Israel sal die bomaanvalle op die Hamas-beheerde Gasastrook vir drie ure elke dag staak, het 'n woordvoerder gesê. Die aksie sou Woensdag begin.
"Daar is besluit om die bomaanvalle tussen 1 uur en 4 uur elke dag te staak," het die militêre woordvoerder gesê.
Die aankondiging het gekom ure nadat die Israelse eerste minister Ehud Olmert gesê het dat Israel 'n humanitêre korridor sal oopmaak in die Gasastrook, waar hulle 'n dodelike veldtog teen die Islamitiese Hamasbeweging gevoer het vir die afgelope 12 dae.
"Om 'n humanitêre krisis te voorkom in die Gasastrook het eerste minister Ehud Olmert besluit om 'n voorstel van die sekerheidsowerhede te aanvaar om 'n humanitêre korridor oop te maak in die Gazastrook om die bevolking te help," het 'n verklaring van sy kantoor gelui.
"Dit behels dat sekere geografiese gebiede vir beperkte tye elke dag oopgestel sal word waartydens die bevolking kan hulp kry en voorrade in die hande kry."
Die verklaring het gekom nadat stygende burgerlike sterftes in Israel se oorlog in Gasa die internasionale druk op Israel verhoog het om die grootste militêre operasie sedert die Libanon-oorlog in 2006 te staak.
