Produkte is veilig, sê Dettol

dettol3Dettol Suid-Afrika het gesê die produk wat deur die owerheid teruggerroep is, word onwettig na die land ingevoer deur ‘n derde party wat niks met die plaaslike maatskappy te doen het nie, het RSG berig.

Die maatskappy het gesê die onwettige produk heet “Dettol Lime & Lemon Grass Disinfectant Liquid”.

Dettol SA het gesê hy sal met die Reguleerder vir Verpligte Spesifikasie saamwerk om die onwettige produk uit die mark te hou.

Dit volg nadat die reguleerder ‘n produk landwyd teruggeroep het wat hy beskryf het as “Dettol Disinfectant Liquid”.

Dettol Suid-Afrika het gesê alle Dettolprodukte wat hy vervaardig en versprei, is getoets en voldoen aan plaaslike regulasies en standaarde.  – RSG

Dettol van die rakke onttrek

dettolDie ontsmettingsmiddel Dettol en Domestos Extended Germ Kill is van die rakke onttrek omdat dit ‘n gesondheidsrisiko inhou vir verbruikers, het Nasionale Reguleerder vir Verpligte Standaarde (NRCS) Dinsdag gesê.

Thomas Madzivhe van die NRCS het bevestig dat die Dettol Disinfectant Liquid, wat van die Verenigde Koninkryk ingevoer is, van die rakke onttrek is omdat die produk nie vereiste toetse geslaag het nie.

Madzivhe het gesê Domestos Extended Germ Kill is nie by die NRCS geregistreer nie en dus kan die veiligheid van die produk nie gewaarborg word nie.

Bongani Khanyile, waarnemende hoof van die NRCS, het ‘n beroep op die publiek gedoen om die reguleerder in kennis te stel van enige winkels waar die produkte nog op die rakke is.

Die NRCS kan op  021 428 6043 gekontak word. – Sapa