Nelson Mandela se vrou, Graca Machel, het Donderdag gesê dié voormalige staatshoof ervaar ongemak, maar nie pyn nie.
“Ons is nou al sowat 25 dae in die hospitaal,” het Machel gesê. Die kliniek het ‘n kamer tot Machel se beskikking gestel waar sy inwoon om die media-aandag buite die gebou te kan vermy.
Machel het ook haar dank betuig oor die boodskappe van beterskap van regoor die wêreld.
“Madiba was soms ongemaklik, maar hy het nog nooit pyn ervaar nie.”
Die voormalige president, wat later vandeesmaand sy 95ste verjaardag vier, is op 8 Junie vir ‘n longinfeksie in die hospitaal opgeneem. Hy is voorheen ook weens die infeksie gehospitiliseer.
Hy is sedertdien aan lewensondersteunende masjiene gekoppel, maar sy toestand het glo die afgelope week verbeter.
“Dankie, dankie, dankie,” het Machel gesê.
“Die uitstorting en verootmoedigende dade van liefde, van omgee, van ondersteuning, van hoop word elke liewe dag in ons harte opgeneem.”
Te midde van ‘n openbare familietwis in Mandela-geledere, wat bewerings van egbreuk en ‘n geskil oor grafte insluit, het Machel gesê Mandela se voorbeeld kan dien as ‘n simbool vir eenheid in Suid-Afrika.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.