Afrika-leiers by ‘n beraad in Addis Abeba in Ethiopië het besluit dat geen dienende Afrika-leier voor enige Internasionale Hof kan verskyn nie.
Hulle het ook besluit om die VN Veiligheidsraad te versoek om by die Internasionale Strafhof aan te dring op die uitstel van die verhoor van die Keniaanse president Uhuru Kenyatta en die adjunkpresident William Ruto.
Hulle word aangekla van misdade teen die mensdom, ná die bloedvergieting in die land na die verkiesing in 2007.
Die Ethiopiese eerste minister, Haile-mariam Dessalegn hou vol dat Afrika onbillik geteiken word deur die Internasionale Strafhof.
Vyf van die 18 regters van die hof is afkomstig uit Afrika, terwyl die hof se adjunkpresident uit Botswana kom en die hoofaanklaer uit Gambië. – RSG
‘n Wêreldberoemde kunsvliegkampioen, Glen Dell, is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem nadat sy Red Bull Extra-vliegtuig by die Secunda-lugskou neergestort het.
Dell oomblikke was besig met lugtoertjies waarin hy ‘n duikslag wou uitvoer sowat 100m van toeskouers.
Hy kon nie die vliegtuig weer lig nie, het ‘n toeskouer, gesê. Hy het hoogte verloor en daarna die grond getref en aan die brand geslaan. Die vlieënier het brandwonde oor sy hele lyf opgedoen.
‘n Enjinfout ingesluip het vermoedelik tot die ramp gelei, maar ‘n ondersoek na die ongeluk sal uitsluitsel oor die oorsaak gee.
Van die toeskouers meen die brandweer was traag om te reageer,
‘n Man wat hom as ‘n veiligheidswag voorgedoen het, is in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n vrou in Pinetown, KwaZulu-Natal, verkrag het, het die polisie Saterdag gesê.
Die vrou was Donderdag besig om inkopies te doen toe die man haar genader en van diefstal beskuldig het. Hy het die vrou beveel om saam met hom na sy kantoor te gaan.
“Terwyl hulle gestap het, het die vrou agterdogtig begin raak omdat hulle by ‘n bos langs die spoorlyn aangekom het.”
Die man het die vrou na bewering met ‘n mes gedreig, waarna hy haar verkrag het.
Toe hulle terugstap na die middestad, het die vrou om hulp geroep en haar vermeende verkragter het gevlug.
Die man is ‘n paar minute later in hegtenis geneem en hy sal Maandag op aanklag van verkragting in die Pinetown-landdroshof verskyn.
Die departement van binnelandse sake sal boerdery gemeenskappe regoor Suid -Afrika besoek om die immigrasiestatus van werkers te inspekteer, het minister Naledi Pandor by ‘n AgriSA-beraad Donderdag gesê.
Die teenwoordigheid en die indiensneming van onwettige en ongedokumenteerde mense hou ‘n ernstige nasionale sekuriteitsrisiko in, het Pandor in Pretoria gesê .
“Almal in Suid-Afrika moet gedokumenteer word, dit is die eerste prys vir ons land. Daar is baie onsekerheid as ons mense dokumenteer,” het sy gesê by ‘n gesamentlike inligtingsessie met AgriSA .
“Ons hoop dat die boeregemeenskap nie sal toelaat dat onwettige immigrante op hul plase is nie. As hulle dit doen, moet bepalings van die Wet op Immigrasie toegepas word.”
Sy het gesê haar departement het nie ‘n beslissende studie oor die omvang van die tendens van die huur van onwettige immigrante gedoen nie.
“Ons hoop dat die samewerking met AgriSA ons sal toelaat om mbv mobiele kantore op verskillende plase ons uitreikprogram te loods.”
Pandor het gesê die samewerking ook sal die vroeë registrasie van kinders wat gebore is van plaaswerkers en plaaseienaars fasiliteer.
Die veldtog is daarop gemik om die geboortes van kinders op die nasionale bevolkingsregister binne 30 dae te registreer.
Deur die samewerking van AgriSA , sal ons toegang hê,” het sy gesê.
” Een van die probleme is dat die mobiele eenhede is nie altyd in staat om toestemming te kry Ons kan kom [ op die plase ] op ‘n dag wanneer daar oes of ‘n ander soort van aktiwiteite . . Nou sal ons saamstem oor die dae betrokke te raak op die registrasie , “het Pandor gesê.
Agri SA se president Johannes Möller, het gesê hy verwelkom die inisiatief van binnelandse sake om plaasbewoners te dokumenteer. – Sapa
Die Minister van Polisie, Nathi Mthethwa, sê die regering sal nie anargie en wetteloosheid tydens dienslewerings-en arbeidsverwante betogings in die myngebiede duld nie.
Mthethwa het buite Burgersfort in Limpopo gepraat waar hy die provinsiale Mynmisdaad-bestrydingsforum bekendgestel het.
Verskeie gewelddadige betogings het vanjaar by myne op Burgersfort, Thabazimbi en Phalaborwa uitgebreek. Die minister sê die betogings behoort binne die raamwerk van die wet te geskied.
Hy sê hulle is daarvan bewus dat daar altyd mense sal wees wat gemeenskappe om die verkeerde redes opsweep en deur middel van dié forum sal die polisie seker maak dat hulle saamwerk om sulke wetteloosheid te keer.
Mthethwa sê gewelddadige openbare betogings vermors polisiehulpbronne wat eerder gebruik behoort te word om geweldsmisdade te bekamp.
Lede van die vakbond, AMCU, het weer by Anglo American Platinum vir werk aangemeld. AMCU het Donderdag amptelik aangekondig dat die staking wat op 27 September begin het, verby is.
Die president van AMCU, Joseph Mathunjwa sê hy sal later volledig terugvoer gee oor waarom die arbeidsoptrede opgeskort is.
Die vakbond het geëis dat die aflegging van meer as 3 300 werkers gestaak word. Die bestuur van Amplats het in hul verduideliking gesê hy sal sowat 1 250 werkers vir die volgende ses maande behou om met herwinningsoperasies in Rustenburg te help.
Die res het vrywillige skeidingspakette aanvaar. Amplats het tydens die staking sowat 44 000 onse platinum verloor. – RSG
Betogers in die Tshepisong-lokasie aan die Wes-Rand het Donderdag ‘n vragmotor aan die brand gesteek.
Motoriste is gevra om van alternatiewe roetes, soos Ontdekkersweg en die N12, te gebruik, het hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie gesê.
Konst. Vincent Mashiteng, polisiewoordvoerder, het gesê inwoners betoog omdat hulle sedert verlede Saterdag sonder elektrisiteit is.
“Niemand is in hegtenis geneem nie en die betogers versper verskeie paaie.”
Prof. Bheki Mamba, uitvoerende dekaan van die wetenskappe aan die Universiteit van Johannesburg, is Donderdag geskors oor bewerings van finansiële ongerymdhede.
“Prof. Mamba is ‘n uitsonderlike akademikus. Om dié rede en gegewe die erns van die bekommernisse, sowel as sy senioriteit, hanteer die universiteit dit met groot dringendheid,” het prof. Ihron Rensburg, die visekanselier, in ‘n verklaring gesê.
Mamba is geskors ná bewerings van finansiële wangedrag en ongerymdhede terwyl hy die hoof van die departement van chemie was.
Prof. Anna Moteetee, die fakulteit se adjunkdekaan, sal waarneem as uitvoerende dekaan.
Noorweë se intelligensie-agentskap, PST, het ‘n ondersoek begin om vas te stel of een van dié land se burgerlikes betrokke was in die bloedbad in die Westgate-winkelsentrum in Nairobi, Kenia, in September.
Al Sjabaab, wat bande met Al-Kaïda het, het verantwoordelikheid aanvaar vir verlede maand se aanval, waarin minstens 67 mense gesterf het.
“Gegrond op die inligting dat ‘n Noorweër dalk betrokke was in die aanval op ‘n winkelsentrum in Kenia drie weke gelede, het PST besluit om ‘n ondersoek te begin,” lui ‘n verklaring van die agentskap. – Sapa/AFP
Malawi se president Joyce Banda het haar kabinet afgedank te midde van bewerings van korrupsie in die regering.
Verskeie amptenare is na bewering gevang met die geld weggesteek onder hul beddens en in hul motors, het die BBC se Raphael Tenthani uit Malawi berig.
Verlede maand is ‘n amptenaar van die ministerie van Finansies Paul Mphwiyo, ‘n anti-korrupsie kampvegter, geskiet en gewond.
Banda sê Mphwiyo is geteiken oor sy pogings om korrupsie te stuit. Hy word in Suid-Afrika vir sy wonde behandel.
Westerse skenkers het druk op Banda uitgeoefen om korrupsie en tenderbedrog aan te pak.
Malawi is ‘n arm Afrikastaat, baie afhanklik van finansiële hulp van die Europese Unie (EU ) en ander buitelandse skenkers. Banda se kantoor het gesê ‘n nuwe kabinet sal aangestel word met verloop van tyd, sonder om uit te brei .
Sy het ‘n krisisvergadering van die Kabinet belê voor haar kantoor aangekondig het dat die regering ontbind is.
Op ‘n nuuskonferensie Woensdag het Banda gesê sy het ‘n spesiale span aangestel, met polisie en regeringsamptenare, om ‘n finansiële oudit te doen van alle regeringsdepartemente.
Ons verslaggewer sê na die skietery op Mphwiyo is die media oorspoel met die berigte van gewetenlose staatsamptenare wat mbv slinkse sakemanne die regering van miljoene dollars stroop deur twyfelagtige kontrakte.
Mphwiyo, die begrotingsdirekteur in die ministerie van Finansies, is geskiet in sy woning in die luukse Area 43, ‘n voorstad van die hoofstad, Lilongwe, op 13 September.
Die skietery was ‘n “aanval wat daarop gemik was om hom en die regering in die stryd teen hoë vlakke van korrupsie en bedrog stil te maak” het Banda se kantoor vroeër verklaar.
Vier verdagtes is in hegtenis geneem oor die skietery.
Sowat 10 junior amptenare is tot dusver in hegtenis geneem vir vermeende korrupsie, het Reuters berig.
Rudolph Viviers, wat ‘n Moslem na ‘n argument oor sy baard doodgeslaan het, is Donderdag tot agt jaar tronkstraf gevonnis, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gesê.
“Viviers is tot 12 jaar tronkstraf, waarvan vier jaar opgeskort is, gevonnis vir strafbare manslag en vier jaar vir aanranding met die doel om ernstig te beseer,” het Phindi Louw, woordvoerder vir die NVG, gesê. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.
Die saak is in die Johannesburgse hooggeregshof se sitting in Palm Ridge aangehoor.
Viviers en Zayne van Tonder het Muhammed Fayaaz Kazi en sy vriend, Anser Mahmood, op 6 Augustus 2012 by ‘n Chicken Licken-tak in Magaliesburg oor hul baarde gespot. Die mans het begin baklei en Kazi is ernstig aangerand. Hy het in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Aanklagte teen Van Tonder is laat vaar.
Louw sê die NVG is tevrede met die uitspraak.
Viviers het ná die vonnisoplegging deur sy regsverteenwoordiger versoek om die families persoonlik om vergifnis te vra. – Sapa