Ivoorkus-verkiesing in die weegskaal oor ongeloofwaardige kandidaat

Vyf van die Ivoorkus se tien presidentskandidate het Woensdag gesê die land is nie gereed om geloofwaardige en deursigtige verkiesings op 15 Oktober te hou nie.

Hulle dreig nou om hulle aan die verkiesings te onttrek.

Opposisiegroepe sê Alassane Ouattara se ouers is nie Ivoorkus-burgers nie, dieselfde beswaar wat voor die dodelike onrus in 2010-2011 geopper is en waarin meer as 3000 dood is.

Die voormalige president Laurent Gbagbo, wat aangekla is deur die Internasionale Strafhof vir misdade teen die mensdom moet in November in Den Haag oor dié onrus verskyn.

Hy het geweier om van sy pos te bedank en erken nie Ouattara se oorwinning by die stembus nie. Ouattara is ‘n Moslem en ekonoom wat voorheen vir die IMF gewerk het.

Die vyf kandidate het die week tydens ‘n byeenkoms van die Nasionale Koalisie vir Verandering (CNC) in die hoofstad, Abidjan, gepraat.

‘n Voormalige speaker, Mamadou Coulibaly, het gesê sommige presidentskandidate is nie gereed om in die huidige omstandighede aan verkiesings deel te neem nie. Hy wil ook hê die nege presidentskandidate wat die huidige president, Alassane Ouattara, teenstaan, moet byeenkom en “gesels”.

Ander opposisieleiers het weer te velde getrek teen die onafhanklike verkiesingskommissie wat volgens hulle ten gunste van Ouattara is.

Geen arrestasies nog gemaak na Roodt-aanval nie

Die polisie het bevestig dat geen arrestasies nog gemaak is ná die Efficient Group se hoofekonoom, Dawie Roodt, en sy gesin Donderdagnag in hul huis in Pretoria aangeval is nie.

Roodt en sy vrou, hul twee kleuters, en sy dogter is vasgebind met wapens aangehou terwyl die swart aanvallers die huis geplunder het.
 
Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie is nog steeds hard aan die werk om die skuldiges vas te trek.
 
‘n Persoonlike assistent van Roodt, Erika Botha het in ‘n verklaring gesê dat ‘n plastiese chirurg ‘n tweede operasie op Roodt sal moet uitvoer.
 
Na afloop van die operasie sal hy vir drie dae in die hoësorgeenheid moet bly.

Dawie Roodt in sy huis aangeval

Hoofekonoom van die Efficient Group en tv-aanbieder, Dawie Roodt, word in Pretoria-Oos-hospitaal se hoësorgeenheid behandel nadat hy en sy gesin Donderdagaand in sy huis aangeval en vasgebind is.

Roodt se kollega, Willem Basson, sê Roodt se dogter het gisteraand omstreeks 20:00 van aandklasse teruggekeer toe sy buite in haar motor deur vier gewapende swartes ingewag is.

Basson sê hulle het haar in die huis gedwing en almal vasgebind. Hulle was gewapen met ‘n pistool en messe. Die swart aanvallers het dit duidelik gemaak hulle soek geld.

Volgens Basson het Roodt egter kopgehou en aan die rowers gesê hy het geld in sy motor. Hy sê Roodt kon daarin slaag om sy hande los te wikkel, terwyl hy en twee rowers met messe na sy motor gestap het.

Roodt het onder meer ‘n kopwond opgedoen toe hy en die twee rowers baklei het nadat hy sy hande losgekry het.

Volgens Basson was Roodt by sy volle bewussyn vanoggend toe hy hom in die hospitaal besoek het.

Petrolprysskok vir Oktober verwag

randelasDie verswakkende rand en die stygende olieprys het gelei tot baie bespiegelings dat die Suid-Afrikaanse motoris ‘n massiewe brandstofprysstyging in die gesig staar. Die ekonoom Mike Schüssler sê die toename in September sal ‘n paar sent wees, maar het gewaarsku dat ‘n massiewe toename vir Oktober te wagte is.

“Dit is baie donker op die oomblik vir Oktober, maar synde alles politieke dinge, is dit baie moeilik om te voorspel wat gaan gebeur met die olieprys, maar ek dink in alle waarskynlikheid gaan ons ‘n baie groot toename in die prys sien van brandstof vanaf Oktober, waarskynlik 40 tot 50 sent.“

Oor die voortgesette stakings in die land, sê Schüssler hulle nie help om die geldeenheid bestendig te hou nie.

“Ek dink dit is meer as net ‘n staking. Daar is beslis ‘n bekommernis oor alle ontluikende markte op die oomblik. So die meeste ontluikende markte is tans onder druk. Sekerlik sal die stakings nie help om die Suid-Afrikaanse geldeenheid te bestendig nie.“

Die rand het voortgegaan om te sleg presteer. Die geldeenheid het ‘n nuwe vier–jaar laagtepunt bereik vroeër in die sessie met R10,51 teenoor die Amerikaanse dollar Woensdag.

”n Rukkie gelede was die rand op R10,31 teenoor die dollar. Die rand se wisselvalligheid het voortgegaan omdat beleggers senuagtig is oor die krisis in Sirië en daarom ontluikende markte se geldeenhede verkoop het.