Ek het vandag die nuus oor die buitelandse troepe wat rondom Zimbabwe begin opbou met groot belangstelling dopgehou. Na gesprekke tussen my en ’n kennis waar vrae oor en weer gevra en geantwoord is, kan ek seker sê dat die volgende slotsom bereik is.
Die magte wat rondom Zimbabwe opbou, is vir seker tweeledig. Die Sjinese aan die een kant is daar om Robert Mugabe se korrupte regime te help behou (teen ’n prys wat die Zimbabwiese president nog nie van bewus is nie, totale slawerny in ’n Sjinees oorheersde land) en die Australiërs en Britte is daar om dit teen te staan, hoewel ek wonder presies hoe hulle dit sal wil doen.

Die nuus dat Sjinese, Britse en Australiese troepe rondom ons land opgemerk is, is sekerlik geen verrassing nie. Die graad van onstabiliteit wat daar tans in Zimbabwe heers het lankal reeds ’n toestand geskep wat tot oorlog kan lei.