Woordvoerder vir Sanco, Dumisani Mthalane, het gesê dit is nie "die einde van die oorlog" nie.
Hy het gesê dit is tyd dat al die lae-inkomste groepe, die werkloses en krotbewoners asook elke besorgde Suid-Afrikaner opstaan teen die uitbuiting van groot geldmagte wat winste uit die armes maak.
Sanco sal gehoor gee aan die oproep van Cosatu om 'n nasionale boikot teen alle Vodacomprodukte in te stel en hulle gaan binnekort aan 'n strategie werk om die massas te mobiliseer. Geen datum vir die beplande aksie is aangedui nie.
Mthalane het die gedagte dat werk geskep sal word deur die transaksie waar Vodacom se aandeel aan die Britse Vodafone verkoop is, verwerp.
Hy sê gemeenskappe is om die bos gelei met die sogenaamde Buitelandse Direkte Investering projekte omdat die armes nie daarby gebaat het nie. Dit het trouens meer ellende vir die mense gebring.
Mthalane het Vodacom daarvan beskuldig dat hulle nie hulle beloftes om dienste aan verafgeleë gemeenskappe te bring, gestand gedoen het nie.
"In plaas daarvan het hulle tariewe so hoog geraak dat die meeste gemeenskappe dit nie meer kan bekostig nie, en ons glo dat hierdie toestand net sal vererger as buitelandse beleggers winste wil sien uit die transaksie."
Mthalane sê die boikot is nie teen buitelandse beleggers gemik nie, maar 'n voorkomende maatreël om te verhoed dat beleggers kwade bedoelinge het.
