Die VSA en Rusland het Dinsdag met 'n eerste rondte samesprekinge begin om 'n Koue-Oorlog kernooreenkoms wat in Desember verstryk te vervang. Die samesprekinge oor strategiese wapenbeperking, in Engels bekend as Strategic Arms Reduction Treaty of START, se uitkoms sal verreikende gevolge vir wêreldvrede inhou.
Die ooreenkoms was destyds 'n poging om 'n kern-Armageddon te vermy. Suksesvolle onderhandelinge sal Obama se aansien as vredemaker verhoog en verhoudinge tussen Rusland en die VSA verbeter. Obama het reeds die hoop uitgespreek dat die toekoms tegemoet gegaan moet word sonder kernwapens.
Die samesprekinge beteken vir Rusland ook verhoogde aansien, aangesien dié land as 'n gelyke gesien sal word met die VSA. Die onderhandelinge vind tans agter geslote deure plaas.
Rusland se minister van buitelandse sake, Sergei Lavrof, het na sy ontmoeting met sy eweknie Hillary Clinton, gesê daar is 'n goeie kans dat die twee lande se posisies nader aanmekaar kan beweeg en om ooreenkomste te bereik.
Onder die vorige Amrikaanse administrasie was daar talle struikelblokke. Moskou wil 'n breë ooreenkoms sien wat die aantal kernkoppe sowel as die aflewering daarvan insluit, terwyl Washington net op "operasioneel ontplooide" kernkoppe wil fokus.
Die Amerikaanse plan om 'n afweerskild in Oos-Europa op te rig kan 'n ooreenkoms tussen die twee lande egter in die wiele ry.
Rose Gottemoeller, wat onlangs die bestaan van Israel se kernarsenaal erken het, sal die Amerikaanse span lei, terwyl Anatoly Antonov die Russe sal verteenwoordig.
START wat in 1991 onderteken is, bepaal dat die VSA se strategiese kernarsenaal van 9 986 kernkoppe tot 8 556 verminder word en Rusland s'n van 10 237 tot 6 449.
Die ooreenkoms wat gesien word as 'n hoeksteen van strategiese wapenbeheer, se uitkoms is ook belangrik vir opkomende magte soos Indië en China. China het 'n uiters gesofistikeerde kernarsenaal.
Indië, die streeksleier in Suid-Asië, het tot dusver geen leierskap in kernaangeleenthede getoon nie en die opbouende spanning tussen Indië en Pakistan, nog 'n kernmoondheid, is rede tot kommer.
