Grahamstad se polisiesegspersoon, inspekteur Milanda Coetzer sê die insident het Saterdag in die vroeë oggendure plaasgevind.
Coetzer sê die vrou is deur drie mans genader wat haar na Queenstraat toe geforseer het waar hulle haar verkrag het. Sy het om hulp geroep en is daarna in die regter skouer gesteek, waarna hulle haar verskeie kere verkrag het.
Die polisie ondersoek ‘n saak van verkragting, maar sover is geen arrestasies gemaak nie.
In ‘n verklaring aan die Rhodesgemeenskap het Universiteits-segsman Guy White gesê dat die student onderweg was na haar woning toe. Sy het baie laat gewerk by een van die rekenaarlaboratoriums.
Sowat twee weke gelede is twee damestudente wat by die drama epartement gewerk het met messe aangehou deur twee jeugdiges en beroof van beursies, selfone en ‘n iPod.
White sê dat die kampus Maandag 24 uur lank deur patrollies gefynkam was. Verder is daar heelwat meer ligte aangebring en paniekknoppies is by sleutelpunte aangebring. Daar is ook veilige roetes opgestel wat 24 uur per dag gepatrolleer word.
Wagte is ook beskikbaar gestel om personeel en studente na hulle motors en kampus residensies te begelei op enige tyd wat hulle onveilig voel.
White sê dat hulle dit gereeld aan personeel en studente benadruk om bewus te wees van hulle eie veiligheid. Hy is van mening dat een insident een te veel is en sê hulle kyk konstant na metodes om mense se veiligheid te verbeter.
Een van die studente wat die jaar die slagoffer van misdaad was is Zethu Mtshemla, wat vroeër vanjaar amper deur ‘n man wat haar op straat ontmoet het verkrag is. Na ‘n struweling tussen haar en die verdagte het sy ontsnap en om hulp kon roep. ‘n Saak van poging tot verkragting is aangemeld, maar daar is tot nou geen arrestasies in die saak gemaak nie.
