Mandela-familie gee eksklusiewe begrafnisregte aan CNN

Die Mandela-familie twis nou nog verder, dié keer oor die uitsaairegte vir Nelson se begrafnis wat aan CNN verkoop is. Die SAUK is droëbek en gebelg daaroor.

Mandla Mandela beskuldig die res van die familie daarvan dat hulle ook gelieg het oor Nelson Mandela se gesondheid terwyl hulle besig was om met die Amerikaanse uitsaaier CNN te onderhandel.

Volgens ‘n berig in vandag se Sunday Independent is ‘n “sensitiewe vergadering” aan die einde van verlede maand met die SAUK gehou. Tydens daardie vergadering het die Mandelas geëis dat CCN “voorkeurbehandeling” moet kry tydens ‘n eventuale begrafnis vir Nelson Mandela.

Die SAUK het gevoel dié eise was “onvanpas”. ‘n Amptenaar van die SAUK het gesê:

“Ons voel in die gesig gevat. Maar dit lyk asof daar min is wat ons hieraan kan doen aangesien die familie blykbaar hul eie planne het.”

‘n Tweede amptenaar van die SAUK het hom soos volg uitgelaat: “Dit was geen versoek nie. Hulle het dit geëis. Die CNN-ooreenkoms is klaar aangegaan.”

Dis egter nie duidelik wie van die Mandela-familie voordeel uit die CNN-ooreenkoms gaan trek en of enige betalings gemaak is nie.

Van hulle kant af wou CNN ook geen besonderhede bekendmaak nie en hul Johannesburgse verteenwoordiger, Kim Noorgaard, beweer dat sy nie op hoogte is nie. Bestuurders van CNN in Atlanta,VSA, kon nie deur die Sunday-Independent-verslaggewer bereik word nie.

Makaziwe Mandela was ontsteld om te verneem dat die nuus uitgelek het. Sy wou nie verder praat as die naam van die SAUK-amptenaar nie bekendgemaak word nie.

“Sê my dadelik wie dit was,” het sy geëis. “Dit was ‘n vetroulike vergadering en daar behoort nie daaroor gepraat te word nie.”

Indien Mandela te sterwe sou kom, sou die SAUK in elk geval die enigste uitsaaier wees wat ‘n intydse uitsaaidiens gaan aanbied. Daardie toevoer sal dan kosteloos aan die res van die wêreld beskikbaar gestel word, waaronder CNN.

Vertrapping van Afrikaans

Die afgelope week het die vertrapping van Afrikaans verdere momentum gekry toe Michael le Cordeur, die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), standpunt teen Standaardafrikaans ingeneem het. Hy gee Standaardafrikaans die skuld vir die swak leesprestasie van bruin skoliere. “Taal is kritiek [hy bedoel: van deurslaggewende belang] vir basiese opvoeding. Hulle word benadeel as hulle nie getoets word in die taal [Kaaps] waarin hulle aanbid, sing en emosioneel leef nie.” Dit is om etniese en politieke redes dat Le Cordeur emosionele snare soos benadeling en aanbidding aanroer. Hy verduidelik nie waarom bruin skoolkinders naas swak leesprestasie ook in bv wiskunde swak vaar nie. Le Cordeur maak van Standaardafrikaans ‘n slaansak.

“Volgens Le Cordeur moet kinders op skool toegelaat word om hulself uit te druk in die taal wat hulle praat.” Maar is skoolonderrig nie juis daar om, onder andere, reg te stel wat kinders verkeerd doen nie? As Le Cordeur, ‘n opvoedkundige, konsekwent wil wees, moet hy ook pleit dat skoliere voort moet kan gaan met die geradbraakte Engels wat hulle praat. Klaarblyklik heg die huidige voorsitter van die ATR meer waarde aan korrekte Engels as korrekte (dus Standaard-) Afrikaans. “Hy het gesê Kaaps moet erkenning kry as ‘n variëteit van Afrikaans. Volgens hom moet daar meer debatte gevoer word om dié taal te bevorder” (Die Burger, 4 deser, p 8).

Kaaps is ‘n mengeltaal bestaande uit Afrikaanse, Engelse en eiesoortige woorde, uitdrukkings en sinskonstruksies. Kaaps kan nie sonder kennis van sowel Afrikaans as Engels verstaan word nie. In hierdie sin is Kaaps ‘n variëteit van sowel Afrikaans as Engels. Die bestaan van hierdie mengeltaal word nie ontken nie. Wat wel bevraagteken moet word, is die wysheid van Le Cordeur se oproep dat Kaaps as ‘n taal uit eie reg erken moet word, bv as ‘n twaalfde amptelike taal. Hy verlang egter nie net erkenning vir die bestaan van hierdie taalverskynsel nie, maar ook dat hierdie mengeltaal bevorder moet word.

Moet daar nie veel eerder energie aan die bevordering van Standaardafrikaans bestee word nie? Taalstandaardisering word dwarsoor die wêreld as wenslik beskou. Dit druis in teen Le Cordeur se sentimentele pleidooi vir ‘n nistaal soos Kaaps. Die kern van my beswaar is dat die koestering van Kaaps die oordondering van alle variëteite van Afrikaans deur Engels bevorder. Daar is geen moontlikheid dat Kaaps die voortbestaan van respektabele (of soos ons voorheen toegelaat is om te sê: algemeen-beskaafde) Afrikaans kan bevorder nie. Die bestaan van talle variëteite van Afrikaans kan maar erken en as spreektale geduld en selfs aanvaar word. Maar slegs in die vorm van die grootste moontlike eenheid is ‘n taal kragtig en het dit op die langtermyn ‘n toekoms. In die konteks van Afrikaans is Standaardafrikaans daardie verlangde eenheid.

Standaardafrikaans moet daarom as sowel spreek- as skryftaal bevorder word. Dit is voor die hand liggend dat dit is wat die ATR, insluitende sy voorsitter, behoort te doen. Die probleem is dat ‘n tradisie in die ATR geskep is waarvolgens dit eerder ‘n versoeningsraad, dus ‘n politieke liggaam, en ‘n meertaligheidsraad, as ‘n taalraad ten bate van Afrikaans is. Dit is die nalatenskap van die vorige ATR-voorsitter, Wannie Carstens (Praag 17 Maart). Deur te pleit vir die bevordering van ‘n mengeltaal ten koste van ‘n blink toekoms vir respektabele (dus Standaard-) Afrikaans, bevestig Le Cordeur dat die ATR nie daarop ingestel is om ‘n doeltreffende Afrikaanse Taalraad te wees nie.

As die ATR hom vorentoe wil laat geld as ‘n pleitsbesorger vir Afrikaans sal die meerderheid raadslede die moed van hulle oortuiging moet hê om ondubbelsinnig kant teen Kaaps en vir Standaardafrikaans te kies. Eers dan sal die ATR kan begin om leiding teen die huidige mode van taalverbastering (die gebruik van onnodige Engelse woorde in Afrikaanse spreek- en skryftaal) te gee. Die talle Afrikaanse en Afrikaner-organisasies wat tot dusver die ATR gesteun het, behoort in hierdie verband druk uit te oefen en, indien nodig, hulle steun te onttrek en dan die ATR met ‘n doeltreffende liggaam te vervang.

Brand Rapport! Die Boikot-Naspersbeweging kry momentum

Presies ‘n week gelede het ‘n Boikot-Naspers-groep spontaan op Facebook ontstaan wat binne enkele dae tot meer as 7000 lede toegeneem het. Dit sê iets oor die invloed van sosiale media en die internet dat mense durf om die magtige Naspers-mediagroep in Kaapstad só trompop te wil loop!

Hoewel daar ook goeie joernaliste by Naspersmedia soos Rapport, Beeld, Die Volksblad en KykNET is, kan ‘n mens nie anders as om dié boikot te ondersteun nie. Vele mense blameer vandag die haglike toestand wat in ons land heers op FW de Klerk se verraad, maar Naspers was ten minste ewe skuldig. Selfs toe dit vroeg-vroeg in 2000 duidelik geraak het dat ons land op die verkeerde pad was, het Naspers daarin volhard om naakte ANC-propaganda te publiseer met siek linkses soos Max du Preez op die voorpunt.

Die afgelope vyftien jaar of meer was daar ‘n sterk Afrikanerbeweging van besorgde mense wat ‘n alternatief vir die huidige dwingelandy wou skep. Vanweë ‘n gebrek aan enige media-ondersteuning, verkeer hierdie beweging egter nog in sy kinderskoene.

Vyftien verlore jare… Tienduisende van ons mense is vermoor, nog tienduisende krepeer vanweë regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, anti-wit rassisme, noem dit wat jy wil. En Naspers, wat deur ‘n kliek ou Afrikanerkruipers – Kruiperkaners! – uit die vorige bestel oorgeneem is, praat dit alles goed. Dis net rugby, krieket, seks, skinder en Madiba, voor en agter.

In die proses het mnr. Koos Bekker, die uitvoerende hoof van Naspers, skatryk geword. Hy het ook ‘n paar skyfies op ‘n gelukkige roulettenommer in Hong Kong verwed, in die vorm van die Chinese internetmaatskappy Tencent en daarmee Naspers se aandeelprys en sy eie rykdom in die stratosfeer in geloods.

Die ironie is dít: terwyl Naspers floreer, is die Afrikanervolk besig om te krepeer. Ons word verdruk, vermoor, verguis. Vanuit Groot Brittanje en Amerika word ons nou in ons magteloosheid éérs met propaganda geslaan. Dis asof die haatveldtog wat daar in die tagtigerjare deur kommuniste soos Joe Slovo en Ronnie Kasrils vanuit die buiteland teen ons gevoer is tans eers sy volle sterkte bereik.

Die Afrikaner is ‘n skurk! Laat hom verdwyn! Kill a Boer, kill a farmer! gil hulle aanmekaar. In die huidige peiling op die Praagwebwerf stem 93% van mense dat daar tans ‘n blanke volksmoord in ons land plaasvind.

Wat doen Naspers – die eertydse “Nasionale Pers” wat doer in 1915 gestig is om die Afrikanersaak in die wêreld te stel – hieromtrent? Ek sou kon antwoord: niks. Of: ‘n ronde nul. As Naspers nog niks gedoen of gesê het nie, sou ‘n mens dalk vir Koos Bekker en sy brigade mal liberale kon vergewe. Inteendeel, Naspers ignoreer nie net die haatveldtog teen Afrikaners nie: hy neem lustig daaraan deel!

Hoe het dit gekom dat ‘n persgroep wat gestig is om die Afrikanersaak te bevorder uiteindelik reëlreg die teenoorgestelde doen en Afrikanerondergang, -kultuurmoord (etnoside) en selfs -volksmoord (genoside) bepleit? Daaroor gaan historici nog boeke vol skryf.

Koos Bekker se Naspers het ‘n onding geword, ‘n bedreiging. Noem dit die Afrikaner se eie Frankenstein. Ons het gedink ons skep ‘n paar koerante soos Die Burger of Beeld of tydskrifte soos Die Huisgenoot of Sarie en toe kom daar ‘n grommende monster uit die laboratorium wat hand aan hand met die plaasmoordenaars woeker om ons te laat verdwyn. Een stel psigopate het ‘n broederskap met ander gevind: dié met penne en kameras werk saam met diegene wat met pangas, AK-47’s en tuinvurke gewapen is.

Enigeen wat nog daaraan twyfel of ons die totale Naspersgroep – elke koerant, elke tydskrif, DSTV, Boxoffice, de lot – behoort te boikot, hoef net vandag se rubriek deur die einste Max du Preez in Rapport te lees. Dit is suiwer ANC-propaganda. Nie die propaganda van die huidige Zoeloe-oorheersde ANC nie, maar die ANC van Slovo en sy Mandela-marionet. Zuma het ten minste die Afrikaner se bestaan as inheemse, blanke volk erken. Slovo en sy mede-marxiste wou hê dat ons van die aardbol verdwyn.

Net gister praat ek met ‘n bekende Britse joernalis by ‘n meer konserwatiewe koerant wat in die land is om Mandela se moontlik naderende einde te dek. Hy bekommer hom ook oor die toekoms van ons land, oor ‘n blanke volksmoord waaroor almal swyg.

Maar wat doen Max du Preez en Rapport? Volgens hulle is die gruweldade wat daar teen ons gepleeg word, die moorde op oumense, kinders, kleintjies soos Willemientjie Potgieter slegs ons “vervolgingswaan”. Die immer dom, dogmatiese Du Preez skryf in sy inleidende paragraaf:

“Die siening dat Nelson Mandela anders as ander swart mense is, sit agter die vervolgingswaan wat so baie wit mense laat glo het Nelson Mandela se dood gaan swart Suid-Afrikaners skielik in rasmoordenaars laat verander.”

Kennelik ontken Du Preez dat daar hoegenaamd rasmoordenaars in Suid-Afrika bestaan. Ons moet seker net op ons knieë gaan en die Heilige Mandela dank dat daar nie nog meer van ons en vinniger vermoor word nie.

Hy praat ook van “ons Suid-Afrikaners”. Dis nog ‘n Naspersgunsteling. Die Suid-Afrikanisme. Wie en wat is ‘n Suid-Afrikaner? In elk geval was Mandela net ‘n marionet vir Joe Slovo en Ronnie Kasrils wat hul terreurveldtogte vanuit Londen en Odessa, Sowjet-Unie (Ronnie het onlangs sy “Odessa Notebooks” aan Wits geskenk) beplan het.

Mandela se reklame is deur die Anglikaanse Kerk se Trevor Huddleston (die pedofiele priester) gehanteer wat uiteindelik Britse popsterre oortuig het om “Free Mandela” te begin sing. Soos ek dit in ‘n onlangse Engelse rubriek gestel het: “He was just the extra on the stage, the figurehead, the aged male model in his trademark gaudy shirts.”

Om lukraak figure uit die geskiedenis saam te flans en van hulle “Suid-Afrikaners” te maak – asof Jan Smuts en Oliver Tambo hoegenaamd iets in gemeen gehad het – is net so goed jy sê Napoleon en Lady Di was albei “Europese leiers” en daarom is daar ‘n “Europese volk” en moet Engeland en Frankryk ophou bestaan!

Afrikaans en die Afrikaner sal hierdie misdadige, korrupte en gewelddadige bestel oorleef. Max du Preez en wie ook al dit goed dink om hom in Rapport te laat skryf, is horende doof en siende blind. Dalk moet iemand egter met ‘n megafoon in sy ore gaan skree: “Julle ‘Suid-Afrikaners’ – ook dié met gekoopte ID’s wat net oor die grens loop – steel te veel, moor te veel, aanvaar te veel omkoopgeld en is te dom, vet, lelik en vermetel om ooit op enige volkskap aanspraak te maak.”

Die tyd het gekom om Naspers, Max du Preez en die Suid-Afrika wat hulle fanaties propageer, af te skryf.

Die rebelse Afrikaanse rockgroep FPK sing in een van hul liedjies onder andere oor die Ossewa-Brandwag, met die refrein: “Brand Suid-Afrika!”

Eintlik wil hulle sê: Suid-Afrika brand reeds, daarom kan ons dit maar net sowel afbrand en van nuuts af aan begin. Dit geld ook die “Suid-Afrikaanse” persgroep van Koos Bekker wat sy ANC-ideologie en sy afkeer van die Afrikaner elke dag in ons kele afdruk.

Tydens my gesprek met die Britse joernalis gister, vertel ek hom dat Rapport my destyds in Augustus 2003 summier as rubriekskrywer afgedank het omdat ek ‘n provokatiewe rubriek oor swart-op-wit geweld, veral op babas, geskryf het. “Maar is die rubriek in die koerant gepubliseer?” vra die Britse besoeker. “Nee,” antwoord ek, “ek is afgedank nog voor dit gepubliseer is en is agterna nooit weer toegelaat om ‘n rubriek in Rapport te skryf nie.”

Hy kon net sy kop in ongeloof skud. Selfs in polities korrekte Brittanje waar die BCC en die linksliberale Guardian die septer swaai, sou so iets nooit gebeur nie. Kortom, Rapport, Naspers, Koos Bekker en die hele kohort Kruiperkaners, het geen benul van spraakvryheid nie. Hulle is erger as die sensors van weleer.

Want destyds het sensuur oor sterretjies op vroueborste in die Scope gegaan. Vandag gaan sensuur oor menselewens, oor moorde op kinders, oumense en ander weerloses.

En is die sensor wat die nuus en die debat daaroor onderdruk, nie ook ewe skuldig as die dader nie? Naspers vertel ons al twintig jaar lank van ons apartheidskuld. Maar wat van sy volksmoordskuld wat van dag tot dag met elke nuwe moord of gruweldaad ophoop?

Medepligtig aan Afrikanervolksmoord. Moontlik sal dit eendag op Naspers se grafsteen geskrywe staan.

Naspers se onetiese gedrag eindig egter nie by sy medepligtigheid aan die huidige volksmoord nie. Oor die afgelope tien jaar het van hulle joernaliste aanhoudend lasterlike inligting oor my versprei en my as ‘n verregse rassis probeer etiketteer. Nietemin het ek in die howe en by die Persombudsman teruggeveg. In een van sy uitsprake het die Adjunkpersombudsman, dr. Johan Retief, bevind dat Naspers se onbillike, lasterlike beriggewing oor my “kumulatiewe skade aanrig”.

Tydens die lastersaak tussen my en DIe Burger se adjunkredakteur, Leopold Scholtz, het hy so ver gegaan om onder eed te lieg dat ek kwansuis rassistiese aanmerkings teenoor ‘n medepassasier sou gemaak het.

Almal sien egter nie kans om terug te baklei nie. Vele mense aanvaar gedweë dié onetiese gedrag van die Nasperskoerante, asook hul ootreding van sowel die lasterwette as die Perskode. Met hulle mediamonopolie in Afrikaans, voer hulle ‘n skrikbewind onder Afrikaners. Elke sanger, skrywer, akteur en akademikus vrees Naspers wat hulle loopbane in ‘n oogwink kan vernietig, dus gaan niemand hulle teë nie.

Ons by PRAAG het egter ‘n alternatief geskep met twee webblaaie, een in Afrikaans en een in Engels wat met ‘n klein bietjie meer steun in die vorm van lesers en ‘n paar debietorders tot ‘n magtige wapen teen Naspers kan groei. Dit gebeur baie dat ons vars nuusartikels op Praag.org plaas nog voor dit op News24 verskyn; nietemin lees almal steeds News24. Waarom? Ons het fantastiese rubriekskrywers op praag.co.za in Afrikaans soos Manfred Delport, Gustav Venter, Leon Lemmer en ander wat beter as enigiemand op Naspers se webwerwe skryf. Bowenal is ons pro-Afrikaner, anders as Naspers wat anti-Afrikaner is. Uiteindelik wil Naspers sien dat ons volk verdwyn en dat ons ‘n geradbraakte Engfrikaans begin praat soos hulle soms ook op KykNET bevorder.

Die vraag is: is ons regtig daartoe verbind om ons rug op Naspers te keer soos wat Naspers reeds jare gelede sy rug op ons volk gekeer het? Naspers se kommentators verlekker hulle in die magteloosheid en lyding van ons mense. Hulle werk volgens die beginsel wat die Engelse koerante destyds gebruik het, van: “Hoe meer jy die Afrikaner beledig, hoe meer koop hy jou koerant om dit te sien en kwaad te word.”

Ek het geruime tyds reeds geen DSTV meer nie. Vir dieselfde geld per maand kan mens ‘n onbeperkte internetverbinding betaal en gratis soveel flieks en YouTube-video’s kyk as wat jy wil. Jy kan net nie rugby kyk nie. Ons pa’s en oupas het egter die rugby oor die radio net so geniet en soms word dit ook op SABC uitgesaai. Gaan ons aanhou om ons siele vir rugby te verkoop en Koos Bekker nog ryker te maak as wat hy reeds is?

Ons kan die ANC nie uitstem nie, maar ons kan Naspers uit ons huise uitkry. Dit sal die eerste stap na vryheid wees, want as ons nie meer vir hul propaganda betaal nie, sal hulle dit ook nie meer versprei nie.

Dalk moet FPK nog ‘n strofe by hul liedjie voeg: “Brand Rapport!”

Te veel kiesers en te min mense in Zim

“Die Zimbabwiese kiesersrol wat verlede maand uitgereik is, laat ernstige vrae ontstaan oor die moontlikheid of dié land se algemene verkiesing einde vandeesmaand enigsins vry en regverdig kan wees,” sê dr. Corné Mulder, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor internasionale betrekkinge.

Volgens die kiesersrol is die aantal geregistreerde kiesers in Zimbabwe veel meer as die bevolking in 78 van sy 210 kiesafdelings, asook in alle bevolkingsgroepe van dertig jaar en ouer gemeet aan die laaste nasionale sensus wat in 2012 in dié land gedoen is.

Dit selfs nadat 300 000 afgestorwe persone van die kiesersrol verwyder is.

Volgens dr. Mulder het ‘n onafhanklike navorsingsverslag van die Research and Advocacy Unit (RAU) wat in die media gepubliseer is, hierdie skoksyfers aan die lig gebring. Die RAU is ‘n nie-regeringsorganisasie wat in Zimbabwe gesetel is.

Daarvolgens het Zimbabwe, met sy totale bevolking van 12,754 miljoen (2012-sensus) meer as 116 000 kiesers van honderd jaar en ouer op die kiesersrol in vergelyking met Suid-Afrika (met meer as 50 miljoen inwoners) se getal van 255 000 inwoners bo die ouderdom van 85.

Die grootste onreëlmatighede kom voor in die ouderdomsgroepe 80+ waar daar 219% meer mense op die kiesersrol is as wat sensus-statistiek aandui, en in die 40 – 44-groep waar daar 162% meer mense op die kiesersrol is.

Waarnemers meen dat die kiesersrol met tot soveel as 1,2 miljoen name gelaai is. Volgens dr. Mulder maak dit die deur oop vir grootskeepse bedrog en stemknoeiery wat bedenkinge laat ontstaan of die verkiesing vry en regverdig kan wees.

“Die VF Plus wil hom om hierdie redes opnuut uitspreek teen die lening van meer as R900 miljoen van die Suid-Afrikaanse regering aan Zimbabwe vir die verkiesing.

“Daar is steeds geen voorwaardes aan die lening gekoppel nie en ons eis dat die regering sê wat die motivering, terugbetalingsvoorwaardes en waarborge is wat aan die lening gekoppel is,” sê dr. Mulder.

Mulder het egter nie aangedui hoeveel Zimbawiërs hulself tans in Suid-Afrika bevind en of dit ingereken is in die opname nie.

Minister onbewus dat Aarto gekraak is

Die minister van vervoer, mnr. Ben Martins, het ‘n skok-erkenning aan die Vryheidsfront Plus gedoen dat hy tot nou toe nie bewus was daarvan dat die webwerf van Aarto (die Wet op die Administratiewe Beregting van Verkeersoortredings), reeds in Aprilmaand vanjaar gekraak is nie.

Die erkenning het gevolg op geskrewe vrae van adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, oor die aangeleentheid waaroor wyd in die media berig is.

Die minister het ook die vraag ontduik oor presies hoeveel die oprigting van die webwerf gekos het, deur slegs te antwoord dat die totale koste van die Aarto-projek, wat die ontwikkeling van die webwerf insluit, R1,949,229-00 beloop het.

Hy het wel bevestig dat die inhoud-bestuursplatform Joomla! wat gratis van die internet afgelaai kan word, gebruik is om die webwerf te skep. Joomla! is soortgelyk aan WordPress.

Volgens adv. Alberts is dit onaanvaarbaar dat die minister nie van die ernstige voorval bewus kon gewees het nie, veral aangesien dit ‘n hoë-profiel webwerf is en die media wyd daaroor berig het.

“Dit is duidelik dat voldoende veiligheidsmaatreëls nie in plek was om die webwerf te beveilig nie. Enige stelsel is net so veilig as die praktyke wat gevolg word om dit te beskerm, en in hierdie geval was dit duidelik nie voldoende nie,” sê adv. Alberts.

Op die vraag of die oprigting van die webwerf deur die tenderproses gedoen is, wanneer dit gedoen is, wie die suksesvolle bieër was asook die waarde van die tender, is geantwoord dat dit wel per tender gedoen is.

Die tender is in April en Mei 2007 uitgereik vir die inwerkingstelling van Aarto, wat die ontwikkeling van die webwerf ingesluit het. Die tender is toegeken aan die maatskappy Magna FS.

Die antwoord lui voorts dat Joomla! gebruik is as ‘n ‘tydelike maatreël’ aangesien die Padverkeersbestuursorganisasie (RTMC) nie in daardie stadium die rekenaar-infrastruktuur gehad het om die Aarto-webwerf te huisves nie.

Die maatskappy HETZNER in Kaapstad is as bediener gebruik aangesien dit belangrik was om ‘n oop platform te gebruik wat enige IT-infrastruktuur kon akkommodeer.

Op die vraag oor of die minister ingelig is oor die voorval en of veiligheidsmaatreëls getref gaan word om te verseker dat dit nie weer gebeur nie en wat dit behels, is geantwoord dat die plan was om veranderings en verbeterings aan die webwerf aan te bring sodra die RTMC sy eie infrastruktuur hiervoor ontwikkel het.

Die veranderings sou gedoen word om versoenbaar te wees met die platforms van die RTMC se IT-stelsels, sy infrastruktuur en programme.

My lewe in Rusland: ‘n onderhoud met Fransi Phillips

 

Die Afrikaanse skryfster Fransi Phllips vertel van haar lewe in Rusland en hoe sy daar beland het op praagTV, ons YouTube-kanaal.

Die onderhoud is op 3 Julie 2013 in die Pretoriase kunsmuseum gevoer. Die vraesteller is Dan Roodt.

Kern van Mandela-twis is Xhosa-matriargie

Die twis tussen die Mandelas het verhewig met Nelson Mandela se kleinseun Mandla wat Donderdag daarop aandring het dat Mandela hom gevra het om in Mvezo, langs sy ouers, begrawe te word.

Madiba se graf het oënskynlik die familietwis tussen Mandla en sy broers en tantes veroorsaak. Makaziwe en 15 ander het hulself tot die hooggeregshof gewend om Mandla te “dwing” om die bejaarde Xhosa se begraafplaas weg van Qunu, na Mvezo te skuif.

Mandla – sy volledige titel en naam is Nkosi Zwelivelile Mandla Mandela – het Donderdag die gesin se vuil wasgoed in die openbaar gewas. Die werklike kern van die geskil is die Xhosas se matriargale stelsel wat teen ander stamme se patriargale stelsel afgespeel word.

“Die aansoekers, as bewaarders van die laaste testament van Nelson Mandela se plig is om te verseker dat sy laaste wense uitgevoer word in die geval van sy dood,” sê Makaziwe Mandela.

Oor Madiba se laaste wens, het Mandla egter gesê: “Dit bly ‘n geheim en lê by die mense wat hy aangestel het om dit te administreer.”

Hy het gesê die sukkelende Mandela sou ook teleurgesteld wees met die onlangse gebeure in die openbaar en in die hof. Hy het ook die wettigheid van ‘n paar van die 15 familielede wat hom na die hof gesleep het, bevraagteken en sê dat hulle nie kan aanspraak maak om deel van die Mandela-familie te wees nie.

Hy het sy tante Makaziwe Mandela, wat die hoofaansoeker in die hofsaak was, beskuldig daarvan dat sy probeer om haar hande te kry op die verswakte ou staatshoof se geld deur George Bizos, Tokyo Sexwale en Bally Chuene as trustees van Madiba se trusts afgedank te kry.

Tydens Donderdag se inligtingsessie het Mandla gefokus hoofsaaklik op Makaziwe en sy twee broers Mbuso en Ndaba.

Bygestaan deur sy ma Nolusapho, het die jong hoof gesê hy was die teiken van “aanvalle in alle gedaantes vir ‘n paar minute van roem en media-aandag op my onkoste” oor die afgelope paar dae.

“In die eerste plek wil ek my teleurstelling uitspreek oor die besluit wat geneem is by die Mthatha Hooggeregshof Donderdag,” het hy gesê.

Hy het gesê Makaziwe was getroud met Camagu Balfour en het twee kinders, Tukwini en Dumani, voor sy geskei en getroud is met Isaac Amuah, met wie sy ‘n seun met die naam Kweku Amuah het.

“Sy is in werklikheid ‘n mev Amuah en behoort te fokus op die Amuah-familieprobleme,” het Mandla gesê, in ‘n duidelike verwysing na die Xhosa-tradisie van matriargie.

Sy broer Ndaba is ook nie gespaar nie. “Soos met Ndaba. Ek is baie teleurgesteld. Hy beweer in die media dat ek gebore is buite die huwelik. Ek wens hy wil dit sê dat in die teenwoordigheid van my pa. Maar hy weet baie goed dat my pa ‘n getroude vrou swanger gemaak het… hy is ‘n gevolg daarvan.

“So, hy moet baie versigtig wees wanneer hy beledigings rondgooi, veral teen my ma wat steeds langs my sit, my koester en verseker dat ek in staat is om wakker te word elke dag om my gemeenskap te dien,” het Mandla gesê.

Sy ander broer Mbuso het hy ook bygedam.

“Vir twee jaar het ek ringkoppe gestuur om ‘n beroep veral op Ndaba te doen om te kom en hierdie sake tussen my en Mbuso te versoen,” het Mandla gesê.

Hy het bygevoeg dat sy oupa in ‘n stabiele toestand is.

In hofstukke, het Makaziwe en ander beweer dat Mandela in ‘n vegetatiewe toestand is.

Nóg ‘n petrolskok kom!

Business Report berig dat nog ‘n petrolskok op Suid-Afrikaners wag.

‘n Voorlopige som deur die departement van energie, wys dat petrol tot 61c per liter meer kan kos van Augustus af.

Dit is op internasionale oliepryse gesbaseer, sowel as die verhandelingskoers van die rand wat tussen 28 Junie tot 2 Julie bereken is.

Motoriste betaal van Woensdag af 84c meer vir petrol.

Die prys van 95 oktaan-petrol in Gauteng is nou ‘n rekordprys van R13,23 per liter, en by die kus R12,86 per liter.

Plaaslike petrolpryse is geskoei op die verhandelingskoers van die rand, sowel as internasionale oliepryse in die tydperk vanaf 28 Junie tot 1 Augustus.

Mandela se toestand verbeter effens

Nelson Mandela se vrou, Graca Machel, het Donderdag gesê dié voormalige staatshoof ervaar ongemak, maar nie pyn nie.

“Ons is nou al sowat 25 dae in die hospitaal,” het Machel gesê. Die kliniek het ‘n kamer tot Machel se beskikking gestel waar sy inwoon om die media-aandag buite die gebou te kan vermy.

Machel het ook haar dank betuig oor die boodskappe van beterskap van regoor die wêreld.

“Madiba was soms ongemaklik, maar hy het nog nooit pyn ervaar nie.”

Die voormalige president, wat later vandeesmaand sy 95ste verjaardag vier, is op 8 Junie vir ‘n longinfeksie in die hospitaal opgeneem. Hy is voorheen ook weens die infeksie gehospitiliseer.

Hy is sedertdien aan lewensondersteunende masjiene gekoppel, maar sy toestand het glo die afgelope week verbeter.

“Dankie, dankie, dankie,” het Machel gesê.

“Die uitstorting en verootmoedigende dade van liefde, van omgee, van ondersteuning, van hoop word elke liewe dag in ons harte opgeneem.”

Te midde van ‘n openbare familietwis in Mandela-geledere, wat bewerings van egbreuk en ‘n geskil oor grafte insluit, het Machel gesê Mandela se voorbeeld kan dien as ‘n simbool vir eenheid in Suid-Afrika.

Medici sê Mandela nie in ‘vegetatiewe’ toestand nie

Medici wat Nelson Mandela behandel, het ontken dat hy in ‘n vegetatiewe toestand is, het die presidensie Donderdag gesê.

Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het Donderdagmiddag in ‘n verklaring gesê pres. Jacob Zuma het Mandela in die hospitaal besoek en dat die voormalige staatshoof steeds in ‘n kritieke, maar stabiele toestand is.

Die presidensie het die verklaring uitgereik nadat daar in hofdokumente aangevoer is dat Mandela in ‘n “permanente vegetatiewe toestand is” en dat sy familie aangeraai is om die masjiene wat hom aan die lewe hou, af te skakel.

Sapa het ‘n sertifikaat van dringendheid bekom wat adv. David Smith, regsverteenwoordiger van 16 Mandela-familie­lede, in hul saak teen Madiba se kleinseun Mandla ingedien het.

Smith het geskryf: “Ek is deur my opdraggewende prokureur ingelig dat mnr. Nelson Mandela se gesondheid erg verswak het en dat die Mandela-familie deur die mediese praktisyns geadviseer is dat sy lewensondersteuningsapparaat afgeskakel behoort te word.

“Eerder as om sy lyding uit te rek, ondersoek die Mandela-familie dié opsie as ‘n baie werklike waarskynlikheid.”

Smith het Madiba se gesondheid as “in lewensgevaar” beskryf.

“Die verwagting van sy naderende dood is op werklike en substansiële gronde gegrond.”

‘n Latere weergawe van die dokument wat by die hof ingedien is, het paragrawe weggelaat wat verband hou met Mandela se “vegatiewe toestand” en dié van dokters se raad om die masjiene af te skakel.