Die Verenigde State word nog deur baie Afrikaners as die groot pionier op die gebied van rasse-integrasie gesien.
Swartmense is al vir 'n honderd-en-veertig jaar burgers van die land en vir die afgelope veertig jaar het die Amerikaners met al hulle ontsaglike ekonomiese mag, deur ritse en ritse wetgewings en met die volle gewig van die regering en die volgehoue maniese ondersteuning van die media, met nimmerkwynende ywer daarvan werk gemaak om swartes in die breër Amerikaanse samelewing in te trek.
Te oordeel aan die beeld wat hulle vir ons wys, twyfel min mense aan die vlak van hulle sukses. In rolprente en televisiereekse is die swartes immers so pittig soos Will Smith, so lieftallig soos Bill Cosby, so lewenskragtig soos Denzel Washington en so vasberade soos Tiger Woods. Geen TV-reeks is sonder 'n soliede swart burgemeester, polisiehoof of hospitaalsuperintendent nie en daar is stapels swart sjirurge, navorsingsdeskundiges, forensiese ghoeroes, ruimtevaarders… Die gesinne is sulke warm klein troppies, vol snoesige gevoelens en goeie, roesvrye familiewaardes.
Dis maklik om daaruit af te lei dat die Amerikaanse eksperiment 'n weergalose sukses was. Maar hoe suksesvol is multi-kulturalisme in Amerika werklik?

Gedurende die onlangse Keniaanse verkiesings is daar 600 mense dood. In Afrika waar miljoene mense soms omkom in etniese oorloë, volksmoord of hongersnood, is dit nie ʼn getal wat vir ʼn lang tyd onthou gaan word nie. Nogtans bevat die Keniaanse verkiesings wat met groot fanfare aangekondig is en ook deur waarnemers van die EU bygewoon is vir ons vele lesse.