Dis ‘n fees! Afrikaansdag by PRAAG gevier

Nadat PRAAG, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, ‘n klompie jare gelede begin het om 14 Augustus as Afrikaanse taaldag te herdenk, het die idee allerweë byval gevind en word dit vandag landwyd deur organisasies, boekwinkels en selfs internasionaal gevier.

As deel van taaldag, verskyn Fransi Phillips se jongste roman, Die lemmingmense, vandag by Praag-uitgewery. Koop dit hier.

In die loop van die dag publiseer ons artikels, asook video-opnames en onderhoude in ‘n deurlopende virtuele byeenkoms in en rondom Afrikaans. Besoek dus gereeld vandag ons webblad, sosiale media en YouTube-kanaal vir verdere boeiende vrystellings!

Soos wyle Fanus Rautenbach gesê het: “Afrikaans is soos ‘n kurkprop in water — hoe meer jy hom ondertoe druk, hoe sterker spring hy weer boontoe.”

TLU SA misnoeg oor kwart-miljard rand betalings aan SAFDA

TLU SA neem met misnoeë kennis van bewyse dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling oor die afgelope vyf jaar meer as ‘n R246 miljoen aan die South African Farmers Development Association (SAFDA) gegee het.

Volgens ‘n parlementêre antwoord aan die DA het minister Thoko Didiza gesê haar departement het R246 664 290 aan SAFDA betaal, maar daar is geen duidelikheid oor hoe en hoe suksesvol die besteding hiervan is nie. Die ooreenkoms tussen die twee partye bevat verder ‘n vertroulikheidsklousule, wat nog meer vrae laat ontstaan oor waarvoor hierdie openbare fondse aangewend is.

“Ons is redelik oortuig dat die gemeenskappe wat veronderstel was om deur hierdie fondse bevoordeel te word, geensins beter daaraan toe is nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Soos met die finansiële hulp wat die regering aan die begin van die COVID-19-pandemie aan klein boere uitbetaal het, is dit duidelik dat dié wat die fondse toeken geen insig in die voedselvoorsiening van Suid-Afrika het nie. Hierdie boere voorsien maar 3% van die nasionale aanvraag na voedsel. Deur die grootste finansiële ondersteuning aan hierdie groepe en bestaansboere te gee, help geensins om die 68% verstedelikte bevolking van kos te voorsien nie.”

Dit is vir TLU SA duidelik dat hierdie tipe hulpverlening bloot ‘n poging is om mense afhanklik te hou van die staat. Dit is nie volhoubaar nie en gaan niemand op die lang duur bemagtig nie.

“Ons verwag dat die regering ernstig moet besin oor die toekoms van die land,” sê mnr. Geldenhuys. “Die regering is besig om al hoe verder van moontlike oplossings af weg te beweeg. Die inwoners van die land begin ook al hoe meer besef dat daar binne die beleidsraamwerk van die ANC nie oplossings is nie. Gemeenskappe sal al hoe meer hulle eie omstandighede vir die toekoms moet skep.”

FW de Klerk bekeer hom tot Islam, skenk geld vir moskee

Die voormalige president en leier van die Nasionale Party, mnr. F.W. de Klerk, het bekendgemaak dat hy hom tot die Moslemgeloof bekeer het. “Ek het eers in Boeddhisme belanggestel, maar het nou my ware tuitste gevind,” sê De Klerk.

Hy gaan ook persoonlik R30 miljoen skenk om ‘n moskee op Potchefstroom op te rig. Die res van die fondse om ‘n groot moskee op die dorp te bou, sal van Katar af kom. “Ek het spesiaal Doha toe gereis vir samesprekings met Emir Tamim bin Hamad Al Thani wat net so geesdriftig oor die projek is soos ek.”

Die moskee sal naby die Potchefstroomkampus van die Noordwes-universiteit opgerig word sodat dit ook vir studente en jongmense toeganklik sal wees.

“Ek het as Gereformeerde Christen grootgeword, en agterna die Boeddhisme op die proef gestel. Ek voel egter dat Islam die ware geloof van Afrika en Suid-Afrika, maar ook Europa, behoort te wees,” sê die oud-president. “Die Christendom het te veel skade aan ons vasteland aangerig.”

Mev. Elita de Klerk, sy gade, vereenselwig haar met die kentering in haar man se lewe en sal voortaan in die openbaar ‘n hidjab dra. “Dit is vir my glad geen moeite of verleentheid nie,” sê sy. “Ek het nog altyd geglo dat vroue hul fatsoenlik en kuis behoort te gedra.”

Die De Klerks vertrek binnekort op ‘n pelgrimstog na Mekka vir Ramadan. “Ramadan strek vanjaar van 13 April tot 13 Mei wat ons ons in die Heilige Land, Saoedi-Arabië, sal deurbring,” het FW gesê. “‘n Mens moet op 13 April begin vas, maar as iemand wat eers onlangs Mohammed aangeneem het, het ek besluit om sommer van vandag af, een April, te begin vas en my van my sondes te reinig.”

“Vanoggend toe die son opkom, het ek op ‘n matjie in die rigting van Mekka gaan lê en my voor Alla verootmoedig. Eers vanaand ná sononder sal ek enige spyse inneem,” sê die oud-president.

Mnr. Wannie Carstens, ‘n taalkundige van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-universiteit, het die bekering verwelkom. “Afrikaans is eintlik ‘n Moslem-taal,” sê hy. “Dit het via Arabies in 1860 ontwikkel. Noudat Afrikaans orals aan die universiteite afgeskaf word, kan ons net sowel Arabies naas Engels inbring. Só sal die ware aard van Afrikaans behoue bly.”

Mnr. André Bartlett van die Sentrum vir die ontwikkeling van die bediening aan die Universiteit van Pretoria het hulde aan mnr. FW de Klerk gebring. “Hier by die sentrum veg ons kliphard vir gays in die NG Kerk, maar ook in die moskee. Vele NG Kerk-geboue staan reeds leeg. As katedrale in Europa in moskees omskep kan word, waarom nie ook NG Kerke, Hervormde Kerke, Gereformeerde Kerke nie?”

Mnr. Bartlett het uitgevaar teen rassiste en Islamofobe wat dalk mnr. De Klerk sou wou kritiseer. “Islam is die godsdiens van liefde. Daar is veel meer verdraagsaamheid teenoor homoseksualiteit onder Moslems as onder tradisionele NG Kerk-lidmate. Ons kan by hulle gaan leer,” meen André Bartlett.

Lesufi wil dat Grondwethof Orania ‘nietig verklaar’

Panyza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Saterdag gesê hy sal die Grondwethof nader om Orania se regstatus as die enigste Afrikaanse dorp te beëindig.

Lesufi het gevra dat Orania se bestaan hersien moet word en gesê dat dit nie inklusiwiteit en demokrasie simboliseer nie.

Rondom dié dorp, wat in 1991 in die Noord-Kaap gevestig is, geniet heelwat publisiteit in Suid-Afrika en in die buiteland, al beskik dit maar oor ‘n paar duisend inwoners, maar met ‘n eie geldeenheid en vlag.

Lesufi het gesê dat hy met sy advokate beraadslaag het: “Ons stel ‘n dokument saam om aan die Grondwethof voor te lê dat enige ooreenkoms rondom Orania tot nietig verklaar word. Ons het ‘n sterk span en daar is geen manier waarop Orania in ons land kan bestaan ​​nie. Dit voldoen nie aan die waardes van Suid-Afrika nie en die mense wat agter Orania wil wegkruip, sal ontmasker word.”

Genl. Constand Viljoen oorlede

Die voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag en stigter van die Vryheidsfront, genl. Constand Viljoen is vandag oorlede. Hy was 86 jaar oud. Dr. Pieter Mulder, die vorige leier van die Vryheidsfront Plus, het dit in ‘n twiet bevestig.

PRAAG betuig dank aan Nederlandse parlement ná mosie teen SA grondgryp

PRAAG (die Pro-Afrikaanse Aksiegroep) spreek sy dank uit teenoor die Nederlandse Tweede Kamer wat ‘n mosie aangeneem het waarin die ANC se rassistiese grondgrypplan teen blanke boere gekritiseer word.

Die regerende VVD, asook die Forum voor Democratie van mnr. Thierry Baudet, Partij voor de Vrijheid onder mnr. Geert Wilders, die SGP, CDA, CU en 50Plus het die mosie gesteun, terwyl die linkse partye daarteen gestem het.

“Nederland het hiermee vir die eerste keer die kordon van politieke korrektheid rondom Suid-Afrika verbreek,” het dr. Dan Roodt, leier van PRAAG, gesê. “Tereg het die Nederlandse parlement ingesien dat die ANC-terroristebewind se grondonteieningsplan teen internasionale menseregtebeginsels indruis en daarom verwerplik is.”

“Nederlanders is, soos Afrikaners, ook boere en besef daarom watter mate van toewyding en finansiële risiko’s by boerdery betrokke is. Dat die ANC-terroristebewind eenvoudig met ‘n pennehaal boere se grond wil onteien, spreek van dieselfde soort waansin as dít wat die ewe radikale, afrosentriese bewind van Zimbabwe genoop het om dié land ekonomies te vernietig,” het Roodt gesê.

PRAAG hoop dat alle EU-lande, asook die VSA, Kanada en Australië die voorbeeld van Nederland sal volg en mosies teen die anti-blanke rassisme, menseregteskendings en beplande grondeiening van die ANC-terroristebewind sal aanneem.Die bewoording van die mosie, wat deur mnre. Martijn van Helvert, van die Christen-Democratisch Appèl en Kees van der Staaij, van die Staatkundig Gereformeerde Partij ingedien is, lui soos volg:

De Kamer,
gehoord de beraadslaging,
constaterende dat de regering en de meerderheid van het parlement in Zuid-Afrika over willen gaan tot landonteigening van blanke boeren zonder compensatie en daartoe een grondwetswijziging die daartoe in voorbereiding is, niet eens nodig achten;
constaterende dat zowel de Universele Verklaring van de Rechten van de Mens als het Afrikaans Handvest voor de Mensenrechten willekeurige ontneming van eigendom verbieden en al helemaal op basis van huidskleur;
verzoekt de regering, bilateraal en in internationale fora, duidelijk stelling te nemen dat de voorgenomen landonteigening van blanke boeren in
Zuid-Afrika, zonder compensatie, in strijd is met de mensenrechten, en druk uit te oefenen op Zuid-Afrika om ervan af te zien, en gaat over tot de orde van de dag.
Van Helvert
Van der Staaij

Sanger Steve Hofmeyr aangekla van ‘haatspraak’ ná twiet oor Zindzi Mandela

Toe die dogter van Nelson Mandela en Suid-Afrika se ambassadrise in Denemarke twiet dat wit boere in Suid-Afrika “bewe” omdat hul grond binnekort deur haar party gekonfiskeer sou word, het die gewilde sanger Steve Hofmeyr op Zindzi Mandela gereageer deur te sê dat sy belasting haar salaris betaal en dat hy daarom teoreties haar “baas” is.

Vir sy feitelike akkuraatheid sal Hofmeyr aangekla word van “haatspraak”, meer spesifiek crimen injuria, ‘n ou vorm van kriminele laster in Suid-Afrika wat die afgelope paar jaar gebruik is om hoofsaaklik blankes vir “haatspraak” te vervolg.

Die land se regerende party, die ANC, het ‘n verklaring uitgereik waarin hulle aangekondig het dat hulle ‘n aanklag van crimen injuria teen Steve Hofmeyr by ‘n polisiekantoor sal aanhangig maak vir “sy rassistiese en onmenslike uitbarstings op sosiale media wat getuig van barbarisme, rassisme en toksiese manlikheid “.

In een van haar twiets het Zindzi Mandela daarna verwys dat sy in Denemarke “op wyn en etes getrakteer word” en op Engels gesê:

“Terwyl ek hier op wyn en etes getrakteer word .. wonder hoe ek hoe dit in die wêreld van bewende gronddiewe gaan. #OnsGrond.”

Die regerende ANC het ‘n beleid aangeneem wat alle landbougrond wat aan wit boere behoort as “gesteelde grond” beskou op grond daarvan dat wit mense, selfs as hulle grond van ‘n vorige verkoper gekoop het, dit nie regtig besit nie omdat hulle nie rasse-Afrikane is nie.

In vorige gevalle waar witmense skuldig bevind is aan haatspraak teen ‘n swart persoon, het hulle boetes van sowat R150 000 (Penny Sparrow) of tot drie jaar tronkstraf (Vicki Momberg) ontvang.

Aanvanklik het die ANC aangekondig dat hulle Donderdag die aanklag teen Hofmeyr sou aanhangig maak, maar hulle het nou ‘n verklaring uitgereik dat dit eers op Maandag 24 Junie sal plaasvind.

Volgens die ANC toon Hofmeyr se twiet “wit arrogansie en is ‘n handboek-voorbeeld van wit bevoorregting wat in die kiem gesmoor moet word”.

‘n Regskundige, Albert Murphy, het die regerende party ‘n grap genoem. “Die beweerde kriminele aanklagte wat die ANC teen Steve Hofmeyr wil instel op grond van ‘n twiet van hom oor Zindzi Mandela, is ‘n klug!

“Daar is absoluut niks misdadigs aangaande die twiet nie en geen aanklaer wat sy sout werd is, sou voortgaan met daardie klagtes nie. Die ANC is ‘n grap. ”

Mandela se twiets uit Denemarke op 13 en 14 Junie 2019 het soortgelyke rassedreigemente as dié van die ANC self bevat (op Engels):

“When you came here without land you found the original people making fire. Next you’ll claim you taught us. Just like Chris Barnard learnt the basics of heart surgery from his Black gardener. What you’re good at is fantasy.”

“Dear Apartheid Apologists, your time is over. You will not rule again. We do not fear you. Finally #TheLandIsOurs”

“Miss all these trembling white cowards, shem [I pity them]. Botha, Potgieter, Thieving Rapist descendants of Van Riebeeck, etc: how are you my babies?”

Dit is opmerklik dat 84 persent van swart grondeise in Suid-Afrika in stedelike gebiede geliasseer word en 93 persent van grondeisers verkies finansiële vergoeding eerder as grond.

Zindzi Mandela se rassistiese twiets het ‘n opskudding in die land veroorsaak. Maar die Nelson Mandela-stigting se Luzuko Koti het aan die Johanneburgse Engelstalige dagblad The Star gesê: “Ons het nooit gesê ons wil Zindzi Mandela ontmoet om haar twiets te bespreek nie.”

Maar toe Koti later met die Afrikaanse Sondagkoeranant Rapport praat, het hy gesê: “Ons wil met me. Mandela ontmoet en verstaan ​​wat haar standpunt is.”

Tuinier in hegtenis as verdagte in Kennealy-saak

Die tuinwerker van die vermoorde Annette Kennealy is gisteraand in hegtenis geneem. Hy heet Kenny Ramatshimbila en het op haar perseel gewoon. Sowel boere in die Louis Trichardt-omgewing as die polisie se woordvoerder, kol. Moatshe Ngoepe, het dit bevestig.

“Annette het haar ma gebel en gekla dat die tuinwerker besig was om ‘n baie slegte houding te ontwikkel,” het die vermoorde Kennealy se buurman gesê. “Dis moontlik dat daar ‘n struweling was, waarna hy haar met die hamer en ysterpyp doodgeslaan het.”

Annette Kennealy was ‘n bekende kampvegter teen plaasmoorde in die Louis Trichardt-omgewing en het veral skakelwerk met buitelandse media gedoen om hulle oor die toestande in Suid-Afrika in te lig. Die nuus dat sy vermoor is, het landwyd skokgolwe veroorsaak. Vanoggend in Johannesburg en Pretoria het die dagblad Beeld se baniere op lamppale gelui: “Aktivis op hoewe vermoor.”

In sy reaksie gister het dr. Dan Roodt van PRAAG geskryf dat hy vermoed dat sy deur ‘n bekende vermoor is aangesien sy altyd gewapen was. “My vriendin en aktivis vir landelike veiligheid, Anntte Kennealy, het self die slagoffer van ‘n verskriklike plaasmoord geword…. Sy was baie dapper, en het altyd ‘n wapen by haar gedra, ‘n 9mm-Astra-pistool. Kennelik was haar paraatheid nie genoeg om haar uiteindelik te red nie. Sy is óf deur iemand gedood wat sy geken het óf sy is verras.”

Dit blyk dat Kennealy wel haar pistool by haar gehad het tydens die voorval. Nadat die verdagte ondervra is, het hy die pistool op die moordtoneel aan die polisie uitgewys.

“Waarom het sy hom nie geskiet nie?” het een van Kennealy se vriende, met wie PRAAG vanoggend gesels het, gevra.

Blykbaar het die verdagte reeds erken dat hy die moord gepleeg het. Hy het egter nog nie in die hof op ‘n moordklag verskyn nie.

Nog kommentaar van boere in die omgewing was: “Totdat ons ons eie werk begin doen, sal ons nooit veilig wees nie. Annette het hom nie nodig gehad nie. Sy het haar perde verkoop. Maar sy het hom daar laat bly en af en toe die pad bietjie laat regmaak. As sy alleen was, het sy nou nog geleef.”

Kennealy se moeder het Maandagaand begin onraad vermoed toe sy Sondagaand nie haar selfoon beantwoord het nie. Sy het ook nie soos gebruiklik haar om 18:00 op die plaaslike plaaswag se burgerbandradio aangemeld nie. Toe iemand Maandagoggend uitgestuur is om ondersoek in te stel, is haar lyk omstreeks 9:00 ontdek.

Op haar Facebook het Annette Kennealy haar die bynaam Tshinakaho gegee, tesame met die Engelse onderskrif: “White lives matter.”

Die radio-omroeper van RSG, Izak du Plessis, het foto’s van haar op sy Facebookblad geplaas en hulde aan haar gebring:

Mooi loop, Tshinakaho. Dankie vir die stil nagte in jou paradys op die berg wat jou hel geword het. Dankie vir die diep gesels, vir die spesiale tyd saam met jou, die straight shooting, die aand toe ons knieë geraak het in Saartjie se garage, die blywende vriendskap daarna en die mooi van jou hart. Dankie vir daai naweek toe ons dié foto’s geneem het. Ek sal jou nooit vergeet nie.

Afrikanerbond smeek Ramaphosa vir ‘ministerie vir minderhede’

Die Afrikanerbond het op Sondag 19 Mei voorgestel dat ‘n permanente ministerie van Suid-Afrikaanse minderhede / gemeenskappe gestig word.

In ‘n brief aan president Cyril Ramaphosa het die hoof van die Afrikanerbond, Jan Bosman, die president gevra om ernstig oorweging te skenk aan die vestiging van ‘n skakelingmeganisme vir minderhede en Suid-Afrikaanse taal-, kulturele en godsdienstige gemeenskappe om die bekommernisse en spesifieke aspekte te bevorder, te evalueer en te monitor, asook die behoeftes van hierdie groepe in die verskillende regeringsdepartemente, provinsies en staatsinstellings.

In hierdie verband het die organisasie een of meer van die volgende voorgestel:

  • ‘n Permanente ministerie van Suid-Afrikaanse minderhede / gemeenskappe;
  • ‘n Ombudsman vir Suid-Afrikaanse minderhede / gemeenskappe; of
  • ‘n Spesiale kantoor vir Suid-Afrikaanse minderhede / gemeenskappe in die presidensie.
Jan Bosman

“Daar is baie internasionale voorbeelde van spesiale meganismes in Europa sowel as die Ministerie van minderheidsaangeleenthede in Indië, waaruit Suid-Afrika die beste praktyke kan neem,” het hy gesê.

“Ons het die politieke wil nodig om internasionaal erkende minderheidsregte in Suid-Afrika te onderskryf.”

Dit kan gedoen word in die vorm van ‘n handves van minderheidsregte as ‘n toevoeging tot die Grondwet. So ‘n handves moet gegrond wees op internasionale konvensies en verklarings oor minderheidsregte.

Dit moet nie net die regte van minderhede of gemeenskappe insluit nie, maar moet ook die verpligtinge van die staat en die regering teenoor minderhede uiteensit.

“In hierdie opsig kan u [Ramaphosa] die proses as deel van die voorstel vir ‘n skakelmeganisme begin,” het Bosman gesê.

VF Plus veroordeel plaasmoord in Bonnievale

Besonderhede oor ʼn plaasaanval hierdie week in Bonnievale in die Wes-Kaap is ontstellend, maar terselfdertyd ook tekenend van die verskuiwing van die verskynsel van plaasaanvalle na die Wes-Kaap waar dit voorheen haas onbekend was.

In die voorval Maandag op die plaas Kapteinsdrif naby Bonnievale, is mnr. Tool Wessels (55) vermoor en sy vrou, Liezel, erg beseer nadat sy onder meer met kookwater gebrand is. Mnr. Wessels is ook grusaam gemartel voordat hy vermoor is.

“Die VF Plus veroordeel hierdie voorval, soos elke moord en geweldsvoorval in Suid-Afrika waarin mense betrokke is en vermoor of beseer word, in die sterkste terme moontlik. Dit is onaanvaarbaar,” sê dr Corné Mulder, VF Plus-leier in die Wes-kaap

Die party wil sy opregte medelye uitspreek teenoor naasbestaandes en vriende van die egpaar, en teenoor die gesinslede in die besonder.

“Die VF Plus het dit nog altyd sy erns gemaak met plaasaanvalle, en sal voortgaan om druk vol te hou op die regering om dié soort misdaad te prioritiseer, en sal ook aanhou met sy veldtog om die internasionale gemeenskap op hoogte te hou aangaande plaasaanvalle in Suid-Afrika,” sê Mulder.