Die Tshwane Metroraad het misluk met pogings om die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde (ASA) se bevinding in AfriForum se guns, naamlik dat dit misleidend is om in advertensies na die stad Pretoria as “Tshwane” te verwys, ter syde te laat stel.
Die Metroraad het op 1 Februarie 2010 sy hofaansoek in hierdie verband teruggetrek. Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het daarna ʼn verswarende kostebevel teen die Metroraad gegee weens die raad se “miskenning van hofprosedures”, en verder beveel dat die raad weens die laat terugtrekking ook die kostes moet betaal van die regspanne wat 2 Februarie vir die aanhoor van die saak oopgehou het.
Gevolglik geld die verbod op die plasing van die Metroraad se nie-statutêre advertensies, wat deur die ASA ingestel is weens die Metroraad se weiering om die uitspraak te aanvaar, steeds.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wat die klag teen die Metroraad by die ASA ingedien het, het sy tevredenheid uitgespreek dat die verbod op “Tshwane”-advertensies steeds geld. “Ons is reeds sedert 3 Mei 2005 gewikkel in hierdie dispuut voor die ASA en uiteindelik is die punt nou bereik waar die Metroraad noodgedwonge moes aanvaar dat die ASA se beslissing nie omvergewerp kan word nie.
Dit is net jammer dat die Metroraad in die proses honderde duisende rande van die belastingbetalers se geld op regskostes gemors het,” het Kriel gesê.
Die ASA het die verbod teen die Metroraad se advertensie ingestel nadat onder meer bevind is dat die raad “ʼn geskiedenis het van oortredings van die advertensiekode” en dat hulle ASA-uitsprake “flagrant” misken het.
Volgens Kriel is dit onverskillig dat die Tshwane Metroraad ter wille van ideologies- en polities-gedrewe pogings om van Pretoria se naam ontslae te raak, die geleentheid om advertensies te plaas, opgeoffer het.

Die ANC se besluit om in openlike konfrontasie met die Afrikanerinwoners en belastingbetalers van Pretoria te tree met sy provokatiewe naamsverandering moet beantwoord word.” So sê dr. Dan Roodt van PRAAG, in antwoord op die nuus dat die ANC se ontplooide kaders wat oor die munisipaliteit van Pretoria regeer, beplan om die stad se naam finaal te verander.
Dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus het hom in ‘n verklaring teen die versnelde naamsverandering in Pretoria uitgespreek. Mullder meen “Die ANC in Pretoria se verhaasde pogings om die stad se naam voor die Wêreldbekersokkertoernooi te verander, dryf Suid-Afrikaners uitmekaar in ’n tyd waar die regering juis op groter eenheid en patriotisme voor die toernooi gehoop het. Die ANC maak ’n groot fout as die organisasie dink dat hulle nasiebou met die oog op die Wêreldbeker kan bevorder en terselfdertyd Pretoria se naam sonder teenstand kan verander.”

“‘n Memorandum wat die Jong Kommuniste Liga van Suid-Afrika Vrydag (22/01/10) in Christiana aan die Provinsiale Onderwysdepartement oorhandig het, getuig van rassehaat en onkunde oor die Grondwet van Suid-Afrika. Om in die memorandum te vra dat Afrikaans in alle openbare skole verbied moet word en dat Engels die onderrigtaal moet wees, is ‘n miskenning van die reg op moedertaalonderrig soos vervat in die Grondwet. Hierdeur misken die Jong Kommuniste Liga al die ander inheemse tale en bevorder die taal van kolonialisme. Die Jong Kommuniste is net besig om rassehaat aan te blaas en skep polariserings soos Cosatu in Noordwes,” sê mnr. Pieter Groenewald (LP), provinsiale leier in Noordwes en hoofwoordvoerder oor Polisie van die Vryheidsfront Plus.