Sonder om te sê dat hy en sy maats van die ANC gaan wegbreek, het Lekota so na as moontlik daaraan gekom om 'n eensydige onafhanklikheidsverklaring te doen. Lekota het met die steun van voormalige adjunk-minister van verdediging, Mluleki George gesê hy en sy ondersteuners gaan 'n formele proses in plek sit.
Hy sê hulle gaan openlik en vryelik oor die sake op die tafel met mense binne en buite die ANC raadpleeg. As die ANC- leierskap volhou met hulle arrogansie, sal ons ( Lekota-hulle) voortgaan met 'n raadplegende konferensie om op die volgende stap te besluit. Op 'n vraag of hy huweliksberading soek en of hy op pad na 'n egskeiding is, het Lekota gesê hulle het vandag egskeidingsbriewe ingedien.
Lekota sê ANC-lede het nou 'n keuse tussen die Malemas van die wêreld (verwysende na Julius Malema, leier van die ANC Jeugliga) , of 'n meer nugtere groep. Hy kan nie dink dat die mense van Suid-Afrika gelykheid voor die reg sal prysgee of sal stem vir 'n party wat sê, ons sal jou doodmaak as jy nie die persoon ondersteun nie.
