Dus, as mens nou die Gautengse LUR vir onderwys, Angie Motshekga, kan glo, skop hoërskole in die plakkerskampe met uitsluitlik swart leerlinge deesdae stof in die oë van die top-Afrikaanse skole soos Afrikaanse Hoër Seuns, Waterkloof, Menlopark, Linden of Randburg in Johannesburg, asook Florida en Monument aan die Wesrand, om maar enkeles te noem. Net in Pretoria bestaan daar 36 groot Afrikaanse hoërskole met byna uitsluitlik middelklas- Afrikanerleerlinge. Aan die Rand en in die Vaaldriehoek moet daar ten minste nog soveel Afrikaanse hoërskole wees; wat het van hulle almal geword? Het hulle matriekslaagsyfers skielik gedaal tot onder 94,9 persent, wat blykbaar Ivory Park se wonderbaarlike slaagsyfer is?
In die goeie ou dae, voordat die ANC op ons losgelaat is met uitkomsgebaseerde onderwys en ander klugtige programme, het ons Afrikaanse skole jaar ʼn gemiddelde slaagsyfer in die matriekeindeksamen van 98% gehandhaaf. Jaar in, jaar uit. Dit was so te sê ʼn wêreldrekord!
In ʼn Eerstewêreldland soos Frankryk is die matriekslaagsyfer (Baccalauréat) maar 80%. In Engeland, die wonderlike Engeland waarvandaan die ANC-narre soos Mary Metcalfe, Kader Asmal en die ewe Britsklinkende Naledi Pandor al hul metodes en foefies invoer, was die matriekslaagsyfer op die sogenaamde “AS-vlak” vanjaar maar 86,5%. Daarteenoor het die Britse slaagsyfer op die A-vlak wat universiteitstoelating verskaf – en dus uit uitgesoekte studente bestaan – vanjaar met ʼn onverwagte 4,5% vanaf 89,8% tot 94,3% gestyg. Vele Britte glo dat die A-vlak se standaard gedaal het, vergeleke met 1990, toe dit maar 77% was.
Maar in Suid-Afrika se plakkerskampe waar onderwysers staak, die boeke dikwels in die middel van die jaar eers uitgedeel word en mens in skooltyd leerlinge in uniform in die strate kan sien ronddwaal, gaan dit klopdisselboom met onderwys! Toe Kader Asmal oorgeneem het en al die vorige onderwysdepartemente tot een saamgesmelt is, was die matriekslaagsyfer 43% wat vir ʼn land soos Suid-Afrika met Derdewêreldtoestande in sogenaamde “agtergeblewe” skole min of meer realisties was. Maar toe begin die goëlery met syfers.
In die eerste instansie het die ANC se rasseideologie bepaal dat daar 5% by die wiskundepunte van alle swartes gevoeg moet word in ʼn kunsmatige poging om die haglike slaagsyfer onder swartes sover dit dié sleutelvak betref, op te pomp. Volgens ʼn berig in Beeld oor die afgelope paar dae, is tot 10% by die matriekgemiddeld van leerlinge gevoeg tydens ʼn proses van “normering” wat glo gedoen word om jaar-tot-jaarvariasies in die punte uit te stryk. In weerwil van vanjaar se langdurige staking en amok by verskeie “agtergeblewe” skole, het die algehele slaagsyfer dus net effens gedaal tot 68,3% van verlede jaar se 70,7%.
Die vraag is uiteindelik of ʼn matrieksertifikaat nog enigiets beteken, in die lig van die feit dat die ANC daarvan ʼn minderwaardige kwalifikasie gemaak het? Universiteitsdosente kla steen en been dat die materiaal wat hulle deesdae vanaf die skoolbanke ontvang, nie behoorlik kan skryf of spel nie. Maar die goëlery met slaagsyfers duur voort.
Onder die omstandighede is dit verblydend dat die meerderheid Afrikaanse skole steeds iets van ons tradisionele standaarde handhaaf. Die hoof van ʼn bekende hoërskool in Pretoria het blykbaar vanjaar voor ʼn vergadering van ouers en leerlinge in die skoolsaal prontuit gesê: “Aan hierdie skool steur ons ons nie veel aan wat die minister van onderwys sê nie.” Dit is die regte gees!
Ongelukkig weet ons dat die ANC in sy maniese nivellering en vernielsug gaan aanhou om Afrikaanse skole te teiken en te probeer afbreek. Die Sunday Times, asook die ANC self, is reeds hoog in hul noppies met die soort onderwys wat in Ivory Park geskied en wil sien dat daardie onderwys ook na die oorblywende Afrikaanse hoër- en laerskole uitgevoer word.
Die honderde duisende funksioneel ongeletterdes en ongesyferdes wat jaarliks danksy Pandor en kie. se kulkunsies matrieksertifikate ontvang, beland op die arbeidsmark waar hulle in die globale ekonomie veral met gedissiplineerde Oosterlinge moet meeding.
Terwyl dit ʼn riem onder die hart is dat soveel Afrikaanse leerlinge aan ons hoërskole steeds pragtige prestasies en ongelooflike getalle onderskeidings aanteken, moet ons besef dat eenoog in die land van die blindes koning is.
Toenemend sal Afrikaanse skole hul eie standaarde moet stel en hul nie te veel moet steur aan die klug wat die verpolitiseerde matriekeindeksamen geword het nie. Strenger interne toetse en eksamens moet deur skole gebruik word om die prestasie van hul leerlinge te meet.

In vandag se Sunday Times verskyn daar ʼn berig oor die matriekuitslae wat so pas vrygestel is. Volgens die koerant sien die topskole in die Gautengprovinsie so daar uit: