President Obama se gesant vir die Midde-Ooste het Woensdag probeer om die 10-dae lange skietstilstand tussen Gasa en Israel te red wat nou in die gedrang is ná 'n Palestynse bom 'n Israelse soldaat doodgemaak het. Israelse oorlogsvliegtuie bombardeer nou die tonnels waardeur baie smokkelware in Gasa ingebring word.
Die Israelse kabinet het vergader om te bespreek hoe ver hulle sal gaan in reaksie op Dinsdag se bom. Die Amerikaanse gesant, George Mitchell, het gesê dit is kritiek dat die skietstilstand verleng word, toe hy Egipte se president ontmoet het voor hy na Jerusalem gegaan het.
Die geweld is die ergste sedert Israel en Hamas aparte skietstilstande afgekondig het op 18 Januarie om'n einde te bring aan die drie weke lange Israelse offensief teen die Palestynse militante groep in die Gasastrook. Sedert hulle soldate onttrek is, het Israel gedreig om baie hard op te tree teen enige verbreking van die informele skietstilstand.
Die soldaat is Dinsdag dood op Israel se grens met Gasa in 'n ontploffing van 'n bom wat langs die pad gestel was en met afstandbeheer afgesit is, het die weermag gesê. Drie ander soldate wat die gebied gepatrolleer het, is beseer.
Israel het vinnig gereageer en tenks en stootskrapers in noordelike Gasa ingestuur om die plek waar die ontploffing plaasgevind het, plat te stoot en 'n lugaanval geloods wat 'n Hamas-militant gewond het. Die militante Hamas-lid was prominent in die organisasie en verantwoordelik vir die aanval, het die weermag gesê. Hamas het gesê die Israelse aanval het een van hulle mense beseer wat op 'n motorfiets gery het in die stad Khan Younis in suidelike Gasa.
Lugaanvalle vroeg Woensdagoggend het die netwerk van tonnels wat gebruik word om wapens, geld en mense in Gasa in te smokkel vanaf Egipte as teiken gehad.
Daar was geen aanvaardings van verantwoordelikheid vir Dinsdag se bom nie, maar Ramattan, 'n Palestynse nuusagentskap het 'n video van die bomaanval vrygestel, wat na bewering geneem is deur militante wat nie geïdentifiseer is nie.
Die beeldmateriaal wys 'n groot ontploffing langs 'n Jeep wat aan die Israelse kant van die grens beweeg het. 'n Groot rookwolk het opgelig terwyl die Jeep gestop het. Twee Israelse soldate is daarna gesien dat hulle na die Jeep toe hardloop terwyl daar op hulle geskiet word voor 'n sekondêre ontploffing hulle getref het.
"Ongelukkig beheer Hamas die Gasastrook en is hulle direk verantwoordelik vir alle vyandige vuur vanuit Gasa op Israel," het 'n regeringswoordvoerder Mark Regev aan Associated Press gesê.
"Israel wil hê die vrede in die suide moet voortgaan, maar gister se bomaanval was 'n opsetlike provokasie bestem om die kalmte en vrede te ondermyn en te kelder," het hy gesê.
Die geweld werp 'n skaduwee oor die begin van Mitchell se toer. Obama het gesê sy gesant sal luister na albei kante en dan probeer om 'n benadering te prakseer te wat kan voortbeweeg met die sukkelende Israels-Palestynse vredespogings.

Die petrolprys gaan in Februarie styg, het Dawie Roodt, 'n ekonoom by die Efficient-groep Dinsdag gesê.
Die eerste gemengde sokkerwedstryd – mans teen vrouens – sedert die 1979-Islamitiese revolusie het Maandag gelei tot snelle straf toe 'n Iranese sokkerklub gesê het dat hulle drie amptenare geskors het en boetes van tot $5000 opgelê het.