'n Politieke ekonoom by die London School of Economics sê daar is nie meer so 'n ding soos 'n veilige bank nie. Banke is net so veilig soos wat hulle regerings hulle kan maak. Bankaandele het skerp gedaal gister.
Bank of Scotland se aandeelprys het met 39% gedaal omdat beleggers meen dat die kapitaalinspuiting die bestaande aandeelhouding kan verminder. Daarbenewens was handelaars bekommerd oor die afgradering van Standard & Poor vir die Bank of Scotland omdat die bank sukkel om fondse in die hande te kry.
Die idee agter die Britse plan is om kapitaal te verhoog om banke 'n kussing teen verliese te gee. Kenners sê dit is te laat want die kombinasie van 'n resessie en korttermynlikiditeit is te groot om positief op 'n kapitaalinspuiting te reageer.
In Spanje, waar die tuimelende huismark die banke besonder hard tref, het eerste minister Zapatero 'n 30 miljard euro hulppakket aangekondig. Hy het belowe dat net "gesonde" bates ondersteun sal word en nie toksiese bates nie om kritiek teen sy plan af te weer. Sommige kenners is bekommerd dat banke wat opgesaal is met subprimalenings nie daarby gaan baat nie.
In Luxemburg het Europese leiers ooreengekom om bankreëls vir boekhouding te verslap om die groeiende krisis te besweer. Dit is die eerste keer dat al 27 EU-lidlande 'n gemeenskaplike pad vorentoe inslaan met die ondertekening van die ooreenkoms.
