Die minister van vervoer, mnr. Ben Martins, het ‘n skok-erkenning aan die Vryheidsfront Plus gedoen dat hy tot nou toe nie bewus was daarvan dat die webwerf van Aarto (die Wet op die Administratiewe Beregting van Verkeersoortredings), reeds in Aprilmaand vanjaar gekraak is nie.
Die erkenning het gevolg op geskrewe vrae van adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, oor die aangeleentheid waaroor wyd in die media berig is.
Die minister het ook die vraag ontduik oor presies hoeveel die oprigting van die webwerf gekos het, deur slegs te antwoord dat die totale koste van die Aarto-projek, wat die ontwikkeling van die webwerf insluit, R1,949,229-00 beloop het.
Hy het wel bevestig dat die inhoud-bestuursplatform Joomla! wat gratis van die internet afgelaai kan word, gebruik is om die webwerf te skep. Joomla! is soortgelyk aan WordPress.
Volgens adv. Alberts is dit onaanvaarbaar dat die minister nie van die ernstige voorval bewus kon gewees het nie, veral aangesien dit ‘n hoë-profiel webwerf is en die media wyd daaroor berig het.
“Dit is duidelik dat voldoende veiligheidsmaatreëls nie in plek was om die webwerf te beveilig nie. Enige stelsel is net so veilig as die praktyke wat gevolg word om dit te beskerm, en in hierdie geval was dit duidelik nie voldoende nie,” sê adv. Alberts.
Op die vraag of die oprigting van die webwerf deur die tenderproses gedoen is, wanneer dit gedoen is, wie die suksesvolle bieër was asook die waarde van die tender, is geantwoord dat dit wel per tender gedoen is.
Die tender is in April en Mei 2007 uitgereik vir die inwerkingstelling van Aarto, wat die ontwikkeling van die webwerf ingesluit het. Die tender is toegeken aan die maatskappy Magna FS.
Die antwoord lui voorts dat Joomla! gebruik is as ‘n ‘tydelike maatreël’ aangesien die Padverkeersbestuursorganisasie (RTMC) nie in daardie stadium die rekenaar-infrastruktuur gehad het om die Aarto-webwerf te huisves nie.
Die maatskappy HETZNER in Kaapstad is as bediener gebruik aangesien dit belangrik was om ‘n oop platform te gebruik wat enige IT-infrastruktuur kon akkommodeer.
Op die vraag oor of die minister ingelig is oor die voorval en of veiligheidsmaatreëls getref gaan word om te verseker dat dit nie weer gebeur nie en wat dit behels, is geantwoord dat die plan was om veranderings en verbeterings aan die webwerf aan te bring sodra die RTMC sy eie infrastruktuur hiervoor ontwikkel het.
Die veranderings sou gedoen word om versoenbaar te wees met die platforms van die RTMC se IT-stelsels, sy infrastruktuur en programme.
