Sonder om te sê dat hy en sy maats van die ANC gaan wegbreek, het Lekota so na as moontlik daaraan gekom om 'n eensydige onafhanklikheidsverklaring te doen. Lekota het met die steun van voormalige adjunk-minister van verdediging, Mluleki George gesê hy en sy ondersteuners gaan 'n formele proses in plek sit.
Hy sê hulle gaan openlik en vryelik oor die sake op die tafel met mense binne en buite die ANC raadpleeg. As die ANC- leierskap volhou met hulle arrogansie, sal ons ( Lekota-hulle) voortgaan met 'n raadplegende konferensie om op die volgende stap te besluit. Op 'n vraag of hy huweliksberading soek en of hy op pad na 'n egskeiding is, het Lekota gesê hulle het vandag egskeidingsbriewe ingedien.
Lekota sê ANC-lede het nou 'n keuse tussen die Malemas van die wêreld (verwysende na Julius Malema, leier van die ANC Jeugliga) , of 'n meer nugtere groep. Hy kan nie dink dat die mense van Suid-Afrika gelykheid voor die reg sal prysgee of sal stem vir 'n party wat sê, ons sal jou doodmaak as jy nie die persoon ondersteun nie.

Geen rede vir paniek nie, sê Russell Loubser, uitvoerende hoof van die Johannesburgse Aandelebeurs. Markte wêreldwyd het byna al 'n derde van hul waarde verloor, maar Loubser sê ons het sterk maatskappye wat goeie dividende betaal.
Lyftaal praat! Obama en McCain hou nie veel van mekaar nie. Ná Dinsdag se debat tussen die twee het hulle nie dadelik gaan bladskud nie. McCain moes Obama op die skouer gaan aanraak sodat hy na hom toe draai en toe die swart kandidaat sy hand uitsteek het McCain verkies om dit nie dadelik te neem nie maar om Obama na sy vrou, Cindy, te stuur.
Wladimir Poetin is nie 'n sissie nie. As die voormalige KGB-agent nie 'n Siberiese sabeltand omstoei om joernaliste wat hom op 'n uitstappie met wetenskaplikes na Rusland se Verre Ooste vergesel het, te red nie, dan baljaar hy in 'n vegvliegtuig.