onverkwiklike narrespektakel van hulself in die openbaar maak.

Sulke titels laat enige republikeinsgesinde leser se hare rys, want dit herinner sterk aan die feit dat sommiges nog steeds glo dat meriete nie nastrewenswaardig is nie, maar uitgediende, ondemokratiese gebruike wel.

Kortom, die ongenaakbare klassestelsel is blykbaar die nuwe toekoms as mens Media24 glo. Behalwe in Suid-Afrika, natuurlik, waar ons onverwyld moet saamsmelt met ‘n kultuurvreemde onderklas, volgens ons mediabase.

Wat Naspers se kloekende berigte oor Brittanje se “klein bondeltjie vreugde” nog erger maak, is dat die dooieboommediagroep onophoudelik preek oor die ANC se nepotisme en rasse-ideologie en nie die balk in hul Britse oog raaksien nie.

Maak dit saak dat ‘n baba van ‘n paar uur oud die derde, vierde, vyfde troonopvolger is? Of wie daar gaan besoek aflê? Veral nadat Suid-Afrika, wat terloops steeds ‘n republiek is, uit die Statebond gestap het en met ‘n sluipmoord op ‘n Afrikanerleier vir dié besluit moes betaal?

“Brittanje se prins William het Maandag sy vreugde uitgespeek nadat sy vrou Catherine, die hertogin van Cambridge, die lewe geskenk het aan ‘n babaseun,” en “Carole en Michael Middleton het Dinsdag by die St. Mary’s-hospitaal in Londen aangekom”, lees ons in ons eie taal.

Die toekomstige koning van Brittanje het blykbaar min volgelinge op sy eie klein bedremmelde eiland, aangesien die Britse koerant, The Guardian, weier om aan die lofgesange en skindernuus deel te neem. Maar onder sekere nasate van slagoffers van die konsentrasiekampe kan hy blykbaar seker wees van ruim ondersteuning.

Sinne soos: “Die media was verbaas toe die egpaar in ‘n gewone swart Londen-taxi by die hospitaal se private Lindo-vleuel opgedaag en aan joernaliste gewuif het, voordat hulle die gebou binnegegaan het om hul kleinseun te sien,” laat ‘n mens wonder wanneer Beeld na Engels gaan oorskakel. Is dit nuuswaardig en wat moet Afrikaners met dié inligting maak?

Erg problematies is dat dit juis nie “die media” in Brittanje self insluit nie.

Praag deel nie in hierdie koors nie. Waarom ‘n instelling ondersteun wat geen erg aan Afrikaners se voortbestaan het nie?

OB gaan eers Gupta-klag ‘evalueer’

 guptawaterkloofDie Openbare Beskermer se kantoor sê Thuli Madonsela evalueer ‘n klag oor Vega Gupta se omstrede troue waar 270 bruilofgaste vroeër vanjaar by ‘n militêre lughawe, Waterkloof-lugmagbasis, kon land.

“Die evaluering van die klag is nog aan die gang…” het Oupa Segalwe, ‘n woordvoerder, gesê.

Hy sê onderhoude word ook met getuies gevoer.

“Die Openbare Beskermer sal eers ná die evaluering besluit of ‘n volskaalse ondersoek na die saak van stapel gestuur sal word.”

Segalwe sê onderhoude is reeds met twee van die drie getuies gevoer.

Die regering se ondersoek het bevind dat pres. Jacob Zuma en sy ministers nie ‘n aandeel aan die landing gehad het nie. – Sapa

Produkte is veilig, sê Dettol

dettol3Dettol Suid-Afrika het gesê die produk wat deur die owerheid teruggerroep is, word onwettig na die land ingevoer deur ‘n derde party wat niks met die plaaslike maatskappy te doen het nie, het RSG berig.

Die maatskappy het gesê die onwettige produk heet “Dettol Lime & Lemon Grass Disinfectant Liquid”.

Dettol SA het gesê hy sal met die Reguleerder vir Verpligte Spesifikasie saamwerk om die onwettige produk uit die mark te hou.

Dit volg nadat die reguleerder ‘n produk landwyd teruggeroep het wat hy beskryf het as “Dettol Disinfectant Liquid”.

Dettol Suid-Afrika het gesê alle Dettolprodukte wat hy vervaardig en versprei, is getoets en voldoen aan plaaslike regulasies en standaarde.  – RSG

Cosas dreig om verkragters te kastreer

cosasrapeDie Congress of SA Students (Cosas) het Dinsdag gedreig om verkragters te kastreer.

“Ons gaan die reg in eie hande neem,” het Thlologelo Malaji, president van Cosas, gesê.

“Ons gaan die privaatdele van diegene wat ons broers en susters verkrag, afsny. Ons sal ook nie van die dwelmhandelaars in ons gemeenskappe vergeet nie, want ons weet waar hulle bly.”

“Lede van ons gemeenskap moet nie meer in vrees lewe nie en ons help om al die euwels in die samelewing uit te roei,” het hy gesê.

Malaji het gesê Cosas het besluit om nie net gerieflik toe te kyk hoe die jeug se toekoms deur die euwels in die samelewing weggevat word nie.

“Ons doen ‘n beroep op belanghebbendes in onderrig om deel te neem en ‘n bydrae te lewer in die stryd die opvoeding van ons land; om te verseker dat ons studente die beste opleiding ontvang.”

Cosas sal glo vergaderings reël tussen ouers, leerlinge en ander om die toestand van opleiding in die land te bespreek. “Die kultuur van onophoudelike ontwrigting van opleiding en opvoeding weens betogings is die kern van dié samesprekings.”

Malaji het gesê Cosas is ook besorg oor die aantal skole, veral hoërskole, wat nie voedingskemas het nie.

“Indien ‘n kind in ‘n laerskool op ‘n voedingskema staat gemaak het, is hul omstandighede in die hoërskool steeds dieselfde. Waar sal die kind ondersteuning kry indien daar nie ‘n voedingskema by die skool is nie?” Hy het gesê die gehalte van kos wat in voedingskemas bedien word, is ook kommerwekkend.

Malaji het bygevoeg dat Cosas ook sal voortgaan om die publikasie van matriekuitslae in koerante teen te staan. “As ‘n studente-organisasie hou ons steeds vol matriekuitslae is ‘n privaatsaak tussen die matrikulant en die departement van onderwys.” – Sapa

Terugkeer na SA? Betaal eers boete aan mediese fonds

montypythonDeur Rhynie Greeff. Daar is ʼn staatsgedrewe boodskap aan Suid-Afrikaners oorsee reg vanuit die Parlement: Bly weg want ons gaan julle straf as julle terugkom.

Vir Suid-Afrikaners wat na ʼn paar jaar in die buiteland hulle vliegtuigsitplekgordels losmaak en uitstap in hulle eie land wag ʼn ontnugtering in die vorm van ʼn ware Monty Python wet wat hulle vir die res van hulle lewens effektief gaan belas – die Wet op Mediese Skemas 131 van 1998.

Hierdie wet het ʼn goeie element want dit beskerm huidige lede van SA mediese fondse met laataansluitingsboetes vir mense wat wag tot hulle siek is en dan wil aansluit by ʼn fonds.

Nou die slegte kant.

Die Wet op Mediese Skemas het ʼn formule waarvolgens terugkerende Suid-Afrikaners boetepremies vir die res van hulle lewens van tussen 5% en 75% by mediese fondse betaal (kuggie en kom ons fluister die res van hierdie sin) omdat hulle nie aan Suid-Afrikaanse mediese fondse behoort het nie. Wat natuurlik onmoontlik was. SA mediese fonds gee net oorsese dekking vir 90 dae. Daarna kan jy net eenvoudig nie aan ʼn SA mediese fonds in die buiteland behoort nie. Dis so gereguleer. Dis ʼn Catch 22. Eintlik ʼn vorm van belasting. Julle wil mos dom buitelandse drosters wees.

Die Wet op Mediese Skemas het strafbande met berekende kredietjare waarop addisionele maandelikse premies betaal gaan word en wat dit ignoreer dat dit vir jou oorsee onmoontlik was om aan ʼn SA mediese fonds te behoort:

0-4 jaar:          5%

5-14 jaar:        25%

15-24 jaar:     50%

25+ jaar:         75%

Dis ʼn effens ingewikkelde berekening maar hier is ʼn voorbeeld:

Jy was ʼn lid van jou ouers se mediese fonds tot ouderdom 25, toe nie by ʼn mediese skema vir 5 jaar nie en toe by jou eie fonds vir 5 jaar waarna jy oorsee gegaan het vir 14 jaar en in Engeland lid was van Discovery se filiaalskema daar, Pruhealth. Nou keer jy terug na sonnige Suid-Afrika op die ouderdom van 49.

Die formule gee jou 4 jaar krediet as afhanklike van jou ouers (25-21 want onder 21 jaar tel nie).

Jy kry nog 5 jaar se krediet onder jou eie skema maar, jammer man, die SA Parlement het bepaal dat jou 14 jaar by enige oorsese medies skema nie tel nie, selfs nie eers Discovery Gesondheid se Britse filiaal nie. Jy moes mos aan ʼn SA fonds behoort het. Wat jy ongelukkig vir jou nie kon doen nie.

So nou het jy net nege jaar se krediet.

Maar wag dis nie al nie, en hallo Monty Python, nou vir iets heeltemal nuuts weer eens, die Einsteinformule bepaal dat jy net 5 jaar se krediet kry want, jou kredietjare begin eers van jou 35ste jaar.

En op daardie 5 jaar krediet (ten spyte van al jou jarelange lidmaatskap van fondse) val jy in die band van 5-14 jaar. Daarom sal jy vir die res van jou lewe vir jou en jou familie 25% per maand ekstra in mediese fondspremies betaal. So, waar jy en jou familie R4000 per maand sou betaal aan ʼn mediese fonds as julle tuisgebly het sal jy R12 000 per jaar addisioneel betaal met latere stygings.

Ek weet hiervan want ek was elf jaar lank lid van Discovery se Pruhealth in Brittanje en het Discovery genader via ʼn makelaar wat my later ʼn epos gestuur het dat Discovery vasstaan dat dit ʼn “government ruling” is en die boete geld. Twee ander medies skemas het dieselfde antwoorde gehad.

In wie se belang is hierdie irrasionaliteit? Die mediese fondse wen met ʼn stelsel wat baie gerieflik individue penaliseer omdat die stelsel nie die individue ooit kon bedien nie.

Hoe werk die logika? In Brittanje kan jy nie ʼn SA bestuurslisensie gebruik nie. Hoekom word terugkerendes nie beboet of belas as hulle nou na jare weer ʼn SA lisensie moet kry nie? Oorsee in die VSA kan jy nie belasting aan SARS betaal nie. Moet jy nou beboet word daarvoor as jy terugkom?

Ons leef in ʼn wêreld grotendeels sonder grense. Die kuberruim het eintlik geen grense nie maar fisies is daar ook tussen lande ʼn relatief vrye vloei van kapitaal, produkte, idees en mense wat na hulle lande terugkeer met meer ondervinding, kennis en kundigheid. Sekerlik positief.

Watter tipe regering ontmoedig die vrye vloei van mense en hulle kundigheid so diskriminerend irrasioneel?

Pas dit die regering dat Suid-Afrikaners nie terugkeer nie?

Miskien moet die Wet op Mediese Skemas ʼn herbenaming kry as die Wet van Onbedoelde Gevolge want die land stoot waardevolle mense weg wat wil terugkeer.

Mediese skemas wen; die land verloor; die politici slaap. – The South African

 

Malema se EFF is VF+ se ‘susterparty’

Gwede Mantashe
Gwede Mantashe

Die ANC se sekretaris-generaal Gwede Mantashe het gister gesê die party word nie bedreig deur die opkoms van die Economic Freedom Fighters (EFF) op Suid-Afrika se politieke toneel nie.

Mantashe het die EFF as net nog ‘n party bestempel. Hy het verwys na die nuwe beweging as die Ekonomiese Vryheidsfront, en het gesê dit is ‘n susterparty van die Vryheidsfront Plus.

“Die ekonomiese Vryheidsfront is net ‘n ander party. Hulle sal by ‘n susterparty, die Vryheidsfront Plus aansluit. En daar is baie partye daarbuite,” het Mantashe gesê.

Hy het met verslaggewers gister in Johannesburg gepraat.

Die EFF is gestig deur Julius Malema en ander ontevrede voormalige ANC-lede. Voormalige ANC-jeugliga se Noordwes-voorsitter Papiki Baboile en voormalige ANC-jeugliga se nasionale woordvoerder, Floyd Shivambu, is ook lede van die EFF.

Mantashe het gesê die ANC-leiers het nie slapelose nagte oor die EFF nie.

“Dit (die ANC-leierskap) is bedrewe hiermee en dit is hoekom ons toegelaat het dat ‘n grondwetlike demokrasie en ‘n veelparty-stelsel tot stand kom.

“Ons het nie slapelose nagte oor ‘n bepaalde party nie,” het hy gesê.

Die mediakonferensie is bedoel om die uitkomste van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) lekgotla te openbaar. Die lekgotla het Vrydag begin en Sondag afgesluit.

Mantashe het ook gesê die probleme van die ANC in die Tlokwe-munisipaliteit in die Noord-Wes is nie tydens die lekgotla bespreek nie.

Hy het daarop aangedring dat die regerende party tans op die probleme in die munisipaliteit fokus.

Hy het gesê die ANC se adjunk-president Cyril Ramaphosa en adjunk-sekretaris-generaal, Jessie Duarte spandeer baie tyd in die Tlokwe Munisipaliteit as deel van die party se strategie om probleme in die munisipaliteit aan te spreek.

“Ons is besig met iets daar. Ons het kandidate geregistreer vir die (komende) tussen-verkiesings. Ons sal nog steeds baie daar doen.

“Dit is nie ‘n stryd teen die DA nie, maar ons verantwoordelikheid om gemeenskappe te dien daar. En ons het ‘n verpligting om te voldoen daaraan,” het Mantashe gesê.

Die ANC in die Tlokwe Munisipaliteit het 14 raadslede van die munisipale raad geskors nadat die party bevind het dat hulle saamgespan het met opposisiepartye om die burgemeenster Mapetle te verdryf. – The New Age

EU plaas Hezbollah militêre vleuel op terreurlys

euDie Europese Unie (EU) het die militêre vleuel van die Libanese groep Hezbollah Maandag op sy terreurlys geplaas.

Die EU se 28 ministers van buitelandse sake het die besluit eenparig ondersteun tydens die unie se maandelikse vergadering.

Europese Unie ministers van buitelandse sake se vergadering in Brussel het ‘n einde aan maande se geredekawel oor die besluit om die militêre vleuel van die Libanese Hezbollah op die EU se lys van terroriste-organisasies te plaas.

Die besluit volg op ‘n selfmoordbomaanval waarin vyf Israeliese toeriste in Bulgarye omgekom het. Eerste Minister Benjamin Netanyahu, het Iran dadelik blameer, maar Bulgaarse ondersoekbeamptes het gewaarsku dit sal ‘n “fout” te wees om blaam toe te wys voor die aanval ondersoek kan word.

Israel, saam met die VSA, het die skuld op Hezbollah en dus Iran vir die aanval gepak.

Die aanvalle, het een senior Amerikaanse amptenaar gesê, was in weerwraak vir die moord op Iranese kernwetenskaplikes. Dit was uit weerwraak, het die Amerikaanse amptenaar, wat gepraat het op voorwaarde van anonimiteit omdat die ondersoek nog aan die gang was, gesê.

In skrille kontras, het The Washington Post se Karin Brulliard, uit Jerusalem verslag gedoen, en gesê alhoewel sy kennis neem van die amptelike beskuldigings teen Hezbollah en Iran se verantwoordelikheid, het “Israel geen konkrete bewyse aangebied om die aanval met Iran te verbind nie. Die VSA se intelligensie-amptenare het gesê dit was ‘geloofwaardig’ dat Hezbollah die aanval uitgevoer het, maar ontleders by die CIA en ander agentskappe oorweeg nog steeds die intelligensie rondom die aanval en het nie ‘n gevolgtrekking bereik nie.”

EU-bronne in Brussel het intussen gewaarsku en gesê dat die proses kan nog twee tot drie dae kan duur.

In baie opsigte is dit ‘n historiese oorwinning vir Brittanje en Frankryk, maar dit kan die EU verder verdeel op byna elke aspek van hoe om met die Midde-Ooste te handel, wat Iran, Israel, Palestina, Libanon en Sirië insluit.

Die Verenigde State en Israel het beide druk op die EU geplaas. In ‘n debat wat maande geduur het, het Ierland en Malta vasgeskop, terwyl Oostenryk gevrees het vir die veiligheid van sy troepe as deel van die VN-bedrywighede in Libanon in gebiede wat onder die direkte beheer van Hezbollah staan.

Die politieke vleuel van die Hezbollah is deel van die regering in Libanon en die Libanese regering het amptelik probeer om die EU te weerhou van die neem van so ‘n besluit.

“Ons kan nie toelaat dat die militêre tak van die Hezbollah terroriste-aktiwiteit in die Europese Unie voer nie,“ het Guido Westerwelle, die Duitse minister van buitelandse sake verduidelik.

Hoe om die militêre van die politieke vleuel te skei, gaan egter ‘n moeilike vraag wees om op te los, het EU bronne gesê.