Obama dreig met kuberoorlog na China, Rusland skroewe aandraai by G20

By die G20-beraad in China het president Obama gedreig om ‘n kuberoorlog teen Rusland te loods en gesê: “Kyk, ons beweeg in ‘n nuwe era hier waar ‘n aantal lande ‘n groot kapasiteit het. En eerlik, ons het meer kapasiteit as enigiemand, beide aanvallend en verdedigend.”

Die kil betrekkinge tussen die VSA aan die een kant en Rusland en China aan die ander, was duidelik uit die ontmoeting tussen die onderskeie staatshoofde (foto bo) by die beraad in Hangzhou.

Die kommentaar van Obama bestaan nie in ‘n vakuum nie, met die Withuis wat ‘n federale ondersoek na “Russiese inmenging” in die 2016 presidensiële veldtog van stapel gestuur het na aanleiding van ‘n brief deur Senator Harry Reid aan die FBI se Direkteur James Comey.

Daarin beweer Reid dat Poetin verkiesingsuitslae tot voordeel van Donald Trump kan manipuleer wat hy as ‘n “verraderlike agent van Rusland” in drie uit vyf paragrawe skets.

Die Chinese weermag het intussen aangekondig dat hulle Siriese soldate van die mediese dienste sal voorsien om Rusland by te staan.

Maar almal verstaan ​​dat hierdie ooreenkoms en Chinese toetrede die magsbalans in die Midde-Ooste teen die Obama-administrasie gelaai het.

Vir die afgelope vier jaar, is die helfte van die militêre dokters in Sirië opgelei in China, alhoewel die Volksrepubliek van China voorheen geweier het om betrokke te raak in enige vorm van samewerking wat deur Washington as militêre hulp geïnterpreteer kan word.

Rusland het voorheen ‘n identiese ooreenkoms met Sirië aan die begin van 2012 aangegaan, maar militêre hulp is drie en ‘n half jaar later goedgekeur.

Kennelik het die ooreenkoms ‘n Amerikaanse vrees aangewakker dat China ook binnekort militêr in Sirië sal toetree.

Afrika is intussen hoog op die beraad se ontwikkelingsagenda geplaas na druk deur China.

Een van die konsepresolusies deur leiers van die voorste nywerheidslande wat in Hangzhou was instemming tot samewerking om ekonomiese groei in Afrika te bevorder.

Die Chinese president, Xi JinPing, het deur middel van ‘n tolk gesê Afrikabevolkings sal bevoordeel word deur inklusiewe groei.

Nie-Westers leiers wat die beraad van die G20-lande bygewoon het wat pas in China te einde geloop het, eis die hervorming van die wêreld se leningsinstellings soos die Internasionale Fonds en die Wêreldbank.

Hulle eis dat die IMF sy kwota en stemreg herverdeel sodat dit ‘n regverdige weerspieëling is van die status van opkomende markte en ontwikkelende lande.

Xi JingPing het deur ‘n tolk gesê finansiële instellings behoort sensitief te wees teenoor armer lande.

‘n Aksieplan op die Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling vir 2030 is aanvaar en dit is die eerste keer dat die G20 as ‘n groep hul steun toesê aan nywerheidsontwikkeling in Afrika en alle ander ontwikkelende lande.

Die leiers van die sterk nywerheidslande het ook onderneem om handelbeperkings te verwyder en die wêreldekonomie op ‘n groeipad te plaas.

Die IMF het die wêreldgroei vir die jaar tot net bokant drie persent aangepas en vir aanstaande jaar tot tussen drie en vier persent.

Poetin met roomys op rooi tapyt gul ontvang by G20

Met die aankoms van president Obama in Hangzhou, was geen trap vir hom om die vliegtuig te verlaat nie en geen rooi tapyt nie.

Obama moes ‘n nooduitgang gebruik. ‘n Chinese amptenaar is daarna deur die Amerikaanse perskorps en nasionale veiligheidsadviseur Susan Rice verskree, maar die Chinees het hom nie van stryk laat bring nie: “Dit is ons land. Dit is ons lughawe,” het die Chinese amptenaar ferm geantwoord.

Die Russiese president Vladimir Poetin, het geen sulke probleme ondervind nie. Hy is op die rooi tapyt ontvang met sy geskenk van Russiese roomys aan Chinese leier Xi Jinping: “Ek het belowe ek sal roomys bring,” het Poetin gesê.

Xi Jinping is ‘n liefhebber van Russiese roomys. “Baie dankie vir die geskenk, vir die lekker roomys. Met elke reis na Rusland vra ek altyd om Russiese roomys te koop. En dan, by die huis, eet ons dit,” het die Chinese leier geskerts toe hy die geskenk in ontvangs neem.

Die verskille in die ontvangs van die twee wêreldleiers, was oral merkbaar.

Gesprekke tussen die Amerikaanse president Barack Obama en die Russiese president Vladimir Poetin op die kantlyn van die G20-beraad in China se Hangzhou, het langer geduur as wat beplan is.

Die twee leiers het die Amerikaans-gesteunde inval in Sirië en die Oekraïne bespreek, het die Kremlin se woordvoerder Dmitri Peskov gesê.

“Die vergadering was langer as wat beplan is. Sirië was in die eerste plek bespreek, en die Oekraïne,” het die woordvoerder gesê.

Poetin en Obama het ingestem tot informele samesprekings by die G20-beraad.

In Sirië worstel Amerika en Rusland steeds met verskille oor ‘n skietstaking-ooreenkoms waar die gevegte in dié land onverpoosd voortduur.

Die twee is deel van 20 staatshoofde van die wêreld se grootste ekonomieë wat hul jaarlikse beraad in Hangzhou hou.

Aanduidings is dat die informele gesprekvoering meer produktief was. Die leiers van Duitsland en Turkye het samesprekings oor visumvergunnings gehou.

Daar was ‘n geleentheid vir die nuwe Britse eerste minister, Theresa May, om haar land se toekoms ná uittrede uit die Europese Unie te bespreek. Sy het ook met pres. Poetin vergader.

Die president van China, Xi Jinping het tydens die opening gewaarsku dat die wêreldekonomie by ‘n kruispad is en dat die G20-leiers op ekonomiese kwessies moet fokus.

Intussen het die US Peace Council (USPC) gesê die kommerwekkende toestand in Sirië is nie die gevolg van ‘n burgeroorlog nie, maar ‘n inval.

Henry Lowendorf, Lid van die Uitvoerende Raad van die USPC sê Christene word geteiken in Sirië.

“Ons het dorpe gesien, wat basies Christelike dorpe is, wat reeds beleër is deur die [Moslem]terroriste, maar hulle is nou bevry. En die skade wat aan ‘n kosbaarheid soos die dorp genoem Maaloula, wat ‘n dorp is waar hulle nog Aramees praat, die taal van Jesus. En aanvalle op die Christelike bevolking.”

Katar, Saoedi-Arabië, Turkye, die Verenigde State van Amerika, en veral Israel steun die inval in Sirië en die destabilisering van die land, ten spyte van propaganda wat die teendeel wil beweer.

Net soos Libië voor die NAVO-bombardement, het Sirië gratis gesondheidsorg en gratis onderwys tot universiteit, maar anders as Libië ook ‘n groot Christenbevolking.

Die Vatikaan se openbare betrekkinge kom in rat: St Theresa van Kolkata

Anjezë Gonxhe Bojaxhiu, wêreldwyd bekend as Moeder Teresa, is tot heilige verklaar. Sy sal nou as St. Theresa van Kolkata bekendstaan.

Met ‘n Nobelprys onder die blad en ‘n nalatenskap van media-aandag wat ander supersterre in die skadu stel, is daar egter reeds aanduidings dat alles nie pluis was met die ontslape non nie.

Die Vatikaan se openbare betrekkinge oefening om haar as ‘n rolmodel voor te hou, terwyl sy twyfelagtige metodes gebruik het om haar werk te doen, moet ‘n mens tot nadenke stem.

Wat kan beter wees as saligverklaring gevolg deur kanonisering om die Kerk te vernuwe en lidmate te inspireer, veral op ‘n tydstip wanneer hul kerke besig is om leeg te loop en die Roomse owerheid paniekerig raak daaroor?

Saligverklaring is die derde stap in die rigting kanonisering. In kort, sal Moeder Teresa nou ‘n amptelike heilige van die Rooms-Katolieke Kerk word.

Wyle pous Johannes Paulus II het ‘n “wonderwerk” aan haar toegeskryf in 2003, buiten die twee ander wat ook moes plaasvind ten einde haar as ‘n heilige te erken.

‘n Vrou met abdominale pyn het herstel toe dokters en moderne medisyne nie die knoop kon deurhaak nie, het die pous destyds verklaar.

As die Vatikaan só ‘n saligverklaring aankondig, is daar gewoonlik ‘n vyf-jaar wagperiode.

Gerugte van Moeder Teresa se “goddelike heling” is daarna in die bekwame hande van Malcolm Muggeridge geplaas, ‘n joernalis met dieselfde Rooms-Katolieke ywer as sy.

Albei, en natuurlik die Roomse Kerk, wou ‘n bevolkingsontploffing in die Derdewêreld sien gebeur om hulle invloed te probeer herstel. Om daardie rede het sy en Muggeridge aktief teen alle vorms van voorbehoeding en geboortebeperking in die reeds oorbevolkte Indië gepreek.

Sonder Muggeridge, sou daar ongetwyfeld geen Moeder Teresa gewees het nie. Hy het sy bes gedoen om enige kritiek teen Moeder Theresa te smoor en haar aanhoudend buitenissige lof toegeswaai.

Die Duitse tydskrif Stern het vroeër nietemin ontbloot dat slegs 7 persent van skenkings aan haar organisasie wat gebruik is vir liefdadigheid eintlik daar beland het.

Die res is in geheime bankrekeninge weggesteek. Daar is berigte dat die missies wat met die geld gebou is, nie eens brood gekoop het om hul inwoners te voed nie, maar steeds staatgemaak het op plaaslike skenkings, terwyl daar oorgenoeg geld beskikbaar was.

In 2010, het Forbes aan die lig gebring dat die eerste huis ter beskerming van die armes, ‘n sterftesyfer van meer as 40 persent gehandhaaf het, nie veel beter as die ellende wat daagliks in Indië sigbaar is nie.

Dié soort onthullings is eerste deur ‘n Indiese dokter, Aroup Chatterjee gemaak wat ook gesien het hoe pasiënte by Moeder Theresa se sorgsentrums met besmette naalde ingespuit word.

‘n Britse joernalis, Christopher Hitchens het daarna ‘n program vir Channel4 gemaak. Hy het verder op Chatterjee se ondersoek voortborduur maar nie veel toegevoeg nie.

Die non is in 1997 in ‘n moderne Amerikaanse hospitaal oorlede met die beste sorg denkbaar, en is nie self onderwerp aan haar eie kultus van “lyding vir Christus” nie.

Meer as ‘n miljoen mense leef steeds op straat in Kolkata, Indië, byna ‘n vyfde van die bevolking.

Trump: Plan om muur tussen VSA en Mexiko met dwelmgeld te finansier

Die Republikeinse Party se presidentskandidaat, Donald Trump, het Woensdag in Phoenix, Arizona, in ‘n brander van ‘n toespraak belowe dat onwettige immigrante uit Mexiko se dae getel is want die VSA gaan ‘n muur bou met dwelmgeld.

“Ons gaan ‘n muur bou en Mexiko gaan daarvoor betaal!” het hy onder luide toejuiging gesê.

Trump het gesê die 11 miljoen mense wat onwettig in Amerika is, gaan teruggestuur word na waar hulle vandaan kom.

Ure nadat hy die Mexikaanse president, Enrique Peña Nieto, ontmoet het, het Trump gesê: “Ons sal ’n groot muur op die suidelike grens bou. En Mexiko sal daarvoor betaal, 100%. Hulle weet dit nog nie, maar hulle gaan vir daardie muur betaal.”

Die Republikeinse kandidaat het hom soos ‘n waardige president gedra en hy is met grasie deur die Mexikaanse president ontvang soos ‘n ware leier.

‘n Professor in joernalistiek, professor Carlos Bravo Regidor het beaam dat Trump soos ‘n leier opgetree het. “Hy was rustig, ferm, presidensieel.”

“Ons vernedering is nou totaal,” het ‘n Mexikaanse televisiejoernalis van Televisa getwiet.

Nieto het later getwiet: “Aan die begin van die gesprek met Donald Trump het ek dit duidelik gemaak dat Mexiko nie vir die muur gaan betaal nie.”

Die Mexikaanse president Peña Nieto het vroeër op ’n mediakonferensie saam met Trump egter gesê hy steun die Amerikaanse kandidaat se stryd teen oorgrensmisdaad.

Trumpveldtogbestuurders sê die plan is dat die onwettige dwelmkartels gaan betaal vir die muur.

Bronne na aan beide die Mexikaanse regering en die Trumpveldtog het bevestig dat hierdie voorstel voorgelê is, maar hulle wil anoniem bly, gegewe die voorlopige aard van die gesprekke.

Volgens die jaarlikse oudit van die Amerikaanse Departement van Justisie vir die boekjaar vir 2015, beloop die bates van die kartels waarop beslag gelê is reeds byna $9 miljard, en dit sluit nie die bates in wat deur die Mexikaanse regering gekonfiskeer is nie.

In sy toespraak in Phoenix het Trump gesê die stryd teen onwettige immigrante in Amerika sal afskop om dié wat ernstige misdade gepleeg het, so gou as moontlik te uit die VSA te sit.

Hy sê hy ‘n spesiale deportasie-taakmag moet misdadigers identifiseer wat gedeporteer kan word.

Nieto se besluit om Trump te nooi om die muur te bespreek is met ontsteltenis deur die Demokrate begroet en met groot vreugde deur Nieto se politieke vyande tuis.

Nieto het Hillary Clinton, die Demokratiese Party se presidentskandidaat, ook uitgenooi om sy land te besoek. Dit is nie bekend of sy die uitnodiging aanvaar het nie.

Mexikaanse opposisielede sê Nieto is deur Trump, die land se grootste vyand, vir propaganda misbruik en sy uitnodiging was ‘n “monumentale fout” omdat dit die Amerikaanse kandidaat se posisie verder verstewig het.

In ‘n 2012-skatting wat saamgestel is deur die RAND Corporation op versoek van die Withuis, is bevind dat Amerikaners gemiddeld $100 miljard jaarliks op die vier mees verhandelde onwettige dwelms spandeer: crack/kokaïen, heroïen, dagga, en methamphetamien (meth).

Geweld breek in Gaboen uit na Bongo wen

Gaboen se presidensiële wag het in die nag die opposisieparty se hoofkantoor aangeval. Minstens een persoon het omgekom en minstens 20 is beseer, het opposisiewoordvoerders gesê.

Dit volg na betogings teen die herverkiesing van die Sentraal-Afrika-land se president en waar ‘n duidend mense reeds aangehou word.

Pres. Ali Bongo Ondimba het die opposisie-kandidaat met ‘n klein meerderheid verslaan en daardeur die tafel vir die onluste gedek.

Bongo het met 49,8 persent van die stemme teenoor Ping se 48,2 persent geseëvier. Die grondwetlike hof moet die voorlopige uitslae nog finaliseer.

Die aanval deur soldate in groet barette, wat hulle as lede van die presidensiële wag geïdentifiseer het, het omstreeks 01:00 Donderdag plaasgevind. Ping was nie ten tyde van die aanval in die kompleks nie.

‘n Inwoner sê regeringsmagte het ook die RTN-opposisie se radio- en televisiestasie aangeval.

Voor die aanval het die polisie traangas na honderde opposisiebetogers in die hoofstad, Libreville, afgevuur. Die betogers het op hul beurt motors en rommel voor die Nasionale Vergadering aan die brand gesteek.

Ooggetuies sê betogers in verskeie distrikte het ‘n inkoopsentrum gevandaliseer, ‘n bank beroof en geboue aan die brand gesteek.

Onluste en plundery het ook voorgekom nadat Bongo tydens vorige verkiesings in 2009, ná die dood van sy pa, Omar Bongo, aan bewind gekom het.

Waarnemers van die Europese Unie het die gebrek aan deursigtigheid met verkiesingsuitslae gekritiseer.

Hulle het in ‘n verklaring ‘n beroep op Gaboen gedoen om die volledige uitslae vir elke stempunt te publiseer en alle rolspelers gemaan om te help om die vrede te bewaar.

Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Ban Ki-moon, het politieke leiers en hul ondersteuners aangeraai om hulle te weerhou van verdere dade wat vrede en stabiliteit in die land kan ondermyn.

In Suid-Afrika het minstens 400 Gaboenese burgers by die Franse Konsulaat in Kaapstad Donderdag betoog oor die betwiste verkiesingsuitslae.

Die betogers het baniere opgehou terwyl hulle die volkslied van hul land gesing het.

Hulle beweer dat die regerende party stemme ten gunste van Bongo gemanipuleer het.

Die Bongo’s, een familie, klou nou al aan die Wes-Afrika-land se leierspos vir byna vyf dekades. Ali Bongo het oorgeneem by sy pa, Omar Bongo, in 2009 ná sy dood.

Daar word vermoed dat Jean Ping, die werklike verkose president van die land is na verkiesingsbedrog.

Die bevolkingsgetalle van Haut-Ogooué-streek is op Wikipedia vyf of ses keer aangepas gedurende die aanloop tot die verkiesing, met President Bongo wat met meer as 99% van die stemme gewen het.

Dit beteken dat die hele bevolking ouer as 18 jaar en stemgeregtig is, het een ontleder gesê.

Frankryk is besonder gretig dat Bongo die leisels aan Ping, ‘n half-Chinees, oorhandig. Parys het ‘n beroep op Bongo gedoen om af te stap omdat hulle voel dat China te veel van ‘n invloed oor Gaboen deur omkoopgeld verkry het.

Ping is ‘n gewese swaer van Bongo wat met sy suster getroud was. Hy is dus goed bekend met hoe die vurk in die hef steek in die Bongo-binnekring. Frankryk het Ping se verskiesingsveldtog in hul voormalige kolonie bestuur.

May moet ernstige Brexit-verdeeldheid besweer

Die Britse eerste minister, Theresa May, het Woensdag haar senior ministers vir hul eerste gesprekke sedert die somervakansie oor Brittanje se uittrede uit die Europese Unie (EU) ontbied.

Dit kom te midde van berigte oor ernstige verdeeldheid wat die pad vorentoe betref.

Die minister van finansies, Philip Hammond, wil glo hê Brittanje moet ‘n ooreenkoms bereik om in die enkele EU-mark aan te bly.

Daar is ook verwarring oor die verantwoordelikhede van verskillende regeringsdepartemente in enige onderhandelinge met Brussel.

Die kabinetsvergadering by Chequers, noordwes van Londen, het ook ‘n dinkskrumsessie oor onderhandelingstaktiek met Brussel en sleuteloogmerke ingesluit.

WHO hou noodvergadering oor Zika

Reuters berig dat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) Dinsdag aangekondig het dat sy nood­komitee oor Zika vandag sal ver­gader.

Die vergadering sal gehou word om die uitbreking se ewolusie en neurologiese defekte wat met die muskiet-oordraagbare virus gepaard gaan, te bespreek.

Die paneel van onafhanklike deskundiges onder leiding van dr. David Heymann, het laas op 14 Junie byeengekom en vergader elke drie maande om vordering in die stryd teen die siekte te hersien.

Heymann is tans professor in Epidemiologie by die London School of Hygiene & Tropical Medicine, hoof van die Sentrum vir Gesondheidssekuriteit by Chatham House in Londen en voorsitter van Openbare Gesondheid vir die Verenigde Koninkryk.

Hy het ook nóú saamgewerk met US Centers for Disease Control and Prevention (CDC) in die VSA na die uitbreking van Ebola in Afrika.

Die Zika-uitbreking het verlede jaar in Brasilië begin en sedertdien oor die Amerikas versprei.

Singapoer het Maandag bevestig dat 15 nuwe gevalle van die siekte aangemeld is, wat die totaal op 82 gevalle in die land te staan bring.

Suid-Korea, Taiwan en Australië het intussen reiswaarskuwings uitgereik om swanger vroue en ander oor die situasie in Singapoer in te lig.

Die meeste mense wat Zika opdoen, toon geen simptome nie wat dit makliker maak om talle ander aan te steek voordat nie virus ontdek word.

Werkers in Singapoer se koors word tans twee maal per dag gemeet, hulle moet vitamien C drink en muskietweerder gebruik.

Franse skynregse kandidate maak bohaai oor boerkini

Die veldtog om ‘n skynregse kandidaat vir Frankryk se presidentsverkiesing te kies, het tot ‘n woordestryd tussen oudpres. Nicolas Sarkozy (foto) en sy hoofopponent, Alain Juppe, oor die verbod op boerkini-swemdrag gelei.

Die vonke tussen die twee kandidate vir November se skynregse voorverkiesing volg nadat ver­skeie Franse burgemeesters besluit het om ‘n bevel te veront­agsaam wat Vrydag deur Frankryk se hoogste administratiewe hof uit­gereik is.

Ingevolge die bevel word die verbod op boerkini’s opgehef.

Sarkozy, wat van 2007 tot 2012 president was, probeer om die gewilde Marine Le Pen te ontsetel as die regse kandidaat met die boerkini-sage.

Hy het gesê Frankryk het die reg om sy sekulêre lewenswyse te beskerm.

“Ons wil geen uiterlike tekens in ons land hê wat daarop dui dat ’n persoon tot ’n sekere geloof behoort nie,” het hy die naweek gesê. Maar Joodse mans, waaronder Sarkozy self, dra openlik ‘n hoofbedekking.

Juppe, ’n voormalige eerste minister wat volgens meningspeilings Frank­ryk se gewildste politikus is, het op sy beurt gesê hy wil eerder mense verenig pleks van die vuur verder stook.

Juppe het dit egter nie gewaag om na Sarkozy se hoofbedekking te verwys nie.

Le Pen het vroeër Sarkozy se pogings afgelag en gesê hy word net gemotiveer deur persoonlike ambisie en beskik oor geen enkele oortuiging nie.

Trump na Mexiko om oor muur, immigrante te vergader

Dit is bevestig dat die Republikeinse presidensiële kandidaat Donald Trump Woensdag ‘n reis na Mexiko sal onderneem om die Mexikaanse president Enrique Peña Nieto (foto) te ontmoet.

Nieto het voorheen uiters negatiewe kommentaar oor Trump gelewer, insluitende ‘n opmerking dat Trump ‘n “fascistiese diktator” is omdat hy ‘n muur tussen die VSA en Mexiko wil oprig om onwettige immigrante uit te hou.

Volgens bronne is Mexikaanse amptenare nóú betrokke by die beplanning van die besoek. Hulle het op voorwaarde van anonimiteit gesê die gesprek sal ‘n breë verskeidenheid van onderwerpe dek wat wissel van handel, sekuriteit, immigrasie en die omstrede kwessie van grenshandhawing.

‘n Vergadering met Nieto bied ook aan Trump die kans om skeptiese en besluitelose kiesers van sy presidensiële temperament te oortuig.

Daar word verwag dat Trump-adviseur en voormalige New York-burgemeester Rudy Giuliani, RNC-voorsitter Reince Priebus en Alabama Senator Jeff Sessions, saam met hooggeplaaste Mexikaanse amptenare die vergadering sal bywoon.

Die vergadering sal plaasvind ten spyte van kommer by beide die Mexikaanse veiligheidsdiens asook die Amerikaanse Geheimediens. Vrese vir Trump se veiligheid is reeds geopper weens doodsdreigemente wat hy voortdurend ontvang.

Die presidensiële verkiesing kan vertraag word of heeltemal geskrap word indien die samesweringsteorieë waar word en ‘n kandidaat sterf, sê Amerikaanse wetmakers.

Amptenare sê dat die twee leiers ‘n paar verklarings sal uitreik na aanleiding van die vergadering, maar hulle verwag nie dat ‘n volledige perskonferensie gehou sal word nie.

Die reis is veral histories vir Trump omdat daar nog geen vorige presidensiële kandidaat van ‘n groot party ooit na Mexiko gereis het as deel van sy veldtog nie.

‘n Nuwe verslag van Gallup dui daarop Trump se poging Spaanssprekende kiesers kan lok.

In 2012 het die Republikeinsgenomineerde Mitt Romney die Spaanse stem met ‘n yslike 44 persent vervreem.

Selfmoordbom ontplof in hoofstad van Kirgistan

‘n Selfmoordbomaanvaller het Dinsdag met ’n motor deur die ingang van die Chinese ambassade in Bisjkek, die hoofstad van Kirgistan, gejaag en ’n bom laat ontplof.

Dié insident het opspraak gemaak omdat die plofbare Sentraal-Asië en die Kaukasus-gebied as ‘n brandpunt vir Moslemgeweld beskou word.

Die ambassade is langs die Amerikaanse ambassade in Bisjkek se suidelike voorstede geleë.

Dit het die lewe van die aanvaller geëis en drie personeellede van die ambassade, twee 17 jaar oue tuiniers en ’n onbekende vrou, gewond.

Almaz Kubatbekov, die hoof mediese beampte van Bisjkek se nasionale instituut vir trauma en ortopedie, sê die drie slagoffers het harsingskudding en veelvuldige kneusplekke opgedoen.

Foto’s van die toneel toon die binnehof van die ambassade wat met puin besaai is. Vensters van die gebou is ook uitgeruk en die gepleisterde mure is deur skrapnel beskadig.

Die ministerie van binnelandse sake het die voorval as ’n terroriste-aanval bestempel.

Die adjunkpremier, Zhenish Razakov, het aangedui dat hy ’n vergadering sal lei om veiligheidsmaatreëls te verskerp met die oog op vandag se viering van onafhanklikheidsdag en ’n spitsberaad van voormalige Sowjet-lande wat in middel September sal plaasvind.

Kirgistan, ’n voormalige Sowjet-­republiek, grens aan China en het ’n oorwegend Moslem-bevolking.