Dit volg na vroeëre stellings van voormalig minister van Verdediging, Mosioua Lekota, dat die ANC verdeeld is en dat ‘n wegbreekparty aan die 2009 verkiesing mag deelneem.
Volgens Phosa het kameraad Lekota ‘n lasbrief uitgereik, en "ons reaksie is dat die huwelik van die ANC steeds sterk staan". Phosa het verder gesê dat almal moet afkoel en mekaar vind in ‘n proses van rekonsiliasie.
Hy het gesê dat hy Donderdag ‘n vergadering met Lekota gaan hê as deel van die proses om die ANC te verenig. Volgens Phosa is hulle in die middel van ‘n gespreksproses, waar daar geen plek vir emosie en woede op die agenda is nie.
Net nadat Phoza met die media gepraat het, het Jacob Zuma gewaarsku teen diegene wat die partystrukture gebruik om die ANC te destabiliseer. Volgens Zuma is daar perke waartoe die strukture gebruik kan word om die party te destabiliseer en mense moet dit in gedagte hou.
