Sewe Zimbabwiese opposisieaktiviste wat beskuldig word van 'n reeks ontploffings is erg gemartel deur veiligheidsagente van die staat, het hulle regsverteenwoordiger Woensdag aan die hof gesê, en 'n ondersoek aanbeveel na die beweerde aanrandings.
Die aktiviste sluit in die direkteur vir sekuriteit van die opposisie, die MDC, sowel as 'n adviseur vir die partyleier Morgan Tsvangirai.
"Van November die 20ste af is hulle erg gemartel terwyl hulle in polisieaanhouding was en sommige van hulle is kritiese mediese behandeling geweier," het prokureur Alec Muchadehama aan die landdroshof gesê.
"Geen arrestasies is uitgevoer nie. Elkeen van hulle is die slagoffers van ontvoering deur die staat se agente. Niemand is gearresteer in terme van die wet nie," het hy gesê.
"Wat ons wil hê, is dat die hof die staat moet beveel om die bewerings van marteling te ondersoek en dan weer verslag te lewer met die volgende hervatting. Indien niks gebeur nie, behou ons die reg voor om internasionale howe te nader om die saak aan te spreek."
Die aangeklaagdes was deel van 18 lede van die opposisie en menseregteaktiviste wat uit hulle huise ontvoer is in aparte voorvalle sedert Oktober en aangehou is by onbekende plekke.
Hulle het eers in die hof begin verskyn op 24 Desember en staan tereg daarop dat hulle twee polisiestasies in Harare met bomme opgeblaas het en ook twee bruê buite die hoofstad beskadig het "met die doel om insurgensie in Zimbabwe te veroorsaak". Hulle het die klagte ontken.
Dokters wat hulle by Chikurubi-maksimumveiligheidgevangenis ondersoek het, het gesê hulle het verskeie beserings. Een kom voor asof hy nierskade het en het dringende mediese hulp nodig, het de dokters gesê.
Nog 'n aangehoudene loop die risiko om doof te word sonder dringende behandeling vir 'n beskadigde membraan in sy oor, en 'n derde ly aan sielkundige trauma waarin hy 'n vrees vir water en oop ruimtes ontwikkel het.
Die arrestasie van die aktiviste het vrese verhoog rondom 'n magsdelingsooreenkoms wat September geteken is deur president Robert Mugabe en Tsvangirai. Die ooreenkoms het tot dusver op niks uitgeloop nie, vanweë dispute oor die beheer van sekere sleutelkabinetsposte.
Die verhoor gaan Donderdag voort.
magic boxesтопкарго отзыв