praag.co.za

Author: Buks van Rensburg

  • Malthussiese katastrofes

    Snelle bevolkingsgroei het vanaf 1980 die politiek van Suid-Afrika radikaal verander. Die meeste mense besef glad nie hoe ʼn eksponensiële toename in bevolking werk nie. Daarom, kom ons veronderstel die volgende:  Neem ʼn leë bottel, en laat ʼn paar bakterieë daarin los, in die teenwoordigheid van baie voedingstowwe wat vrylik beskikbaar is en genoegsaam bygevoeg word om die bakterieë in die bottel voldoende te voed.

    Veronderstel dat die bakterieë hulle getalle verdubbel met verdeling (mitose) een keer per minuut (dit is ʼn redelike aanname).  As ons met een bakterium begin, dan is daar twee na een minuut, vier na twee minute, agt na drie minute, ensovoorts.  Die getal bakterieë in die bottel groei soos volg elke minuut:

    1,2,4,8,16,32,64,128,256,512,…., 1 073 741 824,….

    waar ons opmerk dat daar 1 073 741 824 bakterieë in die bottel is na 30 minute (dit is ongeveer een duisend miljoen).

    As die bottel ʼn totale volume van een liter het, en die volume van ʼn tipiese bakterium benader word tot ongeveer een femtoliter (ʼn femto is tien tot die mag minus vyftien), dan is die totale aantal bakterieë in ʼn vol bottel ongeveer tien tot die vyftiende mag.  As mens met een bakterium begin, kan mens uitreken dat die bottel na omtrent 50 minute vol gaan wees, as elke bakterium een keer per minuut verdeel.

    Wanneer is die bottel halfvol?  Of kwartvol? Of een agste vol?

    Op watter stadium dink u dat die bakterieë gaan uitvind dat hulle ruimte opraak, en dat die bottel gaan oorloop met katastrofiese gevolge (vir die bakterieë)?

    Die bottel is natuurlik halfvol na 49 minute – dit is een minuut voor dit vol is.  In ʼn halfvol bottel kan ʼn bakterium aanvaar dat daar nog baie ruimte oor is.  Maar dit is verkeerd, daar is net een minuut oor, en dit is letterlik een minuut voor ʼn onvermydelike katastrofe.  Net so is dit bedrieglik om te dink dat daar nog baie ruimte is as die bottel een-sestiende vol is (en vyftien-sestiendes leeg is), maar daar is dan net 4 minute oor voor ʼn katastrofe.

    Die belangrike opmerking is dat daar min waarskuwing is dat ʼn katastrofe gaan plaasvind.  Vir meer as 49 minute groei die bakterieë sonder belemmering, net om in die laaste minuut uit te vind dat ruimte opraak, en dat daar min daaraan gedoen kan word.  In die een-en-vyftigste minuut verdeel elke bakterium in die vol bottel, en die bottel loop oor.  Die totale aantal bakterieë wat uitvloei is gelyk aan die totaal in die bottel.  Die gevolg is dat ʼn bottel vol bakterieë vergaan – gelykstaande aan die hele bevolking in die vol bottel.

    Die katastrofe stem ooreen met die totale bevolking.

    Veronderstel dat ʼn tweede leë bottel beskikbaar gestel word.  Hoe lank voor dit óók vol is?  Dit is vol na 51 minute, net een minuut na die eerste bottel vol is.  Vier bottels is vol na 52 minute, net twee minute na die eerste bottel vol is.  Die eerste bottel is vol na 50 minute, die tweede bottel word gevul in die volgende een minuut, die derde en vierde bottel is vol na nog een minuut.  In die drie-en-vyftigste minuut word vier bottels gevul, in die vier-en-vyftigste minuut agt bottels, en so aan.

    Uiteindelik is dit fisies onmoontlik om genoegsaam bottels vinnig genoeg te verskaf om die bakterieë se groei te akkommodeer, en ʼn katastrofe vind plaas.  Dit gebeur selfs as daar ʼn oneindige voorraad bottels beskikbaar is, omdat hulle nie vinnig genoeg geplaas kan word nie.

    Die katastrofe stem ooreen met die grote van laastebevolkingsbakterieë.  As daar 16 vol bottels was, dan is daar ʼn katastrofe vir 16 bottels vol bakterieë in die volgende minuut.  Dus, hoe langer daar gewerk word om die katastrofe te verhoed, hoe groter die uiteindelike katastrofe.

    Die bostaande voorbeeld word dikwels gebruik om die eksponensiële funksie te verduidelik.  Die belankrikste eienskap van eksponensiële groei is die verdubbelingsperiode, naamlik die tydperk wat iets neem om te verdubbel in massa of in getalle.  Die bakterieë het dit elke minuut gedoen, maar onder normale omstandighede word eksponensiële groei eerder in persentasies uitgedruk.  Ons praat byvoorbeeld van ʼn bankbalans wat teen 3% rente per jaar groei, of ʼn bevolking wat teen 5% per jaar aanwas.

    Dit is maklik om die verdubbelingsperiode taamlik akkuraat uit te werk as groei in persentasies gegee word:  Deel 70 deur die persentasie, en jy kry die verdubbelingsperiode taamlik akkuraat.  Byvoorbeeld, as iets teen 5% per jaar groei, dan verdubbel dit in ongeveer 70/5 =14 jaar.  Of as jou bankbalans teen 3% per jaar groei, behoort jou saldo oor 70/3 = 23,3 jaar ongeveer te verdubbel.

    Die byt in bostaande word egter duidelik as ons aan bevolkingsgroei dink:  Indien ʼn bevolking teen 5% per jaar groei, verdubbel dit elke 14 jaar.  Dit beteken dat druk op voedselverskaffing, skoon water, gesondheidsorg, skole, en dies meer, elke 14 jaar verdubbel.  Normaalweg groei die hoeveelheid beskikbare voedsel en ander sosiale dienste stadiger as die bevolking, omdat landbougrond met tyd verarm en buitendien nie oneindig is nie, en omdat die vermoë om dienste te lewer net met baie moeite eksponensieel kan groei, of soms beperk word deur fisieke werklikhede.  Dit is byvoorbeeld waarom die voormalige wit Suid-Afrikaanse regering nooit genoeg dienste aan die snel-groeiende swart bevolking gedurende die twintigste eeu kon verskaf nie.  Die eksponensiële toename in die nodige dienste het beskikbare bates ontgroei.

    Bostaande is ʼn weergawe van ʼn argument wat ʼn negentiende-eeuse demograaf, Thomas Malthus, gemaak het.  Malthus het besef dat bevolkings eksponensieel groei, maar dat voedselverskaffing nie oneindig kan groei nie, maar beperk word deur klimaat, weer, water en beskikbare vrugbare grond.  Op ʼn stadium sal ʼn bevolking  wat eksponensieel aanwas ʼn groter hoeveelheid voedsel benodig as wat verskaf kan word, en die onvermydelike gevolg is hongersnood, terwyl die skaal van die hongersnood met die grootte van die bevolking ooreenstem.

    As ʼn bevolking die helfte van hulle oes eet en teen 5% per jaar groei, hoe lank sal dit neem voor hulle die hele oes opeet, en hongersnood in die gesig staar?  Ons het die antwoord reeds uitgewerk – dit is veertien jaar, nie eers een geslag nie, en dit moet ʼn groot verrassing wees, omdat dit net veertien jaar gelede gelyk het of daar uitbundige voorrade voedsel beskikbaar is.  Soos die bakterieë in die bottel kan ʼn bevolking eeue lank elke veertien jaar in getalle verdubbel, maar hulle sal net in die laaste veertien jaar uitvind dat kosvoorrade onvoldoende gaan word.

    Dit is die wese van Malthussiese demografie, en is ʼn siening wat dikwels onder hewige kritiek deurgeloop het.  Tog is daar ʼn knaende onsekerheid wat dit moeilik maak om dit summier te verwerp.  Dit is wel die geval dat Malthussiese demografie nie die verrassende landbourewolusie voorspel het nie.  Mensgemaakte kunsmis en veral gifstowwe wat landbougewasse teen peste beskerm, het voedselverskaffing geweldig laat toeneem oor die laaste eeu, en die wêreld se bevolking het in ooreenstemming hiermee gegroei tot meer as ses miljard.  Dit lyk steeds of voedsel uitbundig beskikbaar is.

    Daar is egter ʼn paar donderwolke op die horison:  Eerstens merk ons op dat kunsmis uit aardgas en olie vervaardig word, en hierdie grondstowwe is besig om skaars te raak.  Landboupeste is besig om weerstand teen gifstowwe op te bou.  Die genetiese rewolusie om beter gewasse te teel, bring ten beste marginale verbetering in produksie, vergeleke met die uitstekende resultate wat kunsmis en pesbeheer gebring het.  Verder is vrugbare grond (die boonste paar duim van landbougrond) besig om uitgeput te raak in groot dele van die wêreld, en word baie gewasse gebruik om biodiesel en etanol te vervaardig (eerder as voedsel) om ʼn groeiende olietekort te verlig.

    Dit begin dus lyk asof daar ʼn plafon in voedselverskaffing bereik word.  As bevolkings nie stabiliseer nie, is daar ʼn klassieke Malthussiese nagmerrie aan die kom:  ʼn eksponensieel groeiende bevolking wat hulle bottel figuurlik vul en laat oorloop, en wat op die koop toe ook bitter min waarskuwing gaan kry dat iets besig is om verkeerd te loop.

    Dit lyk reeds asof politieke en sosiale onrus in sekere wêrelddele terug te voer is na Malthussiese katastrofes – dele van Wes-Afrika (die Ivoorkus) en Suid-Amerika, Haïti, Zimbabwe,  Fiji, en nog ander gevalle, waar eens taamlik vooruitstrewende lande of streke meteens (sonder waarskuwing) in anargie en onluste verval het, en waar die basiese eienskappe van die ellende voedseltekorte, anargie, omgewingsverval, en veral die onvermoë van die regering om genoegsame sosiale dienste te verskaf om ʼn groeiende bevolking te dien, opvallend is.

    Daar bestaan deesdae neo-Malthussiese denke wat bevolking en ekonomie met politieke verandering en onluste korreleer.  In dié opsig is Suid-Afrika ʼn voorbeeld waar oneweredige bevolkingsgroei tussen verskillende bevolkingsgroepe politieke gevolge gehad het, en dit is opmerklik dat sterk bevolkingsgroei in die swart bevolking waarskynlik die gevolg is van die wit Suid-Afrikaanse verskaffing van voedsel en mediese dienste.

    In die 1980s het James Goldstone en David Lempert ʼn Malthussiese model voorgestel om politieke en ekonomiese toestande in Mauritius te bestudeer, en Lempert het selfs na die Russiese rewolusie en Stalin se regering uit dié oogpunt gekyk.  Politieke onluste in Palestina en die mensemoord in Rwanda en die Kongo (wat die wêreld se snelgroeiendste bevolking het) is soortgelyk skynbaar die gevolg van ʼn Malthussiese spanning tussen bevolkingsgroei en beskikbare hoeveelhede voedsel en vars water.

    Malthus is reeds in 1834 oorlede, en van sy idees het polieke denke in veral Engeland en die Weste baie beinvloed.  Charles Darwin, asook die Britse koloniale owerhede, het beide baie aandag aan sy idees gegee, maar ander het sy teorieë erg veroordeel, en veral marxiste het nie veel erg aan hom nie.

    Die mees onrusbarende idee wat ons by Malthus vind, is die opmerking dat daar feitlik omtrent nooit genoegsame waarskuwing is dat iets verkeerd loop nie.  Onluste in Kenia is skielik en skynbaar onverhoedbaar, en kon nie voorspel word nie.  Suid-Afrika het 70 jaar lank in relatiewe stabiliteit bestaan tot 1980 voor onluste en ʼn vinnig groeiende swart bevolking die land in net 10 jaar totaal verander het. Min mense het in 1980 geglo dat die land binne net vyftien jaar met ʼn ANC-regering sou sit.

    Onderliggend aan die skielike omverwerping van die status quo in Suid-Afrika is eksponensiële bevolkingsgroei en die verhouding daarvan tot beskikbare bates.  Dat eersgenoemde laasgenoemde skielik en fataal verbysteek, is Malthus se mees onstellende insig.free slots cleopatra no downloadsданильченко юрий брониславович прокурор

  • Die Weste faal in Irak

    Mnr Scheuer beweer dat die Weste eerstens nie genoeg troepe na Irak gestuur het nie, en tweedens dat daar ‘n fundamentele misverstand in die Weste heers oor Islam se uiteindelike doelwitte en griewe.  Dit is verrassend dat die honderdduisende troepe en miljarde rande se toerusting, kundigheid en ander hulp, wat die Amerikaners na Irak gestuur het, skynbaar nie as genoeg beskou word nie.  Die VSA, wat die rykste en enigste hipermoontheid  is, is sover dit hulle weermag betref, beter en vollediger toegerus as enige ander land ter wêreld, sommer verreweg.
    Ten spyte hiervan, is dit duidelik dat die Amerikaanse leer dun versprei is oor Irak, en dat hulle toenemend uitgeput word deur die aanhoudende en suksesvolle aanvalle deur insypelaars en Al Kaida-vegters.  Dit is nog steeds, in ons moderne wêreld, merkwaardig hoe die wilskrag om te veg die kern van oorlogvoering is.  ‘n Soldaat mag die beste wapens besit, met die beste opleiding, maar as duidelike doelwitte ontbreek, en as die wilskrag om te veg ondermyn word, kan selfs so ‘n soldaat verslaan word.
    Mnr Scheuer se tweede opmerking dat daar ‘n fundamentele misverstand in die Weste heers oor Islam se griewe, word dikwels geopper en berus op twee aannames.  Die eerste is dat die Weste in die Midde-Ooste betrokke is met die uitsluitlike doel om olie te bekom.  In dié opsig is olie van fundamentele belang in Westerse ekonomieë en ‘n onderbreking in die verskaffing van olie kan vinnig tot ‘n rampspoedige ekonomiese depressie lei met erge gevolge ook in Suid Afrika en ander onbetrokke lande.  Daar is ook toenemend tekens dat olievelde in ander wêrelddele uitgeput word (olieproduksie in die Noordsee en uit Meksiko se groot Canterella-veld is vinnig besig om te verminder). Dit maak die olie-velde in Irak en Saudie-Arabië nog belangriker in die Westerse ekonomieë en regverdig die direkte inmenging van die Weste in die Midde-Ooste.  Die tweede aanname oor Islam se griewe is dat die historiese Westerse ondersteuning van Israel die Islamitiese lande van die Weste vervreem.
    Intussen word meer en meer verwyte in die Amerikaanse senaat oor-en-weer geslinger oor “who lost Iraq?” en is president Bush besig om in ‘n geïsoleerde figuur wat nogtans dapper voortmarsjeer na ‘n onbereikbare doel te verander.  Die politieke konsensus onder Demokrate in die VSA, en nou ook toenemend onder Republikeine, is dat Irak nie gered kan word nie, dat die oorlog ‘n flater was, en dat die onttrekking van Amerikaanse troepe ‘n voldwonge feit is. Indien nie nou nie, dan definitief onder ‘n nuwe president wat Bush sal opvolg (dit begin toenemend lyk asof Hillary Clinton en Barak Obama die volgende president en vise-president gaan wees).
    Dus, die VSA en die Weste, gaan die oorlog in Irak verloor in die sin dat voorwaardes waarop ‘n oorwinningsaanspraak gemaak kon word, nooit geskep is nie.  Intussen sleep die oorlog in Afghanistan ook voort, teen ‘n laer intensiteit as in Irak.  Dit is egter nou duidelik dat Westerse pogings om die Taliban omver te werp en om ‘n pro-Westerse regering in Afghanistan aan bewind te plaas net kan kan werk met aanhoudende en direkte militêre inmenging.  Die aanwesigheid van Westerse (Christen) troepe in Islamitiese lande radikaliseer mense in die lande, en ook in nabye kernmoonthede soos Pakistan, met die gevolg dat die troepe teikens word vir insypelaars vanuit beide Afghanistan en Pakistan.  Soos in Irak ontbreek duidelike voorwaardes om te wen, en die gevolgtrekking deur Mnr Scheuer is dat oorwinning ontmoontlik is binne die een of twee jaar voordat troeponttrekkings onvermydelik word.
    Die merkwaardige feit rondom artikels in Westerse koerante oor die oorlog in Irak en in Afghanistan is die mate van ontkenning dat die gebeure op 11 September 2001 die onderliggende rede was wat uiteindelik Westerse troepe na Irak en Afghanistan sou stuur.  The Age verwys nie eers na 07/11 nie, en nòg Mnr Schreuer nòg die koerant verbind die VSA of Australië se militêre avonture in die Islamitiese wêreld met aanvalle in Bali of in New York, of in London, of in Madrid.  Die aanvalle in Madrid met Spanje se vinnige ontrekking uit Irak daarna, het aan Al Kaida bewys dat die Weste nie ‘n lang oorlog kan veg nie, ten minste nie effektief nie, en dat die psigologiese verwydering tussen 07/11 en Irak besig is om die Westerse oorlogspoging te ondermyn.
    Derhalwe die onlangse belangrike opmerking deur die Amerikaanse bevelvoerder, generaal Petreaus, dat dit dekades geneem het om die insurgensie in Noord-Ierland te oorkom.  Vir die oorloë in Irak en in Afghanistan is daar nie dekades tyd nie – demografiese verandering in dié lande, en die onvermoë van Westerse demokrasieë om beginselvas te veg, maak dit onmoontlik.  Dus die gevolgtrekking deur Mnr Schreuer dat die oorlog reeds verlore is.
    Die interessantste feit egter, is dat Mnr Schreuer die idee dat Islam op ‘n veroweringstog is om die Weste uiteindelik te domineer, of heeltemal ignoreer, of nie as belangrik ag nie.  Dit blyk instede dat hy die oorlogsteater net tot die Midde-Ooste beperk, en die Weste steeds as onaantasbaar beskou.  Oor hierdie beskouing sal die geskiedenis nog ‘n beslissing lewer.

    купить липецк пластыри диагональныеОлександр Васильович Фільчаков