Geweld in Kenia weens stadige stemtellery

Image

Keniaanse opposisieondersteuner

Nairobi – Kenia se opposisiekandidaat het ʼn beroep op president Mwai Kibaki gedoen om te erken dat hy Sondag verloor het in die naaste presidentsverkiesing in die land se geskiedenis. Hy het hom ook van verkiesingsbedrog beskuldig nadat die chaotiese stemtellery wydverspreide geweld en bedrogvrese ontketen het.

“Die regering het alle legitimiteit verloor en kan nie langer regeer nie,” het Raila Odinga Sondag 30 Desember gesê, drie dae na die verkiesing.

Ondinga beskik tans oor ʼn naelskraapmeerderheid van 38 000 stemme, maar die verkiesingskommissie het die verwagte aankondiging van die uitslag Saterdagaand opgeskort met die belofte dat dit bewerings van bedrog gaan ondersoek. Indien Kibaki verloor, sal hy die eerste dienende president wees om by die stembus uitgeknikker te word.

Kibaki se Party van Nasionale Eenheid het ʼn beroep op geduld gedoen totdat Keniaanse Verkiesingskommissie die amptelike uitslag aankondig.

“Geen ander liggaam het regsbevoegdheid om die uitslag aan te kondig nie,” het die PNE in ʼn verklaring gesê. “Ons moet almal geduldig vir die Keniaanse Verkiesingskommissie se verklaring wag.”

Intussen het duisende mense vir die tweede dag die strate van die Keniaanse hoofstad ingevaar om uiting aan hul woede te gee oor die oponthoud in die aankondiging van die land se volgende president. Ten minste drie mense is Saterdag gedood, het die polisie gesê.

“Dis ons gewere,” het die 24-jarige Cliff Owina gesê terwyl hy ʼn hand vol klippe omhoog hou in die Mathareslum waar jong mans besig was om padblokkades op te stel en vure aan die brand te steek. “Maar die stembrief is ons atoombom.”

Ander weer het geskree: “Kibaki moet weg!” terwyl hulle pangas in die lug rondswaai en daar rondom busse en winkels afgebrand word.

Vanuit Washington het ʼn segsman van die Amerikaanse Buitelandsesakedepartement die geweld ten sterkste afgekeur.

“Ongeag die eventuele wenners in dié verkiesing, doen ons ʼn beroep op alle Keniane regoor die politieke spektrum om saam te werk ter bevordering van demokrasie en nasionale ontwikkeling,” het hy gesê.

Saterdag het albei partye aangekondig dat hulle die verkiesing gewen het maar die verkiesingskommissie het gesê dat die tellery nog nie voltooi was nie. Ten spyte van albei partye se pleidooie dat die uitslag spoedig bekendgemaak word, het die voorsitter, Samuel Kivuitu gesê dat hy die aankondiging van die uitslag tot die volgende oggend gaan opskort om die bedrogbewerings te ondersoek.

Alexander Graf Lambsdorff, die hoof-Europeseverkiesingsmonitor, het ook Sondag sy kommer uitgespreek oor die telproses en gesê daar “hang ʼn groot vraagteken oor die kontrole van die uitslae”.

Ons waarnemers is by verskeie kontrolesentra weggewys sonder dat hulle die uitslae ontvang het,” het hy gesê.

Die polisiekommissaris, Hussein Ali, het vir kalmte gevra en beklemtoon: “Daar kan geen demokrasie wees waar mense dink dat hulle hul tot openbare geweldpleging kan wend nie.”

“Om verkiesing te hou, beteken nie dat die wet opgeskort is nie,” het hy gesê.

Honderde mense het gesterf in verkiesingsverwante konflik oor die maande in aanloop tot die stemmery en verskeie diplomate het hul kommer uitgespreek dat ʼn naelskraapse oorwinning aan enige kant tot onluste kan lei. Maar die meeste waarnemers  het gesê dat die stemmery self oënskynlik ordelik verloop het, met geen beduidende onderbrekings waaroor berig is nie, hoewel hulle onwillig was om enige finale verslae uit te reik totdat die kommissie ʼn wenner sou aanwys.

Kiviutu, die voorsitter van die verkiesingskommissie, het erken dat daar probleme was, waaronder ʼn kiesafdeling waar die stempersentasie 115% was en ʼn ander waar ʼn kandidaat met die stembriewe weggehardloop het.

Donderdag se stem het Kibaki teen Ondinga opgestel, ʼn flambojante miljoenêr wat hom as segsman vir die armes voorhou. Dit was die land se mees mededingende verkiesing sedert onafhanklikheid van Brittanje.

Kibaki is van Kenia se grootste etniese groep, die Kikoejoe, terwyl Odinga van die tweede grootste groep, die Luos, afkomstig is; hulle is armer en voel hulself polities uitgesluit.

Odinga, ʼn vurige 62-jarige en voormalige politieke gevangene, het belowe om verandering te bring en hulp aan die armes te verskaf. Sy belangrikste steunbasis  is Kibera waar ten minste 700 000 mense in uiterste armoede leef en wat ook die toneel was van die meeste onluste Saterdag.

Ondersteuners van die 76-jarige Kibaki meen dat hy Kenia se sukkelende ekonomie in ʼn Oos-Afrikaanse groeipunt omskep het, met ʼn gemiddelde groeikoers van 5 persent en ʼn florerende toerismebedryf. Hy het in 2002 ʼn wegholoorwinning oor die berug korrupte Daniel arap Moi behaal, wat grondwetlik verhoed daarvan verhoed is om sy termyn te verleng.

Maar Kibaki se teenkorrupsieveldtog word grotendeels as ʼn mislukking gesien en die land sukkel steeds met armoede en stamverdeeldheid. Nadat die opposisie die meeste parlementêre setels ingepalm het, mag hy dit moeilik vind om te regeer indien hy sou wen.

Vir enige van die twee kandidate om te wen, moet hy die meeste stemme kry, asook 25 persent van die stemme in vyf uit agt Keniaanse provinsies, ʼn maatreël wat bedoel is om te verseker dat ʼn president ʼn mate van steun in die hele land en sy vele stamme geniet.

сварочныеДанильченко Юрий отзывы